Mintaka, ook bekend as Delta Orionis en 34 Orionis, is ’n veelvoudige ster sowat 1 200 ligjare van die Aarde af in die sterrebeeld Jagter (Orion). Saam met Alnitak en Alnilam vorm dit die Jagter se Belt. Wanneer die Jagter naby die meridiaan is, ’n lyn wat van hemelpool tot hemelpool strek, is Mintaka die heel regterkantse ster van die Belt vir ’n waarnemer in die Noordelike Halfrond wat suid kyk.

Naam Delta Orionis is die ster se Bayer-naam en 34 Orionis sy Flamsteed-naam. Die naam Mintaka self is afgelei van die Arabiese term vir "belt": منطقة of manṭaqa. In 2016 het die Internasionale Astronomiese Unie ’n werksessie gereël om stername te standaardiseer en katalogiseer. Daar is op die naam Mintaka vir dié ster besluit.

Waarmeningsgeskiedenis

Mintaka is een van die kantsterre van die Jagter se Belt. Dit is maklik met die blote oog sigbaar, want dit is een van die helderste sterre aan die naghemel. Dit is sedert die antieke tyd bekend.

Metings van die radiale snelheid wat in 1900 in Parys deur Henri-Alexandre Deslandres geneem is, het gedui op ’n wisseling in snelheid en dus daarop dat Mintaka ’n spektroskopiese dubbelster is.

Stelsel Mintaka is ’n veelvoudige ster. Dit bestaan uit ’n ster met ’n skynbare magnitude van 7 wat sowat 52 boogsekondes van die hoofkomponent geleë is, en ’n selfs dowwer ster tussenin. Die hoofkomponent is self ’n driedubbele ster: ’n helder reus met ’n sterreklassifikasie van O9,5, ’n hoofreeksster van Klas B en ’n Klas B-subreus sowat 0,26" weg. Wanneer die sterre voor mekaar verbybeweeg, kan die stelsel se skynbare magnitude met tot 2,35 daal.

Die ster wat ’n magnitude van 7 het, HD 36485, is ’n ongewone Klas B-hoofreeksster en self ’n spektroskopiese dubbelster met ’n dowwe Klas A-metgesel en ’n wentelperiode van 30 dae.

Die dofste ster, met ’n magnitude van 14, is vermoedelik op dieselfde afstand, maar dit is onduidelik of dit fisiek deur die hoofkomponent aangetrek word, en min is daaroor bekend.

Mintaka word omring deur ’n sterreswerm van dowwe sterre, moontlik deel van die swerm om σ Ori.

Die helder hoofster in die stelsel is δ Ori A. Sy komponente is Aa1, Aa2 en Ab. HD 36485 word gewoonlik C en die dowwe ster B genoem. Soms word ander name gebruik, wat verwarrend kan wees.

Verwysings

Eksterne skakels Mintaka by constellationsofwords.com Mintaka by Astrostudio 15px Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia

Kategorie:Bayer-voorwerpe Kategorie:Jagter (sterrebeeld) Kategorie:Sterre met eiename Kategorie:Veelvoudige sterre Kategorie:B-tipe hoofreekssterre Kategorie:O-tipe sterre