Nicolaas Petrus van Wyk Louw (11 Junie 1906 – 18 Junie 1970) was 'n letterkundige en professor aan die Gemeentelike Universiteit in Amsterdam en die Universiteit van die Witwatersrand. Hy was ’n Afrikaanse filosoof, digter, dramaturg en skrywer en die enigste persoon wat die Hertzogprys in drie genres, naamlik digkuns, drama en kritiese prosa, gewen het.
Lewe en werk duimnael|regs|200px|Bronsbeeld van Louw geskenk deur die Afrikaans Kultuurvereniging van die Suid-Afrikaanse Polisie en oorhandig deur min. Adriaan Vlok aan die Louw-huis op Sutherland op 20 Maart 1987.
Nicolaas Petrus van Wyk Louw, die ouer broer van W.E.G. Louw, is op 11 Junie 1906 in sy ouerhuis op Sutherland gebore as tweede van vier seuns van die prokureur Bismarck von Moltke Louw (14 Julie 1874 – 14 April 1949) en Martha Hendrina Johanna Frederika (Poppie) van Wyk (12 Maart 1882 – 28 Julie 1970), dogter van ’n bekende boer in die distrik.Steyn, J.C. Van Wyk Louw: ’n Lewensverhaal Deel I (sic). Tafelberg-uitgewers Beperk. Eerste uitgawe, 1998.Steyn, J.C. Van Wyk Louw: ’n Lewensverhaal Deel II (sic). Tafelberg-uitgewers Beperk. Eerste uitgawe, 1998. Hy is genoem na sy grootvader aan moederskant. Sy ouers is op 8 Junie 1904 op Sutherland in die magistraatshof getroud. Sy broers is Jacobus Adriaan (Koos) (1905–1970), Bismarck von Moltke (1909–1945) en William Ewart Gladstone (1913–1980), laasgenoemde was die bekende digter W.E.G. Louw. Die huis in Jubileestraat waar die gesin gebly het, word later as gevolg van sy en sy broer W.E.G. Louw se belang in die letterkunde as museum verklaar. Aanvanklik gaan hy vanaf 1911 skool op sy tuisdorp, waar Engels die onderrigmedium is. Op skool is hy deurentyd die jongste kind in sy klas en staan desondanks gereeld eerste. Sy fotografiese geheue bring hom per geleentheid in die moeilikheid wanneer sy onderwysers hom daarvan verdink dat hy afskryf in die eksamen, omdat hy sy antwoorde woordeliks soos in die skoolhandboek weergegee het. Hy is so begaaf as pianis dat sy familie selfs van mening is dat hy van musiek ’n loopbaan sou kon maak.
Toe die gesin in Desember 1920 na Kaapstad verhuis, word hy vanaf 1921 by die eweneens Engelstalige South African College School ingeskryf. Die verhuising is egter nie ’n volslae breuk met sy plattelandse verlede nie, aangesien hulle huis in Sutherland eers in 1925 verkoop word, sy pa steeds vennoot in die prokureurspraktyk op die dorp is en die kinders vir etlike jare steeds vir die somer en wintervakansies sou terugkeer na familie in die distrik of die naburige Calvinia-distrik.
Na sy matrikulasie in die eerste klas aan die einde van 1922 studeer hy vanaf 1923 aan die Universiteit van Kaapstad. Aan die begin van 1924 is hy (slegs sewentien jaar oud) vir ’n kwartaal onderwyser in die plaasskool op Soetwater, waar Anna M. Louw se moeder die onderwyseres was en vir hierdie kwartaal kraamverlof geneem het. In 1925 behaal hy die B.A.-graad met Duits, Afrikaans-Nederlands en Latyn as hoofvakke. Ander vakke wat hy neem sluit in Dierkunde, Psigologie, Engels en Etiek. Hy word in 1926 aangestel as tydelike assistent vir Afrikaans-Nederlands terwyl hy die M.A.-graad in Duits en Afrikaans-Nederlands volg. Hy word in hierdie jaar ’n lid van die toneelvereniging van die universiteit. Aan die einde van die jaar skryf hy egter slegs die eksamens in Duits om die M.A.-graad te behaal.
