Chris Coetzer, wie se naam sinoniem is met Suid-Afrika se eie Drie Tenore saam met Phillip Kotze, Jannie Moolman en later Du Preez Stoltz, is 'n Suid-Afrikaanse sanger. Sy musiek wissel van Afrikaanse en geestelike musiek tot bekende klassieke items.

Loopbaan Coetzer het sy graad 5 in musiek en graad 7 in sang in matriek voltooi, en na skool aan die Normaal Kollege Pretoria vir Onderwys studeer. Na sy studies word hy tydens sy dienstyd in die weermag as leier gekies van die siviele orkes van Oudtshoorn. Sy eerste opname - "Verlos" word in 1991 vrygestel. 'n Jaar later in 1992 volg "Immanuel". "Tydloos 1" sien die lig in 2014, en in 2016 volg "Tydloos 2". In Oktober 2017 word "Genade" vrygestel.

Hy bedryf sedert 1997 die bekende CC Vocal Studios in Pretoria en Bela-Bela. In 2020 stig Coetzer Ping Recording Studios. Coetzer toer sedert 2001 gereeld na Swede, Noorwëe en Finland. Hier is hy baie populêr, met musiek uit Suid Afrika asook internasionale musiek. Chris se genres wissel van klassieke sangstukke tot ligte Afrikaanse en Engelse liedjies. Hy sing ook graag in Italiaans, Sweeds, Zulu, Sotho en Duits en sy musiek word oor talle radiostasies uitgesaai.

As akteur het Coetzer rolle vertolk tydens sy skoolloopbaan en in die sepies Binnelanders en Egoli. Chris Coetzer is tans besig met aansporingskonserttoere regdeur Suid Afrika. Sy doel is om die gehore se negatiewe uitsig oor hulself en die toekoms te verander.

Verwysings

Eksterne skakels Agnus Dei op YouTube

Kategorie:Suid-Afrikaanse musici Kategorie:Afrikaanse sangers Kategorie:Suid-Afrikaanse manlike akteurs Kategorie:Geboortes in die 20ste eeu