Thomas François Burgers (1834–1881) was 'n omstrede teoloog en 'n ongewilde president van die ou Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR). Hy volg Marthinus Wessel Pretorius in 1872 op en dien as die tweede president van die ZAR tot die Britse anneksasie in 1877.HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013,

Herkoms en opleiding Burgers is op 15 April 1834 op die plaas Langfontein naby Graaff-Reinet gebore. Hy was die jongste kind van Barend Jacobus Burger (1775–1845) en sy derde eggenote, Elisabeth Magdalena Theron (1792–1867), weduwee van Willem Jacobus van Heerden. Die bekende Graaff-Reinetse heemraad Barend Jacobus Burger was sy grootvader. Die ewe bekende ouderling, Barend Jacobus Burger (Barend Vleiplaas) van Graaff-Reinet en Murraysburg was Burgers se oudste halfbroer (gedoop 1796) uit sy vader se eerste huwelik. Die familienaam is deur Burgers se voorgeslag en deur sy ouers as “Burger” geskryf, ook by sy doop op Graaff-Reinet op 11 Mei 1834. Self het hy reeds as negentienjarige by sy vertrek na Europa “Burgers” geskryf.

Hy het sy skoolopleiding op Graaff-Reinet deur die Engelse medium ontvang. Van 1853 tot 1858 studeer hy in Utrecht, Nederland, waar by onder invloed van prof. C.W. Opzoomer die “moderne” of liberale rigting in die teologie aanvaar het. In 1858 is hy getroud met 'n Skotse dame, Man Bryson (26 Desember 1836 tot 26 April 1929). Hulle het tien kinders (twee seuns en agt dogters) gehad van wie drie vroeg oorlede is.

Hy keer in 1858 na die Kaap terug om leraar van die NG gemeente Hanover in die Karoo te word nadat hy sy doktorsgraad in Teologie aan die Universiteit Utrecht in Holland verwerf.

In sy eerste gemeente raak hy betrokke in 'n teologiese geskil op grond van sy beweerde liberalisme (hy het hom sterk uitgespreek teen die destydse opwekkingsdienste) en ongeloof in die letterlike waarheid van die Bybel. Dit het sy skorsing in 1862 deur die Sinode tot gevolg gehad. Burgers beroep hom op die Kaapse Hooggeregshof en word gelyk gegee en as predikant herstel, nadat die Sinode se appèl ook by die Britse Geheime Raad misluk.

President van Transvaal Pres. J.H. Brand van die Vrystaat, wat aanvanklik self uit Transvaal genader is om ook die presidentskap van die Z.A.R. op hom te neem en 'n federale unie tussen die twee susterrepublieke tot stand te bring, het Burgers aanbeveel as kandidaat vir die Transvaalse presidentskap wat juis in 1871 vakant geraak het ná die bedanking van M.W. Pretorius weens die Keate-uitspraak oor die Transvaalse suidwestelike grens. Terwyl die Hervormde Kerk sy kandidatuur gesteun het, is hy deur die NG Kerk, en veral ds. F. Lion Cachet teengewerk, sowel as deur die waarnemende president, D.J. Erasmus, en kmdt.genl. S.J.P. Kruger. Daar is egter die behoefte aan 'n "geleerde" president gevoel wat op 'n kritieke tydstip in die betrekkinge met Groot-Brittanje sterk en bekwaam sou kon optree. Daarop is Burgers met 2 964 teenoor 388 stemme bo William Robinson tot president verkies, en op 1 Julie 1872 op Pretoria ingesweer.

Burgers was 'n idealis wat in 'n "nationaal idee" en 'n verenigde Suid-Afrika onder 'n federale bestuur geglo het, hoewel nie bewys kan word dat hy dit onder eie vlag bedoel het nie. Aanvanklik was dit sy oogmerk om die republiek uit sy ekonomiese, geestelike en politieke afsondering te verlos deur vooruitgang te bevorder in die finansies, onderwys en handel, onder meer deur nuwe wetgewing en 'n spoorweg tussen Pretoria en Delagoabaai, en ten slotte om te voorkom dat die republiek deur die ongunstige Keate-uitspraak gebiedsverliese aan sy suidwestelike grense sou ly. Om die finansiële toestand te verbeter en waardelose papiergeld te vervang, het hy na Kaapstad gegaan en £50 000 by die Cape Commercial Bank geleen. Hy het ook die Lydenburgse goudvelde besoek en twee verteenwoordigers in die volksraad vir die sowat 500 Engelstalige delwers toegestaan.