In 1927 gee hy onderwys in Duits en Engels aan die Paul Kruger Hoërskool op Steynsburg in Noordoos-Kaapland en speel hier ’n hoofrol in die opvoering van die komedie Die stoplap van Walter Spiethoff. In 1928 keer hy terug na Kaapstad om die B.Ed.-graad te voltooi. Om te voldoen aan die vereistes van hierdie graad lewer hy ook ’n skripsie in oor The development of agricultural, industrial and technical education for Europeans in South Africa. In hierdie tyd leer hy ook Frans aan, sodat hy ’n goeie leeskennis van hierdie taal opbou. In 1929 word hy tydelike en die jaar daarop permanente lektor in Opvoedkunde aan die Universiteit van Kaapstad, ’n betrekking wat hy tot einde 1949 beklee. Izak van der Merwe (Boerneef), M.I. Murray, Marthinus Versfeld, J. du P. Scholtz en I.D. du Plessis is van sy kollegas aan die universiteit.
Op skool in Sutherland het hy ’n hegte verhouding met Ella Vlok en hy sit die verhouding voort en korrespondeer nog met haar vir baie jare nadat hy weg is uit die dorp. In sy briewe aan haar sluit hy ook van sy eerste digpogings in. Hierdie verhouding word in Junie 1925 verbreek. Hierna knoop hy ’n verhouding aan met Ella van der Merwe van Murraysburg en hy spandeer die Desembervakansie van 1925 saam met haar en haar familie. Hierdie verhouding verbreek hy in Desember 1926. In September 1926 ontmoet hy vir Joan Isabeau Wessels (gebore 5 Augustus 1906). Sy is oorspronklik van Ermelo en Standerton, waarna die gesin in Augustus 1919 na Suidwes-Afrika verhuis. Van Wyk en Joan trou op 18 September 1930 in die Groote Kerk in Kaapstad. Hulle vestig hulle eers in Seepunt en later in hulle eie huis in Vredehoek in Kaapstad. Uit hierdie huwelik word twee kinders gebore, die dogters Maria Johanna (Ria) wat met professor doktor A.D. Muller van die Universiteit van Fort Hare getroud is en in 1964 oorlede is, en Anna Cornelia (Nakkie), wat later met die uitgewer Koos Human getroud is.
Hy raak in die vroeë jare dertig toenemend geïnteresseerd in die filosofie van Hegel en oorweeg ’n doktorale verhandeling oor die Duitse opvoedkundige teoretikus Theodor Litt. In hierdie stadium leer hy sy broer W.E.G. Louw beter ken, vir wie hy ekstra klasse in Duits gee, en op laasgenoemde se inisiatief begin hy weer skryf en dig. Hy raak ook bevriend met Hettie Smit, Fred le Roux en sy kollegas I.W. van der Merwe (Boerneef) en J. du P. Scholtz, wat almal groot belangstelling in en waardering vir sy werk toon. Hierdie vriendskappe lei in 1935 tot die stigting van die Vereniging vir die Vrye Boek (VVB), waarvan Louw as sekretaris optree. Die ander bestuurslede is sy broer W.E.G. Louw, Boerneef, J. du P. Scholtz, F.E.J. Malherbe en Abraham H. Jonker. Die doel van die VVB is om goeie letterkundige werke te publiseer en sodoende die grense te verskuif en die Afrikaanse letterkundige landskap te verruim. Eindelik publiseer hulle net twee oorspronklik Afrikaanse werke, naamlik Louw se Die halwe kring en Hettie Smit se Sy kom met die sekelmaan, wat albei klassieke status in die Afrikaanse letterkunde verwerf. F.E.J. Malherbe staan in sy keurverslag van Sy kom met die sekelmaan van Hettie Smit egter negatief teenoor die teks, sodanig dat dit duidelik word dat hy nie die doelstellings van die VVB deel nie en hy op 30 April 1937 by ’n vergadering gedwing word om uit die VVB te bedank. Jonker bedank dan uit simpatie saam met hom. Vir die VVB vertaal Louw die drama Aimee uit die Frans van Paul Géraldy in Afrikaans as Helène. Dit is in hierdie tyd wat Louw hom vestig as die leier van die Dertigers en deur sy essays (gebundel in Lojale verset en Berigte te velde) pertinente politieke en gemeenskaplike probleme aanraak op ’n baanbrekersmanier. Hy verwoord veral die strewe van die nuwe Afrikaanse poësie op ’n skerpsinnige en helder wyse, deur die bloot lokale kuns te verwerp ter wille van ’n verhewe literatuur waarin die mens volledig gestalte kan vind, ’n kuns wat streng selftug van die skrywer vereis en waar geen wette behalwe as skoonheid en letterkundige meriete geld nie.
