Gildes was beroepsorganisasies wat in die Middeleeue kenmerkend was vir die gemeenskapslewe van Wes-Europese stede en wat vername sosiaal-ekonomiese funksies vervul het. Gildes het rondom die 11e eeu uit die destydse broederskappe van stroop- en krygsbendes, monnike en rondreisende koopmanne ontstaan. Die religieuse grondslag van die broederskappe het deur die eeue by gildes bly voortbestaan. Die eerste gildes was handelsgildes.
Later het die verskillende ambagte hul eie gildes gevorm, wat gewoonlik uit leerjongens, vakmanne of dagloners en meesters bestaan het. Die gildebestuur het uit verkose meesters bestaan en het reëls neergelê vir die opleiding van ambagsmanne, werkprosedures, pryse en dies meer. Vir die verbreking van die reëls is swaar boetes opgelê. Daarby het gildes ook die sosiale gedrag van hul/ede voorgeskryf en toegesien dat lede tydens siekte of dood ondersteun word. In die 14e eeu, toe gildes op hul magtigste was, het hulle baie invloed in die stedelike bestuur gehad en in sommige streke selfs die stedelike beheer oorgeneem.
Hierdie periode was egter net van korte duur en daarna moes die gildes baie van hul politieke en ekonomiese mag afstaan. Naas 'n veranderde ekonomiese klimaat het die nuwe ideologie van volkome individuele vryheid wat in die 17e eeu begin posvat het, veroorsaak dat gildes aan die einde van die 18e en begin van die 19e eeu heeltemal verdwyn het.
Ontstaan Gildes of beroepsorganisasies vir ambagte het in Wes-Europa in die 11e eeu uit broederskappe ontwikkel. Broederskappe was in die Vroeë Middeleeue normale verenigingstrukture wat meestal met 'n bloedeed bevestig is. Die Germaanse stroop- en krygsbendes wat die Romeinse Ryk geteister het, was waarskynlik die eerste broederskappe. Christelike broederskappe soos die van monnike sowel as broederskappe tussen rondreisende koopmanne om hul ware teen rowers te beskerm, het egter ook al in die Vroeë Middeleeue bestaan.
Toe Karel die Grote omstreeks 800 sy ryk opgebou het, het hy die meeste broederskappe verbied maar die broederskappe van die monnike en koopmanne onder sy persoonlike beskerming geneem. Hierdie origens vae verordening van hom was die eerste stap in die rigting van die regulering van vrye broederskappe. latere konings, hertoë en grawe, maar ook die pous en biskoppe, het Karel se voorbeeld gevolg en aan talle broederskappe privilegies verleen, dit wit se 'n skriftelike erkenning van die bestaan daarvan.
In hierdie privilegie is die doel van die broederskap en sy werkterrein omskryf. Hierdeur het die vrye, geswore broederskappe geleidelik uit die mode geraak en plek gemaak vir nuwe verenigings wat van die toestemming van die "owerheid" afhanklik was. Ondanks die formele aspek wat nou aan die "gildes" verbonde was, het talle broederskapstradisies bly voortbestaan, onder meer die eed van getrouheid en die religieuse element.
Handelsgildes Die eerste gildes, wat later kenmerkend vir die Middeleeuse stedelike ekonomie geword het, was handelsgildes. Hulle het vroeg in die 11e eeu ontstaan toe die handel in Wes-Europa opgebloei het en daarmee saam baie nuwe stede gestig is. Die oudste skriftelike bronne wat bewaar gebly het, handel oor die handelsgilde by Tiel in 1018. Omstreeks die jaar 1100 het handelsgildes oral in Wes-Europa voorgekom. As die handelaars van 'n dorp of stad 'n gilde wou vorm, moes hulle die betrokke koning se toestemming daarvoor vra.
Die toestemming is verleen in die vorm van 'n koninklike privilegie. Sodra 'n dorp 'n handelsgilde gehad het, kon slegs gildelede vryelik daar handel dryf. Vreemdelinge moes belasting betaal as hulle hul artikels in die dorp te koop wou aanbied. Die gilde het verder reëls neergelê vir die eerlike bedryf van handel en lede gestraf wat hulle nie daarby gehou het nie. Die uitgangspunt van die gildes was om hul lede ryk te maak deur vreemdelinge uit te skakel en nie deur uitbuiting nie.
