Die Rugbywêreldbeker 2023 (Frans: Coupe du monde de rugby à XV 2023) is van 8 September tot 28 Oktober 2023, die 200ste herdenking van rugby se “uitvinding” deur William Webb Ellis, in Frankryk beslis. Dit was die tiende rugbywêreldbekertoernooi van die vierjaarlikse rugbywêreldkampioenskap wat deur Wêreldrugby aangebied word en die sesde in die Noordelike Halfrond. Verder was dit ná die toernooie in 2015 (Engeland) en 2019 (Japan) die derde agtereenvolgende rugbywêreldbekertoernooi wat in ’n land van die Noordelike Halfrond aangebied is. Frankryk het voorheen tydens die Rugbywêreldbeker 1991 en Rugbywêreldbeker 1999 as medegasheer opgetree; albei toernooie is saam met die destydse Vyfnasies Engeland, Ierland, Skotland en Wallis aangebied; en later die Rugbywêreldbeker 2007 – met enkele wedstryde in Cardiff en Edinburg van die Verenigde Koninkryk – gehuisves; altesaam het Frankryk tydens vier rugbywêreldbekertoernooie as gasheer opgetree, meer as enige ander land. Dit was egter die eerste toernooi wat geheel en al in Frankryk aangebied is. In Julie 2017 is dié land deur Wêreldrugby as gasheer aangewys, ander kandidaatlande was Ierland en Suid-Afrika.
duimnael|links|upright|Die Webb Ellis-beker waarom meegeding is Die toernooi se formaat van 2003, 2007, 2011, 2015 en 2019 het onveranderd gebly en 20 nasionale rugbyspanne het aan die Rugbywêreldbeker 2023 deelgeneem: die twaalf regstreekse kwalifiseerders van die 2019-toernooi (Argentinië, Australië, Engeland, Fidji, Frankryk, Ierland, Italië, Japan, Nieu-Seeland, Skotland, Suid-Afrika en Wallis), saam met die agt beste spanne van die kwalifisering (Chili, Georgië, Namibië, Portugal, Roemenië, Samoa, Tonga en Uruguay). Chili het vir die eerste keer aan ’n rugbywêreldbekertoernooi deelgeneem, terwyl Kanada sy eerste toernooi misgeloop het. Daarmee was dit die eerste rugbywêreldbekertoernooi waaraan drie Suid-Amerikaanse spanne deelgeneem het en ná die 1999-toernooi die tweede met drie Spaanstalige lande. Nadat die Verenigde State in die uitspeelrondte ook uitgeskakel is, het vir die eerste keer geen Noord-Amerikaanse span deelgeneem nie.
Tydens die Rugbywêreldbeker 2023 is 48 wedstryde gespeel, waaronder 40 tydens die groepfase en agt tydens die uitklopfase, insluitende die eindstryd. Die toernooi het op 8 September met die openingswedstryd tussen die gasheer Frankryk en Nieu-Seeland op die Stade de France in Saint-Denis afgeskop. Die spanne is in vier groepe van vyf elk verdeel, waarvan elke span een keer teen al die ander spanne in die groep gespeel het. Die twee beste spanne van elke groep het hierna gekwalifiseer vir die uitklopfase, terwyl die drie beste spanne van elke groep – altesaam twaalf spanne – regstreeks vir die volgende Rugbywêreldbeker 2027 in Australië gekwalifiseer het. Dit was die laaste toernooi met die aantal van 20 nasionale rugbyspanne; vir die volgende Rugbywêreldbeker 2027 in Australië is die aantal tot 24 verhoog.
Voor die afskop van die Rugbywêreldbeker 2023 is Nieu-Seeland, Frankryk, Suid-Afrika en Ierland as gunstelinge op die titel beskou. Beide Frankryk en Ierland kon hulle groepwedstryde teen onderskeidelik Nieu-Seeland en Suid-Afrika wen, maar in die kwarteindrondte het albei Europese spanne naelskraap teen die twee latere finaliste verloor. Fidji het met hulle 22–17-oorwinning oor die tweemalige wêreldkampioen Australië die eerste groot verrassing besorg. Nadat die Wallabies ook teen Wallis met 6–40 swak verloor het, is hulle vir die eerste keer in die groepfase uitgeskakel. Daarna het Portugal met sy 24–23-oorwinning oor Fidji nog ’n verrassing besorg, hulle eerste rugbywêreldbekeroorwinning ooit. Die verdedigende kampioen Suid-Afrika het die eindstryd op die Stade de France in Saint-Denis teen Nieu-Seeland met 12–11 gewen en sodoende die eerste span geword wat die Webb Ellis-beker vir ’n vierde keer ingepalm het en ná Nieu-Seeland in 2015 die tweede span wat dit kon verdedig. Daarbenewens is dit ná 1995 hulle tweede eindstrydoorwinning oor Nieu-Seeland, ná 2007 hulle tweede eindstrydoorwinning op Franse bodem en hulle het ook die eerste span geword wat agtereenvolgende titels oorsee kon wen. Die telling is behaal met vier strafskoppe deur Handré Pollard, teenoor ’n drie deur Nieu-Seeland se Beauden Barrett en twee strafdoele deur Richie Mo’unga. Die Stade de France het ná Edenpark in Auckland en Twickenham in Londen die derde rugbystadion geword wat die rugbywêreldbekereindwedstryd vir meer as een keer – ná die 2007-toernooi – gehuisves het. Engeland het in die derde en Argentinië in die vierde plek geëindig, nadat hulle ná die groepfase in die bronseindstryd vir ’n tweede keer ontmoet het. Namibië is ná vier nederlae reeds in die groepfase uitgeskakel.