Daar is polemiek wanneer die Hertzogprys in 1937 toegeken word vir Alleenspraak, want Louw deel hierdie prys met I.D. du Plessis en sy bundels Vreemde liefde en Ballades.Nienaber, P.J. (red.) Rapier en Knuppel. Nasionale Boekhandel. Kaapstad, 1965. bl. 122-148 Die Letterkundige Kommissie wat verantwoordelik was vir hierdie toekenning was F.E.J. Malherbe (die sameroeper), E.C. Pienaar en M.S.B. Kritzinger. Die breuk wat vroeër die jaar tussen Malherbe en Louw by die VVB ontstaan het, kry nou ’n nadraai met hierdie toekenning van die Hertzogprys. Louw verneem in die pers van die toekenning en weier dan die prys met ’n verklaring wat hy ook na die pers stuur en wat op 7 Desember 1937 in Die Burger gepubliseer is: “Die Akademie was weer magteloos om te besluit oor die sake waarin hy hom juis die reg van ’n beslissing toeëien. Aangesien die mededeling my deur die pers, en nie persoonlik bereik het nie, gee ek hierdie brief ook aan die pers”. Malherbe en Pienaar antwoord met ’n verklaring wat in Die Burger van 11 Desember 1937 verskyn: “So ’n hooghartige afwysing het ’n geniale volksfiguur soos bv. Langenhoven indertyd gepas, want hy het grond onder sy voete gehad. Maar dit lyk ’n bietjie belaglik by ’n jong literator wat nog sy spore moet verdien, en wat aan die Akademie nog maar ’n eerste bundeltjie kon toon”. Hierop reageer Louw (sien Rapier en knuppel onder redaksie van P.J. Nienaber, p.26): “’n Antwoord op die skrywe lyk oorbodig. Die seniel-histeriese toon daarvan wys vir die publiek (wat met die persoonlike verhoudings minder bekend is) die gesindheid van lede van die keurkomitee teenoor my. Daarom laat ek dit met des te meer gerustheid aan die toekoms om ’n oordeel insake die betrokke werke en beoordelaars self te vel”. In Die Burger van 11 Desember 1937 verskyn ook ’n besonder negatiewe resensie van E.C. Pienaar oor Louw se Die halwe kring, waarin hy onder andere vra: “Waarom moet sy ‘ligte vrede-uit-innerlikheid’ telkens weer vertroebel word deur metafisiese abstraksies wat die leser hoofpyn veroorsaak?” H.A. Mulder lewer egter op 14 Desember 1937 ’n resensie van hierdie bundel in Die Suiderstem waarin hy dit stel op dieselfde vlak as die heel beste wat ooit in Nederlands verskyn het: “Onlangs het die skerpsinnige Nederlandse kritikus Vestdijk die mening uitgespreek dat die Afrikaanse poësie die Nederlandse nooit sou ewenaar nie. Ek glo dat met Louw se bundel dit gebeur het. Vestdijk is in die ongelyk gestel”. J. du P. Scholtz en Uys Krige reageer in Die Burger van 18 Desember 1937 teen Pienaar se resensie en Pienaar bedank dan op 28 Desember 1937 as lid van die Vereniging vir die Vrye Boek. In Die Brandwag van 31 Desember 1937 beoordeel S. Ignatius Mocke ook “Die halwe kring” besonder positief en verklaar hy oor die negatiewe resensie van Pienaar: “Dit is opvallend hoe militant die kritiek kan wees wanneer dit onmagtig word om tred te hou met die ontwikkeling van die skeppende letterkunde”.
In die vroeë dertigerjare maak Louw kennis met Anna Neethling-Pohl wanneer sy en haar man, dr. Chris Neethling, hulle bure in Vredehoek word. So word sy belangstelling in die teater weer geprikkel. In 1934 is hy stigterslid van die Kaapstadse Afrikaanse Toneelvereniging (K.A.T.), waarvan hy saam met H.A. Mulder en Queenie Fagan, A.M. Viljoen, Anna Neethling-Pohl, M.I. Murray, Boerneef, Herman Rooseboom en Jacques Malan die eerste bestuurslede is. Die doel van die K.A.T. is om die Afrikaanse toneel deur opvoerings, besprekings en vertalings te bevorder, ’n toneelbiblioteek en ’n teater met die nodige fasiliteite op te rig en die Afrikaanse Eisteddfod te ondersteun. Louw tree ook soms vir die K.A.T. in dramas op, onder andere ’n rol in J.F.W. Grosskopf se As die tuig skawe.