Koos Prinsloo (*15 April 1957, Eldoret –† 6 Maart 1994, Johannesburg) was ’n Afrikaanse joernalis en skrywer van postmodernistiese kortverhale, waarmee hy ’n baanbrekersrol in die Afrikaanse prosa speel.
Lewe en werk
Herkoms en vroeë lewe Jacobus Petrus Prinsloo is op 15 April 1957 op Eldoret in Kenia gebore as die jongste van drie kindersRiana Scheepers se gepubliseerde proefskrif “Koos Prinsloo: Die skrywer en sy geskryfdes” is gebruik as vernaamste bron vir lewensbesonderhede en waar klein verskille voorkom tussen hierdie bron en ander bronne, is voorkeur gegee aan Scheepers se inligting. Só word die naam van Koos Prinsloo se vader se geboorteplek in sommige bronne aangedui as Verbrandebos, terwyl Scheepers beweer dat dit Waterval is.Sy pa is Daniël Francois (Daan) Prinsloo wat op 18 Februarie 1922 op die plaas Waterval in die provinsie Naivasha in Kenia gebore is en sy ma is Dora Pretorius wat op 27 Junie 1924 in Gwelo in Rhodesië gebore is. Hy het twee ouer susters (Sarie en Martie) en die gesin boer op die plaas Bluerocks in Kenia. As gevolg van die politieke onstabiliteit voor onafhanklikwording in Kenia emigreer die gesin in April 1962 na Suid-Afrika en bly ’n paar maande op sy ouma Prinsloo se grond in die Moot, wat tussen Hekpoort en Skeerpoort naby die Hartbeespoortdam geleë is. Hierna vestig die gesin hulle op die plaas Ventershoek by Ingogo onderkant die Majubaberg naby Newcastle in Natal. In 1965 begin sy pa werk as turbine-operateur by die kragstasie by Ingagane in Natal en in 1968 trek hulle na ’n plaas by Gatooma in Rhodesië, waar hulle vyf maande lank woon. Wanneer sy grootouers albei in daardie tyd oorlede is, trek hulle in 1969 terug na Newcastle, waar sy pa weer by die kragstasie gaan werk. Hy matrikuleer in 1975 aan die Hoërskool Newcastle, met onderskeidings in Engels en Afrikaans en hy ontvang erekleure vir akademie, debat en koor. Op hoërskool is hy vir drie jaar lank lid van die Natalse Jeugkoor.
Verdere studie en loopbaan Na skool voltooi hy in 1976 sy verpligte militêre diensplig in Pretoria en studeer dan vanaf 1977 aan die Universiteit van Pretoria, waar hy in 1979 ’n B.A.-graad behaal met Afrikaans-Nederlands en Engels as hoofvakke. In 1979 is hy verbonde aan die studentetydskrif Vlieg en hierdie publikasie word deur die destydse Publikasieraad verbied weens dele wat hulle bevind as onbetaamlik of onwelvoeglik vir die openbare sedes (die verhaal Skrot van Prinsloo het vloekwoorde bevat en gedigte van Johann de Lange het gehandel oor gay seksDie verhaal Skrot word later opgeneem in Prinsloo se debuutbundel Jonkmanskas.Die hele redaksie (wat Prinsloo, De Lange en ook Hans Pienaar insluit) word deur die professorale dissiplinêre komitee van die Universiteit aan wangedrag skuldig bevind en vir ’n jaar geskors, opgeskort op voorwaarde dat hulle nie weer skuldig is aan wangedrag nie. Hulle mag ook nie weer in die redaksie van enige ander studentepublikasies dien nie. In 1980 behaal hy steeds aan die Universiteit van Pretoria ’n B.A. Honneurs-graad in Afrikaans-Nederlands, met professor A.P. Grové wat een van sy dosente is. Vanaf 1981 werk hy as vertaler by die Universiteit van Suid-Afrika terwyl hy steeds in Pretoria woon en hy trek dan aan die begin van 1983 na Johannesburg, waar hy as joernalis by Beeld werk. Dan is hy vir ’n bietjie langer as twee maande assistent-redakteur van De Kat, maar bedank wanneer hy persoonlike verskille het met die redakteur. Vanaf 1985 is hy dan algemene joernalis by Beeld, terwyl hy ook die Vrydagrubriek van Vrye Weekblad behartig en later ook boekeredakteur by hierdie weeklikse publikasie is. In hierdie tyd is hy ook redaksielid van die letterkundige tydskrif Stet.
