Ná die uitvinding van die drukkuns in ongeveer 1450, het daar langsamerhand langs verskeie weë meganiese en tegnologiese ontwikkelings plaasgevind op set-, fotogravure- en drukgebied. Vandag is die drukkerswese so ver ontwikkel dat elektroniese rekenaars deel uitmaak van verskeie vertakkings van die bedryf. In Suid-Afrika staan die standaard van die bedryf gelyk aan die hoogste internasionale standaarde.
Inleiding Ondanks 'n eeuelange twis oor wie die uitvinder van los drukletters en die drukpers in die Weste was, dui alles daarop dat die eer Johannes Gutenberg (1400-1468) van Mainz, en sy vennote, die geldskieter Johann Fust, en Fust se aanstaande skoonseun, Peter Schöffer, toekom vir sy prestasies van omstreeks 1450. In 1462 is Mainz geplunder en al die opgeleide drukkers het dwarsoor Duitsland en die hele Europa versprei. Italië was die eerste land waarheen Duitse drukkers die nuwe uitvinding geneem het, want dit was in Italië, die setel van die Renaissance, waar die drukkuns sy beste teelaarde gevind het.
Die eerste drukpers in Italië is in 1465 in Rome begin deur Sweynheym en Pannartz. Onder die invloed van die pouslike kalligrawe en danksy die pionierswerk van Nicolas Jenson (1420-1480), 'n Fransman wat in 1470 'n drukkery in Venesië geopen het, het die Romeinse drukletter (te onderskei van die Gotiese letter), wat vandag nog gebruik word, sy beslag gekry. Die kommersiële hoofweë van die 15de eeu het egter gelei na Venesië, die middelpunt van die handel in die toe bekende wêreld.
Teen die einde van die 15de eeu was daar 150 drukkers in Venesië, van wie die meeste maar swak werk gelewer het. Een het egter uitgeblink, naamlik Aldus Manutius (1450-1515), die voortreflikste en belangrikste drukker van die Italiaanse Renaissance. Manutius het keurige uitgawes van onder andere die Griekse en Latynse klassieke meesterstukke gedruk in oplae van ongeveer 1 000 eksemplare (besonder hoog vir daardie tyd) en het die boeke dwarsoor Europa versprei. Die drukkuns in Frankryk het teen 1470 begin en in Spanje in 1474, en in 1476 het William Caxton (1422-1491) in Westminster in Engeland sy drukpers begin en gedurende die volgende 15 jaar 100 boeke gedruk. Hoewel die druktegnieke nog primitief was, het hierdie vroeë drukkers dikwels meesterlike werk gelewer. Die drukwerk is baie keer met die hand versier en van hierdie werke is van die kosbaarste skatte van die Westerse beskawing. Aanvanklik het die Kerk die nuwe uitvinding verwelkom, maar met die koms van die Hervorming het die Kerk se houding ten opsigte van die vrye geskrif verander en daar is probeer om die drukperse aan bande te lê. In Frankryk is byna elke drukker as 'n ketter beskou en in Engeland was die onderdrukking ewe meedoënloos. Die Nederlande het toe na vore getree as die leier in die drukkerswese, en in hierdie verband het die Antwerpse drukker Christopher Plantin (1520-1589) veral uitgeblink. In 1638 is die eerste drukpers in Noord-Amerika in Cambridge, Massachusetts, opgerig, en in Suid-Afrika het die eerste drukpers blykbaar in 1784 in Tafelbaai aangekom.
Tegniese vordering na Gutenberg
Setmetodes 'n Mens moet onthou dat alle lettersetwerk sedert Gutenberg se tyd met die hand gedoen is en dit was die geval totdat daar in die 19e eeu pogings aangewend is om die setmetode te meganiseer. Dit was egter eers in 1885 dat Ottmar Mergenthaler (1854- 1899) in die VSA die Linotype-setmasjien ontwerp het. Hierdie hoogs gekompliseerde masjien selekteer met behulp van 'n toetsbord vir elke letter op 'n reël sy eie matrys (of gietvorm) en giet dan lood in die hele reël se matryse sodat die lettertjies nie los van mekaar is nie, maar elke reël ʼn soliede stuk lood is.