In 1874 het hy die eerste Burgers-ponde van Transvaalse goud laat slaan waarop sy beeltenis en die landswapen gepryk het. Hy het Utrecht besoek waar daar onrus op die Zoeloegrens was, daarna Christiana waar die Keate-uitspraak beroering onder die swart mense gebring het. Hy was dikwels uit die hoofstad afwesig en in 1874 maande lank weens oorwerk en siekte uit diens. Teen die inmenging van sir Henry Barkly, die Kaapse goewerneur en Britse hoë kommissaris, in sy land se binnelandse sake oor die Keate-gebied, het pres. Burgers 'n hewige stryd gevoer en in Augustus 1874 het hy oor Barkly 'n diplomatieke oorwinning behaal met sy weerlegging (in 'n stuk van meer as 100 bladsye folio) van die Keate-uitspraak. Hy het die regte van die republiek op die suidwestelike grens gehandhaaf deur ooreenkomste in verband met grond afstand in die betwiste Keate-gebied met die swart kapteins te sluit, waardeur die republiek sy jurisdiksie bly uitoefen het asof die uitspraak nie bestaan het nie.

Ongewildheid In 1874 het sy omstrede onderwyswet gevolg wat ná enige wysigings eers in 1876 onder W.J. van Gorkom as superintendent van onderwys in werking getree het, en waaronder E.J.P. Jorissen en J. A. Roorda-Smit onderwysers geword het in 'n gimnasium wat in 1876 met vier leerlinge begin het. Hy het die kulturele lewe in Transvaal bevorder deur die stigting van die blad De Volksstem in Pretoria in 1873, met J.F. Celliers as eerste redakteur, en deur 'n museum, 'n biblioteek, en 'n botaniese tuin waarin sy standbeeld vandag staan, te begin.

Tog het Burgers te veel op eie houtjie opgetree sonder om die volk genoegsaam in sy handelinge te ken. Onder die publiek was daar die mening dat sy onderwyswet in sy aanvanklike vorm die Bybel uit die skool neem en die kinders aan die kerk ontruk. Toe hy in 1874 die Transvaalse vlag en wapen verander en die Vierkleur vervang deur 'n oorhoekse rooi kruis op 'n blou veld, wat volgens hom die ou Potgietervlag was, het die burgers teen die veronagsaming van die tradisie in verset gekom en die vlag op verskeie plekke neergehaal. In 1875 herroep die volksraad die vlagwysiging in pres. Burgers se afwesigheid en dit het op sy beurt aan sy kant bitterheid en teenkritiek tot gevolg gehad.

Intussen was daar reeds 'n breuk tussen Burgers en sy burgers wat hom so eenparig tot president gekies het: hulle het teleurgesteld geraak met sy taktlose en oorhaastige optrede soos hy met hul behoudendheid en onontwikkeldheid; hy wou hoër vlieg as wat die republikeinse vlerke toegelaat het, en sy oorskatting van sy land se potensiaal het tot teleurstelling vir albei gevoer. Pleks dat hy die burgers, soos pres. Brand, om sy persoon verenig het, het pres. Burgers sy veroordeling en geringskatting van die Transvalers nie verberg nie. Sy liberale godsdienstige opvattinge, die beleid om homself deur liberale Hollandse amptenare te omring, sy minagting vir tradisie en gebrek aan kennis van die volk en sy omstandighede het ál meer verwydering en verdeeldheid veroorsaak sodat hy afgesonderd geraak het en die vertroue van sy mense verbeur het.

