Heinrich Luitpold Himmler (7 Oktober 1900 in München - 23 Mei 1945 in Lüneburg) was Reichsführer van die Schutzstaffel (Beskermingseskader; SS), en 'n voorste lid van die Nazi-party van Duitsland. Himmler was een van die magtigste mense in Nazi-Duitsland en een van die persone wat die grootste verantwoordelikheid vir die Holocaust dra.

Himmler het in 1923 by die Nazi-party aangesluit. In 1925 het hy aangesluit by die SS, 'n klein paramilitêre tak van die Nazi-party wat as 'n lyfwageenheid vir Adolf Hitler gedien het. Daarna het Himmler deur die SS-rangorde gestyg en in 1929 Reichsführer-SS geword. Onder Himmler se leiding het die SS gegroei van 'n bataljon van 290 man tot een van die magtigste instellings in Nazi-Duitsland. Gedurende sy loopbaan het hy 'n reputasie opgebou vir goeie organisatoriese vaardighede sowel as vir die seleksie van hoogs bekwame ondergeskiktes, soos Reinhard Heydrich.

Van 1943 af was hy sowel die hoof van die Kriminalpolizei (misdaadpolisie) as minister van binnelandse sake, wat hom beheer gegee het oor alle interne en eksterne polisie- en sekuriteitsmagte (insluitend die Gestapo). Hy het ook die Waffen-SS beheer, 'n tak van die SS wat in die Tweede Wêreldoorlog saam met die Wehrmacht (weermag) gedien het.

As die hoofhandhawer van die Nazi's se rassebeleide, was Himmler verantwoordelik vir die bedryf van uitwissings- en konsentrasiekampe sowel as die stigting van die Einsatzgruppen ("taakmagte") in die Duits beheerde Europa. In hierdie kapasiteit het hy tydens die Holocaust 'n sentrale rol gespeel in die volksmoord van die geraamde 5,5-6 miljoen Jode en die dood van miljoene ander slagoffers.

Nadat Himmler besef het die oorlog is verloor, het hy, sonder Hitler se kennis, in Maart 1945 probeer om vredesamesprekings met die Westerse Geallieerdes te begin. Toe Hitler dit op 28 April uitvind, het hy Himmler uit al sy poste ontslaan en gelas dat hy in hegtenis geneem word. Himmler is eindelik deur die Britse magte gevang. Hy het op 23 Mei 1945 selfmoord gepleeg en is in 'n ongemerkte graf begrawe.

Nazi-aktivis Himmler het op 1 Augustus 1923 by die Nazi-party aangesluit en die partynommer 14303 ontvang. As lid van Ernst Röhm se paramilitêre eenheid was Himmler betrokke by die Bierhalle-staatsgreep – ’n onsuksesvolle poging deur Adolf Hitler en die Nazi-party om mag in München oor te neem. Dié gebeurtenis het Himmler op ’n lewenspad van politiek geplaas. Hy is deur die polisie ondervra oor sy rol in die staatsgreep, maar is nie aangekla nie vanweë onvoldoende bewyse. Hy het egter sy werk verloor, kon nie werk kry as ’n plaasbestuurder nie en moes by sy ouers in München gaan woon. Gefrustreer deur hierdie mislukkings het hy al hoe prikkelbaarder, aggressiewer en meer uitgesproke geraak, wat hom van sy familie en vriende vervreem het.

In 1923-'24, terwyl Himmler op soek was na ’n wêreldbeskouing, het hy die Katolisisme laat vaar en hom toegespits op die okkultisme en antisemitisme. Germaanse mitologie, versterk deur okkulte idees, het vir hom ’n soort godsdiens geword. Himmler het die Nazi-party aantreklik gevind omdat sy politieke standpunte met sy eie ooreengestem het. Aanvanklik was hy nie meegesleur deur Hitler se charisma of die kultus van Führeraanbidding nie. Maar namate hy meer oor Hitler gelees het, het hy hom begin beskou as ’n bruikbare gesig vir die party, en later het hy Hitler bewonder en selfs aanbid. Om sy eie posisie binne die Nazi-party te konsolideer en bevorder, het Himmler voordeel getrek uit die wanorde in die party ná Hitler se arrestasie weens die Bierhalle-staatsgreep. Van middel 1924 af het hy onder Gregor Strasser gewerk as partysekretaris en propaganda-assistent.

Heimler het deur die hele Beiere gereis om lede vir die party te werf, toesprake te lewer en geskrifte te versprei. Strasser het hom laat in 1924 aangestel as hoof van die partykantoor in Laer Beiere, waar hy verantwoordelik was vir die integrasie van die streek se lede in die herstigting van die Nazi-party onder Hitler in Februarie 1925.

