duimnael|regs|'n Langtermyn tydlyn van tegnologie. Die tegnologiese singulariteit (ook eenvoudig die singulariteit) is 'n hipotese waarvolgens die ontdekking van kunsmatige hiperintelligensie 'n onmiddellike eksponensiële tegnologiese ontwikkeling tot gevolg sal hê, wat ongekende en fundamentele veranderings in die menslike beskawing teweeg sal bring. Volgens hierdie hipotese sal 'n opgradeerbare intelligente agent (soos 'n rekenaar wat deur sagteware-gebaseerde algemene kunsmatige intelligensie in werking gestel is) 'n wegholreaksie ontketen van 'n kringloop selfverbeterings waarvolgens elke nuwe en meer intelligente generasie vinniger as die vorige sal werk. Dit lei dan tot 'n intelligensie-ontploffing en skep 'n magtige superintelligensie wat kwalitatief by verre alle menslike intelligensie sal oortref. John von Neumann was in die 1950s die eerste om die term "singulariteit" te gebruik in die konteks van tegnologie. Hy verwys na tegnologiese vordering wat versnelde verandering veroorsaak:

“Een van ons gesprekke het gewentel om die immer versnellende vordering van tegnologie en die veranderinge in menslike bestaanswyse, wat naamlik die indruk skep dat 'n sekere onafwendbare singulariteit in die geskiedenis van die menseras (of: spesies) genader word, waarna mensesake, soos ons dit tans ken, nie kan voortbestaan nie.”

Die tegnologiese singulariteit is ook 'n transhumanistiese begrip. Baie transhumaniste ervaar dit vanuit Moore se wet (wat 'n verdubbeling in prosesseringskapasiteit voorspel binne 'n gegewe periode) wat ook van toepassing gemaak word op die tempo van wetenskaplike en tegnologiese ontwikkeling.

Daaropvolgende skrywers het ook die sieninge verder uitgebou. I.J. Good se "intelligensie-ontploffing", voorspel dat 'n toekomstige superintelligensie 'n singulariteit sal laat ontstaan. Amerikaanse wiskundige en wetenskapfiksie-skrywer Vernor Vinge stel in sy 1993 essay, The Coming Technological Singularity, dat 'n singulariteit die einde van die menslike era kan beteken, aangesien die nuwe superintelligensie sal voortgaan om ditself op te gradeer en tegnologie ook teen 'n onverstaanbare vinnige tempo sal laat vooruitgaan.

Gedurende die 2012 Singularity Summit, het Stuart Armstrong in 'n studie van kunsmatige algemene intelligensie voorspellings van kenners onderneem en die gemiddelde voorspelling vir die intree van die singulariteit as 2040 geïdentifiseer.

Inleiding Onder die moontlike eksponensiële verandering tot 'n singulariteit word verstaan:

'n Tyd in die toekoms waar die tegnologiese vooruitgang so vinnig is dat mense met hul bestaande intelligensie die gevolglike samelewing nie meer kan begryp nie.

Die tydstip waarop alle eksponensiële tendense wat sedert die ontstaan van die lewe begin het, almal saamkom en 'deur die plafon gaan'.

Die tydstip waarop die eerste kunsmatige intelligensies of postmense (verbeterde mense met 'n hoër intelligensie) hul verdere ontwikkeling in eie hand neem en hulself so vinnig gaan 'verbeter' dat die die impak so diepgaande gaan wees dat die mens ingrypend en onomkeerbaar getransformeer gaan word.

In toekomsstudies is 'n tegnologiese singulariteit 'n toekomstige breekpunt wanneer die tegnologiese vooruitgang so vinnig gaan dat mense met hul teenwoordige intelligensie die gevolglike samelewing nie meer kan begryp nie. Die verandering sou aan die gang gesit word deur die eerste kunsmatige intelligensies of postmense wat hulself teen 'n hoë tempo bly verbeter (steeds meer intelligente kunsmatige intelligensie). Hierdie singulariteit is benoem na analogie van die astronomiese punt in die ruimte-tyd waar die natuurwette hul geldigheid afstaan (soos volgens die huidige mees aanvaarde teorie betreffende die oorsprong van die heelal: die oerknal, of die sentrum van 'n swartkolk).

