Johannes Lodewyk Marais (21 Desember 1956 – ) is ’n Afrikaanse digter en navorser wat met sy poësie verskeie pryse verwerf het.

Lewe en werk Johannes Lodewyk Marais is op 21 Desember 1956 in die Koningin Victoria Kraaminrigting in Hillbrow in Johannesburg gebore. Hy is die enigste kind van Hendrik Salomon Marais en Johanna Herculina Oosthuizen. Slegs drie maande na sy geboorte verhuis die gesin in 1957 na die familieplaas Sans Souci in die distrik Harrismith aan die voet van die Drakensberge, waar sy pa die boerdery by sy ouers moes oorneem. Hier op die plaas leer hy vroeg reeds om Sesotho te praat. Hy spandeer sy eerste ses skooljare in ’n plaasskool op Mont Pelaan tussen Harrismith en Memel in die Oos-Vrystaat. Wanneer sy pa siek word aan leukemie, moet die gesin die plaas teen die einde van 1969 verlaat en in Harrismith gaan woon, waar hy na die Laerskool Harrismith gaan. Sy pa is in 1970 op Kroonstad in die plaaslike hospitaal oorlede.

Aan die Hoërskool Harrismith word sy belangstelling in die letterkunde geprikkel deur sy Engels onderwyseres, mev. E.R. Bedford (suster van sir Laurens van der Post en die ma van die Springbokrugbyspeler Tommy Bedford). Hy matrikuleer in 1975 aan die Hoërskool Harrismith en vanaf 1976 studeer hy verder aan die Universiteit van Pretoria, waar hy ’n B.A.-graad verwerf met hoofvakke Germanistiek en Filosofie. Hier is hy redaksielid van Vlieg en ’n jaar lank kunsredakteur van Die Perdeby. Hy behaal sy B.A. Honneurs-graad in Afrikaans in 1980. Vanaf Julie 1981 tot Junie 1983 doen hy sy verpligte militêre diensplig. Hy sit later sy studies deeltyds voort aan die Universiteit van Pretoria en verwerf in 1994 sy M.A.-graad met lof met ’n verhandeling oor “Opleiding in skeppende skryfwerk vir volwassenes in Afrikaans”, waarvoor hy die Marius Jooste-medalje ontvang. In 2001 verwerf hy sy D.Litt.-graad met ’n proefskrif oor “’n Ondersoek na die aard van en opvattings oor Eugène N. Marais se wetenskaplike prosa”. In 2013 voltooi hy ’n verdere doktorale proefskrif (D.Phil.-graad) in Geskiedenis oor reisliteratuur oor Kenia en die ervarings in hierdie land sedert onafhanklikheid in 1963.

Hy werk vanaf 1983 by die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN), aanvanklik as letterkundige navorser by die Sentrum vir Suid-Afrikaanse Letterkunde Navorsing (Sensal). In hierdie hoedanigheid skryf hy heelparty vakkundige publikasies, waaronder die boek “Opleiding in skeppende skryfwerk in Suid-Afrika: ’n Sisteembeskrywing”. Later word hy by die RGN hoofnavorser by die Groep Samelewingsdinamika. Hy doen hier baie ervaring op van volhoubare ontwikkeling en doen selfs navorsing ter voorbereiding vir die bou van ’n dam in die Lomatirivier in Mpumalanga in die tydperk 1991 tot 1993. Hierdie ervarings vind neerslag in sy digkuns.

Vanaf 1986 tot 1993 is hy as deeltydse dosent aan die Universiteit van Suid-Afrika se Instituut vir Voortgesette Opleiding verantwoordelik vir die aanbied van kursusse in skeppende skryfwerk vir prosaskrywers en digters. Gedurende 1997 neem hy deel aan die Dichter-aan-huis byeenkoms in Den Haag, Nederland. Hy word later hooftaalpraktisyn in Pretoria en in 2003 word hy aangestel as ’n navorsingsgenoot van die Eenheid vir Akademiese Geletterdheid aan die Universiteit van Pretoria. Vanaf 2014 is hy ook direkteur van die Eugène Marais Stigting.

Skryfwerk Poësie Reeds op laerskool skryf hy sy eerste gedig, geïnspireer deur ’n donkerkopmeisie wat hy by ’n volkspelebyeenkoms ontmoet. In standerd nege word sy eerste gedig gepubliseer in ’n spesiale bylae van “Ons jong digters” tot Die Vaderland. In sy matriekjaar in 1975 lê hy sy eerste bundel vir publikasie voor, maar dit word afgekeur. Op universiteit verskyn verskeie van sy gedigte in die studentetydskrif Vlieg. In 1979 word Vlieg verbied en dit het vir ’n ruk ’n negatiewe uitwerking op sy produktiwiteit, aangesien hy nie normaal kan voortgaan om te skryf waaroor hy ook al wil nie en veral versigtig moet wees met polities betrokke verse.

Sy eerste drie bundels verwys in groot mate na sy grootwordjare op die plaas, waar die verval van die platteland en die agteruitgang van die omgewing weens droogtes, oorbeweiding en onoordeelkundige jag- en boerderypraktykeBritz, E.C. “Die Burger” 5 Januarie 1984 ’n groot indruk op hom maak. Sy debuutbundel,Brink, André P. “Rapport” 11 Desember 1983 “Die somer is ’n dag oud”, trek onmiddellik die aandag met die suiwer eenvoud van die jeugherinneringe.Cloete, T.T. “Tydskrif vir Letterkunde” Jaargang 22 no. 4, November 1984 Daar is ook ’n paar liefdesverse en politieke verse in hierdie bundel en ervarings as soldaat op die grens word verken.Nienaber-Luitingh, M. “Standpunte” Nuwe reeks 176, April 1985 Reeds in hierdie bundel is sy tegniese vaardigheid opvallend en skryf hy etlike kompakte gedigte wat knap sluit sonder brak kolle. Die titel van die bundel kom uit N.P. van Wyk Louw se bundel “Tristia”, vers “XXXVII”. Die bundel word in vier genommerde afdelings verdeel. Die eerste afdeling bevat liefdesverse, met “Es la día Ilena” (na ’n vers van Pablo Neruda) wat blyke gee van besondere beeldingsvermoë. Afdeling twee se jeugherinneringe is van die mooiste gedigte in die bundel. “Vakansie” is ’n herinnering aan ’n vakansie by die grootouers, met treffende teenstellings tussen dit wat is en wat nie (meer) is nie, met die tevergeefse poging om die dors te les as treffende afsluiting. “Stamboom” stel die opeenvolgende geslagte op deurgekomponeerde wyse voor as vonke uit die vlam van die vorige geslag se vuurmaakmiddel, terwyl “Sondag” ook tref met ongewone beelde. “Flits uit 'n jeug” verbeeld die vergeefse poging van die hings om weg te kom en nie mak gemaak te word nie, maar hy moet eindelik sy verset laat staan. Die derde afdeling is politieke verse, met “Knipsel” wat verwys na die gevangeneming van die Tsjeggiese dramaturg Václav Havel weens politieke aktivisme en “Op die eiland (naby die land) vir digters” wat die militêre lewe en die digkuns geslaagd kombineer. Hierdie gedig sluit ten nouste aan by die vierde afdeling se herinneringe aan die grenslewe van die soldaat, met “Op pad na die grens” wat die voorbereidings vir aktiewe militêre diens en die moontlikheid om nie terug te kom nie, bevredigend laat sluit met die beeld van die gesnoeide roos. “Volle militêre eerbewys” kombineer op ironiese wyse die aardse sterfte met die kosmiese bewussyn van die wolke. Hierdie bundel word in 1985 met die Ingrid Jonker-prys bekroon.

“Palimpses”Pienaar, Hans “Insig” Mei 1988 se titel verwys na 'n perkamentrol waarop die skrif keer op keer uitgevee word sodat die rol weer gebruik kan word vir ’n nuwe boodskap. Hierin word die eie wêreld van herinnering en geskiedenis geskep en herskep. Hierdie eenheidsbundel beskou die familiegeskiedenis, die plaas en die weggaan daarvan en die begin van ’n nuwe lewe in die stad. Die werkwyses is eerstens die herinnering, dit wat op die rol geskryf was voor dit uitgevee is, tweedens die ondersoek van die rol om te probeer ontsyfer wat geskryf was en derdens om oor en tussen die skryfsels te skryf. Dit alles word egter feitlik onherkenbaar met mekaar vervleg tot een groot geheel, onafskeibaar van mekaar. So word die bundel dan beeld van die lewe self, waar oorsake en gevolge moeilik van mekaar te skei is en gereeld in sirkelgang mekaar beïnvloed. Die bundel word in vyf (ongetitelde, ongenommerde) afdelings verdeel. Die eerste afdeling bevat twee gedigte, wat bundeltemas aankondig. “Eenhoring” beskryf die illusie van volmaaktheid in eenheid met die natuur en hoe die stories en die werklikheid van mekaar verskil en dui dan die tema van illusie teenoor werklikheid aan. “Gesprek” is ’n gesprek tussen die  seun en vader wat selfs na die dood voortgesit word, wat die jeugherinneringe uiteensit en eindig met die besef dat die voorvader deel is van die grond, maar ook as gees voortleef. Hierdie gesprek met die vader word regdeur die bundel voortgesit, met die poging om telkens te herskryf aan die onvoltooide werklikheid. Die tweede afdeling bevat weer slegs twee verse, gerig aan “Oupa Marais” en “Ouma Marais”, waarin die verval van die lewe met die ouderdom en later die dood beskryf word, getemper deur die standhoudendheid van herinnering en gedig. Die temas van groei en verval, of skryf en uitvee, word hier teruggevind. Die derde en grootste afdeling bevat gedigte oor jeugherinneringe, wat op feitlik chronologiese wyse begin by die geboortejaar en die trek van die stad na die plaas, dan die trek van die plaas na die dorp en eindig met die trek weg van die dorp af terug na die stad. Die tipiese boere tydverdryf, half ontspanning half werk, word in gedigte soos “Hengelaar” en “Jagter” uitgebeeld, terwyl “Dae van die week” uit die kinderperspektief beskryf word na aanleiding van die diverse aktiwiteite wat hy ervaar. “Uitveër” beeld kernagtig die deurlopende motief van gedurige verandering en herskryf aan die nuwe werklikheid uit. “Weggaan van die plaas” gee uitdrukking aan die verlies nie net van ’n woonplek nie, maar van ’n hele leefwyse en ’n hele lewe. Die vierde afdeling verbeeld die lewe in die stad, met telkens herinneringe aan die verlede wat ook in hierdie gedigte verskyn. “Ruïnebesoek” trek die omgewing se voorsate terug na lank voordat die voorgeslagte hulle intrek geneem het, sodat daar ’n verbinding bewerkstellig word tussen al die mense wat daar was. In die laaste afdeling word in “Hiperbool” (=oordrywing) gejuig oor die klein gedeelte van die familieplaas Sans Souci wat steeds in Marais-hande is en vir die eienaar die hele Marais-erfenis verteenwoordig. “Onomastiek” se naamgewing van klein en naby tot groter en ver verteenwoordig ’n poging om teen die verlies aan ’n erfplaas in te skryf, met die dorp Vrede wat simbolies eindelike berusting word.