Moltrein is 'n roman geskryf deur Dan Roodt. Die boek word deur die skrywer self omskryf as 'n roman vir die leser wat meer verwag as "man ontmoet meisie op 'n tropiese eiland." Die boek kan as post-postmoderne liefdesverhaal beskou word. Anton du Preez is 'n onsuksesvolle pianis en komponis wat heelwat tyd in die Paryse moltreinstelsel deurbring totdat hy die fabelagtig ryke Erika ontmoet. Sy verlos hom uit die verveling van 'n middelmatige bestaan as moltreinpassasier en hulle besoek allerlei interessante plekke en restaurante, met 'n oordaad aan seks en literêre verwysings.
Karakters Hoofkarakters Anton du Preez - die fokalisator en hoofkarakter van die roman; minnaar van Erika. Erika de Ruiter - die minnares van Anton; woonagtig in Champ-de-Mars. Newekarakters Ginette - 'n kommuniste met wie Anton op die moltrein ontmoet en voor die verhaalhede 'n kortstondige seksuele verhouding gehad het. Ju - dogter van 'n vermaarde Japannese nyweraar in Tokio; 'n musiekleerling van Anton en vriendin van Erika. Gérard - Switserse ski-instrukteur wat deur Erika gehuur word om Anton af te rig. Chantal Meunier - Franse skipper wat deur Erika gehuur word om die Erica te stuur. Marié van der Westhuizen - 'n eertydse kennis van Anton uit die musiekkringe; voorheen 'n tjellis van TRUK-orkes. Agnès - 'n musiekleerling van Anton woonagtig in die 16de arrondissement, Parys. Madame de Laisné - die grootmoeder van Agnès.
Intrige Die lewe ondergronds I Anton ontvlug na Parys om militêre diensplig in Suid-Afrika te ontduik, maar veral om daar sy droom as wêreldberoemde konsertpianis te verwesenlik. Sy amibisie om roem te bereik loop uit op niks (hy is al te oud, en verder moet hy met duisende ander meeding), en hy moet noodgedwonge 'n musiekonderwyser word wat privaatklasse aan rykmanskinders bied. Hy word deur omstandighede genoodsaak om in die 2de arrondissement van Parys te bly, in die middel van die hoeredistrik, omdat die woonstel bekostigbaar is. Bedags moet hy vir die klavierlesse met die moltrein deurkruis - wat so te sê sy onderaardse bestaan en eensaamheid versinnebeeld. Hy raak in 'n kortstondige, maar vurige verhouding met 'n medepassasier op die moltrein betrokke. Self voel hy staatloos en ontuis in Frankryk, want orals, in elke progressiewe koerant en op televisie, word die Afrikaner en Suid-Afrika verguis weens Apartheid. Selfs al is die Franse owerhede ewe rassisties teenoor die Arabiere, en selfs al is die Wet op Afsonderlike Geriewe reeds in Suid-Afrika afgeskaf. Deur sy verhouding met Ginette begin hy eerstens agterkom die kommunistiese aanhangers het nie die vaagste benul wat kommunisme of kommunistiese filosofie werklik behels nie - hulle doen slegs mee aan 'n rewolusie ter wille van die rewolusie. Tweedens word Apartheid eenvoudig as laaste strooihalm gebruik, omrede die Kommunisme se val in Europa voor die deur is. Derdens beskou sakemanne Apartheid as 'n lastigheid wat die handel strem weens die internasionale boikot. Vierdens is die res van Europa se internasionale Afrikanerhaat te wyte aan die Europeërs se skuldgevoel oor hul meelopery met die Nazi's 'n paar dekades tevore.
Die lewe bogronds Ju het uit bewondering meermale Anton vir funksies aan huis begin oornooi - om klavier te kom speel. Daar ontmoet hy een aand 'n vermoënde Afrikaner, byna 28-jarige Erika de Ruiter, wat self uitgehonger na geselskap is. Deur meermale kontak te maak word die verhouding al hoe sterker. Maar, Erika soek slegs afleiding. Sy stel baie duidelik aan Anton dat sy reeds op troue gestaan het met "die gewone, Afrikaanse rugbyspeler uit 'n goeie Stellenbosse familie, wat deesdae in 'n aksepbank in Johannesburg werk, maar wat waarskynlik sal terugkom Kaap toe om die familiewynplaas oor te neem as die pa aftree." Hierdie aksepbankier is bereid om vir Erika te wag, maar sy sien nie kans om nou al vrou te word nie. Uiteindelik sal hulle twee trou, miskien nie - maar intussen wil sy die lewe geniet. "My hele lewe lank soek ek nog na een of ander... buitenissige ervaring, 'n groot passie." Anton neem sy intrek in haar woonstel te Champ-de-Mars. Hy word klei in Erika se hande en sou homself later omskryf as "die ouer gigolo wie se taak dit was om haar in ruil vir 'n lewe van gemak, weelde en skoonheid tot nuwe sinlike hoogtepunte te voer." Hul lewe bestaan uit hedonistiese eet-, drink-, en sekspartye.