Dergelike veranderinge word in die jare sestig van die 20ste eeu bespreek deur I.J. Good, maar die term singulariteit as beskrywing van tegniese vooruitgang word reeds in die 50er-jare deur John von Neumann gebruik. Die singulariteit word vir die eerste keer uitvoerig beskryf deur die Amerikaanse wiskundige en wetenskapfiksie-skrywer Vernor Vinge in 1993 in sy essay Singularity. Mense debateer nog steeds oor of hierdie singulariteit werklik gaan gebeur, en wanneer (die middel 21ste eeu?).

Sommige outeurs, soos Raymond Kurzweil, het teorieë ontwikkel waarin Moore se wet breër geïnterpreteer word. Moore praat slegs oor die ewolusie van transistors vanaf die jare sestig, Kurzweil begin sy dubbel-eksponensiële kurwe reeds teen die begin van die 20ste eeu by die ponskaartmasjiene. Hy suggereer 'n eksponensiële patroon in die vooruitgang van tegnologie in die loop van die menslike geskiedenis en selfs van voor die begin van lewe op aarde. Die hele ewolusie sedert die oerknal tot nou kan volgens hom gesien word as 'n eksponensiële groei van intelligensie, voortgesit in kunsmatige intelligensie. Volgens Kurzweil kulmineer die patroon in ongebreidelde tegnologiese vooruitgang gedurende die 21ste eeu en lei dan ten slotte tot die singulariteit (die tegnologiese vooruitgang vorder dan baie vinnig na oneindigheid).

Voorwaardes vir 'n tegnologiese singulariteit Vir 'n singulariteit om te kan plaasvind word essensiële voorwaardes benodig, naamlik dat:

dit vir die mensdom op 'n gegewe tydstip moontlik moet wees om relatief tot menslike intelligensie minstens 'n gelykwaardige kunsmatige intelligensie te skep, of

dit moontlik moet wees om 'n normaal menslike brein sodanig op te gradeer dat die gevolglike resultaat die tans bestaande menslike brein in intelligensie oortref.

Hieroor bly die menings van ander ondersoekers egter steeds verdeeld.

Oorsprong van die konsep tegnologiese singulariteit Die konsep van 'n tegnologiese singulariteit het reeds in die laat 1950s ontstaan. Stanislaw Ulam het in Mei 1958, verwysend na 'n gesprek met die wiskundige John von Neumann die volgende gestel:

"Eén van die gesprekke is toegespits op die steeds versnellende vooruitgang van tegnologie en veranderings in die aard van mense se lewenswyse, wat sou aandui dat 'n sekere onafwendbare singulariteit in die geskiedenis van ons menseras (of: resies) genader word, by welke punt ons menslike doen en late, soos ons dit tans ken, nie kan voortbestaan nie."

Die aanhaling word dikwels uit konteks gehaal en toegeskryf aan John von Neumann self. In 1965 beskryf die statikus I.J. Good 'n konsep wat nog meer lyk soos ons hedendaagse singulariteitsbegrip omdat hy ook die aspek van bo-menslike intelligensie insluit:

"Laat ons 'n ultra-intelligente masjien definieer as 'n masjien wat baie meer intelligent is as alle intelligente aktiwiteite van enige mens, hoe slim ook al. Aangesien die ontwerp van dié masjien één van die intelligente aktiwiteite is, sou 'n ultra-intelligente masjien 'n veel beter masjien kan ontwerp; daar sou dan ongetwyfeld 'n ontploffing van intelligensie ontstaan, wat die intelligensie van die mens ver agter sou laat. Die eerste ultra-intelligente masjien sou dus die laaste uitvinding wees wat op die mens sal staatmaak."

Die singulariteit van Vernor Vinge Die moderne konsep van die tegnologiese singulariteit is grotendeels afkomstig van die wiskundige en wetenskapfiksie-outeur Vernor Vinge. Vinge begin in die jare tagtig te praat oor die singulariteit, en verwoord sy gedagtes oor die onderwerp in Januarie 1983 in 'n voorwoord vir die (intussen toegemaakte) tydskrif Omni. Die eerste uitgebreide artikel oor die onderwerp publiseer Vinge in 1993, naamlik die essay " tegnologiese singulariteit ". Sederdien is dit 'n onderwerp gewees vir baie wetenskapfiksieskrywers. Die essay van Vinge bevat die gereeld aangehaalde sin:

"Binne dertig jaar sal ons die tegnologiese middele hê om bomenslike intelligensie te skep. Kort daarna sal die menslike tydperk beëindig word."