Polemiek In 1988 is hy in groot polemiek betrokke wanneer sy kortverhaalbundel Die hemel help ons deur die beoordelaars as die wenner van die Rapport-prys aangewys word, maar die direksie van hierdie koerant die toekenning veto omdat hulle beswaar het teen ’n sin in een van die verhale wat beledigend is teenoor die destydse Staatspresident P.W. Botha. Die prysgeld word later wel aan Prinsloo uitbetaal, maar die prys word nooit formeel aan hom toegeken nieDie hele polemiek en die openbare menings wat gelig is word in detail deur Riana Scheepers in Koos Prinsloo: Die skrywer en sy geskryfdes behandel op bladsye 100-103.Sedert Maart 1991 tot met sy dood is hy boeke- en subredakteur by De Kat. Weens die postmodernistiese aard van sy werk verdwyn die skeiding tussen fiksie en feite baie keer. In Desember 1992 is hy byvoorbeeld betrokke in ’n wyd gepubliseerde voorval. Die bekende sanger Johannes Kerkorrel dam hom in sy kantoor met die vuiste by na aanleiding van ’n verhaal in Slagplaas, waarin na ’n karakter genaamd die Pop Ster verwys word, in wie Kerkorrel homself eien. Hierdie voorval geniet wye dekking in die Engelse en Afrikaanse dagblaaie en lei dan tot wedersydse regsaksies vir aanranding en laster, wat eindelik kort voor Prinsloo se dood geskik is met betaling van wedersydse skadevergoedingsbedrae.Kerkorrel, Johannes en Scheepers, Riana. Kerkorrel vs. Prinsloo vs. Scheepers. Insig, Oktober 1999.
Sterfte Op 6 Maart 1994 is Koos Prinsloo in sy woonstel in Berea, Johannesburg, oorlede weens oorsake wat verband hou met vigs, die verworwe immuniteitsgebreksindroom.Eie kantoor. Prinsloo sterf weens vigs. Die Burger, 7 Maart 1994.
Skryfwerk Reeds van sy hoërskooljare publiseer hy verhale en gedigte in verskeie tydskrifte. Hy wen ’n paar amateur-gedigkompetisies en van sy gedigte verskyn in die sewentigerjare in onder meer Rooi Rose en Huisgenoot. Op universiteit publiseer hy verhale en gedigte in die studentetydskrif Vlieg. Sy gedig Apologie aan R.K. Belcher wat in vlieg iii verskyn het, word deur Johann de Lange en Antjie Krog in die versamelbundel Die dye trek die dye aan opgeneem, terwyl die gedig Graffiti deur Fanie Olivier opgeneem word in Goudaar. Later publiseer hy ook kortverhale in tydskrifte soos Tydskrif vir Letterkunde, Stet, Insig, The bloody horse en Vrye Weekblad. Reeds voor die verskyning van sy debuutbundel kry hy in 1982 ’n aanmoedigingsprys van die Departement van Nasionale Opvoeding vir die manuskrip van die ongepubliseerde Die eende en ander verhale.