Europese besoek Burgers was dikwels uit Pretoria afwesig, en tydens sy 14 maande lange verblyf in Europa (1875–76), waar hy in opdrag van die volksraad gehoop het om 'n spoorweglening van £300 000 te sluit en die republiek daar bekend te maak, het sy teenstanders veld gewen. Sy doel was om Pretoria met Lourenço Marques per spoor te verbind, die land ekonomies onafhanklik van die Britse kuskolonies te maak en buitelandse kapitaal te be trek vir die ontwikkeling van die potensiële rykdom aan grondstowwe. Hierdie ideaal het egter ingedruis teen die Britse federasiegedagte en die belange van die Britse kushandelaars. Daarom is sy reis van Britse kant dopgehou. Hy het Brittanje onderweg na die Vasteland aangedoen en die minister van kolonies, lord Carnarvon, ontmoet in wie hy vertroue gekry het. Hy het Nederland besoek en in Utrecht 'n eredoktoraat ontvang. Ook het hy België, Switserland en Portugal besoek waar ere-ordes aan hom toegeken is.

Hy het 'n spoorwegtraktaat met Portugal gesluit. In 1875 het Catharina van Rees in Bonn vir hom die Transvaalse volkslied, “Ken gij dat volk vol heldenmoed”, gedig en getoonset wat in 1876 vir die eerste keer in Arnhem gespeel is; in Nederland is in 1876 die Lebombo-spoorwegmaatskappy gestig met Transvaal as die grootste aandeelhouer, en die firma Insinger het onderneem om die lening te plaas. Die lening is egter slegs gesluit, en Burgers het hom daarna kritiek op die hals gehaal deur in Transvaal die indruk te skep dat dit ook volteken is, terwyl van die beoogde £300 000 in werklikheid net £90 000 gevind is.

In Leuven het Burgers 'n bestelling vir spoorwegmateriaal vir £63 000 geplaas en met België en Nederland traktate van vrede, vriendskap en handel gesluit. Met sy terugkoms het die landsomstandighede sy grootste spoorwegplanne in die war gestuur. Lord Carnarvon het intussen sedert Mei 1875 sy federasieplan vir Suid-Afrika van stapel gestuur en pres. Burgers het die waarnemende president, Piet Joubert, reeds gelas om 'n konferensie daaroor by te woon. Die volksraad het egter die onskendbaarheid van die Transvaalse onafhanklikheid as voorwaarde gestel en aangebied om net grense en sake met betrekking tot swart stamme te bespreek. Die konferensie in Suid-Afrika het weens die weerstand van die Kaapse regering teen federasie ewewel nie plaasgevind nie. Met die doel om Burgers se spoorwegplan te verongeluk, wat Transvaal buite die federasie sou hou en op die buiteland en weg van die Britse kolonies sou oriënteer, het Carnarvon egter besluit om Transvaal te annekseer. Indien die anneksasie slaag, sou dit hom die bykomende voordele besorg van die oplossing van die Transvaalse grenskwessies in die suidweste en suidooste en die insluiting van Zoeloeland sowel as die Oranje-Vrystaat binne Britse gebied. Afgesien van die ongewildheid van Burgers se spoorwegbelasting, het die gouddelwersgemeenskap in Oos-Transvaal wat pro-Brits en ten gunste van federasie was, in hul mondstukke soos The Gold Fields Mercury, The Transvaal Advocate en The Transvaal Argus, sterk kritiek uitgespreek oor die bestuur van die republiek.

Stryd teen Sekhukhune duimnael|regs|200px|President Thomas François Burgers omstreeks 1877. Ook het die botsing met Sekhukhune ná sy opstand teen die regering in Mei 1876 die staatskas leeggemaak. Dit het 'n ongewilde oorlogsbelasting meegebring wat Burgers verplig was om in te stel, en het burgerlike ongehoorsaamheid in die hand gevoer. Pres. Burgers het gehoop dat 'n flinke oorwinning veiligheid, vertroue en sekerheid sou meebring, maar hy moes oorlog voer sonder die hulp van erkende militêre leiers soos Kruger en Joubert wat geweier het om die kommando's aan te voer. Hy het die fout begaan om in te stem om self as opperbevelhebber op te tree oor kommando's wat onder aanvoering van genl. N. J. Smit en oudpres. M.W. Pretorius nie goed saamgewerk het nie. Die aanvalle op Johannes en Sekhukhune se krale in Julie en Augustus 1876 het misluk; die kommando's het weggesmelt omdat mismoediges huis toe gegaan het en uiteindelik was dit 'n vrywilligerskorps onder kapt. C.H. von Schlickmann wat Sekhukhune so uitgeput het dat hy om vrede gevra het.