Cabaret is ’n Amerikaanse musikale dramarolprent van 1972, geregisseer en gechoreografeer deur Bob Fosse vanaf ’n draaiboek deur Jay Presson Allen. Dit is gebaseer op die verhoogblyspel van 1966 deur Joe Masteroff (boek) en die duo Kander en Ebb (musiek), wat op sy beurt geskoei is op die toneelstuk I Am a Camera van 1951 deur John van Druten en die roman Goodbye to Berlin van 1939 deur Christopher Isherwood. Die hoofakteurs is Liza Minnelli, Michael York, Helmut Griem, Marisa Berenson en Joel Grey.
Die rolprent het op die 45ste Oscar-toekenningsaand agt Oscars gewen, insluitend vir beste regisseur, aktrise (Minnelli) en beste manlike byspeler (Grey). Dit is die rekord vir die meeste Oscars gewen deur ’n rolprent wat nie as beste rolprent bekroon is nie. In 1995 is Cabaret deur die Library of Congress gekies vir bewaring in die Verenigde State se Nasionale Rolprentregister omdat dit as "kultureel, histories of esteties betekenisvol" beskou word.
Verskeie nommers uit die verhoogstuk is vir die rolprent gebruik; dit sluit ook drie ander liedjies deur Kander en Ebb in, waaronder twee wat spesiaal vir die rolprent geskryf is.
Cabaret is op 13 Februarie 1972 deur Allied Artists in die VSA uitgereik. Dit het lof van resensente ontvang en eindelik meer as $42 miljoen by die loket verdien teenoor ’n begroting van $4,6 miljoen.
Rolverdeling
Liza Minnelli as Sally Bowles Michael York as Brian Roberts Helmut Griem as baron Maximilian von Heune Joel Grey as die seremoniemeester Fritz Wepper as Fritz Wendel Marisa Berenson as Natalia Landauer Elisabeth Neumann-Viertel as Fräulein Schneider Helen Vita as Fräulein Kost Sigrid von Richthofen as Fräulein Mayr Gerd Vespermann as Bobby Ralf Wolter as Herr Ludwig Ricky Renée as Elke Oliver Collignon as die Hitlerjugend-sanger (nie op kredietlys) Mark Lambert as die sangstem van die Hitlerjugend-sanger (nie op kredietlys) Pierre Franckh as 'n Nazi
Storielyn In 1931 se Berlyn tree ’n jong, openlik promiskue Amerikaanse vrou, Sally Bowles, by die Kit Kat Klub op. ’n Nuwe Britse aankomeling in die stad, Brian Roberts, trek in by die losieshuis waar Sally woon. Brian, ’n teruggetrokke akademikus en skrywer, moet Engelse lesse gee om ’n bestaan te maak terwyl hy sy doktorsgraad voltooi. Sally probeer Brian verlei, maar hy vertel haar hy het by drie vorige geleenthede probeer om seksuele verhoudings met vroue te hê, en dat almal misluk het. Hulle word vriende, en Brian sien Sally se boheemse lewe in die laaste dae van die Republiek Weimar. Toe Brian vir Sally troos nadat haar pa hulle ontmoeting gekanselleer het, word hulle minnaars en kom tot die gevolgtrekking dat sy vorige mislukkings met vroue was omdat hulle “die verkeerde drie meisies” was.
Maximilian von Heune, ’n ryk, getroude losbol en baron, raak bevriend met Sally en neem haar en Brian na sy landgoed, waar albei bederf en die hof gemaak word. Ná ’n ietwat raaiselagtige ervaring met Brian laat vaar Max haastig sy belangstelling in die tweetal. Tydens ’n rusie vertel Sally vir Brian sy het seks met Max gehad, en Brian onthul hy het ook. Brian en Sally versoen later, en Sally onthul Max het vir hulle 300 mark nagelaat en vergelyk die bedrag spottend met wat ’n professionele prostituut verdien.
Sally ontdek sy is swanger is, maar is onseker oor wie die pa is. Brian bied aan om met haar te trou en haar saam terug te neem na sy universiteitslewe in Cambridge. Aanvanklik vier hulle hulle besluit om hierdie nuwe lewe saam te begin, maar ná ’n piekniek, waartydens Brian ongeïnteresseerd optree, raak Sally mismoedig oor die beeld van haarself as ’n verveelde professorsvrou wat vuil doeke was. Uiteindelik ondergaan sy ’n aborsie, sonder om Brian vooraf daarvan in kennis te stel. Toe hy haar daaroor konfronteer, deel sy haar vrese, en die twee bereik ’n begrip. Brian vertrek na Engeland, en Sally gaan voort met haar lewe in Berlyn en verdiep haar weer in die Kit Kat Klub.