Die handelsgildes het aanvanklik die tradisies van die vrye broederskappe gewoonweg voortgesit, maar nou slegs binne die stads – of dorpsgrense. Wedersydse bystand tydens siekte, gemeenskaplike godsdiensbeoefening en Christelike begrafnisse vir lede is onder eed gesweer. Net soos die broederskappe het ook die eerste handelsgildes buitelandse reise in groepsverband georganiseer. Die handelaars, bewapen met swaard en skild, het tydens die reise in 'n kring rondom die volgelaaide waens gestap om dit teen rowers te beskerm. Vooraan het die vaandeldraer met die gilde se vaandel geloop. Elke groep het ook 'n bevelvoerder gehad. Baie gildes het hul eie herberge langs die roetes gebou waar lede kon oornag en vars perde kon kry. Mettertyd het 'n groot deel van die handelaars meer tyd in hul tuisdorpe verwyl en 'n rol in die dorpsbestuur begin speel. Die stadsvaders het 'n belang in die handel gehad omdat dit tot die plaaslike welvaart bygedra het, terwyl die handelaars steun nodig gehad het om alleenreg in die stad en in die omgewing te verwerf.
Ambagsgildes Aanvanklik is nie net alle handel nie, maar ook alle ambagte deur die handelsgildes verteenwoordig. Ambagsmanne het egter mettertyd begin om van die handelsgildes weg te breek en hul eie gildes te stig, en teen die 14e eeu, toe gildes op hul magtigste was, was feitlik elke ambag, van die skoenmakers tot die smede, in ʼn gilde saamgesnoer. Namate die ambagsgildes gegroei het, is handelsgildes al hoe meer verdring en het hulle in baie gevalle heeltemal verdwyn. Die Middeleeuse ambagsman het regstreeks onder die beheer van die koning gestaan.
Sonder sy toestemming kon geen ambag wettiglik bedryf word nie, maar omdat daar meer ambagte bestaan het as waarna die koning persoonlik kon omsien, het die hoe amptenare van die kroon as afgevaardigdes van die koning opgetree. Die kamerheer het byvoorbeeld jurisdiksie gehad oor die tekstielbewerkers, kramers, pelshandelaars, skoenmakers en kleremakers. Barbiers het onder die koning se persoonlike barbier geressorteer, die bakkers onder sy spysenier, die wynhandelaars onder sy hofmeester, ensovoorts. Die koninklike amptenare het dikwels op hul beurt afgevaardigdes aangestel wat die lisensies aan die ambagsmanne moes uitreik en het hul mag dikwels misbruik. Die lisensiegelde was hoog, dikwels so hoog dat die amptenare gerieflik van hul winste kon lê we.
Gildestruktuur In die meeste gevalle het gildes uit 3 tipes lede bestaan, naamlik meesters, vakmanne of dagloners en leerjongens. Alle lede moes gewoonlik ʼn jaarlikse bedrag as ledegeld betaal. Die geld is hoofsaaklik gebruik vir wat vandag as sieke- en pensioenfondse bekend staan.
As 'n lid 'n ruk lank weens siekte nie sy ambag kon bedryf nie, het hy finansiële hulp van die gilde ontvang. In die geval van dood is vir 'n Christelike begrafnis gesorg en is die weduwee en haar kinders in 'n mate ondersteun. Die gildebestuur het bestaan uit meesters wat gewoonlik deur ʼn meerderheidstem verkies is. Hul magte was besonder wyd. Hulle het die reëls neergelê vir die vervaardiging van produkte, die materiaal wat gebruik moes word, die aantal ure per dag wat 'n meester mag werk, die pryse van produkte, die opleiding wat leerjongens moes ondergaan en die vereistes om as meester toegelaat te word. As 'n reël verbreek is, was die gildebestuur by magte om die oortreder te straf. By 'n eerste oortreding is gewoonlik net 'n boete opgelê, maar die strawwe het van gilde tot gilde verskil.
So is 'n skoenmaker in 'n Engelse dorp vroeg in die 15e eeu 'n boete van 10 pond – ʼn baie groot som geld vir daardie dae – opgelê omdat hy 'n paar skoene van swak gehalte verkoop het, terwyl 'n kleremaakster elders moes toekyk hoe haar rok van minderwaardige materiaal in die openbaar op die stadsplein verbrand is. Destyds is geredeneer dat een swak kleremaakster die reputasie van alle kleremaaksters skend. Bestuurslede van die gildes het die reg gehad om te eniger tyd ʼn werkwinkel te besoek en die gehalte van die vervaardigde artikels te toets.
