duimnael|regs|220px|M.S.B. Kritzinger.

Matthys Stefanus Benjamin Kritzinger (distrik Carolina, Transvaal, 16 Oktober 1896 – Pretoria (vermoedelik), 12 Januarie 1977)Swart, dr. M.J. (voorsitter redaksiekomitee). 1980. Afrikaanse kultuuralmanak. Aucklandpark: Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. was ’n letterkundige en professor in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Pretoria. As leksikograaf is hy verantwoordelik vir die samestelling van verskeie woordeboeke.

Lewe en werk Matthys Stefanus Benjamin Kritzinger se ouers was Louis Jacobus Rudolph Kritzinger en Sara Sophia Maria Grobler. In die Anglo-Boereoorlog word hy saam met sy moeder in ’n konsentrasiekamp aangehou. Sy eerste opleiding kry hy privaat by sy moeder, waarna hy die CNO-skool op Carolina bywoon en daarna skoolgaan aan die Laerskool Carolina. Sy hoërskoolopleiding kry hy aan die Hoërskool Ermelo. Vanaf 1915 studeer hy verder aan die Grey-universiteitskollege in Bloemfontein, waar hy in 1917 die B.A. Honneurs in Nederlands verwerf. Die daaropvolgende jaar behaal hy die Hoër Onderwysdiploma aan die Transvaalse Universiteitskollege in Pretoria en in 1919 verwerf hy sy M.A.-graad. Hierna word hy onderwyser in Geskiedenis aan die Hogere Oosteind-School in Pretoria, waar hy later ook klasse gee in Afrikaans. Vanaf Oktober 1920 is hy dosent in Nederlands aan die Transvaalse Universiteitskollege, later die Universiteit van Pretoria. Hy promoveer in 1930 aan die Universiteit van Pretoria met ’n proefskrif oor “Die opstandsmotief by Vondel”. Tussen 1933 en 1937 is hy redakteur van Ons Tydskrif vir Letterkunde, Opvoedkunde en Kuns, ’n blad wat deur die Van Schaik Uitgewers geborg is. In 1934 is hy gasdosent in Amsterdam. Hy word in 1936 bevorder tot professor aan die Universiteit van Pretoria, ’n posisie wat hy tot met sy aftrede in 1961 beklee. Sy intreerede lewer hy op 29 April 1936 oor “Die Afrikaanse en Nederlandse letterkunde as studievak aan die Universiteit van Pretoria”. Vir etlike jare resenseer hy nuwe letterkundige werke, vir baie jare in Die Volkstem en in Die Huisgenoot, terwyl hy ook gereelde boekbesprekings oor die radio lewer. Hy is op 4 Julie 1929 getroud met Esther Margaretha van der Spuy en uit die huwelik is drie dogters gebore. Na sy vrou se dood in Junie 1961 trou hy met mevrou Martha E. Erasmus, gebore Scheepers. Hy sou aanvanklik nes sy pa ’n boer word en het nooit sy belangstelling hierin verloor nie. Vir baie jare lank het hy ’n beesboerdery in die Transvaalse Bosveld. Hy woon op ’n plasie naby Pretoria. In 1977 is hy oorlede.

Skryfwerk Hy bundel sy boekbesprekings en ander letterkundige artikels in die bundels “Oor skrywers en boeke” (wat benewens ’n aantal opstelle resensies bevat oor werke van C. Louis Leipoldt, D.F. Malherbe, Jochem van Bruggen, G.C. en S.B. Hobson, C.M. van den Heever en P. de V. Pienaar) en “Studies en kritieke”. “Letterkundige kragte” bevat opstelle oor die werk van C. Louis Leipoldt, A.G. Visser, C.J. Langenhoven en Toon van den Heever. Saam met H.A. Steyn, P.C. Schoonees en U.J. Cronjé is hy verantwoordelik vir die bekende “Groot Woordeboek”, terwyl hy ook outeur is van ’n groot aantal ander woordeboeke. As samesteller bring hy die versamelbundels “Letterkundige leesboek”, “Ons jongste letterkunde”, “Die jongste Afrikaanse kortverhale” en “Tien uitgesoekte kortverhale” byeen, terwyl hy ook verantwoordelik is vir ’n “Plateatlas by die Afrikaanse letterkunde”, wat die Afrikaanse letterkunde in beeld weergee. “Die Kritzingers van St. Louis” bevat familieherinneringe. As Gesangberymer is hy medeverantwoordelik vir die publikasie van die eerste Gesangebundel in Afrikaans in 1944.

Eerbewyse In 1962 bekroon die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns hom met ’n Erepenning vir Afrikaanse taal en letterkunde.

Publikasies JaarPublikasies1929Die opstandsmotief by Vondel1932Oor skrywers en boekeLetterkundige kragte1934Studies en kritieke1972Die Kritzingers van St. LouisSamesteller en redakteur1921Skoolwoordeboek (saam met H.A. Steyn)1922Afrikaanse spreekwoorde en uitdrukkings met die Engelse ekwivalent (saam met A.M.M. de Villiers en E.J. Pienaar)Letterkundige leesboek (saam met A.K. Bot)1927Ons jongste letterkunde1931Plate-atlas by die Afrikaanse letterkunde1932Die jongste Afrikaanse kortverhale1936Tien uitgesoekte kortverhaleVerklarende Afrikaanse woordeboek (saam met F.J. Labuschagne, P. de V. Pienaar, J.H. Steyn en H.A. Steyn1937Groot woordeboek (saam met H.A. Steyn)1951Klein woordeboek (saam met H.A. Steyn)1961Beknopte verklarende woordeboek1970Mini-woordeboek1975Verkorte tweetalige woordeboek

Bronnelys

Boeke Beukes, W.D. (red.) “Boekewêreld: Die Nasionale Pers in die uitgewersbedryf tot 1990” Nasionale Boekhandel Bpk. Kaapstad Eerste uitgawe eerste druk 1992 Dekker, G. “Afrikaanse Literatuurgeskiedenis” Nasou Beperk Kaapstad Elfde druk 1970 Grové, A.P. “Letterkundige sakwoordeboek vir Afrikaans” Nasou Beperk Vyfde uitgawe Eerste druk 1988 Kannemeyer, J.C. “Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 1” Academica, Pretoria en Kaapstad Tweede druk 1984 Nienaber, P.J.; Senekal, J.H en Bothma, T.C. “Mylpale in die geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde” Afrikaanse Pers-Boekhandel Tweede hersiene uitgawe 1963 Nienaber, P.J. et al “Perspektief en Profiel” Afrikaanse Pers-Boekhandel Johannesburg Derde hersiene uitgawe  1969 Schoonees, P.C. “Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging” J.H. de Bussy, Pretoria / Hollandsch-Afrikaansche Uitgevers Maatschappij v/h J. Dusseau & Co, Kaapstad 1939 (derde druk)

Internet Digitale Bibliotheek voor Nederlandse Letteren: http://www.dbnl.org/auteurs/auteur.php?id=krit001 Esaach: http://www.esaach.org.za/index.php?title=Kritzinger,_Matthys_Stefanus_Benjamin Webtrees: http://webtrees.vanderspuy.co.za/family.php?famid=F00411&ged=Van%20Der%20Spuy Worldcat: http://www.worldcat.org/identities/lccn-n81007877/

Ongepubliseerde dokumente Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) Bloemfontein “Kritzinger, prof. dr. Matthys Stephanus Benjamin – Biografie”

Verwysings

Kategorie:Geboortes in 1896 Kategorie:Sterftes in 1977 Kategorie:Afrikaanse skrywers Kategorie:Leksikografie