duimnael|Die Arktiese Oseaan word deur beide marinesoogdiere en kernduikbote gebruik.

Die Arktiese Oseaan, wat ook as die Noordelike Yssee of Noordpoolsee bekend staan, is hoofsaaklik in die Noordpoolstreek geleë. Dit is die kleinste en vlakste van die wêreld se vyf oseane. Groot dele van die oseaan word vir dele van die jaar of die hele jaar deur see-ys bedek. Alhoewel die Internasionale Hidrografiese Organisasie dit as 'n oseaan erken, verwys sommige oseanoloë daarna as die "Arktiese Middellandse See" of slegs die "Arktiese See". Matthias Tomczak, J. Stuart Godfrey. Regional Oceanography: an Introduction. 2003. Delhi: Daya Publishing House. Tweede Uitgawe. . Alternatiewelik kan dit ook as die mees noordelike deel van die hele Wêreldoseaan gesien word.

Die Arktiese Oseaan se temperatuur en soutgehalte verskil seisoenaal, soos die boonste yslae smelt en weer vries. Some Thoughts on the Freezing and Melting of Sea Ice and Their Effects on the Ocean K. Aagaard en R. A. Woodgate, Polar Science Center, Applied Physics Laboratory University of Washington, Januarie 2001. Besoek op 7 Desember 2006. Dit het die laagste soutgehalte van die vyf oseane, as gevolg van die lae verdamping, hoë hoeveelhede varswater wat afkomstig is van riviere en strome en die beperkte verbinding met die omliggende oseaniese waters wat hoër soutgehaltes het.

Geografie duimnael|Die Arktiese Oseaan Die Arktiese Oseaan beslaan 'n ronde bekken en dek 'n oppervlak van ongeveer 14 090 000 vierkante kilometer (5 440 000 myl²), effens minder as 1,5 keer die grootte van die Verenigde State. Die kuslynlengte is 45 389 km. Die diepste punt in die oseaan is die Molloygat in die Framstraat op ongeveer 5 550 m (18 209 voet). The Mariana Trench The Mariana Trench – Oceanography, besoek op 12 Mei 2006

Die oseaan word omring deur die landmassas van Eurasië (Rusland en Noorweë), Noord-Amerika (Kanada en die Amerikaanse staat Alaska), Groenland en Ysland, en deur 'n aantal eilande. Dit sluit talle randseë en ander waterliggame in, waaronder die Baffinbaai, Barentssee, Beaufortsee, Tsjoekotkasee, Oos-Siberiese See, Groenlandsee, Hudsonbaai, Hudsonstraat, Karasee, Laptefsee en Witsee. Dit is verbind aan die Stille Oseaan deur die Beringseestraat en aan die Atlantiese Oseaan deur die Groenlandsee en Labradorsee.

'n Onderwaterrif, die Lomonosowrif, verdeel die diepsee Noord-polêre Bekken in twee bekkens: die Eurasiese-, of Nansenbekken, (vernoem na die Noorse ontdekker Fridtjof Nansen) wat tussen 4 000 en 4 500 m (13 000 en 15 000 voet) diep is, en die Noord-Amerikaanse, of Hiperborese Bekken, wat omtrent 4 000 m diep is. Die topografie van die oseaanbodem word gekenmerk deur skeurblokriwwe, diepseevlaktes, oseaandieptes en bekkens. Die gemiddelde diepte van die Arktiese Oseaan is 1 038 m (3 407 voet), deels toegeskryf aan die grootte van die vastelandplaat aan die Eurasiese kant.

Die hoofwatertoevoer is uit die Atlantiese Oseaan deur middel van die Noorweëstroom, wat dan langs die Eurasiese kus verder vloei. Water vloei ook uit die Stille Oseaan in deur die Beringseestraat. Die Oos-Groenlandstroom vorm die belangrikste uitloop.

Temperatuur en soutgehalte wissel volgens seisoen soos die ysbedekking smelt en vries. Ys bedek die grootste deel van die oseaanoppervlak, wat vir groot dele van die jaar benede vriespunt is. Daar is aansienlike seisoenale wisseling in die hoeveelheid pakys wat die oseaan bedek. Dit word vir omtrent 10 maande in die jaar deur sneeu bedek. Die maksimum sneeubedekking is in Maart of April—omtrent 20 tot 50 cm bo-op die bevrore oseaan.

Min seelewe word aangetref waar die oseaan deurgaans deur ys bedek is. In oop dele is seelewe baie volop, veral in meer suidelike waters. Die Arktiese Oseaan sluit 'n groot aantal eilande in, waaronder Groenland en die Groenlandeilande, die Kanadese Arktiese Argipel, Jan Mayen en Svalbard (wat deel van die Koninkryk van Noorweë is) en die Russiese eilandgroepe en eilande: Franz Josef-land, die Nieu-Siberiese Eilande, Nowaja Zemlja, Sewernaja Zemlja, Wajgatsj en Wrangeleiland.

