Marlene van Niekerk (gebore 10 November 1954) is ’n veelbekroonde, internasionaal bekende Afrikaanse skrywer en digter, wat professor is in Kreatiewe Skryfkuns aan die Universiteit van Stellenbosch. Onder die vele pryse wat haar skryfwerk verower is onder andere die Hertzogprys vir prosa en ook vir poësie.

Lewe en werk Van Niekerk is op 10 November 1954 op 'n plaas in Tygerhoek (vandag Riviersonderend) naby Caledon in die Wes-Kaap gebore. Sy het in Riviersonderend en Stellenbosch skoolgegaan en het aan die Hoërskool Bloemhof gematrikuleer. Daarna het sy tale en filosofie aan die Universiteit van Stellenbosch studeer waar sy in 1978 haar M.A.-graad verwerf het met 'n verhandeling oor die aard en belang van die literêre vormgewing in Friedrich Nietzsche se Also sprach Zarathustra.

In 1979 het sy na Duitsland verhuis waar sy haar in die teaterwese bemoei het as leerlingdirekteur. Sy het onder ander in Stuttgart en Mainz gewerk. Van 1980 tot 1985 het sy haar studies in filosofie aan die Universiteit van Amsterdam in Nederland voortgesit en 'n doktorsgraad met 'n verhandeling oor die werke van Claude Lévi-Strauss en Paul Ricoeur voltooi.

Na haar terugkeer na Suid-Afrika het sy filosofie aan die Universiteit van Zoeloeland en later die Universiteit van Suid-Afrika doseer. Daarna is sy as lektor in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van die Witwatersrand aangestel.

Marlene van Niekerk is tans Professor by die Department Afrikaanse en Nederlands van die Universiteit van Stellenbosch, waar sy ook programkoördineerder is vir die MA in kreatiewe Afrikaanse skryfkunde.

Skryfwerk Haar gedigte word saam met dié van onder andere André le Roux en Etienne van Heerden opgeneem in die versamelbundel “Poort 1972”, wat ’n keur is uit die werk van hoërskoolleerlinge. Daarna publiseer sy ook in Standpunte. Sy maak haar debuut as digter met die bundel “Sprokkelster”,Brink, André P. “Rapport” 18 Desember 1977 waar die titel aanduidend is van die klein brokkies ster van die goeie lewe wat ons van ’n goeie Vader ontvang.Brink, André P. “Tweede Voorlopige Rapport” Human & Rousseau Kaapstad Pretoria Johannesburg

Eerste uitgawe 1980 In hierdie gedigte beleef sy dan ook die aarde en die lewe met vreugde en sy sien dat die aardse dinge vol goddelike elemente is.Cloete, T.T. “Tydskrif vir Geesteswetenskappe” Jaargang 18 no. 2, Junie 1978 Selfs die herinnering van ’n kind se wit haan wat geslag word, is uitgebeeld as deel van hierdie misterieuse lewenstapisserie.Cloete, T.T. “Tydskrif vir Letterkunde” Nuwe reeks 17 no. 2, Mei 1979 Musiek speel ’n groot rol in die gedigte en so ook die natuurbelewing, wat telkens in beeldryke taal vergestalt word. Die sombere bly egter nie agterweë nie, sodat die lewe in al sy fasette hier uitgebeeld word. “Gesinsvermaak” beeld die take wat kinders en ouers met ontoereikende instrumente moet verrig met vernuftige woordgebruik uit, terwyl “Openbaring” en “Voorjaarsprokie vir my ma” die resultaat is van ’n sprokiesagtige kinderlike verbeeldingspel. “Troetelwoorde vir Ogilvie Douglas” se byskrif dui aan dat die inspirasie daarvoor ’n bosbouer by Grabouw was wat op ’n reëndag met sy mongoolkind op sy skoot gesit het. Die gedig gee dan weer hoe die pa met oneindige deernis en liefde met sy verstandelik gestremde kind praat en afsluit met die gebed vir seëninge vir die kind en die ouers. “Kaapstad: Saterdag om een” beskryf die tyd wat die stad leegloop na die oggend se bedrywigheid met treffende beelde wat die skielike afname in aktiwiteit beklemtoon. Die titel van “By Toccata en fuga in D mineur” verwys na ’n orrelwerk van Bach, met die gedig wat die skepping daarvan vergelyk met die wonderwerk van God se skepping van die heelal, sodat hierdie musiek ook ’n wonderwerk word. In “Karoo” eggo die plaasname die durende geloof van die boere dat die reën ook vir hulle verligting van die droogte sal bring, maar selfs al kom die reën nie is hulle gehard genoeg om te oorleef. Ander noemenswaardige gedigte sluit in “Hexriviervallei”, “Tribulus terrestris”, “Ballade van Bettiesbaai”, “Openbaring op ’n Saterdag” en “Vertroosting”. T.T. Cloete beskou hierdie bundel as “ongetwyfeld die beste debuutbundel van 1977”Tydskrif vir Geesteswetenskappe Junie 1978 en “tegelyk van die beste jongere poësie van die afgelope jare”. “Sprokkelster” ontvang in 1978 die Eugène Marais-prys en in 1979 die Ingrid Jonker-prys.

