300px|duimnael|Die Skepping van die Kosmiese Oseaan en die Elemente, uit die Shivapurana, c. 1828.

Hindoemitologie is ’n groot versameling mitiese vertellings in Hindoeïsme wat in Sanskrit geskrifte soos die Mahabharata en Ramayana, antieke Tamil geskrifte soos die Sangam-letterkunde en Periya Puranam, asook ander streekletterkunde van Suid-Asië opgeteken is. As sulks is dit ’n onderafdeling van hoofstroom- Indiese en Nepalese kultuur.

Eerder as ’n eenvormige geheel, kom dieselfde mite in verskeie weergawes voor wat wissel van tradisie tot tradisie, sekte tot sekte en streek tot streek. Alle Hindoes beskou dit dus nie as letterlike weergawes van die geskiedenis nie, maar as verhale met ’n dieper, dikwels simboliese, betekenis. Die mites word ook dikwels op verskillende maniere vertolk.Jacqueline Suthren Hirst, Myth and history, in Themes and Issues in Hinduism, red. Paul Bowen. Cassell, 1998.

Bronne Indies Die mitologie wat uit klassieke Hindoeïsme ontwikkel het, het sy oorsprong in die tyd van die Vediese beskawing en antieke Vediese godsdiens. Die vier Vedas, veral die lofsange van die Rigveda, bevat verwysings na talle temas soos gode, riviere, ens.

Die karakters, filosofie en stories wat die Vediese mites uitmaak, is onlosmaaklik verbind aan Hindoegelowe. Daar is vier Vedas: die Rigveda, Yajurveda, Samaveda en Atharvaveda.

Itihasa en Puranas 200px|duimnael|Rama (regs), wat op die skouers van Hanuman sit, in ’n geveg met die demoonkoning Ravana. ’n Toneel uit die Ramayana.

Baie materiaal uit die tyd van klassieke Sanskrit het bewaar gebly in die Sanskrit epiese gedigte. Benewens ware mitologie, bevat die gedigte ook ’n groot verskeidenheid inligting oor die antieke Nepalese en Indiese gemeenskap, filosofie, kultuur, godsdiens en lewenswyses. Die twee groot epiese Hindoegedigte, die Ramayana en Mahabharata, vertel die verhaal van twee spesifieke inkarnasies van Vishnu (Rama en Krishna). Dié twee werke is bekend as Itihasa ("Geskiedenis"). Albei gedigte dien as godsdiensgeskrifte én groot bronne van filosofie en moraliteit. Hulle is in hoofstukke verdeel en bevat verskeie kort stories en morele situasies, waar die karakter ’n sekere gedragspatroon openbaar wat in lyn is met Hindoewette en die kodes van regverdigheid. Die beroemdste van dié hoofstukke is die Bhagavad Gita (Sanskrit: "Die Hemellied") in die Mahabharata, waarin Krishna voor die Slag van Kurukshetra die begrippe plig en regverdigheid aan die held Arjuna verduidelik. Hierdie storie is goed veranker in Hindoefilosofie en dien vir Hindoes as ’n bron vir gelykenisse en aanbidding. Die Mahabharata is die langste epiese gedig ter wêreld – dit is meer as 2 miljoen lyne lank.

Die gedigte self handel oor gebeure in verskillende yugas (tydperke). Daar was vier verskillende yugas: die Satya of Krita (Eerste) Yuga, Treta (Tweede) Yuga, Dvapara (Derde) Yuga en Kali (Vierde) Yuga. Die Ramayana, wat deur die groot ghoeroe Valmiki geskryf is, beskryf die lewe van Rama (die sewende avatar van Vishnu) en speel in die Tweede Yuga af. Die Mahabharata, wat oor die lewe van die Pandavas handel, speel in die Derde Yuga af, ’n tydperk wat met Krishna (die agtste avatar van Vishnu) verbind word.

Die Puranas bevat stories wat oud is en nie in die epiese gedigte verskyn nie, of net vlugtig. Dit is legendes en stories oor die oorsprong van die wêreld en die lewe en avonture van ’n groot verskeidenheid gode, godinne, helde, heldinne en mitologiese wesens (asuras, danavas, daityas, yakshas, rakshasas, gandharvas, apsaras, kinnaras, kimpurusas, ens.). Dit handel oor tradisies wat verband hou met antieke konings, sieners, inkarnasies van gode en legendes oor heilige plekke en riviere. Die Bhagavatapurana is waarskynlik die Purana wat die meeste gelees word; dit vertel van die legendes van Vishnu en sy avatars op aarde.