Nog 'n Amerikaner, Tolbert Lanstan (1844-1913), het in 1887 die Monotype-setmasjien uitgevind. Hierdie setmasjien lewer 'n geperforeerde papierband waarop die verskillende kombinasies perforasies elk 'n setkarakter verteenwoordig. Die geperforeerde papierband word aan 'n Monotype-gietmasjien gevoer en laasgenoemde giet die lettertjies een vir een. Elke reël setwerk bestaan dus uit 'n groot aantal enkele karakters, vandaar die naam Monotype (mono= "een").
Drukperse Gutenberg se drukpers (uit hout gebou) was 'n variasie op die boekbinderspers. Dit het twee horisontale oppervlakke gehad wat deur middel van 'n skroef nader of verder van mekaar geskuif kon word. Die opgesette letters is in ʼn raam vasgeskroef, die letters is met 'n inklagie bedek, 'n vel papier is op die letters geplaas en die drukpers is tot teen die papier geskroef sodat die papier egalig teen die beïnkte letters kon druk. So is een of twee bladsye herhaaldelik beïnk en gedruk om die verlangde aantal eksemplare te bekom. Dit is hoe Gutenberg 200 eksemplare van sy merkwaardige 42-reel-Bybel (wat 42 reëls per bladsy gehad het en in 1455 voltooi is) gedruk het. Die metode staan as boekdruk bekend en was vir byna 400 jaar die enigste praktiese druktegniek.
Verskeie kleiner verbeterings is in die volgende 250 jaar aan die handpers aangebring, maar die eerste ingrypende meganiese vooruitgang is in 1790 gebring deur William Nicholson, 'n Britse wetenskaplike en uitvinder, toe hy 'n leerbedekte inkroller op die handpers aangebring het. Dit was die eerste toepassing van die silinderbeginsel in ʼn drukpers. Teen 1795 is die eerste metaaldrukpers in Engeland gebou en die skroefstelsel is vervang deur 'n gewrigstelsel, deur middel waarvan tot 250 kopieë per uur gedruk kon word. Reeds teen die einde van die 15e eeu het die beginsel van die diepdruktegniek (intaglio) sy verskyning gemaak. 'n Illustrasie is op 'n hout-of metaalblok uitgesny, die blok is beïnk en die ink, wat in die snymerke agtergebly het nadat die blok skoongevee is, het die afdruk op die papier gemaak.
Teen die einde van die 18e eeu het 'n derde druktegniek ontstaan met die uitvinding van Iitografie deur die Duitser Alois Senefelder (1771 - 1834) in 1796. Die proses is gebaseer op die beginsel dat water en ink nie meng nie. In die litografie, ook vlakdruk genoem, lê sowel die drukoppervlakke as die nie-drukoppervlakke in dieselfde vlak, met ander woorde, die hele oppervlak is gelyk. Ink bly kleef aan die gegraveerde, vooraf beïnkte dele van 'n steen of plaat, die ink word van die res van die oppervlakte afgespoel met water en die oorblywende ink op die drukgedeeltes word op die papier oorgedra.
'n Belangrike deurbraak is in 1811 gedoen deur die Duitser Friedrich Koenig en sy vennoot Andreas Bauer met hul stoomaangedrewe drukpers. Afgesien van die stoomaandrywing was die gebruik van ʼn silinder wat met die papier oor die drukletters gerol het, die tweede stap in 'n rigting wat die hele drukkerswese sou beïnvloed. Die drukoppervlak het egter nog steeds plat in 'n raam gelê. Reeds in 1725 is die stereotiepdruk egter uitgevind en daarvolgens kon 'n gietvorm (of matrys) van 'n boekdrukoppervlak gemaak word uit karton 01 papiermaché. Lood is dan in die vorm (matrys) gegiet, waardeur duplikate gemaak kon word, terwyl die drukletters dan vir 'n ander werkstuk vrygestel is. In 1869 het die Londense dagblad The Times die duplikate in 'n gebuigde vorm begin giet en die gebuigde duplikate (stereo's) is op 'n silinder gemonteer. Sowel die drukoppervlak as die papier het nou om silinders gelê en bowendien is die papier gevoer vanaf 'n groot papierrol. Dit was die begin van die draaipers, wat spoedig bekend sou staan as die rolpers.