“Groenstaar” Brink, André P. “Rapport” 11 September 1983se titel dui op die oogsiekte gloukoom, waardeur die oogbal progressief verhard, wat die gesigsveld laat inkrimp en tot algehele blindheid kan lei, terwyl dit ook ’n jaloerse kyk kan beteken.Cloete, T.T. “Tydskrif vir Letterkunde” Jaargang 22 no. 4, November 1984 In die bundel fokus die gedigte dan ook op klein en intense emosies en spesifieke komponente, sodat die kern daarvan in fokus kom.Nienaber-Luitingh, M. “Standpunte” Nuwe reeks 169, Februarie 1984Telkens as die werklikheid vervaag, neem die droom oor. Die onderwerpe word waargeneem vanuit die wit van die Europese milieu (wat die oorsprong is van die meerderheid gedigte) waardeur in die geleidelike oorgang van die gedigte in die bundel die groen van die vaderland begin deurskemer.Olivier, Fanie “Die Burger” 8 Desember 1983 Die digter slaag daarin om ’n diepsinnige idee-wêreld op eenvoudige manier weer te gee met ’n woordvernuf en klankrykheid wat bekoor. ’n Aantal gedigte beeld die plekke en ervarings van haar herkoms direk uit, soos “Fragment uit stories wat my pa vertel”, “Weskusmirakel” en “Onderdorp”, met veral “’n Psalm vir die onderdorp” wat treffend is weens effektiewe gebruik van volksliedjies en geestelike liedere. Daar is ook treffende gedigte waaruit toegeneentheid jeens Nederland en Europa blyk, soos “Die wederkerende visioen van johannesmispelblom op koninginnedag in Amsterdam” en “Vir Jan met de zomerhanden”. “Groenstaar” is in 1984 op die kortlys vir die toekenning van die Louis Luyt-prys.

In 2013 word ’n digterlike swye van dertig jaar verbreek met die publikasie van die digbundel “Kaar”,Crous, Marius “Rapport” 14 Desember 2013 wat deur Marius Crous beskryf word as die poëtiese hoogtepunt van die jaar.Rapport 14 Desember 2013 Die titel word verklaar in die gedig “Woordverklaring” en kan verwys na ’n skeur in ’n rotswand,Van Vuuren, Helize “Beeld” 30 Desember 2013 ’n kompartement in ’n skip wat met water gevul is en waarin vis vars gehou word of ’n fuikagtige houer wat in water hang en waarin vis lewend bewaar word. Dit is ook die benaming vir die tregtervormige opening in ’n meul waarin graan opgevang word. Dit is in effek dan ’n houer vir ’n verskeidenheid diverse voorwerpe en kan simbolies ook gesien word as geheuebank oor ’n leefwyse wat verby is. Die titel weerspieël die inhoud van die bundel, waarin die digter se indrukke oor ’n groot aantal temas dikwels in fyn besonderhede aangebied word. Dit sluit in die natuur, voëls, diere, die liefde, die vader en sosiale vraagstukke. Waar die titel van die bundel reeds ’n min gebruikte woord bevat, poog die digter doelbewus om die taal te verryk en te verruim met ’n groot aantal woorde wat hulle oorsprong elders het, soos in Middel- en Oud-Nederlands, Angel-Saksies, Noors, Urdu en Sanskrit, wat saam met nuutskeppings gebruik word. Kenmerkend is die aansluiting by die natuur en die voël- en dierelewe, met die mens wat as integrale deel hiervan gesien word, ’n soort mensdier wat nie bo die res verhewe is nie. Telkens kom bedreigde of uitgestorwe lewenssoorte ter sprake, soos die kwagga, brulpadda en die seeperdjie, met die herhaalde verwysings na “wit” wat suggereer dat die wit mens in Afrika as een van die “bedreigde soorte” gereken kan word. ’n Hele afdeling van die bundel word aan liefdesgedigte gewy, met “Eerste risky liefdesliedjie” wat in direkte kontras staan met die res van die liefdesverse wat register en aanslag betref. Aangrypend is ook die verse wat handel oor die siek vader en die vader se verlies van taal, veral ironies omdat die pa die een was wat die digter kleintyd geleer het van die korhaan se roep. Die sewende afdeling van die bundel bevat satiriese verse oor die Suid-Afrikaanse staat en samelewing en sluit lyksange in vir gewone mense soos die mynwerkers van Marikana of onskuldige kinders wat verkrag en vermoor word. Die Nordiese tradisie van skalde of hofdigters wat met hul Oud-Noorse gebruik van anagramme en stafrym hul lesers vermaak het, word ook betrek. Daar is verder etlike gedigte oor die Nederlandse taal en landskap, met “Oujaar Amsterdam 2007” ’n hoogtepunt. Die gedigte tree in gesprek met die werk van verskeie ander digters, insluitende Wilma Stockenström, Wislawa Szymborska, Phillip Larkin, Ingrid Jonker en Seamus Heaney. “Kaar” word in 2014 met die Hertzogprys, die Elisabeth Eybers-prys en die Universiteit van Johannesburg-prys bekroon.

Van haar gedigte word in verskeie versamelbundels opgeneem, insluitende “Groot verseboek”, “Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte”, “Digters en digkuns”, “Die dye trek die dye aan”, “Liggaamlose taal”, “Kraaines”, “Woordpaljas”, “My Afrikaanse verseboek”, “Die goue vreugde”, “Voorspraak” en “Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte”. In 2020 word elf van haar gedigte in Vers en vrou opgeneem. De Wet, K. (samest.) Vers & vrou. Kaapstad: Human & Rousseau. 2020 Die literêre stigting Perdu laat op 10 Desember 2010 in Amsterdam in Nederland die fokus val op haar digkuns, ten spyte daarvan dat sy op daardie stadium slegs twee bundels die lig laat sien het. As vertaler sit sy Seamus Heaney se “The harvest bow” in Afrikaans oor en vertaal ook onder andere Osip Mandelstam se gedigte.

Prosa