Bretagne (Frans: [bʁətaɲ], ; Bretons: Breizh, [bʁɛjs] of [bʁɛx]; Gallo: Bertaèyn of Bertègn, [bəʁtaɛɲ]) is 'n administratiewe streek of Franse geweste (Frans: région) in die noordweste van Frankryk, wat uit die départements Côtes-d'Armor (Bretons: Aodoù-an-Arvor), Finistère (Bretons: Penn-ar-Bed), Ille-et-Vilaine (Bretons: Il-ha-Gwilen) en Morbihan (Bretons: Mor-bihan) bestaan. Die administratiewe hoofstad is Rennes (Bretons: Roazhon).
duimnael|links|Die ruwe kuslandskap van Belle-Île duimnael|links|Vakwerkboukuns op die plein Place du Champ Jacquet in die die historiese middestad van Rennes Die naam Bretagne verwys naas die administratiewe gebied ook na die historiese provinsie Bretagne, waarvan tans net vier vyfdes deel uitmaak van die gelyknamige Franse région. Die oorblywende gebied, die département Loire-Atlantique met sy prefektuur Nantes (een van die voormalige hoofstede van die hertogdom Bretagne) is nou deel van die région Pays-de-la-Loire.
Die oorspronklike Gallies-Keltiese bevolking het die land Armorika of Aremorica (Bretons: Arvorig) of "Land voor die See" genoem. Die lang kusgebied tussen die Golf van Biskaje en die Engelse Kanaal is 'n gewilde vakansieplek.HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013,
Die geskiedenis van die huidige Bretonse volk het 'n aanvang geneem met die invalle van die Angel-Sakse en ander Germaanse volke in Brittanje. Onder die leiding van hulle stamhoofde en monnike het 'n deel van die Keltiese bevolking vanuit Cornwall na die noordweste van Frankryk gevlug, waar hulle hul taal en tradisies bewaar het. Die name van hul oorspronklike tuislande, Brittanje en Cornwall, leef voort as Bretagne (die Franse benaming vir "Brittanje") en Cornouaille.
Onder die regering van die State van Bretagne, 'n jaarlikse parlementêre vergadering, het Bretagne tot 'n welvarende land met 'n bloeiende kunslewe en 'n buitengewone sosiale stabiliteit ontwikkel. Sy handelsvloot het tot die magtigstes in Europa behoort.
Teen die einde van die 15de eeu het die Bretonse heersers voor die oormagtige buurstaat Frankryk begin swig, en in 1532 is die hertogdom uiteindelik by die Koninkryk Frankryk ingelyf.
Alhoewel Bretagne dekades lank as een van die armste gebiede van Frankryk bekend gestaan en meer as een miljoen jongmense die gebied in die tydperk tussen 1860 en 1960 verlaat het om elders in die land werk te vind, beleef dit nou 'n ekonomiese opbloei. Baie emigrante begin na hul geboorteland terugkeer, en die jaarlikse bevolkingsaanwas is bo die gemiddelde vir Frankryk. In 2004 het Bretagne se bevolking weer die driemiljoenkerf verbygesteek.
Etimologie Die Franse woord Bretagne is, net soos die Bretonse Breizh en Gallo Bertaèyn, afgelei van die Latynse Britannia en beteken "land van die Bretonners". Sedert die eerste eeu het die Romeine daarmee na Groot-Brittanje verwys, meer spesifiek die Romeinse provinsie Britannia. Dié woord is afgelei van die Grieks Πρεττανικη (Prettanike) of Βρεττανίαι (Brettaniai), gebruik deur Pitheas, 'n ontdekkingsreisiger uit Massalia wie rondom 320 v.C. die Britse Eilande besoek het. Die Griekse woord is op sy beurt ontleen aan 'n algemene Bretonse etnoniem wat as *Pritanī gerekonstrueer is, afgelei van die Proto-Keltiese *kʷritanoi (uiteindelik van die Proto-Indo-Europese *kʷer- "om te sny", "maak").
In Romeinse tye het die term Armorica die huidige Bretagne ingesluit. Dit was 'n onbepaald gebied wat langs die Engelse Kanaalkus van die Seineriviermonding, dan langs die Atlantiese Oseaankus tot die Loireriviermonding en, volgens sommige bronne tot moontlik die Garonneriviermonding, gestrek het. Dié term is glo ontleen aan die Galliese woord aremorica wat "land voor die meer" beteken. 'n Ander naam, Letauia (in Afrikaans "Litavis"), is tot die 12de eeu gebruik. Dit beteken moontlik "wyd en plat" of "om uit te brei" en was die oorsprong van die Walliese naam vir Bretagne: Llydaw.