Moderne settegnieke Die eerste stap in die produksie van 'n stuk drukwerk is om die bewoording (die kopie of manuskrip) te set. Van Gutenberg se tyd af tot laat in die 19e eeu is alle setwerk met die hand gedoen. Dit wit se, elke lettertjie van elke woord op elke bladsy in 'n boek is met die hand geset. Dit was vir nagenoeg 400 jaar die geval. Selfs vandag word sekere setwerk, byvoorbeeld vir handbiljette en soms ook vir die opskrifte van koerantberigte, met die hand gedoen. In 1885 het Ottmar Mergenthaler die Linotype-setmasjien ontwerp en in 1887 het Tolbert Lanston die Monotype-setmasjien ontwerp.
Daarmee het hierdie twee Amerikaners 'n nuwe geskiedenis van die drukkuns ingelui. Die Linotype-proses is meestal in die produksie van koerante en tydskrifte gebruik. Monotype, wat byna onmiddellik deur Britse beleggers na Engeland gelok is, is weer hoofsaaklik in boekdrukwerk en die druk van ander gehalte publikasies gebruik. Die onderneming Monotype Corporation was ook, onder leiding van die gevierde tipograaf Stanley Morison (1889- 1967), verantwoordelik vir die voortreflikste reeks drukletterontwerpe in die geskiedenis van die drukkuns. 'n Behendige handsetter kan ongeveer 1 000 karakters per uur set, maar 'n Linotype-setmasjien lewer nagenoeg 6000 karakters per uur. ln hierdie masjien word die tikproses op die toetsbord en die giet van die letters (in reëls) gekombineer.
Die setter sit voor die toetsbord en tik die manuskrip (ook kopie genoem). Soos elke toets gedruk word, word 'n matrys ('n bronsskyf waarin 'n letter, of karakter, gepons is) uit 'n magasyn vrygestel totdat genoeg karakters vir 'n volle reël gereed is. Die woordspasies word bepaal deur wigvormige spasieerders wat tussen die woorde inwig en so verseker dat elke reël ewe lank is. Die reëlmatryse word nou verskuif na die gietseksie van die masjien, waar gesmelte loodallooi in die matryse ingespuit word. Sodra die lood afgekoel het, word die reël na die staalgalei vervoer en die gebruikte matryse word terugvervoer na die matrysmagasyn sodat dit vir die volgende reëls gebruik kan word. Foute word gekorrigeer deur die hele reël oor te set.
Soos die naam aandui, produseer die Monotype los letters. Die proses vereis twee masjiene. Die een masjien is basies 'n toetsbord wat met elke druk van 'n toets 'n stel perforasies in 'n papierband pons. Aan die einde van elke reël word 'n spesiale toets gedruk wat die hoeveelheid spasie tussen die woorde in daardie reël bepaal. Die geperforeerde band word nou aan die gietmasjien gevoer. Die gietmasjien lees die band van die einde af na die begin sodat die spasiekode vir elke reël telkens eerste gelees word. Die Monotype-matryse word in 'n spesiale matryskas gerangskik. Hierdie matryskas beweeg die hele tyd vinnig rond sodat die verlangde matrys telkens bo die gietspuit te lande kom. Nadat elke lettertjie gegiet is, word dit vervoer na die galei. Setfoute op die Monotype kan met die hand gekorrigeer word omdat die lettertjies almal, net soos handletters, los is.
Filmsetwerk Filmsetwerk het gedurende die sestigerjare op die voorgrond getree. In filmsetwerk word geen lood gebruik nie. Die kopie of manuskrip word op die gewone manier op 'n toetsbord getik, en terselfdertyd word die posisie van 'n negatiewe matrys, waarin die letters deurskynend in 'n swart oppervlakte verskyn, beheer. Die beheer oor die matrys geskied deur direkte meganiese of elektriese koppeling of deur middel van 'n geperforeerde papierband. Wanneer die letter van die matrys in posisie kom, belig 'n elektroniese flits die karakter op 'n film. 'n Verstelbare lensstelsel maak 'n verskeidenheid lettergroottes moontlik. Letter vir letter word op die film belig totdat die hele teks geset is en op film vasgelê is. Sodra die film belig is, word dit ontwikkel, gewoonlik in 'n outomatiese ontwikkelapparaat. 'n Fotostatiese afdruk (of proef) word van die film gemaak vir proefleesdoeleindes. Setfoute word op 'n spesiale korrigeertoestel, met sy eie toetsbord, aangebring. Die jongste ontwikkelings op die filmsetgebied sluit in die aanwending van die magnetiese band en elektroniese rekenaars wat in die setapparaat ingebou word en waarmee die moontlikhede van hierdie setmetode geweldig· uitgebrei word.
Bladsamestelling