Met sowat 1,33 miljard televisiekykers wêreldwyd was die Rugbywêreldbeker 2023 die in dié tyd mees gesiene rugbywêreldbekertoernooi. Altesaam is daar sowat 2,4 miljoen kaartjies vir die 48 wedstryde verkoop, waarmee elke wedstryd gemiddeld 50 775 toeskouers gelok het. Saam met die Olimpiese Somerspele 2024 in Parys was die Rugbywêreldbeker 2023 een van twee groot sportkompetisies in Frankryk binne een jaar; albei behoort tot die mees gesiene sportgeleenthede ter wêreld. Tydens die Olimpiese Somerspele 2024 is sewesrugbywedstryde gehou, waarmee Frankryk twee van die rugbywêreld se belangrikste toernooie binne een jaar gehuisves het.
Toewysing duimnael|400px|Kaart van die kandidaatlande vir die Rugbywêreldbeker 2023 duimnael|Amptelike kenteken van die Rugbywêreldbeker 2023 in Frans Ná die begin van die amptelike bodtydperk in Mei 2015 het die belangstellende beheerliggame tot op 1 Junie 2017 tyd gehad om hulle bod in te dien. Suid-Afrika, Ierland en Frankryk was kandidate vir die aanbied van die Rugbywêreldbeker 2023, nadat Italië, wat ’n tyd lank ook ’n kandidaat was, sy aansoek teruggetrek het.
Frankryk het die Rugbywêreldbeker 2007 aangebied, asook tydens die 1991- en 1999-toernooie as medegasheer opgetree. Die Franse Rugbyfederasie (FFR) het sy bod vir die Rugbywêreldbeker 2023 op 9 Februarie 2017 amptelik ingedien; dit het 19 moontlike speelstede en ’n omgewingsvriendelike vervoerkonsep bevat. Die aantal speelstede is aanvanklik tot twaalf en later tot nege verminder.
Suid-Afrika, wat die Rugbywêreldbeker laas in 1995 aangebied het, is as gunsteling beskou, nadat sy kandidature vir die toernooie van 2011, 2015 en 2019 misluk het. In April 2016 is die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (SARU) deur die regering verbied om sy bod verder te neem, omdat die integrasie van “swart” spelers in die nasionale span volgens bewerings nie aan die regering se vereistes voldoen het nie. SARU kon vir Fikile Mbalula, die destydse Minister van Sport en Ontspanning, egter die teendeel bewys, waarvolgens hy die verbod teruggetrek het. Suid-Afrika se bod wat op 9 Mei 2017 amptelik ingedien is, het die volgende agt speelstede bevat: Bloemfontein, Durban, Johannesburg, Kaapstad, Nelspruit, Port Elizabeth, Pretoria en Soweto.
Die regerings van die Republiek Ierland en Noord-Ierland het saam met die Ierse Rugbyvoetbalunie (IRFU) reeds op 5 Desember 2014 hulle belangstelling in die Rugbywêreldbeker 2023 bekend gemaak. Volgens die eie verwagtinge het hulle bod oor goeie kanse beskik, aangesien Ierland nog nooit as ’n gasheer op sy eie opgetree het nie en hulle ’n ooreenkoms bereik het, waarvolgens sommige stadions van die Gaeliese Atletiekvereniging (waaronder Crokepark) gebruik kon word. hulle bod het twaalf stadions in nege stede bevat: Belfast, Castlebar, Cork, Derry, Dublin, Galway, Killarney, Kilkenny en Limerick.