Saam reis hulle deur Europa (op Erika se rekening) en lewer kommentaar oor hul bestemmings (dikwels polities, soms filosofies, soms literêr, soms seksueel). Soos Apartheid na 'n einde se kant toe staan, begin hul verhouding al hoe meer wankel en onwaarskynlik lyk. Vanaf Parys na Genève per TGV toon Erika aan Anton 'n boek wat sy pas begin lees het ('n voorbode) - Je vous aime, Inconnue deur die skrywer Gonzague Saint Bris, wat handel oor Balzac en sy minnares, die Russiese gravin Madame Hanska. Tydens hul besoek aan Switserland word Gérard gevra om Anton af te rig. Die ski-opleiding wil net nie vlot nie. Erika is veel meer ervare in die ski en neem Anton tot op die hoogste punt - vanwaar hulle tot onder sal afski. In die proses doen Anton 'n kniebesering op - wat ook hul verhouding mank laat. Nes hy nou ook 'n pianiste manqué was - 'n mislukte klavierspeler.
Op 'n jagnaweek besef Anton hoe broos die Franse kultuur eintlik is teen die aanslag van die internasionale geldmag. Ene Jacques Pasquier, wat die reklamerekening van een van Erika se horlosiemaatskappye hanteer, begin al hoe meer "Amerikaans" word, te midde van sy ersatz strewe om die lewe van 'n Boergondiese edelman te voer op sy château aan die buitewyke van Saumur. Binnekort sou hy geen aspirant-Boergondiese edelman meer wees nie, maar 'n aspirant-Amerikaner en -wêreldburger; 'n namaaksel van figure uit Amerikaanse sepies op televisie.
Die hoofstuk van Anton se lewe word afgesluit deur 'n vaart op die Erica. Erika het haar woonstel verkoop kort voor haar terugkeer na Suid-Afrika. Sy twyfel of Anton haar werklike liefde kan bied buiten seks. Die laaste aand op die seiljag eindig met 'n "groepswoeps" (orgie), waar ook Chantel later prettig meedoen aan die drievoudige seksinsident. Dit was Erika se laaste poging om die skakel tussen haar en Anton te breek.
Anton blameer veral die val van die Berlynse muur en die daaropvolgende vrylating van Mandela vir die beëindiging van hul verhouding. As die kommunisme net 'n bietjie langer aangehou het en die sanksies voortgeduur het, sou Erika nooit so gou na Suid-Afrika teruggekeer het nie.
Die lewe ondergronds II Ondertussen het Anton by die Office Français pour la Protection des Réfugiés et des Apatrides sy politieke asiel opgeskort - die regering het immers verander. By die Suid-Afrikaanse ambassade ontdek hy die personeel kan nie meer 'n woord Afrikaans of Frans praat nie - slegs Engels. Op sy nuwe paspoort skitter Afrikaans eweneens in sy afwesigheid. Voor Anton omdraai en by die ambassade uitstap trek die voorblad van die Rooi Rose sy aandag. Erika is getroud met 'n voormalige Suid-Afrikaanse rugbyspeler en aksepbankier wat wynboer geword het op die familiewynplaas in Stellenbosch. Nuwe geleenthede klop aan die deur noudat sanksies teen Suid-Afrika opgehef is. Anton keer droëbek terug na sy woonstelletjie in die 2de arrondissement en word oorweldig deur neerslagtigheid, maar onderweg besluit hy op die nippertjie sy selfmoord deur voor 'n trein in te spring sal Erika nie in die minste raak nie (slegs die gefrustreerde Paryse pendelaars vir enkele minute). Steeds klou hy aan die Rooi Rose vas onder sy arm.
Met die finansies wat begin knyp, doen Anton aansoek by die Franse werkloosheidagentskap, en begin openlik sy pad ooplieg. So word hy een van die twee-en-'n-halfmiljoen-werkloses, hoewel hy tog enkele leerlinge teen kontantbetaling onderrig.