Ná die einde van die Wes-Romeinse Ryk het baie Korniërs hulle in westelike Armorica gevestig, toe hulle voor die Angel-Saksers gevlug het en na dié streek is voortaan verwys as Britannia, hoewel die naam eers aan die einde van die vyfde of in die sesde eeu Armorica vervang het.
Na gelang van hul streek van herkoms spreek Bretons-sprekende mense die woord Breizh moontlik op twee verskillende maniere uit. Bretons kan in twee hoofdialekte verdeel word: KLT (Kerne-Leon-Tregor) en die Vannes-dialek. KLT-sprekers spreek dit uit as [brɛjs] en spel dit Breiz, terwyl die Vannetais-sprekers dit uitspreek as [brɛχ] en dit Breih skryf. Die amptelike skryfwyse is 'n kompromie tussen albei variante, met 'n z en 'n h saam. In 1941 het pogings om die twee dialekte te verenig gelei tot die skepping van die sogenoemde Breton zh, 'n standardisering oor die algemeen nooit oorgeneem is nie. Op sy beurt het Gallo nooit oor 'n algemene skryfstelsel beskik nie en verskillendes bestaan langs mekaar. Byvoorbeeld kan die streeksnaam in die ELG-spelling geskryf word asBertaèyn of in MOGA as Bertègn, terwyl daar ook verskeie ander skryfwyses bestaan.
Geografie Bretagne is die grootste skiereiland van Frankryk en vorm die mees westelike uitloper van die Franse vasteland. Die noordkus word deur die Engelse Kanaal (Bretons: Mor Breizh) begrens, die suid- en weskus deur die Atlantiese Oseaan. Die Bretonners verdeel hulle tuisland tradisioneel in Armor, wat deur die kuslyn en eilande langs die kus gevorm word, en Argoat, die bebosde binneland.
duimnael|links|Sononder naby Pleumeur-Bodou duimnael|Granietrotse van die Roc'h Trézével (Finistère) Die landmassa van Bretagne bestaan in geologiese opsig grotendeels uit baie ou en harde gesteentes, met 'n onstuimige, rotsagtige kuslyn. Die granietrotswande van Cap Fréhel verrys sewentig meter hoog uit die Atlantiese Oseaan. Die binnelandse landskap word deur heuwels oorheers, met die Roc'h Trézével in die Monts d'Arrée (Bretons: Menez Are) as die hoogste bergpiek op 'n hoogte van 384 meter.
Bretagne is oorspronklik deur uitgestrekte bosgebied oorheers wat van die voormalige Forêt de Scissy naby die huidige Mont-Saint-Michel tot by die huidige woud Brocéliande (Bretons: Brekilien) gestrek het. Brocéliande, die towerwoud van Paimpont en die bosgebied naby Huelgoat in die département Finistère is net oorblyfsels van hierdie voormalige woud wat reeds gedurende die Middeleeue afgekap is.
Sedert die Middeleeue is die grootste deel van die gebied vir landbou gebruik, en groot beukeboom- en eikebosse is beperk tot die binneland. Groen weivelde en akkers oorheers die landskap met hulle kenmerkende omheinings en steenmure.
Klimaat duimnael|Stormagtige weer in Pors-Loubous (Plogoff, Finistère) Bretagne het danksy die maritieme invloed van die Atlantiese Oseaan 'n gematigde, vogtige klimaat met aangename temperature dwarsdeur die jaar en oorwegend westelike winde. Danksy die warm Golfstroom vorm Bretagne 'n mikroklimaatsone, waar tydens die winter dikwels min of meer dieselfde gematigde temperature aangeteken word soos langs die Côte d'Azur in die suide van Frankryk. Die kwik daal sodoende nouliks benede vriespunt.
Winterstorms met windsnelhede van soms meer as 200 kilometer per uur kom egter gereeld voor, en die weer bly wisselvallig met afwisselende sonnige en reënerige weerstoestande. Die gemiddelde temperature in Januarie is langs die Bretonse kus sowat 6 °C, die jaarlikse gemiddelde van stede soos Roscoff 11,4 °C. www.bretagne.de: Klimaat
Die Bretonse somer begin gewoonlik al in Mei, en dikwels word tot by Oktober warm temperature aangeteken. Die kusgebiede, veral dié van Suidoos-Bretagne, word deur relatief droë weerstoestande gekenmerk (Brest kry byvoorbeeld sowat 800 millimeter reën per jaar), terwyl die jaarlikse reënvalle in bergagtige gebiede soos die Montagne d'Arrée (207 meter) dikwels meer as 1 000 millimeter kan beloop.
