Ds. Andrew Murray (9 Mei 1828 op Graaff-Reinet, Oos-Kaap, tot 18 Januarie 1917 op Wellington, Wes-Kaap) was moontlik die voorste godsdienstige skrywer wat Suid-Afrika tot dusver opgelewer het, 'n predikant en leier in die Nederduitse Gereformeerde Kerk, 'n opwekkingsprediker en die stigter van talle opvoedkundige instellings. Ds. Murray was 'n seun van ds. Andrew Murray sr., een van die vroegste Skotse predikante wat deur lord Charles Somerset na Suid-Afrika gebring is om dié goewerneur se verengelsingsbeleid te help invoer en die tekort aan predikante in die NG Kerk aan te vul.
Saam met sy oudste broer, John, is hy op vroeë leeftyd na Skotland om in die teologie te studeer. Hy ontvang in 1845 op 17-jarige leeftyd sy graad van die Universiteit van Aberdeen, keer ná verdere studie terug na Suid-Afrika, en word in 1849 die eerste predikant van die NG gemeente Bloemfontein, die sogenaamde Tweetoringkerk. Hy was vir lank feitlik die enigste predikant van die Hollandse kerke in die Vrystaat, maar help met die opbou van doeltreffende kerkorganisasie om die hele Republiek te dek, selfs ook tot in die latere Transvaal.
Elf jaar later (1860) aanvaar hy 'n beroep na Worcester. Murray het 'n reeks boeke geskryf na aanleiding van sy betrokkenheid by vurige teologiese polemieke oor die beweerde liberale neigings van di. J.J. Kotzé van die NG gemeente Darling en T.F. Burgers, die latere president van Transvaal.
Hy verhuis ná enkele jare in Kaapstad in 1871 na die Bolandse dorp Wellington, waar hy steeds 'n leidende rol in kerksake speel as leraar van die NG gemeente Wellington, onder meer as moderator, en steun verleen aan die stigting van die destydse Hugenote-seminarie en talle ander onderwysinstellings, regstreeks of onregstreeks.
As skrywer het hy 'n groot leserspubliek gehad, veral in Engeland en die Verenigde State, waar Engelse vertalings van sy boeke vandag nog verkoop word. Hy sterf in 1917, op byna 90-jarige ouderdom.
Daar is onder meer 'n standbeeld van hom voor NG kerk op Wellington en die Groote Kerk opgerig. Talle Engelssprekende gemeentes van die NG Kerk dra vandag sy naam, byvoorbeeld die Andrew Murray-gemeente Bloemfontein, die tweetalige Johannesburgse gemeente Andrew Murray Congregation (voorheen die NG gemeente Johannesburg-Noord) en die Andrew Murray-gemeente Pretoria, asook die Engelstalige gedeelte van die NG gemeente Windhoek.
Die kinderhuis op Wellington, Huis Andrew Murray, is ook na hom genoem. Dit het ontstaan uit die nywerheidskool wat ds. Murray omstreeks 1898 gestig het ná 'n reis deur die Karoo, waartydens hy bewus geraak het van die groot aantal dogters wat sonder skoolopleiding of werk op die plase gewoon het. Die eerste gebou is in 1898 in Murraystraat, ook na hom genoem, opgerig en 36 dogters van die Unie en sendelinge vanuit Rhodesië en Njassaland is daar opgelei. In 1937 het die departement van gesondheid en welsyn beheer oor kinderversorging oorgeneem en het die huis 'n semi-staatskinderhuis vir wees en sorgbehoewende kinders geword.
Afkoms duimnael|270px|Die Murray-gesin. Al vyf seuns van ds. Andrew Murray sr. wat volwassenheid bereik het, John, Andrew, William, George en Charles, het predikant in die NG Kerk geword. Vier dogters het met 'n predikant getrou en twee het ongetroud gebly. Hulle moeder, gebore Maria Stegmann, was die suster van die Lutherse en later NG predikant ds. Georg Stegmann. duimnael|links|290px|Ds. Andrew Murray sr. (1794–1866) en sy vrou, Maria (1809–1889), het tot sy dood in Reinethuis, die ou pastorie op Graaff-Reinet, bly woon. Hulle 16 kinders, onder wie Andrew, is almal tussen 1826 en 1855 in dié huis gebore. Andrew Murray was die tweede seun en tweede kind van die 16 kinders van ds. Andrew Murray sr., predikant van die NG gemeente Graaff-Reinet van 1822 tot 1866, en sy eggenote, Maria Susanna Magdalena Stegmann. Hy is gebore in die geskiedkundige pastorie (tans as die museum Reinethuis bekend) en was 20 maande jonger as sy broer John Murray, die latere hoogleraar in die teologie aan die Kweekskool op Stellenbosch. Nog drie van hul broers het predikant geword: William, Charles en George, terwyl vier van hul susters met 'n predikant getrou het: Maria met ds. J.H. Neethling, Jemima (1836–1904) met ds. Andries Adriaan Louw, Isabella (1839–1929) met ds. J.H. Hofmeyr en Elizabeth (1855–1917) met ds. H.L. Neethling. Elkeen van dié swaers van die Murray-broers het manne van betekenis in die NG Kerk geword.De Kock, W.J. 1968. Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek, deel I. Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk.