Hy verneem by die besoekende Marié van der Westhuizen en haar Engelssprekende man (Steve) daar is geen toekoms meer in Suid-Afrika nie. Ná 'n motorkaping het die gesin besluit om die land vaarwel te roep en na Engeland te verhuis. Hul dogter, Lisa, word ook in Engels grootgemaak. Afgesien van die bedrogspul wat by die Staatsteater oopgevlek is en die streeksrade wat afgeskaf is, is musiekinstrumente by skole konfiskeer en word musiekonderwysers op 'n streep afgedank. 'n Toekoms in Suid-Afrika is daar dus glad nie meer vir Anton nie. Marié kan weer glad nie insien waarom daar geen geleenthede vir Anton in Parys kan wees nie. Tog is daar 'n groot verlange in Anton om terug te keer Suid-Afrika toe.
Anton besigtig ook in die hoeredistrik pornografiese rolprente en vertoondames wat groteske danspassies uitvoer. Helaas kan hy nie Erika vergeet nie (maar voel slegs verdoof deur die ersatzervaring).
Agnès, een van die amper-veertigjarige Anton se ou musiekleerlinge in Parys, stel Anton bekend aan haar ouma, die sewentigjarige Madame de Laisné - 'n onwrikbare Katoliek en onbesweke behoudende wat net buitekant Nantes in 'n ou herehuis bly en 'n baie hoë dunk van Afrikaners het. Anton word na die platteland genooi. Hoewel hul aanspreekvorme nooit sou afwyk van vous ("u") nie, neem Madame tog Anton in haar vertroue: sy vertel hom iets wat al so lank aan haar knaag en geen familielid weet nie. Ná haar man se afsterwe het sy ontdek hy was aan haar ontrou. Sy voel verraai, want het sy nie haar hele lewe aan hom gewy, hom verafgod nie? En nou is al die goeie herinneringe bederf. Wie sê daar was nie voorheen nog ander skelmpies nie? Anton gee toe dat hy ewe verwond voel deur 'n soortgelyke ervaring, maar brei nie uit nie. Tydens 'n spesiaal voorbereide aandete doen Anton aan die hand: "Miskien moet u tog 'n slag ontrou wees aan hom." Madame wonder hardop waar sy 'n minnaar sou vind, en Anton stip die parallelle tussen hulle twee baie duideliker op 'n diskrete manier uiteen. Dit word 'n wen-wen-transaksie: Madame sou weer aantreklik voel en Anton sou gemeenskap hê met "France" (haar voornaam, wat ook verwys na die Ou Katolieke Frankryk), 'n soort nagmaal - die mis van 'n ateïs - wat nog 'n Balzacroman se titel is. Die saak word beklink met 'n soen, al was haar tong maar "effe droog". Op die bed vier hulle die waarde van alle ou en verganklike dinge.
Die wraak op haar oorlede man skitter in Madame se oë nog toe sy Anton by die stasie wegsien. Anton is vas van plan om nou terug te keer Suid-Afrika toe. Die verhaal word skielik in die middel van die laaste sin onderbreek.
Epiloog Die hele hoofstuk verander in 'n huldeblyk. Die nuwe skrywer aan die woord is Anton se broer. Anton du Preez is tragies oorlede ná sy knie-operasie in Parys, met 'n kruk al hinkerend op soek na 'n telefoon by 'n kafee (want die staatshospitale het geen telefone nie). Hy het die straat oorgesteek en is omgery deur 'n wasseryfirma se afleweringswa. Hy is ná die heropname in dieselfde hospitaal dood. Die manuskrip is in Anton du Preez se woonstel ontdek. Die broer het op een Sondag dit goed gedink om Dan Roodt te nader om die teks gepubliseer te kry. Na 'n gesukkel by Rapport om Roodt se selfoonnommer te kry, het Dr. Dan onmiddellik ingewillig om die Du Preez se manuskrip deur te lees en selfs daarop aangedring om die teks te publiseer.
Agtergrond Roodt begin sy boek tydens 'n besoek aan Parys te skrywe; uiteindelik word die manuskrip in Suid-Afrika voltooi. Die storie het geleidelik vorm aangeneem en was nie aan tyd gebonde nie. Die boek is ook geskryf oor 'n tydperk toe Roodt sy 'frankofiele fase' beleef het - die voedsel, letterkunde, filosofie en kleredrag, maar veral "'n sekere soort intellektuele onverskrokkenheid" het hom bekoor; waaronder die taaltrots en volkstrots van Alain de Benoist.
Oor die doel van sy roman skryf Roodt: