Noord-Ierland (Engels: Northern Ireland, Iers-Gaelies: Tuaisceart Éireann, [ˈt̪ˠuəʃcəɾˠt̪ˠ ˈeːɾʲən̪ˠ], ; Ulster-Skots: Norlin Airlann) is een van die vier lande van die Verenigde Koninkryk. Dit lê in die noordooste van die eiland van Ierland, in die provinsie van Ulster, en beslaan ses graafskappe van hierdie ou provinsie: Antrim, Londonderry, Tyrone, Fermanagh, Armagh en Down. Drie ander graafskappe van Ulster, Cavan, Donegal en Monaghan, maak deel uit van die Republiek Ierland. Nogtans word na Noord-Ierland soms as Ulster verwys. Encyclopædia Britannica: Northern Ireland. Besoek op 21 Januarie 2015
duimnael|links|Die Unionistiese Ulster Banner op die voorgrond met 'n Republikeinse Ierse vlag op die agtergrond in Derry Noord-Ierland is die enigste deelstaat van die Verenigde Koninkryk wat 'n gemeenskaplike landgrens met 'n ander nasie (die Republiek Ierland) het. Noord-Ierland is volgens die Wet op die Regering van Ierland in 1920 gestig en het, net soos Skotland en Wallis, oor sy eie regering beskik. Ná drie dekades van gewapende konflik tussen Protestantse en Rooms-Katolieke groeperings is in 1998 met die Goeie Vrydag-ooreenkoms die basis vir Noord-Ierse selfregering geskep. Kragtens hierdie ooreenkoms is daar op bepaalde gebiede samewerking met die Republiek Ierland, waarvan Noord-Ierland in 1921 geskei is, terwyl ander politieke aangeleenthede deur die regering van die Verenigde Koninkryk behartig word, hoewel die Ierse regering sy menings in hierdie verband mag inbring en voorstelle kan maak.
Noord-Ierland se oppervlak van 13 793 vierkante kilometer is sowat 'n sesde van Ierland se totale oppervlak, met 'n bevolking van 1 903 175 volgens die 2021-sensus. Die hoofstad en grootste nedersetting is Belfast.
Geografie Ligging Noord-Ierland beslaan sowat 'n sesde van die eiland Ierland. Dit word in die ooste deur 'n nou seestraat, die Noordkanaal (wat by sy nouste punt slegs 21 km wyd is) van Skotland geskei, die mees nabygeleë ander deelstaat van die Verenigde Koninkryk. Die Ierse See skei dit in die ooste en suidooste van die Verenigde Koninkryk se twee ander landsdele, Engeland en Wallis, terwyl dit in die noorde deur die uitgestrekte waters van die Atlantiese Oseaan begrens word.
Sy enigste landgrens deel Noord-Ierland in die suide en weste met die Republiek Ierland.
Landskapsvorme duimnael|links|Giant's Causeway, 'n kenmerkende basaltrots-formasie en toeristetrekpleister aan die noordkus van Antrim, word deur Unesco as wêrelderfenis gelys. Die National Trust het 'n besoekersentrum naby die formasie opgerig duimnael|Kuslandskap naby Whitehead. Landskapsvorme soos dié is duisende jare gelede deur gletsers gevorm wat vanuit Skotland tot in die noorde van Ierland gestrek het Noord-Ierland se landskapsvorme getuig van die dik yslae wat die land in die laaste koueperiodes bedek het. Kenmerkend is sogenaamde drumlins, lang gestrekte heuwels wat op omgedraaide lepels of half-begrawe eiers lyk en veral in die graafskappe Fermanagh, Armagh, Antrim en Down aangetref word.
Lough Neagh, 'n uitgestrekte meer met 'n oppervlak van 391 km², vorm die geografiese sentrum van Noord-Ierland. Dit is die grootste varswatermeer van die Britse Eilande. 'n Tweede uitgestrekte stelsel van mere word rondom die mere Lower en Upper Lough Erne in Fermanagh aangetref.
Die Sperrin Mountains is 'n uitloper van die geplooide Kaledoniese bergreeks in Skotland. Sy hoër geleë dele behels goudafsettings, die Mourne Mountains, wat hoofsaaklik uit granietgesteente gevorm is, die Antrim-basaltplato asook kleiner bergreekse in Suid-Armagh en langs die grens tussen Fermanagh en Tyrone. Cavehill is die hoogste piek in Belfast se stadsgebied.
Die vulkaniese aktiwiteit, waardeur die Antrim-plato gevorm is, het ook Noord-Ierland se bekende geometriese basaltpilare van Giant's Causeway aan die noordkus van Antrim geskep.
Noord-Ierland se riviere soos die Laer en Bo-Bann, Foyle en Blackwater het uitgestrekte en vrugbare riviervlaktes gevorm. Daarnaas word ook in Noord- en Oos-Down vrugbare landboustreke aangetref, terwyl die berggebiede van Noord-Ierland slegs as weiland dien.
Die Lagan-riviervallei word deur Belfast oorheers. In sy metropolitaanse gebied word meer as 'n derde van die totale bevolking van Noord-Ierland gehuisves. Die Lagan-vallei en die oewers van die meer Belfast Lough het die hoogste vlakke van verstedeliking en industrialisering op die eiland Ierland.
Waterliggame duimnael|Erne-riviermonding naby Kildoney ná 'n reënbui. Die ongewone steen met 'n mensgemaakte gat in die middel dateer uit die antieke tydperk duimnael|Mis daal oor die Bann-rivier naby Portadown Die heersende westelike winde bepaal Noord-Ierland se klimaat met hoë reënval en min temperatuurskommelings. Die nat grond het dikwels swak dreinering, terwyl uitgestrekte waterliggame ontstaan het wat naas mensgemaakte kanale as belangrike waterweë dien. Noord-Ierland se natuurlike waterliggame sluit drie groot riviere in – Foyle, Upper Bann en Lower Bann.
Die Foyle, wat deur die graafskap Derry vloei en naby Derry in die Foyle-meer (Lough Foyle) uitmond, maak deel uit van die grenslyn tussen Noord-Ierland en die Republiek Ierland. Die Upper Bannrivier ontspring in die Mourne-berge in die suidweste en mond in die Lough Neagh uit, terwyl die Lower Bann sy oorsprong in dié meer het en naby Coleraine in die Noordkanaal (North Channel) uitmond.
Die belangrikste van die kleiner riviere is die Lagan, wat die grenslyn tussen die graafskappe Antrim en Down in die ooste vorm en in die Belfast Lough uitmond. Die Blackwaterrivier het sy oorsprong in Tyrone en vloei daarnaas ook deur die graafskap Armagh waar dit in die Lough Neagh uitmond. Fermanagh se twee groot varswatermere word eweneens deur riviere gevoed, waaronder die Erne-rivier (River Erne) wat uit die Lough Gowna in die Republiek Ierland ontspring en daarna deur Fermanagh vloei om uiteindelik naby Donegal in die Ierse Republiek in die Atlantiese Oseaan uit te mond.
Die enigste ander klein rivier van ekonomiese betekenis is die Bushrivier wat in die Glens of Antrim ontspring en in noordwestelike rigting deur die dorp Bushmills vloei wat danksy sy whiskey-distilleerdery internasionale bekendheid verwerf het. Net noord daarvan mond die rivier naby Portballintrae in die see uit. Karen P. Corrigan: Dialects of English – Irish English. Volume 1 – Northern Ireland. Edinburgh: Edinburgh University Press 2010, bl. 6–7
Lough Neagh is die grootste meer op die eiland Ierland. Sy vlak water – die meer is op sy diepste punt net nege meter diep – en oewers is die habitat vir die grootste watervoëlkolonie op die Britse eilande. Die meer se uiteenlopende biotope word in twee natuurbewaringsgebiede beskerm. Nog in die 19de eeu, kort voor die begin van die spoorwegtydperk, was Lough Neagh, wat deur die Bann-rivier met die Atlantiese Oseaan verbind word, danksy kanale, wat na Belfast en Newry geloop het, die besigste waterweg in Noord-Ierland. Ralph-Raymond Braun: Irland. 7de uitgawe. Erlangen: Michael Müller 2012, bl. 701
Graafskappe (counties) duimnael|'n Kaart van Noord-Ierland se ses counties Vyf van Noord-Ierland se ses historiese graafskappe of counties – Armagh, Down, Antrim, Londonderry en Tyrone – is rondom Lough Neagh geleë, en slegs Fermanagh in die weste het nie regstreekse toegang tot die meer nie.
Die graafskap Antrim in die noordooste staan bekend vir sy ongerepte kuslandskap noord van Belfast met kalk- en sandsteen- asook basaltrotse. Die ravyne of glens, wat in die rotsige kuslyn ingesny is, loop in oostelike rigting. Die bekendste besienswaardigheid in Antrim is Giant's Causeway, 'n basaltformasie wat uit sowat 40 000 simmetriese rotssuile van vulkaniese oorsprong bestaan. Hulle is sowat sestig miljoen jaar gelede tydens 'n vulkaanuitbarsting deur lawastrome gevorm. Londonderry grens in die weste aan Antrim en is na die tweede grootste stad in Noord-Ierland, Londonderry (ook bekend as Derry), genoem – die enigste stad in Ierland en die hele Britse eilande waarvan die stadskern binne 'n goed bewaarde stadsmuur geleë is. 'n Ander besienswaardigheid is die 18de eeuse herehuis van die biskop van Derry wat aan die rotsige Derrykus opgerig is. In Tyrone is die grootste deel van die Sperrins geleë, 'n heuwellandskap met moerasgebiede en talle argeologiese vindplekke. Die graafskap Fermanagh in die weste is rondom die tweelingmeer Upper en Lower Erne met 'n lengte van 80 km geleë. Die kalkplato in die weste van Fermanagh het 'n maksimale hoogte van 400 m bo seevlak. Die bekendste toeristetrekpleisters in die graafskap Armagh is die gelyknamige historiese hoofstad, die heuwellandskap van die Drumlin Hills in die suide en Slieve Gullion, 'n bergpiek van vulkaniese oorsprong. Die graafskap Down in die suidooste van Noord-Ierland word deur die Mourne Mountains in die suide, St. Patrick's Country in sy sentrum en die meerlandskap van Strangford Lough, 'n uitgestrekte see-inham en 'n voëlparadys in die noorde, oorheers.
Die historiese graafskappe dien tans nie meer as administratiewe eenhede nie. Hierdie funksie word deur 26 distrikte vervul waarvan die meeste rondom groter nedersettings geleë is en meestal is hulle ook na dié nedersetting genoem soos byvoorbeeld Coleraine Borough Council. Fermanagh District Council vorm 'n uitsondering; hierdie distrik strek grotendeels oor dieselfde gebied as die gelyknamige historiese graafskap.
Alhoewel graafskappe geen administratiewe funksie meer vervul nie, bly hulle steeds gewild om die geografiese ligging van 'n plek aan te dui. Hulle word daarnaas ook amptelik gebruik vir aansoeke om 'n paspoort van die Ierse Republiek aangesien die graafskap, waar 'n inwoner gebore is, in dié dokument aangedui moet word. Die skakelkodes is in 2000 geherstruktureer volgens 'n agtsyferstelsel (met uitsondering van Belfast) waarby die eerste syfer die graafskap aandui.
Klimaat Hoofkenmerke Noord-Ierland word danksy die matigende invloed van die Atlantiese Oseaan deur 'n eenvormige klimaat met min temperatuurskommelinge gekenmerk. Winters is gematig, somers relatief koel. Weens die soms diep ingesnyde kus en uitgestrekte gebiede met 'n hoogte van meer as 200 meter bo seevlak verskil temperature, bewolking en neerslae van plek tot plek.
Temperature duimnael|West Strand in Portrush in Februarie Die gemiddelde jaarlikse temperatuur op laer plekke in Noord-Ierland wissel van 8,5 °C tot 9,5 °C, waarby die hoër waardes langs of naby die kus aangeteken word. Die gemiddelde jaarlikse temperatuur neem met elke toename in hoogte bo seevlak van 100 m met sowat 0,5 °C af. So word in Parkmore Forest in die graafskap Antrim (235 m bo seevlak) 'n jaarlikse gemiddeld van 7,4 °C aangeteken.
Wintertemperature in die Verenigde Koninkryk word grootliks beïnvloed deur dié van die omgewende see wat hul laagste vlakke in laat Februarie of vroeg in Maart bereik. Februarie is dus die koudste maand in Noord-Ierland se kusgebiede, terwyl in binnelandse gebiede min variasie tussen temperature in Januarie en Februarie waargeneem word. Gemiddelde daaglikse temperature in Januarie wissel van 0,5 °C in hoër geleë streke tot 2 °C in kusgebiede, waarby die hoogste waardes langs die kuslyn van die graafskap Down aangeteken word.
Die koudste nagtemperature word aangeteken wanneer 'n sneeukleed die oppervlak bedek, veral in gebiede waar die matigende invloed van die see al geringer word, soos in binnelandse valleie waar koue lugmassas instroom. So het die kwik in Magherally naby Banbridge in die graafskap Down op 1 Januarie 1979 tot -17,5 °C gedaal – die laagste waarde wat ooit amptelik in Noord-Ierland aangeteken is. Die meeste kusgebiede ervaar nie hierdie soort erge winterkoue nie. So was die laagste temperatuur, wat byvoorbeeld in die drie dekades tussen 1961 en 1990 in Helens Bay in die graafskap Down aangeteken is, -5,4 °C.