Ds. Jan Hendrik Boneschans (Oostwold, Leek, Groningen, Nederland, 29 Mei 1889 – Germiston, Transvaal, Suid-Afrika, 3 Augustus 1967) was tussen 1915 en 1955 predikant in nege gemeentes of kombinasies van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika.

Ds. Boneschans is in Nederland gebore, maar het ten minste ’n deel van sy hoërskool aan die Voorbereidende Skool op Potchefstroom voltooi en ook daar sy opleiding as predikant aan die Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerk ontvang. In 1915 is hy bevestig in Petrusburg, sy eerste gemeente. Hy was die eerste van die 10 predikant in die eerste eeu van die gemeente se bestaan wat hul loopbaan hier begin het. In 1917 het hy beroep aangeneem na die kombinasie Frankfort-kombinasie, maar bly daar ook net twee jaar. Sy derde gemeente was Germiston van 1919 tot 1923, waar hy nes in Frankfort die gemeente se eerste leraar was.

Sy eerste gemeente in die destydse Kaapprovinsie was Venterstad van 1923 tot 1926, toe hy terugkeer na Transvaal as leraar van die kombinasie Middelburg. Ná sy vyfde kort bediening, dié keer net sowat twee jaar, keer hy in 1928 terug na Germiston en bly daar tot 1946. Sy laaste drie gemeentes was Colesberg van 1946 tot 1948, toe Lindley tot 1953 en eindelik Viljoenskroon tot hy sy emeritaat in 1955 aanvaar. Hy is sowat 12 jaar later oorlede.

Ds. Boneschans was getroud met Geertruida Maria Luitinger. Hul oudste seun, Hendrik, se seun, ook Jan Hendrik (gebore 4 Augustus 1938), was predikant in drie Gereformeerde gemeentes tot sy dood op 27 Oktober 1971 in die ouderdom van net 33 jaar: Eloffsdal-Wonderboom-Suid 1964–1965, Pretoria-Annlin 1965–1969 en Salisbury tot sy dood.

Vier dogters is uit die huwelik gebore. Hiltje (getroude van Gey van Pittius), Janna Ludgerdina (getroude van Potgieter, gebore 21 Augustus 1919), Geertruida Maria (getroude van Markgraaff, gebore 12 September 1922) en Hester Maria (gebore op 26 Januarie 1925, maar vyf dae later op 31 Januarie oorlede). Die seuns was Hendrik, Herman, Eildert en Jan.

Galery

Bronne Sy genealogiese besonderhede op die webtuiste geni.com. URL besoek op 26 Januarie 2017. Vogel, ds. Willem (red.). 2014. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 2015. Potchefstroom: Administratiewe Buro.

Kategorie:Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika Kategorie:Suid-Afrikaanse predikante Kategorie:Geboortes in 1889 Kategorie:Sterftes in 1967