My Verhaal is Franja du Plessis se debuutalbum, uitgereik op 8 Julie 2016. Haar eerste enkelsnit op die album, Stad van Verlange, is binne twee maande na sy vrystelling reeds deur meer as 200 000 mense op YouTube gekyk. Op 22 Junie 2018 behaal die video 1 miljoen kyke op YouTube. Haar tweede enkelsnit "Ek Kan Nie Ophou Kyk" behaal ook 1 miljoen kyke op YouTube in Julie 2018.

Al sestien snitte kom uit Franja se eie pen. Die titelsnit, My verhaal bied 'n uitnodiging aan die luisteraar om Franja se lewensverhaal deur middel van al haar liedjies beter te kan leer ken. Die soet en die suur van verhoudings word albei binne die oorhoofse liefdestema van hierdie album aangespreek. Stad van verlange vertel die verhaal van onbeantwoorde liefde wat na afloop van baie jare weer herroep word.

Die ballade Regte een vertel die verhaal van elke mens se soeke na 'n lewensmaat en 'n sielsgenoot. Die album bevat ook die lied In twee geskeur, wat spesiaal deur Franja geskryf is vir die musiekrolprent As jy sing, waarin sy die rol van Marna de Jager vertolk het.

My Verhaal behaal platinumstatus met meer as 40 000 eenhede reeds verkoop.

Snitlys

Verwysings