In dieselfde jaar het Himmler by die (SS) aangesluit as ’n SS-Führer (SS-leier). Sy SS-nommer was 168. Die SS, wat oorspronklik deel van die veel groter Sturmabteilung (SA) was, is in 1923 vir Hitler se persoonlike beskerming gestig en is in 1925 herstruktureer as ’n elite-eenheid van die SA. Strasser het hom in Januarie 1927 as adjunkhoof van propaganda aangestel. Soos tipies was in die Nazi-party, het hy baie vryheid van optrede in sy pos gehad, en dit het mettertyd toegeneem. Hy het begin om statistieke in te samel oor die aantal Jode, Vrymesselaars en vyande van die party, en in ooreenstemming met sy sterk behoefte aan beheer het hy ’n uitgebreide burokratiese struktuur ontwikkel. In September 1927 het Himmler aan Hitler sy visie verduidelik om die SS te omskep in ’n lojale, magtige, rassuiwer elite-eenheid. Hitler, oortuig daarvan dat Himmler die regte man vir die taak was, het hom aangestel as adjunk-Reichsführer, met die rang Oberführer.

Rondom hierdie tyd het Himmler aangesluit by die jeuggroep Artaman-liga, waar hy Rudolf Höss ontmoet het. Dié het later kommandant van die Auschwitz-konsentrasiekamp geword.

Opgang in die SS thumb|180px|Himmler in 1929. Ná die bedanking van die SS-bevelvoerder, Erhard Heiden, in Januarie 1929 het Himmler die pos van Reichsführer-SS met Hitler se goedkeuring oorgeneem. Een van sy eerste verantwoordelikhede was om SS-deelnemers by die Neurenbergse partybyeenkoms in September dié jaar te organiseer. Oor die volgende jaar het Himmler die SS van 'n mag van sowat 290 manne tot ongeveer 3 000 uitgebrei. Teen 1930 het Himmler vir Hitler oorreed om die SS as ’n afsonderlike organisasie te bestuur, hoewel dit amptelik steeds ondergeskik aan die SA was.

Om politieke mag te verkry, het die Nazi-party voordeel getrek uit die ekonomiese agteruitgang tydens die Groot Depressie. Die koalisieregering van die Republiek Weimar kon nie die ekonomie verbeter nie, en baie kiesers het hulle tot die politieke uiterstes gewend, wat die Nazi-party ingesluit het. Hitler het van populistiese retoriek gebruik gemaak, insluitend om die blaam op sondebokke – veral die Jode – te plaas vir die ekonomiese probleme. In September 1930 is Himmler vir die eerste keer as ’n afgevaardigde tot die Reichstag verkies. In die 1932-verkiesing het die Nazi’s 37,3 persent van die stemme en 230 setels in die Reichstag gewen. Hitler is op 30 Januarie 1933 deur president Paul von Hindenburg as kanselier van Duitsland aangestel. Die Magtigingswet, wat op 23 Maart 1933 deur die Reichstag aanvaar is, het die kabinet – eintlik Hitler – volle wetgewende magte gegee en die land het ’n de facto-diktatuur geword. Op 1 Augustus 1934 het Hitler se kabinet ’n wet aanvaar wat bepaal het dat die amp van president met Hindenburg se dood afgeskaf en die magte daarvan by dié van die kanselier gevoeg sou word. Hindenburg is die volgende oggend oorlede, en Hitler het beide staatshoof en regeringshoof geword onder die titel Führer und Reichskanzler (leier en rykskanselier).

Die Nazi-party se opkoms tot mag het vir Himmler en die SS ’n onbelemmerde geleentheid gebied om te floreer. Teen 1933 het die SS 52 000 lede gehad. Streng lidmaatskapsvereistes het verseker dat alle lede tot Hitler se Ariese Herrenvolk ("meesterras") behoort het. Min mense het gewaag om te noem dat Himmler nie aan sy eie standaarde voldoen het nie.

thumb|200px|links|Himmler en Rudolf Hess kyk in 1936 na 'n skaalmodel van die Dachau-konsentrasiekamp. In Maart 1933 het die ryksgoewerneur van Beiere, Franz Ritter von Epp, Himmler as hoof van die München-polisie aangestel. Met ingang 1 Januarie 1933 het Hitler vir Himmler tot die rang van SS-Obergruppenführer bevorder, gelyk aan die rang van die senior SA-bevelvoerders. Op 2 Junie is Himmler, saam met die hoofde van die ander twee Nazi-paramilitêre organisasies, die SA en die Hitlerjeug, as 'n Reichsleiter aangewys. Dit was die tweede hoogste politieke rang in die Nazi-party.