Yseilande breek nou en dan van die noorde van Ellesmere-eiland af weg, en ysberge word deur die gletsers van westelike Groenland en die heel noordoostelike deel van Kanada gevorm. Ysberge is nie see-ys nie, maar kan in die pakys vasgevang raak en hou steeds 'n gevaar vir skepe in. Ysgrond kom op die eilande in die oseaan voor en die oseaan is so te sê deur ys ingesluit van Oktober tot Junie.

Randseë Verskillende owerhede plaas van die randseë – onder andere die Hudsonbaai, Baffinbaai, die Noorweegse See en Hudsonstraat – in óf die Arktiese óf die Atlantiese Oseaan.

Die grootste randseë van die Arktiese Oseaan is:

Barentssee – 1,4 miljoen km² Hudsonbaai – 1,23 miljoen km² (word soms nie ingesluit nie) Groenlandsee – 1,205 miljoen km² Oos-Siberiese See – 987 000 km² Karasee – 926 000 km² Laptefsee – 662 000 km² Tsjoekotkasee – 620 000 km² Beaufortsee – 476 000 km² Amundsengolf – 93 000 km² Witsee – 90 000 km² Petsjorasee – 81 263 km² Lincolnsee – 64 000 km²

Vastelandplate en onderwaterkenmerke Die oseaan se vastelandplate bestaan uit die Kanadese Arktiese plat en die Russiese vastelandplat, wat weer uit drie kleiner plate opgebou is: die Barentsplat, die Tsjoekotkaplat en die Siberiese plat. Van die drie is die Siberiese plat die grootste vastelandplat op aarde, en dit bevat groot olie- en gasreserwes. Die rand van die Tsjoekotkaplat vorm die grens tussen Rusland en die Verenigde State soos in die Baker-Sjewardnadze-lyn van die 1990-ooreenkoms oor die seegrens vasgestel is. Die Tsjoektsjeplato strek vanaf die Tsjoekotkaplat.

Die twee groot bekkens word deur verdere riwwe onderverdeel: die Kanadabekken (tussen die Beaufortplat van Noord-Amerika en die Alpharif), die Makarowbekken (tussen die Alpha- en die Lomonosowrif), die Amundsenbekken (tussen die Lomonosow- en die Gakkelrif) en die Nansenbekken (tussen die Gakkelrif en die vastelandplat waarop Franz Josef-land lê).

Geologie Die kristallyne grondgesteentes van die berge om die Arktiese Oseaan is gedurende die Ellesmeriese fase van die groter Kaledoniese gebergtevorming in die Paleosoïkum hervorm of gevorm. Streekwye insinking in die Jura- en Triastydperk het tot beduidende sedimentafsetting gelei, wat baie van die reservoirs vir vandag se olie- en gasafsettings geskep het. Gedurende die Kryttydperk het die Kanadese Bekken oopgegaan, en tektoniese aktiwiteit as gevolg van die samestelling van Alaska het koolwaterstoffe laat migreer na wat vandag Prudhoebaai is. Terselfdertyd het sedimente wat van die stygende Kanadese Rotsgebergte afgevoer is, die groot Mackenziedelta opgebou.

Die opbreek van die superkontinent Pangea, wat in die Triastydperk begin het, het die vroeë Atlantiese Oseaan geopen. Die skeuring het daarna noordwaarts uitgebrei en die Arktiese Oseaan geopen namate mafiese oseaankorsmateriaal uit 'n tak van die Mid-Atlantiese Rif uitgebars het. Die Amerasiese Bekken het waarskynlik eerste oopgegaan, met die Tsjoektsjeplato wat deur transformasieverskuiwings na die noordooste beweeg is. Verdere spreiding het gehelp om die drieledige verbinding van die Alpha-Mendelejewrif in die Laat Kryt te vorm.

Deur die Kainosoïkum het die subduksie van die Stille Oseaanplaat, die botsing van Indië met Eurasië en die voortgesette opening van die Noord-Atlantiese Oseaan nuwe koolwaterstofvalle geskep. Die seebodem het in die Paleoseen en die Eoseen vanaf die Gakkelrif begin sprei, wat veroorsaak het dat die Lomonosowrif verder van die land af beweeg en insink.

Weens die see-ys en die afgeleë omstandighede is die geologie van die Arktiese Oseaan steeds swak verken. Boorwerk deur die Arktiese Kernboor-ekspedisie het lig gewerp op die Lomonosowrif, wat blyk te wees vastelandkors wat in die Paleoseen van die Barents-Karaplat geskei is en daarna van sediment ontneem is. Dit kan tot 10 miljard vate olie bevat. Die skeur van die Gakkelrif word ook swak verstaan en strek moontlik tot in die Laptefsee.

Oseanografie Watermassas en waterbeweging In groot dele van die Arktiese Oseaan het die boonste laag – sowat 50 m diep – 'n laer soutgehalte en 'n laer temperatuur as die res. Dié laag bly betreklik stabiel omdat die soutgehalte se uitwerking op digtheid groter is as dié van temperatuur. Dit word gevoed deur die varswatertoevoer van die groot Siberiese en Kanadese riviere – die Ob, Jenisei, Lena en Mackenzie – waarvan die water so te sê op die souter, digter en dieper oseaanwater dryf. Tussen dié laag met sy laer soutgehalte en die grootste deel van die oseaan lê die sogenaamde halokline, waarin sowel die soutgehalte as die temperatuur met toenemende diepte styg.

Weens die oseaan se betreklike afsondering van die ander oseane het dit 'n besonder ingewikkelde stelsel van waterbeweging. Die totale volume is 18,07 miljoen km³, ongeveer 1,3 % van die Wêreldoseaan. Die gemiddelde oppervlaksirkulasie is oorwegend siklonies aan die Eurasiese kant en antisiklonies in die Kanadese Bekken.

Water tree sowel uit die Stille as die Atlantiese Oseaan toe en kan in drie onderskeie watermassas verdeel word. Die diepste, die Arktiese Bodemwater, begin op sowat 900 m diepte. Dit bestaan uit die digste water in die Wêreldoseaan en het twee hoofbronne: water van die Arktiese vastelandplate en Groenlandsee-diepwater. Water wat as toevloei uit die Stille Oseaan begin, beweeg teen 'n gemiddelde tempo van 0,8 sverdrup deur die smal Beringseestraat na die Tsjoekotkasee. In die winter waai koue Alaskawinde oor die Tsjoekotkasee, vries die oppervlakwater en stoot die nuwe ys na die Stille Oseaan uit. Dié proses laat dig, sout water in die see agter wat oor die vastelandplat na die westelike Arktiese Oseaan sink en 'n halokline vorm.

Op 'n diepte van 150 tot 900 m lê 'n watermassa wat as Atlantiese Water bekend staan. Toevloei uit die Noord-Atlantiese Stroom tree deur die Framstraat toe, koel af en sink om die diepste laag van die halokline te vorm, waar dit antikloksgewys om die Arktiese Bekken beweeg. Dit is die grootste volumetriese toevloei tot die Arktiese Oseaan – sowat tien keer dié uit die Stille Oseaan – en dit vorm die Arktiese Oseaan se grensstroom. Atlantiese Water het dieselfde soutgehalte as die Arktiese Bodemwater maar is veel warmer, tot 3 °C; dit is in werklikheid warmer as die oppervlakwater en bly slegs onder die oppervlak vanweë die soutgehalte se rol in digtheid. Wanneer die water die bekken bereik, word dit deur sterk winde in 'n groot sirkelvormige stroom, die Beaufortgier, gestoot.

Die derde watermassa, Arktiese Oppervlakwater, word op 'n diepte van 150 tot 200 m aangetref. Die belangrikste kenmerk daarvan is die sogenaamde onderoppervlaklaag, wat ontstaan uit Atlantiese water wat deur onderseese klowe toetree en op die Siberiese plat sterk vermeng word. Namate dit meegevoer word, koel dit af en tree dit as 'n hitteskild vir die oppervlaklaag op, omdat die lae swak met mekaar vermeng.

Oor die afgelope paar dekades lei 'n kombinasie van die verwarming en die opstyging van Atlantiese water egter tot 'n groter rol vir Atlantiese hitte in die smelt van see-ys in die oostelike Arktiese gebied. Die jongste skattings, vir 2016 tot 2018, dui daarop dat die oseaniese hittevloei na die oppervlak nou dié uit die atmosfeer in die oostelike Eurasiese Bekken oortref het.

Water uit sowel die Stille as die Atlantiese Oseaan verlaat die Arktiese Oseaan deur die Framstraat tussen Groenland en Spitsbergen, wat sowat 2 700 m diep en 350 km wyd is. Dié uitvloei is ongeveer 9 sverdrup. Die breedte van die Framstraat maak sowel toevloei as uitvloei aan die Atlantiese kant moontlik, en die Corioliskrag konsentreer die uitvloei in die Oos-Groenlandstroom aan die westekant en die toevloei in die Noorweëstroom aan die oostekant. Water uit die Stille Oseaan verlaat die oseaan ook langs die weskus van Groenland en deur Hudsonstraat teen 1 tot 2 sverdrup, wat voedingstowwe aan die Kanadese Argipel verskaf.

See-ys