Andrew en sy broer John was van die begin af goeie maats, meer deur aanvulling as deur ooreenstemming; John was meer soos sy vader, ingetoë en terughoudend in woord en daad, en Andrew meer die opgeruimde, wat die bedrywige gees van sy moeder vertoon het. Albei was van huis uit godsdienstig.
Oorsese opleiding Dit was spoedig duidelik dat twee sulke begaafde seuns nie hul opvoeding in die Kaapkolonie sou kon geniet nie en ná heelwat wik en weeg, is hulle in Julie 1838, toe Andrew net 10 jaar oud was, gestuur van Port Elizabeth, die naaste hawe aan hul geboortedorp, na Aberdeen, Skotland. Hulle het tuisgegaan by hul oom John Murray, die ouer broer van hul vader en leraar van die evangeliese seksie van die Presbiteriaanse staatskerk.
Tydens hul verblyf in Aberdeen het die Vrye Kerk van Skotland in 1843 ontstaan toe ruim ’n derde van die Skotse staatskerk afgeskei het. Thomas Chalmers, R.M. McCheyne en veral die opwekkingsprediker W.C. Burns (wat in 1847 sendeling in China geword het), het 'n leidende aandeel aan die afskeiding gehad, en Burns in besonder wat ’n tydjie saam met hulle gehuisves is, het ’n groot invloed op die jong seuns uitgeoefen.
Eers aan die plaaslike Grammar School en daarna aan die Marischal College het die broers vlytig studeer en veral baie aandag aan Latyn gegee, aangesien albei reeds besluit het om hul lewe aan die evangeliebediening te wy. Ná sewe jaar van getroue studie het hulle saam die M.A.-graad behaal en in Junie 1845 vertrek na Utrecht, Nederland, met die oog op bestudering van die Hollandse taal sowel as teologiese studie. Hul vader, puriteins van lewenspraktyk soos hy was, en van teologiese standpunt streng konserwatief, het dit nodig geag om sy twee seuns te waarsku, nie net teen die gebruik van jenewer en tabak nie, maar ook teen die vrysinnige teologiese denkbeelde wat destyds aan Nederlandse universiteite algemeen was. Hy het hulle aangeraai om hul vriende liewer op tee en koffie te onthaal en by alle ander boeke wat aanbeveel word, seker te wees dat hulle die studie van die Heilige Skrif nie verwaarloos nie. Eerw. Andries Dreyer skryf die jong Andrew het in Utrecht "terstond gewild geword, 'n ruim vriendekring gehad en met buitengewone erns studeer". Dreyer, eerw. A. 1924. Eeuwfeest-Album van de Nederduits Gereformeerde-Kerk in Zuid-Afrika 1824–1924. Kaapstad: Publikatie-kommissie van de Z.A. Bijbelvereniging.
Omdat Engels, wat destyds die broers se huistaal was, nie algemeen in hul kring verstaan is nie, is gesprekke aanvanklik in Latyn gevoer, hoewel hulle gou genoeg Nederlands vlot leer gebruik het. In 'n brief het Andrew op 14 November 1845 aan sy vader geskryf: “Ek is gelei om myself geheel op Christus te werp.” Van hierdie tydstip dagteken sy skerper belynde persoonlike belewing, wat in al sy toekomstige boodskappe ingedra sou word.
Dit was 'n tyd van geestelike doodsheid in Nederland en die broers het aansluiting gevind by die kring Sechor Dabar (“Gedenk die Woord”), wat onder die invloed van die Reveil in 1843 gestig is. Grootliks deur hul invloed is die sendingkring Eltheto (laat [U koninkryk] kom), en as uitbreiding hiervan 'n maandelikse tydskrif in die lewe geroep, wat hoofsaaklik uittreksels oor die werk van God in die hele wêreld sou bevat.