Prinsloo se werk was en is kontroversieel. Hy was ’n dinamiese vernuwer en sy werk verskaf wesenlike bydraes tot en in party gevalle die stimulus vir verskeie van die letterkundige groeipunte in die jare tagtig en vroeg negentig, soos die gay-tema, grensliteratuur en postkolonialisme. Dit is egter veral sy benutting van postmodernistiese tegnieke in die vermenging van fiksie, feite en dokumente en sy hantering van outobiografiese gegewens wat nuut en opspraakwekkend is. In sy werk beproef hy die skeidslyn tussen fiksie en werklikheid tot die fynste en steek meermale hierdie grens oor. Sy werk word dan ook beskou as “faksie”, ’n mengsel van feite en fiksie op so ’n manier dat die een nie van die ander te onderskei is nie. Uiteraard bring hierdie benadering en die temas van sy werk verskeie etiese en morele vrae na vore en elke werk van hom is met omstredenheid ontvang.
Kortverhaalbundels Reeds in sy debuutbundel, Jonkmanskas,Brink, André P. Rapport, 9 Januarie 1983. skryf hy “outobiografiese” verhale waarin herkenbare persoonsname gebruik word en hy ook verskeie koppelings tussen verskillende verhale in die bundel maak.Smuts, J.P. Burgerband. Tafelberg-Uitgewers Beperk. Kaapstad. Eerste uitgawe, 1985. Dokumente, voetnotas en tekenprente word alles gebruik om die verhale te vertel.Van Zyl, Ia. Tydskrif vir Letterkunde. Jaargang 21 no. 2, Mei 1983. Karakters word noukeurig waargeneem sonder om hul emosies te omskryf. Die fokus is eerder op die handeling en sterk karakteriserende dialoog, wat die verborge betekenis en impak openbaar. Die eerste verhaal, By die skryf van aantekeninge oor ’n reis, is weliswaar nie een van die sterkstes in die bundel nie maar kondig tog etlike van die deurlopende motiewe in die bundel aan. Hierdie motiewe sluit in die bemoeienis met die skrywersamp, die uitwerking van militêre diensplig op die individu en die bestaanstryd van die Suid-Afrikaner. Die titelverhaal, Die jonkmanskas, werk vernuftig met twee storielyne. Die skrywer maak kennis met ’n jonkmanskas in die huis van middeljariges en by ’n besoek aan ’n meubelwinkel kom hy nog so een teë, wat allerlei dokumente uit ’n vervloë era bevat. Dit lei hom na sy oupa se manuskrip oor die Boere se nedersetting in Kenia, wat met voetnote ’n skyn van outentieke dokumentasie gee. Hier moes ’n jongman (die verteller se oupa) homself bewys deur macho prestasies in die jagveld en as vryer. Hierdie verlede word gestel teenoor die verteller se persoonlike problematiek, wat aan die einde in die jonkmanskas klim om sodoende by die verlede aan te sluit en een te word daarmee. Jonkmanskas word as radiodrama verwerk en in 2015 oor die RSG-kunstefees uitgesaai. Fighting for peace se dubbelsinnige titel het ’n weerklank wanneer ’n teruggekeerde dienspligtige ’n ervaring het met ’n ouer homoseksueel, wat hom daarop wys dat om te veg vir vrede net so belaglik is as om seks te hê vir maagdelikheid. Waar hy aanvanklik apaties en passief bly, neem die dienspligtige aan die einde die inisiatief oor en dwing hy ’n magskonfrontasie af. Die fallus word ’n geweer en die verhaal eindig dan op ’n oop wyse, wat steeds die teenstellings veg en vrede, maagdelikheid en seks as komponente behou. In die kake van die dood is aanduidend van die besonder komplekse verhaalstruktuur wat Prinsloo soms gebruik. Hier is daar direkte ooreenkomste tussen die outeur en die karakter Koos, wat ’n verhaal skryf en aan sy vriende Susan en Johan wys, wat dit beide afwysend beoordeel. Koos lees dan ander verhale en voltooi een van hulle. Die gehele verhaal is dus ’n raamvertelling, waarbinne ’n ander verhaal omvat word, wat op sy beurt ’n ander verhaal omvat. Die gebeure en die verhouding tussen die karakters speel ook op mekaar in, met die outeur wat aan die einde binne ’n koerantberig inloop, in die kake van die dood in, en so binne nog ’n verhaal beland.