Hierdie artikel handel oor die planeet Venus. Vir ander betekenisse van die naam, sien Venus (dubbelsinnig).

Venus is die tweede planeet van die Son af. Dit is 'n rotsplaneet met die digste atmosfeer van al die rotsplanete in die Sonnestelsel en die enigste een met 'n massa en grootte van naby dié van sy buurman die Aarde. Dit wentel nader aan die Son as die Aarde en lyk van die Aarde af altyd of dit naby die Son is, as óf die "oggendster" óf die "aandster". Hoewel dieselfde vir Mercurius geld, lyk Venus baie prominenter, want dit is die helderste voorwerp in ons naglug buiten die Son en die Maan. Dit is selfs helderder as enige ster. Omdat hy so helder is, is Venus histories 'n algemene en belangrike voorwerp vir mense, beide in hulle kultuur en in sterrekunde.

Venus het 'n swak magnetosfeer en 'n uiters dik atmosfeer van koolstofdioksied wat, tesame met sy planeetwye wolkkombers van swaelsuur, 'n uiterse kweekhuiseffek veroorsaak. Dit lei tot 'n gemiddelde oppervlaktemperatuur van 737 K (464 °C) en 'n verpletterende druk van 92 keer dié van die Aarde by seevlak. Dit verander die lug in 'n oorkritieke vloeistof, terwyl die druk, temperatuur en straling by hoogtes van 50 km bo die oppervlak baie soos die Aarde s'n is.

Toestande wat dalk gunstig vir lewe op Venus is, is in sy wolklae geïdentifiseer: Onlangse navorsing het aanduidings, maar nie oortuigende bewyse nie, gevind vir lewe op die planeet. Venus kon vroeg in sy geskiedenis vloeibare oppervlakwater gehad het, moontlik genoeg om oseane te vorm, maar 'n wegholkweekhuiseffek het eindelik alle water laat verdamp, en dit is toe deur die sonwind die ruimte ingedra.

Venus het vermoedelik 'n kern, mantel en kors, waarvan laasgenoemde interne hitte deur vulkanisme vrystel. Dit hervorm die oppervlak deur dit te hernu in plaas van deur plaattektoniek. Op 26 Oktober 2023 is die resultate van 'n studie egter bekend gemaak waarvolgens Venus in antieke tye plaattektoniek en gunstiger omstadighede vir lewe kon gehad het. Venus is een van twee planete in die Sonnestelsel wat nie natuurlike satelliete, of mane, het nie.

Venus se rotasie is deur die sterk strome en sleuring van sy atmosfeer verlangsaam en omgekeer in 'n retrograde beweging. Dié rotasie – tesame met die 224,7 aarddae wat dit Venus neem om 'n volle omwenteling om die Son te voltooi ('n Venusjaar) en 'n Venusdag van 117 aarddae – lei daartoe dat 'n Venusjaar net minder as twee Venusdae lank is. Venus en die Aarde se wentelbane is die naaste aan mekaar van al die planete: Hulle sinodiese periode (die tyd tussen konjunksies) is 1,6 jaar.

In 1961 het Venus die teiken van Wenera 1, die eerste interplanetêre vlug in die mens se geskiedenis, geword. Daarna het ander noodsaaklike interplanetêre eerstes gevolg, soos die eerste sagte landing op 'n ander planeet (Wenera 7, 1970). Dié tuie het dit duidelik gemaak dat 'n uiterse kweekhuiseffek onleefbare oppervlaktoestande geskep het, 'n feit wat die mens meer geleer het in sy voorspellings van aardverwarming.

Dié bewyse het die mens laat afsien van wetenskapsfiksie-idees dat Venus bewoonbaar is of selfs bewoon word. Tog is voorstelle vir nog vlugte gedoen, óf as verbyvlugte óf vir 'n swaartekragslinger vir vlugte na Mars óf om Venus se atmosfeer binne te gaan en op veilige afstande bo die oppervlak te bly waar toestande meer met dié op Aarde ooreenstem.

Fisiese eienskappe thumb|links|Venus se grootte in vergelyking met dié van die ander rotsplanete (van links: Mercurius, Venus, Aarde en Mars; volgens hulle afstand van die Son af).

Venus is een van vier aardplanete in die Sonnestelsel, wat beteken hulle het 'n rotsagtige oppervlak soos die Aarde. Sy grootte en massa stem baie ooreen met dié van die Aarde en dit word dikwels beskryf as die Aarde se "suster" of "tweeling". Venus is feitlik sferies vanweë sy stadige rotasie. Dit het 'n deursnee van 12 103,6 km – net 638,4 km kleiner as die Aarde s'n – en sy massa is 81,5% dié van die Aarde.

Toestande op Venus se oppervlak verskil drasties van dié op die Aarde s'n omdat sy digte atmosfeer uit 96,5% koolstofdioksied bestaan; die grootste deel van die ander 3,5% is stikstof. Die oppervlakdruk is 9,3 megapascal (93 bar) en die gemiddelde oppervlaktemperatuur 737 K (464 °C), ver bo die kritieke punt van enige van die komponente. Dit maak die oppervlakatmosfeer 'n oorkritieke vloeistof van hoofsaaklik oorkritieke koolstofdioksied en die res oorkritieke stikstof.

Atmosfeer en klimaat thumb|links|Die wolkstruktuur van Venus se atmosfeer, moontlik danksy ultravioletfotografie.

Venus het 'n digte atmosfeer van sowat 96,5% koolstofdioksied en 3,5% stikstof – albei kom as 'n oorkritieke vloeistof op die planeet se oppervlak voor met 'n digtheid van 6,5% dié van water – en spore van ander gasse soos swaeldioksied.

Die atmosfeer se massa is 92 keer dié van die Aarde, terwyl die druk op sy oppervlak sowat 93 keer dié van die Aarde is: 'n druk gelyk aan dié van sowat 1 km onder die Aarde se oseane. Die digtheid op die oppervlak is 65 kg/m3, 6,5% dié van water of 50 keer so dig as die Aarde se atmosfeer by 293 K (20 °C) by seevlak. Die atmosfeer met sy groot hoeveelheid CO2 skep die sterkste kweekhuiseffek in die Sonnestelsel en oppervlaktemperature van sowat 735 K (462 °C). Venus se oppervlak is dus warmer as dié van Mercurius met sy minimum oppervlaktemperatuur van 53 K () en sy maksimum van 700 K (427 °C), al is Venus byna twee keer so ver van die Son af as Mercurius en kry dit net 25% van Mercurius se sonuitstraling. Vanweë Venus se wegholkweekhuiseffek het wetenskaplikes soos Carl Sagan dit as 'n waarskuwing geïdentifiseer vir klimaatsverandering op Aarde.

+ Venus se temperatuur Tipe Oppervlak-temperatuur Maksimum 482 °C Normaal 453 °C Minimum 438 °C

Venus se atmosfeer is ryk aan oer-edelgasse in vergelyking met dié van die Aarde. Dit dui daarop dat Venus vroeg in sy evolusie van die Aarde afgewyk het. 'n Ongewone groot komeetbotsing of die akkresie van 'n primêre atmosfeer van die sonnewel met 'n groter massa is al voorgestel om die voorkoms van dié edelgasse te verduidelik.

Studies dui daarop dat Venus sa atmosfeer miljarde jare gelede baie meer soos die vroeë Aarde s'n gelyk het en dat daar aansienlike hoeveelhede vloeibare water op sy oppervlak kon gewees het. Ná 'n tydperk van 600 miljoen tot miljarde jare kon die groter wordende ligsterkte van die Son en moontlik groot vulkaniese uitbarstings gelei het tot die verdamping van dié water en die vernietiging van die atmosfeer. 'n Wegholkweekhuiseffek het ontstaan toe 'n kritieke vlak van kweekhuisgasse (insluitende water) tot die atmosfeer gevoeg is.

Hoewel die toestande op Venus enige aardagtige lewe wat voor dié tydperk kon bestaan het, onmoontlik maak, is daar spekulasie dat lewe in Venus se boonste wolklae voorkom, by 50 km van die oppervlak of hoër, waar die toestande die meeste soos die Aarde s'n is in die Sonnestelsel. Temperature wissel hier tussen 303 en 353 K (30 en 80 °C) en die druk en straling is dieselfde as op die aarde se oppervlak, maar met suurwolke en die baie CO2 in die lug.

Die beweerde waarneming van 'n absorpsielyn van fosfien in Venus se atmosfeer, met geen bekende pad vir abiotiese produksie nie, het in September 2020 gelei tot spekulasies dat lewe tans in die atmosfeer kan bestaan. Latere navorsing het die spektroskopiese teken wat as fosfien vertolk is, aan swaeldioksied toegeskryf, of bevind dat daar geen absorpsielyn is nie.

thumb|Soorte wolklae op Venus, sowel as temperatuur- en drukveranderings volgens hoogte in die atmosfeer.

Hittetraagheid en die oordrag van hitte deur winde in die laer atmosfeer bring mee dat Venus se oppervlaktemperatuur nie baie verskil tussen die halfrond wat na die Son wys en die een wat wegwys nie, ondanks Venus se stadige rotasie. Winde op die oppervlak is stadig en waai teen net 'n paar kilometer per uur, maar vanweë die hoë digtheid van die atmosfeer naby die oppervlak oefen hulle 'n aansienlike groot krag uit teen enige versperrings, en vervoer stof en klippies oor die oppervlak. Dit alleen sou dit moeilik vir iemand maak om daar te loop, selfs sonder die hitte, druk en gebrek aan suurstof.

Bo die digte laag CO2 is dik wolke, wat hoofsaaklik uit swaelsuur bestaan. Ook sowat 1% ysterchloried kom in die wolke voor. Ander moontlike komponente van die wolkdeeltjies is ystersulfaat, aluminiumchloried en fosforpentoksied. Wolke by verskillende hoogtes het verskillende samestellings en deeltjiegroottes. Die wolke weerkaats, nes 'n dik wolkkombers oor die Aarde, sowat 70% van die sonlig wat daarop val terug die ruimte in. Omdat hulle die hele planeet bedek, voorkom hulle dat Venus se oppervlak gesien kan word.

Die permanente wolkbedekking beteken dat hoewel Venus nader as die Aarde aan die Son is, dit minder sonlig op die grond kry: Net 10% van die sonlig bereik die oppervlak. Sterk winde van 300 km/h waai hoog in die wolke en beweeg omtrent elke vier tot vyf aarddae om die planeet. Winde op Venus waai tot 60 keer so vinnig as wat sy rotasie is, terwyl die Aarde se vinnigste winde net 10-20% sy rotasiespoed is.

Ook die temperatuur by Venus se ewenaar en pole is taamlik dieselfde. Venus se klein ashelling van minder as 3°, in vergelyking met die 23° van die Aarde, sorg ook vir klein seisoenale temperatuurverskille. Hoogte is een van die min faktore wat Venus se temperature beïnvloed. Die hoogste punt op Venus, Maxwell Montes, is dus die koelste plek op die planeet, met 'n temperatuur van sowat 655 K (380 °C) en 'n atmosfeerdruk van sowat 4,5 MPa (45 bar).

Geografie thumb|'n Kleurgekodeerde hoogtekaart van Venus, met die hoër terrae-"kontinente" in geel.

Venus se oppervlak was 'n onderwerp van spekulasie totdat sommige van sy geheime in die 20ste eeu deur planetologie onthul is. Weneralandingstuie het in 1975 en 1982 foto's teruggestuur van 'n oppervlak bedek met sediment en relatief hoekige klippe. In 1990-'91 het die Magellanruimtetuig die oppervlak in besonderhede gekarteer. Die grond wys tekens van uitgebreide vulkanisme, en die swael in die atmosfeer kan daarop dui dat daar onlangs uitbarstings was.

Sowat 80% van Venus se oppervlak is bedek met gladde vulkaanvlaktes. Sowat 70% is vlaktes met riwwe en 10% gladde of lobvormige vlaktes.

Die res is twee hoogland-"kontinente", een in die noordelike halfrond en die ander net suid van die ewenaar. Die noordelike kontinent is genoem na Isjtar, die Babiloniese godin van die liefde, en is omtrent twee keer so groot soos Australië. Maxwell Montes, die hoogste berg op die planeet, is op Ishtar Terra geleë. Sy piek steek 11 km bo Venus se oppervlak uit. Die suidelike kontinent is Aphrodite Terra, genoem na Afrodite, die Griekse godin van die liefde; dit is die grootste een van die twee en omtrent so groot soos Suid-Amerika.

Hoekom daar geen tekens van lawavloei naby enige van die sigbare kalderas is nie bly 'n raaisel. Die planeet het min slagkraters en dit wys die oppervlak is redelik jonk: 300 miljoen tot 600 miljoen jaar oud.

Venus het 'n paar unieke oppervlakeienskappe benewens die slagkraters, berge en valleie wat gewoonlik op rotsplanete aangetref word. Onder hulle is vulkaanverskynsels met plat bokante, bekend as "farra", wat amper soos pannekoeke lyk en in grootte wissel van 20 tot 50 km breed en van 100 tot 1 000 m hoog; steragtige breukverskynsels, wat "novas" genoem word; verskynsels met beide straalvormige en konsentriese breuke wat soos spinnerakke lyk; en "koronas", ronde ringvormige breuke wat soms deur 'n laagte omring word. Dié eienskappe het 'n vulkaniese oorsprong.

Die meeste oppervlakverskynsels op Venus is na geskiedkundige of mitologiese vroue genoem. Uitsonderings is Maxwell Montes, wat na die Skotse teoretiese fisikus James Clerk Maxwell genoem is, en die hooglandstreke Alpha Regio, Beta Regio en Ovda Regio. Laasgenoemde drie het name gekry voordat die huidige stelsel aanvaar is deur die Internasionale Sterrekundige Vereniging, wat planetêre name reguleer.