Met die lesings in Nederland was Andrew so teleurgesteld dat hy sy vader ernstig gevra het of hy nie onder die vrome Tholuck in Halle, Duitsland, kon gaan studeer nie. Sy vader het egter die groot geestelike nood in Suid-Afrika beklemtoon; al kon hy nie in 'n gemeente staan voor hy 22 jaar oud was nie, kon hy desnoods vroeër oorkant die Oranjerivier onder verwaarloosde lidmate gaan begin. So het dit gebeur dat die broers op Andrew se 20ste verjaardag, in 1848, toegelaat is deur die Haagse kommissie tot die evangeliebediening en hulle ná 'n aandoenlike afskeid van hul “eigene studentenkring” teruggekeer het na hul vaderland.
Terug in Suid-Afrika By hul aankoms het die goewerneur, sir Harry Smith, John Murray geplaas as predikant van die NG gemeente Burgersdorp, terwyl Andrew opdrag gekry het om buite die Kaapkolonie na Bloemfontein te gaan. Hierdeur is die beswaar dat hy nie van die vereiste ouderdom was nie, te bowe gekom.
Ná elf jaar in die buiteland het die broers die eerste Sondag op hul tuisdorp hul vader se kansel gevul. Die voormiddag was dit die ouer broer met sy helder denkkrag; die aand die jonger broer met sy erns en hartstog wat die stoutste verwagtings van die gemeente op Graaff-Reinet oortref, volgens prof. G.B.A. Gerdener.
Bevestig in Bloemfontein duimnael|250px|Die eerste NG kerkgebou op Bloemfontein, ingewy omstreeks 1850, kort ná ds. Murray se bevestiging, en gesloop in 1878 om plek te maak vir die Tweetoringkerk. links|duimnael|270px|Die ou pastorie in Douglasstraat waarin ds. Murray waarskynlik gewoon het. duimnael|270px|Die eerste NG kerkie in Bloemfontein. Op 6 Mei 1849, drie dae voor sy mondigwording, is prop. Andrew Murray op Bloemfontein deur sy vader bevestig, die eerste gevestigde leraar benoorde die Oranje, wat as konsulent van Winburg, Smithfield en Fauresmith feitlik vir die hele gebied tussen die Vaal en Oranje verantwoordelik was. Daarbenewens het die verwaarloosde toestand van die uitgeweke kerklede hom van die begin af ook die oog op Transvaal laat vestig. Veral die uitgestrekte aard van sy arbeidsveld en die gebrekkige geriewe op die lang reise te perd of met die ossewa, het in die beginjare die ywerige jong leraar uitgeput en sy jare op Bloemfontein buitengewoon veeleisend gemaak. Sy eie gebied was 50 000 vierkante myl groot met 12 000 siele, terwyl oorkant die Vaalrivier 7 000 emigrante herderloos rondgetrek het en net deur ds. Murray op besoekreise in sy vakansietye bearbei kon word.
’n Meer veelbewoë dekade as dié wat ds. Murray van 1850 tot 1860 in Transgariep moes deurmaak, is nouliks te bedink. Sowel die Nederduitsch Hervormde Kerk (1853) as die Gereformeerde Kerk (1859) het in daardie jare in Transvaal ontstaan. By albei is ds. Murray persoonlik betrek en die ontstaan van albei het hom diep geraak en bedroef. Sonder sy eie toedoen was sy vierde besoekreis in 1852 dan ook die laaste na die kerklik en politiek vertroebelde Transvaal.
Behalwe kerklike verdeeldheid en algemene geestelike veragtering in die Oorvaalse gebied, was daar ook die sektariese verskynsel van die Jerusalemgangers, wat gemeen het dat hulle die Kanaän van hul bestemming oor land kon bereik en wat in ds. Murray, as aangestelde van die Britse goewerneur, sir Harry Smith, geen ander as die handlanger van die vyand gesien het nie. In sy verslag oor sy ontmoeting met hierdie mense, het ds. Murray geskryf dit het hom leed gedoen om hulle in “ingebeelde veiligheid en heiligheid die weg na die verderf te sien bewandel, omdat hulle letterlik hul saligheid soek in hul teenstand teen die Antichris”.
In 1852 het ds. Murray ’n vierde en laaste besoek aan Transvaal afgelê, nadat hy al tevore twee maal baie dringend daarheen beroep is. In geselskap van sy swaer ds. J.H. Neethling het hulle Potchefstroom, Soutpansberg en Lydenburg in die reisplan opgeneem. Hulle is oral met ope arms ontvang en was dit nie dat hy van niemand geweet het om sy plek op Bloemfontein in te neem nie, sou ds. Murray stellig na Transvaal gegaan het. Dit was op hierdie lang reise dat hy in briewe aan sy vader sy behoefte aan meer studie en gebed betreur en geskryf het: “Ek besef nou hoe treurig my lewe is.”
Politieke betrokkenheid