Kosmogonie en kosmologie Skepping Daar word op meer as een manier gedink aan die skepping. Volgens een van die oudste kosmogoniese mites in die Rigveda (RV 10.121) het die aarde ontstaan as ’n kosmiese eier, hiranyagarbha. Die Purusha Sukta (RV 10.90) vertel alle dinge is gemaak uit die verskeurde ledemate van Purusha, ’n groot nienatuurlike man wat deur die gode geoffer is. In die Puranas het Vishnu, in die vorm van ’n wildevark, in die kosmiese waters gespring en die aarde (Bhumi of Prithivi) voortgebring.

Volgens die Shatapatha Brahmana was Prajapati, die eerste skepper en vader van almal, in die begin alleen in die wêreld. Hy het homself in twee wesens omskep, ’n man en ’n vrou. Die vrou, wat gemeenskap met haar skepper as bloedskande beskou het, het uit sy omhelsings weggevlug en haar as verskeie diere vermom. Die man het haar agtervolg in die vorm van die mannetjie van elke dier, en uit dié ontmoetings het verskeie spesies ondiere voortgekom (Shatapatha Brahmana, xiv. 4, 2). Prajapati is gou in die Puranas met Brahma vervang.

In die Puranas het Vishnu en Maheshvara (Shiva), onderskeidelik die bewaarder en vernietiger, by Brahma die skepper aangesluit om ’n goddelike triade (drie-eenheid) te vorm. Die heelal is deur Brahma geskep, deur Vishnu bewaar en deur Shiva vernietig vir die volgende skepping. In sommige mites word Brahma se geboorte egter aan Vishnu toegeskryf. Brahma is dikwels uitgebeeld as sittende op ’n lotus wat uit Vishnu se naeltjie voortkom terwyl laasgenoemde op die kosmiese slang, Ananta (Shesha) rus. In dié mites was Vishnu aanvanklik alleen en toe hy oor die skepping dink, is Brahma geskep uit die lotus wat uit sy naeltjie gekom het.

Wêrelde In Hindoeïsme word 14 wêrelde geïdentifiseer – sewe hoëres (die hemel) en sewe laeres (die onderwêreld). (Die aarde word beskou as die laagste van die sewe hoër wêrelde.) Die sewe hoër wêrelde is die sewe vyahrti's: bhu (land, aarde), bhuvas (lug/atmosfeer),svar (son, hemel, wêreld van die gode, lug, die ligging van die planete en sterrebeelde, klank, stemme, tone, wysies en skittering), mahas, janas, tapas en satya (die wêreld wat deur Brahma regeer is). Die laer wêrelde of paatalas is atala, vitala, sutala, rasaataala, talatala, mahaatala en paatala.

Al die wêrelde behalwe die aarde is tydelike woonplekke: ná ’n persoon se dood op aarde weeg die god van die dood en geregtigheid (Yama) die mens se goeie en slegte dade teen mekaar op en besluit of die siel na ’n hemel of ’n hel moet gaan, vir hoe lank en in watter hoedanigheid of vorm. Aan die einde van die siel se tydperk daar keer dit na die aarde terug (word dit herbore as ’n lewensvorm op aarde). Daar word geglo net van die aarde af, en net ná ’n menslike lewe, kan die siel algehele redding verkry, die toestand wat vry is van die siklus van geboorte en die dood, ’n toestand van algehele en ewige saligheid.http://www.swaminarayan.org/faq/hinduism.htm

Die aard van tyd Volgens die Hindoestelsel gaan die kosmos vir ewig deur siklusse binne siklusse. Die basiese siklus is die kalpa, ’n "dag van Brahma", of 4 320 miljard aardjare. Dié dag se nag is ewe lank. Altesaam 360 sulke dae en nagte is ’n "jaar van Brahma", en sy lewe is 100 sulke jare lank. Die grootste siklus is dus 311 040 000 miljard jaar lank, waarna die hele heelal terugkeer na die naamlose wêreldgees, totdat ’n nuwe skeppergod ontwikkel het.

In elke kosmiese dag skep die god die heelal en absorbeer dit weer. In die kosmiese nag slaap hy en die hele heelal word in sy liggaam opgeneem, waar dit bly as ’n potensialiteit, of moontlikheid. In elke kalpa is 14 manvantaras, of sekondêre siklusse, wat elk 306 720 000 jaar lank is, met lang tussenposes tussinin. In hierdie tydperke word die wêreld herskep en ’n nuwe Manu verskyn as die voorsaat van die mens. Ons is nou in die sewende manvantara van die kalpa, waarvan die Manu bekend is as Manu Vaivasvata.

Elke manvantara bevat 71 mahayugas, of eons. Elke mahayuga word weer verdeel in die vier yugas, of tydperke. Hulle is onderskeidelik 4 800, 3 600, 2 400 en 1 200 "jaar van die gode" lank, wat elk gelyk is aan 360 mensjare. In elke yuga is daar ’n afname in vroomheid, moraal, krag, statuur en geluk. Ons is tans in die Kali Yuga. Dit het volgens oorlewering in 3102 v.C. begin, die jaar waarin die Mahabharata-oorlog glo plaasgevind het.

