duimnael|Adellike Galliër in die Museum van die Keltiese Beskawing in Bibracte (Frankryk). Die Kelte was gevreesde krygers wat dikwels die hoofde van hul vyande as trofeë versamel het duimnael|Keltiese oorledenes en hul grafte is stomme getuie van 'n beskawing wat min geskrewe bronne agtergelaat hetUitstalling oor die Kelte, Universiteit van Tübingen, Duitsland

Die Kelte het – volgens tradisionele 19de eeuse hipoteses – sowat 3 000 jaar gelede tot 'n hoogs ontwikkelde beskawing in die hartland van Europa ontwikkel en in die volgende eeue die noorde van die vasteland oorheers. Hulle was veral 'n volk van krygers en ambagsmanne wat eersterangse kunswerke en wapentuig geskep en 'n gevreesde strydmag ontwikkel het. Meer onlangse navorsing, wat genetiese en taalkundige studies insluit en onder meer deur die argeoloog Barry Cunliffe gedoen is, dui egter daarop dat die Keltiese taal sy oorsprong in die uiterste weste van Europa het, en langs die Atlantiese seeroete vanuit die Iberiese Skiereiland noordwaarts versprei het.Alice Roberts: The Celts. Search for a Civilization. (Based on the BBC series The Celts: Blood, Iron and Sacrifice). London: Heron Books 2016, bl. 234 Die Kelte het dus nie noodsaaklik 'n homogene etniese groep gevorm nie, maar het bestaan uit 'n verskeidenheid stamme vir wie die Keltiese taal en kultuur om verskillende redes aantreklik genoeg was om dit te oorneem.

Die Kelte is onder meer as die "Veroweraars van Europa" en die "Barbare van Europa" beskryf, maar hulle was in elk geval die eerste groot beskawing wat in Sentraal-Europa ontstaan het.Konstam, Angus: Die Kelten. Von der Hallstatt-Kultur bis zur Gegenwart. Wene: tosa/Carl Ueberreuther 2007, bl. 6 In die 2de eeu v.C. het hierdie beskawing sy hoogtepunt bereik en 'n gebied oorheers wat van Klein-Asië (die huidige Turkye) tot by Ierland en van die Iberiese Skiereiland tot by die huidige Duitsland gestrek het. Keltiese nedersettings het selfs in afgeleë gebiede soos Oekraïne ontstaan.

Die Kelte het handel met hulle buurvolke in die Mediterreense gebiede gedryf, en in Keltiese grafte is selfs voorwerpe ontdek wat uit die Midde-Ooste ingevoer is. Maar alhoewel groot dele van Europa noord van die Alpe deur Keltiese stamme oorheers is, het hierdie beskawing nooit 'n gemeenskaplike ryk gestig nie – hulle was eerder 'n soort konfederasie van verskillende stamme wat dieselfde taalgroep, godsdiens en kultuur gedeel het. Die Kelte het ook min historiese dokumente agtergelaat. Ons kennis oor hierdie beskawing berus dus oorwegend op argeologiese opgrawings en die beskrywings van antieke Griekse en Romeinse outeurs.

Die Kelte was gevreesde krygers en die beduidendste teenstanders van Rome. Nogtans het hulle verdeeldheid daartoe gelei dat hulle magsgebied geleidelik by die Romeinse Ryk ingelyf is. Binne 'n enkele dekade het Gaius Julius Caesar se aanval op Gallië 'n einde aan die Keltiese beskawing gemaak. Net in die westelike randgebiede van Europa het Keltiese volke daarin geslaag om hul onafhanklikheid te bewaar.

Die kulturele erfenis van die Keltedom sluit buitengewone religieuse en ander kunswerke asook mites en legendes in wat deur latere Keltiese skrywers versamel en neergeskryf is. Nogtans bly die Kelte in baie opsigte 'n raaiselagtige beskawing.

Antieke oorlewerings Die Kelte is die eerste beskawing of etniese groep noord van die Alpe waarvan antieke outeurs 'n naam oorlewer het.Ade, Dorothee en Andreas Willmy: Die Kelten. Stuttgart: Konrad Theiss Verlag 2007 Die Griekse handelaars, wat in die 6de eeu v.C. met Kelte in aanraking gekom het, het hulle Keltoi of Galatai genoem.Konstam (2007), bl.6

Kelte het reeds vroeg kulturele en handelsbande met die Grieke en Etruskers aangeknoop en hul eie kultuur met Mediterreense invloede verryk. Hulle druïdes en sieners het ander antieke volke met hulle vaardighede beïndruk, maar nogtans geweier om hul leerstellings en godsdienstige beginsels neer te skryf sodat ons vandag min oor hulle rituele weet.