By baie ernstige oortredings het dit dikwels gebeur dat ʼn ambagsman aan die skandpaal beland het of selfs uit die gilde geskors is. laasgenoemde het natuurlik beteken dat die ambagsman nie meer sy ambag kon bedryf nie omdat slegs gildelede toegelaat is om in 'n bepaalde dorp of stad te werk. Daarby het bestuurslede ook 'n regterlike funksie gehad. Hulle moes geskille tussen lede besleg en boedels beredder. Om die gemeenskaplike funksies makliker te behartig, het die lede van dieselfde beroepe hulle binne die stede ruimtelik na aan mekaar geskaar en dikwels in dieselfde strate gewerk. Baie straatname in Europa getuig nog van die gewoonte. Sommige gildes het egter nuwe meesters verbied om in 'n straat te werk waar 'n ander meester reeds gevestig was.
Opleiding Elke gilde het sy eie voorskrifte vir die opleiding van nuwelinge gehad. Die leertyd van leerjongens onder 'n meester het gewoonlik op die ouderdom van 12 begin en in die meeste gevalle 7 jaar geduur. Baie gildes het streng reëls gehad omtrent die aantal leerjongens wat 'n meester op 'n slag kon hê. Bakkers en slagters kon meestal 'n onbeperkte aantal hê, terwyl leerlooiers, kleurders en goudsmede naas hul eie seun ʼn familielid of, by gebrek daaraan, een ander leerjonge kon oplei. In sommige beroepe is die seuns van leermeesters egter van 'n aanvanklike leertyd vrygestel. Die aantal leerjongens is beperk om te voorkom dat daar meer ambagsmanne as werk was.
Om deur 'n leermeester opgeneem en geleer te word, moes die leerjonge 'n sekere bedrag geld betaal. Gedurende sy opleiding het hy geen vergoeding ontvang nie maar ingewoon by die meester, wat hom van kos en klere – en 'n strooigildes bed in die werkwinkel- voorsien het. Dit was die meester se plig om die leerjonge in alle kunsies van die betrokke ambag touwys te maak. Hy moes ook toesien dat sy leerling ʼn eerbare burger word en baie gildes het vereis dat die leerjonge in hierdie tyd geleer word om te lees en te skryf.
As die meester nie sy pligte teenoor sy leerling nagekom het nie, is hy 'n boete opgelê. Na die opleidingsperiode het die leerjonge 'n vakman, ook dikwels dagloner genoem, geword. Min gildes het 'n eksamens na die leerlingskap vereis. Tydens die vakmanskap het die vakmanne gewoonlik baie gereis. Hulle het van stad tot stad getrek en onder verskillende meesters gewerk, soms net vir 'n dag, soms langer. Vir hierdie werk is hulle altyd vasgestelde lone betaal. Die duur van die periode is deur die meeste vakmanne self bepaal. Timmermanne en messelaars het spesiale status tydens hut vakmanskap geniet. Lank voor die ontstaan van gildes het hierdie ambagsmanne reeds halfgeheime broeder-huisvesting voorsien en hom gehelp om werk te kry. Daar is egter dikwels van die eerbare doelstellings afgewyk en baie van die byeenkomste het op drinkpartye en ander losbandighede uitgeloop.
Meesters en meesterstukke Voordat 'n vakman 'n meester kon word, moes hy sy vaardighede bewys deur 'n sogenaamde meesterstuk te vervaardig. Sommige gildes het voorgeskryf hoe hierdie meesterstuk moes lyk. Die Duitse goudsmede moes byvoorbeeld altyd ʼn ring, 'n seël en 'n beker maak. In ander beroepe kon die vakman enige voorwerp vervaardig wat betrekking gehad het op sy ambag. Sommige gildes het voorgeskryf dat 'n vakman ook moet bewys dat hy die werktuie wat hy in sy ambag gebruik, kan maak of herstel.
Die meesterstuk moes aan die gildebestuur voorgelê word vir goedkeuring en die bestuurslede het dikwels hewige debatte vir en teen die voorwerp gevoer. As die voorwerp goedgekeur was, moes die vakman ook nog 'n bedrag betaal voordat hy meester kon word. Eerlikheid was nie altyd aan die orde van die dag nie. As die ou meesters gevrees het dat 'n nuweling te kwaai mededinging vir hulle sou wees, was hulle dikwels onredelik streng by die beoordeling van 'n meesterstuk of was die toelatingsgelde so hoog dat die vakman dit nie kon betaal nie.