Intussen is Fritz Wendel, ’n Duitse Jood wat hom as ’n Protestantse Christen voordoen, verlief op Natalia Landauer, ’n welgestelde Duitse Joodse erfgename wat op hom neersien en sy motiewe wantrou. Deur Brian raai Sally hom aan om aggressiewer op te tree, wat Fritz uiteindelik in staat stel om haar liefde te wen. Om egter haar ouers se toestemming vir hulle huwelik te kry, moet Fritz sy Joodse agtergrond openbaar; hy doen dit, en die twee word deur ’n rabbi getrou.
Die opkoms van fascisme in Europa is ’n voortdurende onderstroom en vorm die oorhoofse intrige van die rolprent. Die ontwikkeling van die hoofkarakters kan gevolg word deur hulle veranderende optrede en houdings teenoor die steeds stygende gety van Duitse Nazisme in die Republiek Weimar. Aan die begin van die rolprent word ’n lid van die Naziparty deur die klubbestuurder uit die Kit Kat Klub gesit, en die bestuurder word later aangerand.
Die opkoms van Nazisme in die 1930’s word ook teen die einde van die rolprent uitgebeeld in ’n toneel in ’n landelike biertuin. Daar sing ’n blonde seun vir ’n gehoor van alle ouderdomme "Tomorrow Belongs to Me", oor die skoonheid van die natuur en jeug. Daar word eindelik onthul dat die seun ’n Hitlerjugend-uniform dra. Die ballade verander dan in ’n militante Nazi-volkslied, en teen die einde van die lied staan byna al die volwassenes en jong mense een vir een op en sing saam. “Dink jy steeds jy kan hulle beheer?” vra Brian dan vir Max. Ná die biertuintoneel raak Brian in ’n konfrontasie met ’n Nazi in ’n Berlynse straat betrokke, wat daartoe lei dat hy aangerand word.
In die laaste toneel van die rolprent in die Kit Kat Klub word dit stadigaan in die wasige klub duidelik dat gehoorlede wat Nazi-uniforms dra, nou in die voorste sitplekke van die klub sit.
Historiese grondslag
Die gebeure wat in die 1972-rolprent uitgebeeld word, is afgelei van die Anglo-Amerikaanse skrywer Christopher Isherwood se outobiografiese verhale oor sy kleurryke avonture in die Republiek Weimar. In 1929 het Isherwood sy vriend W.H. Auden in die laaste jaar van die 1920's in die Berlyn van die Weimartydperk besoek. Hy het kort daarna na Berlyn verhuis om gebruik te maak van die jong manlike prostitute wat in die stad se orgiastiese kabarette van die jazztydperk gevind is.
Teen vroeg 1931 het Isherwood beskeie woonkwartiere gedeel met Jean Ross, ’n kabaretsangeres en aspirantaktrise. Terwyl hulle saam in ’n losieshuis in Berlyn gewoon het, het die 27-jarige Isherwood ’n seksuele verhouding aangeknoop met ’n 16-jarige Duitse seun, terwyl Ross by ’n reeks seksuele verhoudings betrokke was. Ná vyf of ses maande het die losieshuis Ross uitgesit weens haar seksuele bedrywighede, en sy het by ’n heroïenverslaafde ingetrek. In dié tydperk het Isherwood en Ross na bewering vir John Blomshield ontmoet, ’n welgestelde losbol wat die rolprentkarakter van baron Maximilian von Heune geïnspireer het. Blomshield het sowel Isherwood as Ross seksueel agtervolg. Nadat hy hulle genooi het om saam met hom oorsee te reis, het hy verdwyn sonder om tot siens te sê.
In die somer van 1931 het Ross swanger geraak by die jazzpianis en latere akteur Peter van Eyck. Sy het ’n byna noodlottige aborsie ondergaan wat deur Isherwood gereël is, terwyl hy voorgegee het dat hy die vader is. Terwyl Ross van die mislukte aborsieprosedure herstel het, het Duitsland se politieke situasie in Duitsland versleg. Aangesien Berlyn se daaglikse tonele “armoede, werkloosheid, politieke betogings en straatgevegte tussen die uiterste linkses en uiterste regses” ingesluit het, het Isherwood en ander besef dat hulle uit die land moes vlug. “Daar was ’n gevoel van onheil wat in die strate van Berlyn gevoel kon word,” het Stephen Spender, 'n vriend, later onthou.