Himmler het verder die SS se Rasse- und Siedlungshauptamt (RuSHA; "ras- en nedersettingshoofkantoor") tot stand gebring. Die kantoor het rassebeleide geïmplementeer en die "rasintegriteit" van SS-lede gemonitor. SS-manne is noukeurig gekeur vir hulle rasagtergrond.

In Maart 1933, minder as drie maande nadat die Nazi's aan die bewind gekom het, het Himmler die eerste amptelike konsentrasiekamp by Dachau ingestel. Himmler het Theodor Eicke, ’n veroordeelde misdadiger en vurige Nazi, in Junie 1933 aangestel om die kamp te bestuur. Eicke het ’n stelsel ontwikkel wat as model vir toekomstige kampe regoor Duitsland gedien het. Die kenmerke hiervan het ingesluit: isolasie van slagoffers van die buitewêreld, uitgebreide oproeplyste en werkgroepe, die gebruik van geweld en teregstellings om gehoorsaamheid af te dwing en ’n streng dissiplinêre kode vir die wagte. Uniforms is aan beide gevangenes en wagte uitgereik; die wagte se uniforms het ’n spesiale Totenkopf-kenteken op die kraag gehad. Teen die einde van 1934 het Himmler beheer oor die kampe oorgeneem onder die vaandel van die SS en ’n afsonderlike afdeling geskep: die SS-Totenkopfverbände.

Aanvanklik het die kampe politieke teenstanders gehuisves; met verloop van tyd is ongewenste lede van die Duitse samelewing – misdadigers, rondlopers, afwykendes – ook daarin geplaas. ’n Dekreet deur Hitler in Desember 1937 het voorsiening gemaak vir die inhegtenisneming van enigiemand wat deur die regime as ’n ongewenste lid van die samelewing beskou is. Dit het Jode, sigeuners en kommuniste ingesluit, asook mense van enige kulturele, ras-, politieke en godsdiens-affiliasie wat deur die Nazi’s as Untermensch ("submens") beskou is. Teen die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in die herfs van 1939 was daar ses kampe met sowat 27 000 gevangenes. Sterftesyfers was hoog.

Konsolidasie van mag In 1934 het Hitler vir Himmler as hoof van alle Duitse polisiemagte buite Pruise aangestel. Dit was ’n radikale afwyking van die langdurige Duitse gebruik waar wetstoepassing ’n saak van die deelstate en plaaslike owerhede was.

Op 17 Junie 1936 het Hitler die vereniging van alle polisiemagte in die Ryk afgekondig en vir Himmler as hoof van die Duitse polisie en as ’n staatsekretaris in die departement van binnelandse sake aangewys. Die polisie was nou feitlik ’n afdeling van die SS. Hierdie stap het aan Himmler operasionele beheer oor Duitsland se hele speurdiens gegee.

Kort daarna het Himmler die Kriminalpolizei (Kripo; "misdaadpolisie") geskep as ’n sambreelorganisasie vir alle kriminele ondersoekagentskappe in Duitsland. Die Kripo is met die Gestapo saamgevoeg in die Sicherheitspolizei (SiPo: "veiligheidspolisie"). In September 1939, ná die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog, het Himmler die SS-Reichssicherheitshauptamt (RSHA; "Rykshoofkantoor vir Veiligheid") gestig om die SiPo (wat die Gestapo en Kripo ingesluit het) en die Sicherheitsdienst (SD; "Sekuriteitsdiens") onder een sambreel te verenig.

Onder Himmler se leiding het die SS sy eie militêre tak ontwikkel, die SS-Verfügungstruppe (SS-VT), wat later ontwikkel het in die Waffen-SS. Die Waffen-SS was nominaal onder Himmler se gesag het ’n volledig gemilitariseerde kommandostruktuur en operasionele raamwerk aangeneem. Dit het van drie regimente tot meer as 38 divisies tydens die Tweede Wêreldoorlog gegroei, en het saam met die Wehrmacht gedien, hoewel dit nooit formeel deel daarvan was nie.

Benewens sy militêre ambisies het Himmler ook begin met die vestiging van ’n parallelle ekonomie onder die vaandel van die SS. Met dié doel het die administrateur Oswald Pohl in 1940 die Deutsche Wirtschaftsbetriebe ("Duitse Ekonomiese Onderneming") op die been gebring. Die beheermaatskappy het, onder die beskerming van die SS-hoofkantoor vir ekonomie en administrasie, woonstelkorporasies, fabrieke en uitgewers besit.

Tweede Wêreldoorlog thumb|240px|Himmler en die bevelvoerder van die Finse weermag, C.G.E. Mannerheim, in Julie 1942 in Mikkeli.