Vir die Romeine was die Kelte angswekkende barbare en wilde krygers met afskuwelike rituele wat ook menseoffers ingesluit het. Dit is egter duidelik dat die meeste Romeinse skrywers die Kelte eerder in 'n negatiewe lig beskou het as om betroubare beskrywings van hulle leefwyse, godsdiens en ander aspekte op te lewer. Alhoewel die Kelte danksy die Mediterreense invloede al besig was om tot 'n hoogs ontwikkelde, stedelike beskawing te ontwikkel, het hulle as gevolg van die Romeinse en later Germaanse magsuitbreiding hul belangrike rol in die Europese geskiedenis weer kwytgeraak en nooit 'n selfstandige ryk gestig nie. Die Keltiese tale en kultuur het slegs in die westelike randgebiede van Europa bewaar gebly.

Argeologiese en taalkundige definisie duimnael|Die Kelte in Europa Okergeel: Die gebied van die Hallstatt-beskawing (omtrent 750 v.C.–500/450 v.C.) Groen: Die uitbreiding van die La-Tène-beskawingOranje: Die uitbreiding van Keltiese tale (3de eeu v.C.) duimnael|'n Gerekonstrueerde Keltiese nedersetting uit die La-Tène-tydperk in die Duitse Hunsrück-bergreeks Die term Kelte (afgelei van Latyns Celtae en Galli, en Grieks Keltoi en Galatai, letterlik "die Dapperes" of "Edeles") verwys na enige van 'n aantal antieke volke van die Europese Ystertydperk, wat deur materieel-kulturele ooreenkomste en/of nou verwante tale gekenmerk is.

Oorspronklik is historiese teorieë ontwikkel wat beweer het dat albei faktore 'n gemeenskaplike oorsprong aandui, maar nuwer teorieë, wat deur genetiese getuienis ondersteun word, bevestig die hipotese dat die Keltiese kultuur na verskillende inheemse volke versprei het wat moontlik nie almal Keltiese tale gepraat het nie. Suiwer etniese definisies word derhalwe in die moderne navorsing nie meer gebruik nie, aangesien dit nou duidelik is dat die Kelte nooit 'n gemeenskaplike etnie of volk gevorm het nie.

Die moderne argeologie en taalkunde gebruik twee uiteenlopende definisies om die term "Kelte" te omskryf: Die argeologiese definisie neem die argeologiese getuienis van gemeenskaplike kulturele kenmerke as sy vertrekpunt en beskryf die Kelte as setlaargemeenskappe met 'n gemeenskaplike kultuur en leefwyse, terwyl die taalkundige definisie die Kelte veral as 'n Middel- en Wes-Europese taalgemeenskap van die Ystertydperk beskou. In die praktyk is dit egter dikwels moeilik om hierdie twee sienswyses suiwer van mekaar te skei.

Die argeologiese definisie steun veral op die kulturele ooreenkomste waardeur die Keltiese stamme in Middel-Europa (in 'n gebied wat van Noord-Spanje tot by Boheme in die huidige Tsjeggië gestrek het) tydens die Jong-Ystertydperk omtrent 500 v.C. gekenmerk was. Die tydperk van die "klassieke Kelte" kom volgens die argeologiese navorsing met die sogenaamde La-Tène-beskawing ooreen wat tussen die 5de en 1ste eeu v.C. groot dele van Middel-Europa oorheers het. La Tène is 'n stad naby die Meer van Neuchâtel in Wes-Switserland waar teen die middel van die 19de eeu ryk argeologiese vondste opgegrawe is. Die La-Tène-beskawing het egter net in 'n gedeelte van die Keltiese taalgebied uitgebrei.

Die verowering van die Kelte deur die Romeinse Ryk het daartoe gelei dat die Keltiese taal (byna) verdring is. Die Keltiese inheemse godsdiens is volledig verdring deur die Romeinse Christendom. In Ierland en Brittanje sou in die laat Middeleeuse 'n herlewing ontstaan van Keltiese kuns. Oudheidkundige belangstelling vanaf die 17de eeu het daartoe gelei dat die term Kelt uitgebrei is, terwyl stygende nasionalisme vanaf die 19de eeu Keltiese herlewings in gebiede veroorsaak het waar die gebruik van Keltiese tale bewaar gebly het.

Die Keltiese taalfamilie is 'n tak van die Indo-Europese tale wat vroeër in groot dele van Sentraal- en Wes-Europa gepraat is, terwyl die antieke Keltiese kuns en argitektuur sterk Mediterreense invloede toon. Die Kelte het egter nooit in 'n gemeenskaplike ryk verenig nie en het ook hul religieuse en ander tradisies met opset nie neergeskryf nie.