Die einde van die Kali Yuga word gekenmerk deur die verwarring van klasse, die omverwerping van die gevestigde standaarde, die staking van alle godsdiensrites en die heerskappy van wrede konings. Kort hierna word die wêreld deur ’n vloed en vuur vernietig.

Eskatologie Die einde van die lewe is drieledig: "onvoorsien, elementêr en absoluut". Die eerste einde, aan die einde van elke kalpa of "dag van Brahma", word naimittika genoem; dit is onvoorsien en voorwaardelik; dit geskied in die nag. Die tweede einde is die algemene ontbinding van die elemente in hul primitiewe bron, of prakriti, en dit gebeur aan die einde van Brahma se lewe. Die derde, absolute en finale atyantika is individuele verdelging, die ewige ontheffing van toekomstige bestaan.

Hindoepanteon Vishnu Hoofartikel: Vishnu. duimnael|220px|Tien avatars van Vishnu (Matsya, Kurma, Varaha, Vamana, Krishna, Kalki, Boeddha, Parshurama, Rama en Narasimha). Skildery in die Victoria and Albert-museum.

Vishnu het uitgestyg van ’n minder belangrike songod in die Rigveda tot een van die Hindoetriade saam met Brahma en Shiva tot die oppergod in Vaishnavisme. Sy bereidwilligheid om te inkarneer in tye van nood om regverdigheid (dharma) te herstel, was die inspirerende tema wat hom beide die oppergod en ’n barmhartige uitdeler van grasie (prasada) gemaak het. Volgens die Puranas slaap hy in die oer-oseaan, op die duisendkoppige slang Shesha. In sy slaap groei ’n lotus uit sy naeltjie en in die lotus word die skeppergod Brahma gebore, en hy skep dan die wêreld. Ná die skepping word Vishnu wakker en regeer in die hoogste hemel, Vaikuntha. As beskermer van lewe is een van sy take om dinge op aarde te kom regruk as dit skeefloop. Hy het 10 avatars, of inkarnasies, volgens die gewildste klassifikasie. Hulle is: die Vis (Matsya), die Skilpad (Kurma), die Wildevark (Varaha), die Leeu (Narasimha), die Dwerg (Vamana), Parashurama, Rama, Krishna, Balarama en Kalki (die inkarnasie wat later in die Kali Yuga sal kom).

Shiva Hoofartikel: Shiva. duimnael|links|220px|’n Mediterende Shiva.

Shiva word in Shaivisme beskou as die oppergod, die bron en doel van alles. Die Pashupata, Shaiva Siddhanta en sommige ander sektes beskou hom as gelyk aan, of selfs groter as, die Absolute (Brahman). Shiva se persoonlikheid is teenstrydig, want hy kan ’n morele en paternalistiese god wees, of ’n god van die buitestanders, dié wat buite die Brahmaniese hoofstroom staan. Hy word op verskeie maniere aanbid.

In die klassieke Hindoeïsme is Shiva die god van vernietiging, wat gewoonlik uitgebeeld word as a jogi wat op die berg Kailasa in die Himalaja woon. Sy lyf is vol as gesmeer, sy hare opgestapel in gekoekte lokke. Hy het ’n dierevel aan en dra ’n drietandvurk. ’n Kobra dien dikwels as sy krans en die halfmaan as sy haarornament. Hy het ’n derde oog in die middel van sy voorkop wat hy toehou. Hy word soms vergesel van sy vrou, Parvati, en hul twee seuns, Skanda met sy ses gesigte en Ganesha met die olifantkop.

Devi Devi is Shakti, die krag van haar manlike eweknie. As ’n enkele godin kan Devi beskou word as Parvati, die vrou van Shiva. Sy is ook bekend as Mahadevi, die "groot moedergodin", en is Shiva se gelyke. Sy kan ook beskou word as die oppergodheid van die heelal, die bron van alles wat lewe. Wanneer sy as ’n vrou en ma beskou word, lei haar kalm aard tot pragtige, gehoorsame vroue soos wat Parvati vir Shiva is, Lakshmi vir Vishnu en Sarasvati vir Brahma.

In haar aggressiewe manifestasie as Durga is sy ’n vernietiger van die bose, verpersoonlik as die buffeldemoon Mahisha. Op haar kragtigste is sy Kali of Chamunda, wat die bloed drink van die demoon Raktabija ("bloedsaad"), van wie elke bloeddruppel wat op die grond val, meer demone tot gevolg het.

Mindere devatas