Italië het ook in die Rugbywêreldbeker 2023 belanggestel en die Italiaanse Rugbyfederasie (FIR) het in Maart 2015 sy bod aangekondig. Italië is net soos Argentinië die enigste van die elf vlak-een-rugbylande wat nog nie ’n wedstryd tydens ’n rugbywêreldbekertoernooi gehuisves het nie. Die Italiaanse bod het die stede Rome, Bari, Bologna, Florence, Genua, Milaan, Napels, Padua, Palermo, Turyn en Udine bevat. Op 28 September 2016 het die FIR sy bod egter teruggeneem, nadat die Roomse burgemeester Virginia Raggi aangekondig het dat ’n bod vir die Olimpiese Somerspele 2024 nie ondersteun word nie, waarvolgens haar ondersteuning vir ’n bod vir die Rugbywêreldbeker 2023 ook bevraagteken is.
Die drie oorblywende beheerliggame het op 25 September 2017 hulle botte aan Wêreldrugby se afgevaardigdes verduidelik. Tot op 31 Oktober het ’n neutrale deskundige kommissie die beskikbare dokumente volgens vyf kriteria geëvalueer. Hulle het die Suid-Afrikaanse bod bo dié van Frankryk en Ierland geplaas. Wêreldrugby se afgevaardigdes het op 15 November 2017 in Londen vergader. Ondanks die aanbeveling van die deskundige kommissie het hulle Frankryk bo Suid-Afrika verkies, wat in die tweede stemming 24 van 39 stemme ontvang het. Daarmee is dit ná die Rugbywêreldbeker 1995 in Suid-Afrika, die Rugbywêreldbeker 2003 in Australië, die Rugbywêreldbeker 2011 in Nieu-Seeland en die Rugbywêreldbeker 2019 in Japan die vyfde rugbywêreldbekertoernooi wat geheel en al in een land aangebied word.
+Uitslag van die gasheerstemming Kandidaatlande Tevredenheidsgradering na bestudering van die lêer 1ste rondte 2de rondte 75,88% 18 24 78,97% 13 15 Republiek Ierland en Noord-Ierland 72,25% 8 —Totale stemme uitgebring 39 39
Reëlingskomitee duimnael|Die Webb Ellis-beker tydens die perskonferensie vir die Rugbywêreldbeker 2023 In 2018 is ’n openbare belangegroep gestig om die toernooi in Frankryk voor te berei. Jacques Rivoal, voormalige president van Volkswagen Frankryk, is as president van die reëlingskomitee aangestel, terwyl Claude Atcher, direkteur van die bodkomitee, as direkteur van die reëlingskomitee benoem is. Claude Atcher is op 2 September 2022 geskors. Hy is vervang deur sy adjunk Julien Collette tot aan die einde van ’n dissiplinêre prosedure wat ingestel is na ’n ondersoek deur die Arbeidsinspektoraat na ’n “diep sosiale malaise” binne die GIP, hy is in Oktober 2022 permanent uit sy pos ontslaan.
Die Franse Rugbyfederasie het 62% aan die regte en verpligtinge van die openbare belangegroep besit (37% het aan die Franse staat behoort en 1% aan die CNOSF). In Januarie 2023, agt maande voor die toernooi, het die FFR-president, Bernard Laporte, afstand gedoen van sy pos om te voldoen aan die versoek van die Franse Rugby-etiekkomitee en die Ministerie van Sport ná sy skuldigbevinding deur die Paryse Strafhof in eerste instansie vir “passiewe korrupsie”, “omkopery”, “onwettige renteneming”, “wegsteek van misbruik van korporatiewe bates” en “misbruik van korporatiewe bates”.
Sébastien Chabal was as voorsitter van die spelerskomitee verantwoordelik vir beide die spelers en spanne se beter huisvesting tydens die toernooi. Sy ambassadeurstatus het hom toegelaat om sowat honderd kaartjies vir toernooiwedstryde te koop, terwyl die werknemers van die reëlingskomitee tot agt kaarte kon koop. Hy is in die media verdink van kaartjiehandel en het beweer dat hy hierdie plekke aan diegene rondom hom versprei het sonder om wins te maak.
Deelnemers Kwalifisering duimnael|Grafiek van die kwalifiseringsproses vir die Rugbywêreldbeker 2023 Wêreldrugby het in Junie 2020 die kwalifiseringsproses gespesifiseer. Vervolgens is van 2021 af agt van die 20 plekke van die toernooi tydens die kwalifisering uitgespeel. Die kwalifiseringstoernooi was in vyf streeksgroepe verdeel: Afrika, Noord-Amerika saam met Suid-Amerika, Asië, Europa en Oseanië. Twee plekke elk was vir die nasionale spanne van die Amerikas en Europa gereserveer en een elk vir Afrika en Oseanië. Die twee oorblywende plekke is tydens ’n interkontinentale kwalifiseringsrondte (uitspeel tussen Asië en Oseanië) en ’n uitspeelwedstryd (Repechage) tussen al die vastelande in November 2022 beslis. As die regstreekse klassifiseerders getel word, het 34 spanne in aanmerking gekom vir kwalifisering vir die finale toernooi in Frankryk.