Isherwood het in Mei 1933 uit Nazi-Duitsland gevlug. Daarna het die Nazi’s die meeste van Berlyn se verdagte kabarette gesluit, en baie van Isherwood se kennisse het oorsee gevlug of in konsentrasiekampe omgekom. Dié werklike gebeure het Isherwood se Berlyn-verhale geïnspireer, insluitend sy novelle Sally Bowles uit 1937, wat later heruitgegee is in die 1939-roman Goodbye to Berlin. John van Druten het Goodbye to Berlin verwerk tot die 1951-toneelstuk I Am a Camera, en Harold Prince het dit vervaardig as die 1966-musiekblyspel Cabaret.
Vervaardiging thumb|links|180px|Bob Fosse was gretig om Cabaret te regisseer ná die loketmislukking van Sweet Charity (1969). In 1971 het Bob Fosse gehoor Cy Feuer vervaardig 'n rolprentverwerking van Cabaret vir ABC Pictures en Allied Artists. Fosse was vasbeslote om die prent te regisseer en het Feuer gesmeek om hom aan te stel. Hy het egter voorheen die onsuksesvolle verwerking van Sweet Charity geregisseer en die ateljees was huiwerig om hom aan te stel. Feuer was agter gretig om Fosse te kry en het die ateljeebase vertel van sy talent met die verfilming van musieknommers. Fosse is eindelik gehuur.
Fosse het al hoe meer ontevrede geraak met die draaiboekskrywer, Jay Presson Allen, se werk, wat geskoei was op Joe Masteroff se oorspronklike boek van die teaterweergawe. Fosse het Hugh Wheeler aangestel om Allen se werk te herskryf. Wheeler is die "navorsingskonsultant" genoem, terwyl Allen krediet vir die draaiboek gekry het. Wheeler, 'n vriend van Christopher Isherwood, het geweet Isherwood was krities oor die blyspel omdat al die dele wat kon aanstoot gee, uitgesny is. Wheeler het Isherwood se oorspronklike stories vir sy skryfwerk gebruik vir 'n getrouer verwerking.
Wheeler het ook gesteun op Isherwood se openheid oor sy homoseksualiteit en het die manlike hoofrolspeler biseksueel gemaak eerder as heteroseksueel soos in die blyspel.
Feuer het Liza Minnelli as Sally Bowles en Joel Grey as die seremoniemeester gekry lank voordat Fosse by die projek betrokke geraak het. Fosse het nie met Grey oor die weg gekom nie, maar moes hom eindelik aanvaar. Fosse het Michael York as Sally se biseksuele vriend gehuur, maar Minnelli het gedink dis 'n slegte keuse – totdat sy saam met hom opgetree het. Die akteurs in verskeie kleiner rolle is in Wes-Duitsland gekies.
Minnelli het 'n oudisie vir die rol in die blyspel gedoen, maar is as te onervare beskou al het sy al 'n Tony gewen. Teen die tyd dat Cabaret verfilm is, het Minnelli al 'n benoeming vir 'n Oscar gekry vir haar rol in The Sterile Cuckoo (1969).
Sy het haar voorkoms, op die voorstel van haar pa, die rolprent- en verhoogregisseur Vincente Minnelli, geskoei op dié van die aktrise Louise Brooks, 'n sekssimbool van die jazztydperk. Sy was, nes Sally Bowles, 'n aspirerende aktrise en Amerikaanse ekspat wat tydelik na Wes-Duitsland verhuis het op soek na internasionale roem.
Fosse en Feuer het na Wes-Duitsland gereis om die finale filmspan saam te stel. Al die repetisies en die verfilming het in Wes-Duitsland plaasgevind. Binnenshuise tonele is in 'n ateljee buite München geskiet.
Vergelyking met bronmateriaal Die rolprent verskil aansienlik van die verhoogblyspel. In laasgenoemde was Sally van Engeland, nes in Isherwood se Goodbye to Berlin. In die prent is sy Amerikaans. Cliff Bradshaw is tot Brian Roberts hernoem en Engels gemaak (nes Isherwood, op wie die karakter geskoei is), eerder as Amerikaans soos in die verhoogweergawe. Die karakters en storielyn van Fritz, Natalia en Max kom uit I Am a Camera en was nie in die verhoogblyspel nie.
Kander en Ebb het verskeie nuwe liedjies vir die rolprent geskryf en ander uitgelaat. "Don't Tell Mama" is vervang met "Mein Herr" en "The Money Song" met "Money, Money". Die liedjie "Maybe This Time", wat Sally in die kabaret uitvoer, kom van voor die blyspel en is in 1964 deur Minnelli opgeneem. Hoewel "Don't Tell Mama", "The Money Song" en "Married" uit die rolprent gelaat is, kom al drie nog in 'n instrumentale vorm voor.
Klankbaan
Ontvangs Kontemporêre resensies