Diphda (ook bekend as Beta Ceti of β Cet) is die helderste ster in die sterrebeeld Walvis (Cetus). Hoewel dit die Bayer-naam Beta Ceti het, is dit met ’n skynbare magnitude van 2,04 eintlik helderder as Alpha Ceti met sy magnitude van 2,54. Die oranjereus is maklik om uit te ken vanweë sy ligging in ’n andersins donker deel van die hemelruim. Volgens parallaksmetings is dit sowat 96,3 ligjare van die Son af.
Eienskappe duimnael|links|180px|Die oranjereus Beta Ceti (Chandra-X-straalsterrewag, Nasa).
Diphda het ’n sterreklassifikasie van K0 III, hoewel dit in sommige bronne as G9,5 III geklassifiseer word, wat daarop dui dit lê op die skeidingslyn van G- en K-tipe sterre. "III" dui aan dit is ’n reusester wat die waterstof in sy kern opgebruik en weg van die hoofreeks beweeg het. Dit verbrand nou helium in sy kern. Diphda sal langer as 100 miljoen jaar in dié fase bly.
Die ster se oppervlaktemperatuur is sowat 4 797 K, en dit gee dit die tipiese oranje kleur van ’n K-tipe ster. Ondanks sy koeler temperatuur is dit omtrent 145 keer so helder as die Son, want sy radius is 18 keer groter. Sy massa is 2,8 keer die Son s'n.
Die ster toon opvlammings, wat beteken die helderheid vergroot, oor tydperke van verskeie dae. In vergelyking daarmee toon die Son opvlammings van enkele ure.
Diphda straal sowat 2 000 keer soveel X-strale as die Son uit, wat beteken dit kan deur die Chandra-X-straalsterrewag afgeneem word.
Name Die ster se Bayer-naam is "Beta Ceti" en sy Flamsteed-naam "16 Ceti". Die tradisionele name is "Diphda" en "Deneb Kaitos". Diphda is Arabies vir "padda", van die frase ضفدع الثاني aḍ-ḍifdaʿ aṯ-ṯānī; die "tweede padda" (die "eerste padda" is Fomalhaut). Deneb Kaitos kom van الذنب القيتوس الجنوب Al Dhanab al Ḳaiṭos al Janūbīyy, "die suidelike stert van Cetus".
In 2016 het die Internasionale Astronomiese Unie se sternaamwerkgroep (WGSN) die naam "Diphda" vir die ster goedgekeur.
Verwysings
Eksterne skakels Beta Ceti: "Giant Star's Corona Brightens with Age"
15px Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia
Kategorie:Bayer-voorwerpe Kategorie:Flamsteed-voorwerpe Kategorie:Henry Draper-voorwerpe Kategorie:Sterre met eiename Kategorie:Veranderlike sterre Kategorie:Walvis (sterrebeeld) Kategorie:Gliese-voorwerpe Kategorie:K-tipe reusesterre