Die singulariteit van Vinge word gereeld verkeerd verstaan as sou tegnologiese vooruitgang afstewe op oneindigheid, soos in ‘n wiskundige singulariteit. Eintlik bedoel Vinge dat hedendaagse intelligente mense nie meer die gemeenskap van 'na die singulariteit' sal kan begryp nie. In sy wetenskapfisksie roman Marooned in realtime (1986) vergelyk hy dit so:

"'n Platwurm kan vir een miljoen jaar na 'n opera kyk, maar hy sal daarvan nooit iets begryp nie."

Eintlik was die term eerder gekies as 'n metafoor uit die natuurkunde as uit die wiskunde; namate mens die singulariteit nader word die modelle van die toekoms minder betroubaar, net soos die gebruiklike modelle van die natuurkunde verander namate mens 'n swaartekragsingulariteit nader (soos by 'n swartkolk of die oerknal).

Vinge skryf dat bomenslike intelligensie, of dit nou geskep word deur kubernetiese verbetering van die menslike brein (Intelligence Amplification IA) of deur kunsmatige intelligensie (Artificial Intelligence AI), beter in staat sal wees om hul eie intelligensie te vermeerder as die mense wat hulle maak. Vinge skryf:

"Wanneer bomenslike intelligensie vooruitgang bepaal, sal vooruitgang vinniger verloop."

Van hierdie terugvoerkringloop van selfverbetering van intelligensie word verwag dat dit steeds meer tegnologiese vooruitgang bring in 'n steeds korter tydperk. Vir hedendaagse mense sal hierdie nuwe tegnologie en die daarmee gevormde wêreld en gemeenskap vinnig onbegryplik word. In sy roman A Fire Upon the Deep (1992) verwys Vinge hierna. Die helde van die verhaal, wat in die verre toekoms afspeel, kry te maak met baie ver ontwikkelde 'masjiene' wat baie kenmerke van die lewe het. So het hierdie ' masjiene' die uiterlike van 'plantaardige groeisels' wat op molekulêre vlak werk, soos in lewende wesens wat op sellulêre vlak ook as 'n besonderse komplekse molekulêre masjien beskou kan word. Ook 'groei' hierdie' masjiene, as dit nodig is, vanuit 'n saadagtige begin tot grooter eenhede. Hierdie masjiene maak gebruik van atome en molekules uit hul omgewing vir hulle groei en onderhoud en die benodigde energie vir normale gebruik bekom hulle uit sonkrag. Maar as die nodig is haal hulle op 'n onbekende manier energie uit die struktuur van die ruimte-tyd self maar dan op so 'n groot skaal dat as newe effek die son selfs byna uitdoof word deur die enorme hoeveelheid energie wat, hulle op 'n onbegryplike manier, daarvandaan onttrek word.

Raymond Kurzweil se wet van versnellende opbrengste In sy essay uit 2001, 'die wet van die versnellende opbrengste' stel Raymond Kurzweil 'n veralgemening van Moore se wet voor. Die wet van Moore vorm vir die meeste aanhangers van die singulariteitshipotese die basis van hul geloof in die singulariteit en beskryf 'n eksponensiële groeipatroon in die kompleksiteit van geïntegreerde halfgeleier stroombane. Kurzweil brei dit uit en sluit tegnologieë van ver voor die ontwikkeling van geïntegreerde skakeling in tot toekomstige vorme van verwerking. Hy beweer dat 'n nuwe tegnologie op die voorgrond kom telkens as daar 'n hindernis opduik. So sal nanotegnologie volgens hom die wet van Moore staande hou as die huidige produsiemetodes van mikroskyfies 'n plafon bereik. Hy voorspel dat dergelike paradigmaverskuiwings steeds meer dikwels sal voorkom naarmate ons die singulariteit nader. Hy glo dat die eksponensiële groei van Moore se wet sal deurlopend verby die gebruik van geïntegreerde stroombane beweeg na tegnologieë wat vir ons tans nog onbekend is, of wat ons selfs nog nie kan voorstel nie, wat sal lei tot die singulariteit. Dit beskryf hy as 'tegnologiese verandering so vinnig en grondig dat dit dié breekpunt in die menslike geskiedenis aandui'. Baie toekomskundiges gebruik nog steeds die term Moore se wet om ook die idees van Kurzweil te beskryf. Soos Ray Kurzweil in sy boek Kurzweil on the edge - The intelligent universe (2002) dit stel: