Eris, amptelik 136199 Eris en simbool , is die dwergplaneet (en plutoïde) in die Sonnestelsel met die grootste massa. Met 'n deursnee van 2 326 km is dit die tweede grootste dwergplaneet (effens kleiner as Pluto). (Franck Marchis on 2010-11-08) Dit is bekend nadat New Horizons laasgenoemde se deursnee in Julie 2015 as 2 376,6 km gemeet het.
Geskiedenis Eris is op 5 Januarie 2005 ontdek deur 'n span sterrekundiges van die Palomar-sterrewag in Kalifornië onder leiding van Mike Brown, wat dit tydelik "Xena" gedoop het (na die hoofkarakter in die televisiereeks Xena: Warrior Princess).
Die ontdekking is later daardie jaar bevestig. In September 2006 is dit genoem na Eris, die Griekse godin van twis en onenigheid.
Eienskappe Eris is drie keer verder van die son af as Pluto, naamlik 96,7 AE. Dit is die voorwerp met die negende grootste massa wat regstreeks om die Son wentel, en die 16de grootste massa in die Sonnestelsel (sewe mane is swaarder as al die bekende dwergplanete). Dit is ook die grootste liggaam wat nog nie deur ’n ruimtetuig besoek is nie. Eris het ’n deursnee van 2 326 km. Sy massa is sowat 0,27% van die Aarde s'n en sowat 27% meer as Pluto s'n, hoewel Pluto groter is.
Eris is verder as die Kuiper-gordel geleë, in 'n streek wat as die verstrooide skyf bekend staan. Dit het self 'n natuurlike satelliet, Disnomia. Onlangse waarnemings het geen aanduidings van ander mane gevind nie. Met die uitsondering van 'n paar komete en , wat op 17 Desember 2018 ontdek is, is Eris en Disnomia die mees afgeleë natuurlike voorwerpe in die Sonnestelsel.
Omdat eers geglo is dat Eris groter as Pluto is, het sy ontdekkers en Nasa dit aanvanklik as die 10de planeet in die Sonnestelsel beskryf. Hierdie beskrywing en die potensiële bestaan van ander soortgelyke hemelliggame het die Internasionale Astronomiese Unie (IAU) genoodsaak om die term "planeet" vir die eerste keer te definieer. Volgens hierdie definisie, wat op 24 Augustus 2006 aanvaar is, word Eris, Pluto, Ceres, Haumea en Makemake tans almal as "dwergplanete" geklassifiseer. So is die getal planete in die Sonnestelsel tot agt verminder, dieselfde as voor Pluto se ontdekking in 1930.
Verwysings
Eksterne skakels
KPS-databasis se inskrywing vir (136199) Eris Michael Brown se webblad oor Eris
Kategorie:Dwergplanete Kategorie:Kuipergordel Kategorie:Dubbele Trans-Neptunus-voorwerpe Kategorie:Plutoïdes