Vandag word die term "Kelties" baie keer gebruik om die tale en kulture van Ierland, Skotland, Wallis, Cornwall, die eiland Man en die Franse gebied Bretagne, maar stem streng gesproke ooreen met die Keltiese taalfamilie – waarvan Iers-Gaelies, Skots-Gaelies, en Manx as Gaeliese tale, en Wallies, Bretons en Cornies as Eiland-Keltiese tale in die westelike randgebiede van Europa bewaar gebly het. As nasate van 'n vroeë Keltiese beskawing in die noorde en weste van die Iberiese Skiereiland beskou ook Romaanse volke en taalgroepe soos die Galiciërs in Spanje hulself as deel van die Keltiese wêreld.

Geskiedenis Protokelte duimnael|Die Europese beskawings in die laat Bronstydperk. Die urneveldbeskawing word in rooi aangedui duimnael|Hierdie urne, wat vir begrafnisrituele gebruik is, is in die huidige Duitse deelstaat Hessen opgegrawe Die urneveldbeskawing het omstreeks 850 v.C. ontstaan en toon reeds baie ooreenkomste met die Keltiese beskawing wat sowat twee eeue later begin ontwikkel het. Plekname verwys na 'n taalkundige verwantskap tussen hierdie twee beskawings, terwyl hulle ook dieselfde politieke, sosiale en militêre strukture ontwikkel het.Konstam (2007), bl. 15

Die benaming urneveldbeskawing is afgelei van hulle begrafnisrituele wat duidelik van dié van hul voorloper, die koepelgrafbeskawing, verskil. Hulle het hul oorledenes veras en die urne op 'n afgebakende begraafplaas ter aarde bestel. Die opvallende grafheuwels van die vroeëre beskawing ontbreek in hierdie periode. Argeoloë en geskiedkundiges het onder meer vermoed dat die Protokelte onder die invloed van volke uit die ooste gekom het, maar die nuwe begrafnisrituele kan moontlik ook aan nuwe religieuse waardes en norme toegeskryf word.Konstam (2007), bl. 14

Die belangrikste kemerk van die urneveldbeskawing was egter hul militêre verowerings wat deur 'n nuwe wapen moontlik gemaak is: Hul lang, swaar swaarde wat reguit gesmee is en sowel as slag- asook steekwapen gebruik kon word. Wapenrustings, helme en ander oorlogstoerusting, wat deur argeoloë opgegrawe is, dui daarop dat oorlogsvoering 'n groter rol in hierdie tydperk gespeel het. Die nedersettings is in 'n toenemende mate versterk en daar was ook al enkele dorpe wat op heuwels opgerig en met grafte, palisades en mure van hout en stene teen aanvallers beskerm is.

Die toenemde oorlogsaktiwiteite het uit die verbeterde tegnieke van bronsverwerking voortgespruit, terwyl ook mynbou en metallurgiese doeltreffendhede gevorder het. Deskundiges is tans in staat om die verskille tussen die vroeë nywerheidssentra te bepaal en neem aan dat die vervaardigers al begin het om hulle in wapens, kunswerke of huisraad te spesialiseer.

Naas die militêre sfeer het ook die landbou voordeel getrek uit die nuwe tegniese vaardighede, en nuwe gereedskappe soos sekels en ploeë dui daarop dat landboumetodes verbeter is. Danksy veeteelt en die toepassing van 'n rotasiestelsel het mense 'n hoër lewenstandaard geniet, en die bevolking het vinniger begin groei.

Omstreeks 700 v.C. begin die oorgang van die urneveld- tot die sogenaamde Hallstattbeskawing wat na die dorp Hallstatt, 'n belangrike argeologiese vindplaas in Oostenryk, vernoem is en deur die invoering van die ystervervaardiging gemarkeer word. Die Hallstattbeskawing was die eerste suiwer Keltiese beskawing in Europa en het saam met sy opvolger, die La-Tène-beskawing, oor die hele Keltiese tydperk gestrek wat rofweg met die Europese Ystertydperk ooreenstem.

Die volke van die Brons- en Ystertydperk was oor dieselfde gebiede in Europa versprei en toon ooreenkomste ten opsigte van hulle sosiale, politieke en kulturele strukture. Die enigste verskil is die gebruik van yster vir wapens, werktuie, huisraad en toerustings. Aangesien yster baie harder was as brons, het die vervaardigers van yster voordeel uit hulle militêre oppermag en tegnologiese vooruitgang getrek.

Die Hallstatt-beskawing duimnael|links|Johann Georg Ramsauer (1795–1874) het fyn tekeninge van die Keltiese begraafplase in Hallstatt gemaak