Wouter Kellerman, gebore op 20 September 1961 in Johannesburg, is 'n Suid-Afrikaanse fluitspeler en komponis. Hy begin fluit speel op die ouderdom van tien, en in 1981 tree hy as 'n solis op saam met die Johannesburgse Simfonie-orkes. Daarna tree hy saam met verskeie Suid-Afrikaanse orkeste op en palm 'n reeks musikale toekennings in. Sy albums is internasionaal vrygestel in Duitsland, Oostenryk, Switserland, Noord-Amerika en Australië, en hy tree dwarsoor die wêreld op, waaronder in Berlyn, Shanghai, New York en Sydney.

Eerbewyse Kellerman tree by die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi se afsluitings-seremonie op in 2010 en sy album Two Voices word aangewys as die beste instrumentale album by die Suid-Afrikaanse Musiekpryse (SAMA) in 2011. Hy verower 'n Grammy-prys vir sy album Winds of Samsara by die 57ste jaarlikse Grammy-toekenningsaand in die Verenigde State van Amerika in 2015. In dieselfde jaar stap hy weg met 'n internasionale prestasieprys en die prys vir die beste klassieke en / of instrumentale album vir Winds of Samsara by die Suid-Afrikaanse Musiekpryse (SAMAXXI). Hy verower weer die beste klassieke en / of instrumentale albumprys vir sy album Love Language by SAMA22 in 2016.

Filantroop Kellerman borg die lewenskoste van tien kinders by die SOS Children's Village in Ennerdale, Suid-Afrika, en hy het ook die bou van 'n huis by die SOS Children's Village in Rustenburg gefinansier. Hy is ook 'n musiekambassadeur vir Project Peace on Earth (PPOE), 'n organisasie wat internasionale vredesinisiatiewe organiseer.

Diskografie Colour (2010) Two Voices (2011) Half Moon (2012) Timeless (2012) Mzansi (2013) Winds of Samsara (2014) Love Language (2015)

Verwysings

Eksterne skakels

Kategorie:Suid-Afrikaanse komponiste Kategorie:Suid-Afrikaanse musici Kategorie:Fluitspelers Kategorie:Geboortes in 1961 Kategorie:Lewende mense