Duncan I (volle naam: Donnchad mac Crinain, Skots-Gaelies: Donnchadh mac Crìonain; omstreeks 1001 – 14 Augustus 1040), met die bynaam An t-Ilgarach, "die Sieke",Skene, Chronicles, p. 101. was van 1034 tot 1040 koning van Skotland (toe Alba). Die karakter met dieselfde naam in William Shakespeare se toneelstuk Macbeth is op hom geskoei.

Lewe Duncan was die seun van Crínán, die leke-ab van Dunkeld, en Bethóc, dogter van koning Malcolm II. Anders as die bejaarde koning Duncan van Shakespeare se toneelstuk, was die regte Duncan I ’n jong man. Hy het sy ma se pa, Malcolm, ná dié se dood op 25 November 1034 opgevolg, blykbaar sonder enige teenstand – wat beteken hy was dalk Malcolm se erkende erfgenaam.Duncan, Kingship of the Scots, p. 33.

Een weergawe van die Kronieke van die Konings van Alba dui "Suthen" aan as sy vrou.Duncan, Kingship of the Scots, p. 37. Wie ook al sy vrou was, Duncan het minstens twee seuns gehad. Die oudste, Malcolm III, was van 1058 tot 1093 koning en die jongste, Donald III, daarna. Máel Muire, Graaf van Atholl, was moontlik ’n derde seun van Duncan, maar dit is onseker.

Duncan se vroeë heerskappy het blykbaar sonder groot omwentelinge verloop, moontlik vanweë sy jong ouderdom. Macbeth was volgens sommige bronne sy dux, wat vandag as "hertog" vertaal word maar toe nog die Romeinse betekenis "oorlogsleier" gehad het.

In 1039 het Duncan ’n groot Skotse leër na die suide aangevoer om Durham te beset, maar die ekpedisie was ’n ramp. Duncan het oorleef, maar die volgende jaar noord opgeruk na Moray, Macbeth se domein, oënskynlik as ’n strafekspedisie teen Moray.G.W.S. Barrow, Kingship and Unity: Scotland 1000–1306, Edinburgh University Press, 1981, p.26. Daar het hy by Bothnagowan, nou Pitgaveny, gesneuwel aan die hand van ’n leër onder Macbeth se bevel, moontlik op 14 Augustus 1040.Broun, "Duncan I (d. 1040)"; die datum kom uit Marianus Scotus en daar word oor die moord vertel in die Annale van Tigernach. Hy is vermoedelik by Elgin begrawe voordat sy oorskot later na die eiland Iona verskuif is.

Stamboom

Verwysings

Bronne Anderson, Alan Orr, Early Sources of Scottish History AD 500 to 1286, volume one. Herdruk met korreksies, Paul Watkins, Stamford, 1990. Broun, Dauvit, "Duncan I (d. 1040)", Oxford Dictionary of National Biography, Oxford University Press, 2004 URL besoek op 15 Mei 2007 Duncan, A.A.M., The Kingship of the Scots 842–1292: Succession and Independence. Edinburgh University Press, Edinburg, 2002. Oram, Richard, David I: The King Who Made Scotland. Tempus, Stroud, 2004. 15px Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia

Kategorie:Geboortes in 1001 Kategorie:Skotse monarge Kategorie:Sterftes in 1040 Kategorie:Geboortes in die 11de eeu