Uitheemse plante soos yuccas, mimosas en kamelias is volop in die parke en privaat tuine van Bretagne.
Geskiedenis Die Steentydperk Die talle grotte van Bretagne was uitstekende skuilplekke vir die steentydmense. Met die ystydperk en sy ingrypende klimaatverandering het die vroeë mense begin om permanente nedersettings te stig.
duimnael|Die prehistoriese steenlane van Carnac Omtrent 4000 v.C. het stamme, wat vermoedelik oorspronklik uit Asië gekom het, hulle in die gebied van die huidige Bretagne gevestig. Hulle was die stigters van die raaiselagtige megalietkultuur. Volgens argeoloë, wat die radioaktiewe koolstof-14-metode aangewend het, was die megalitiese grafplekke in Kercado en Barnenez al omstreeks tussen 4 600 v.C. en 3 850 v.C. in gebruik – en is dus selfs ouer as soortgelyke monumente in die Nabye Ooste, 'n gebied wat vroeër as die oorsprong van alle megaliet-beskawings beskou is. Uwe Anhäuser: Bretagne. Keulen: DuMont 2000, bl. 38
Die meeste navorsers gaan deesdae daarvan uit dat talle megalitiese monumente ook 'n spirituele dimensie het. Henri du Cleuziou, 'n beduidende 19de eeuse Franse skrywer, het reeds in 1882 'n wetenskaplike werk gepubliseer waarin hy dolmens as grafkamers en menhirs as gedenktekens vir oorledenes of belangrike oorwinnings in veldslae geïnterpreteer het, tog is daar steeds min bekend oor die megalitiese godsdiens. Anhäuser (2000), bl. 38
Franse argeoloë het tenminste statistieke gegewens versamel – in Bretagne is tot dusver meer as 4 500 dolmens, 56 steenlane (Frans: alignements) en 58 steenkringe ontdek. Dwarsoor die gebied kan daarnaas duisende enkele menhirs en grafheuwels (sogenaamde tumuli) aangetref word, alhoewel 'n groot aantal monumente lankal vernietig of as boumateriaal vir kerke, kastele, stadsmure en landgoedhuise ingespan is.
Die Keltiese tydperk Die Keltiese veroweraars het danksy hulle ysterwapens 'n maklike oorwinning oor die oorspronklike bewoners behaal. Die eerste Keltiese nedersettings in Bretagne dateer uit die tydperk omtrent 500 v.C.; die Galliërs het die huidige Bretagne Armorika (Latyn: Aremorica) genoem.
duimnael|Son en reën naby Loscolo-punt, Pénestin (département Morbihan) Die Kelte het oor 'n hoogs ontwikkelde kultuur en maatskaplike orde beskik, alhoewel hulle gewoonlik geen state gestig het nie. Die Druïdes, die Keltiese priesters, het danksy hulle godsdienstige rol en hulle kennis van die astrologie en geneeskunde saam met die Keltiese adel aan die spits van die maatskappy gestaan. Net die druïdes het die reg gehad om misteltakke, wat as artsenymiddel gewild was, tydens 'n besondere ritueel af te sny. Die natuurlike magte van byvoorbeeld lig en water is as godhede vereer; om hulle gunstig te stem, is in noodtye selfs mense geoffer.
Die druïdes het 'n verbod op die neerskryf van baie tradisies geplaas, en net die Keltiese sangers, die barde, het die legendes van die gode en helde in hulle liedere bewaar.
In die 2de eeu v.C. was daar vyf Keltiese stamme in die gebied: Die magtige Veneters, wat veral op die seehandel gesteun het, in die suide, in die omgewing van die huidige Vannes; die Osimiërs in die noordweste; die Redone in die ooste, in die gebied van die huidige Rennes; die Coriosoliete in die noorde en die Namnete in die suidooste, in die omgewing van die huidige Nantes. Die Veneters het vanaf die 1ste eeu v.C. die ander stamme begin oorheers en het ook 'n leidende rol in die bond van Keltiese stamme gespeel, wat die Romeinse veroweraars vanaf 58 v.C. die hoof probeer bied het. Volgens Gaius Julius Caesar was die Veneters uiters bekwame seevaarders. Konstam, Angus: Die Kelten. Wene: tosa/Carl Ueberreuther 2007, bl. 30
Die Romeinse tydperk duimnael|Vuurtoring op die eiland Île d'Ouessant