Charles J. Fourie is ’n Suid-Afrikaanse dramaturg.
Lewe en werk Charles Johannes Fourie is in 1965 in Potchefstroom gebore as een van drie seuns van ’n mynwerker. Sy broers is André en Pierre. Op Potchefstroom begin hy skoolgaan by die Laerskool Mooirivier. Die gesin verhuis gedurig wanneer sy vader van werk verander en hy gaan by veertien verskillende skole skool. Op laerskool wen hy op Potchefstroom by die Laerskool Mooirivier ’n eerste prys vir sy voordrag van “Mabalêl” en is hy op Randfontein hoofprefek en krieketkaptein. Hy gaan hoërskool toe op Beaufort-Wes en daarna na die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad. In standerd nege verlaat hy die skool om op Odendaalsrus en Stilfontein op die myne te gaan werk, en behaal sy matriek deur korrespondensie. Na matriek keer hy terug myne toe, waar hy ’n ingenieurskursus voltooi. In Welkom werk hy ook op die myne en lê ondergrondse verkoelingspype en doen isoleringswerk. Hy sit sy studies op Potchefstroom voort, eers aan die Technikon en dan aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys. Hy studeer aanvanklik onderwys, maar skakel gou oor na drama. Reeds as eerstejaarstudent in 1984 skryf en voer hy sy eerste toneelstuk op in die Windybrow-teater in Hillbrow in Johannesburg, naamlik “Speel-speel”. Die volgende jaar ontvang hy die Henk Wybenga-beurs vir toneelskryf, waarmee hy sy studie aan die PU vir CHO kan voltooi. In 1987 word sy “Grot van die kaalkoppe”Schoombie, Schalk “Beeld” 30 April 1990: http://152.111.1.88/argief/berigte/beeld/1990/04/30/2/15.html met welslae by die Transvaalse Raad vir die Uitvoerende Kunste (TRUK) se Potpourrifees opgevoer. In 1984, aan die einde van sy eerste jaar op universiteit, trou hy met Isabel Mostert. Hulle skei tydens sy destydse verpligte dienspligjare, en in 1990 trou hy met die choreograaf Marlene Blom wat in 1996 in 'n motorongeluk saam met haar ouers sterf. Hy het ’n gestremde kind uit sy tweede huwelik, en in 2007 word sy seun gebore uit 'n verhouding met die aktrise Christine Truter.
Nadat hy (in 1987) en sy vrou gegradueer het, sluit albei as akteurs aan by die Streeksuitvoerende Raad vir die Kunste van die Oranje-Vrystaat (SUKOVS). Hy word opgeroep vir sy militêre diensplig, waarin hy hoofsaaklik draaiboeke skryf vir opleidingsfilms. Wanneer hy uitpasseer, begin hy voltyds skryf en spits hom grootliks op die teater toe. In 1989 stig hy Kaap Teater Ensemble, ’n onafhanklike ad-hoc produksiehuis wat toneelaanbiedings opvoer by verskeie teaters in Suid-Afrika asook in die buiteland, veral Brittanje. Later verskuif die klem na aanbiedings by kunstefeeste soos die Klein Karoo Nasionale Kunstefees en Aardklop. Met elke produksie word ’n groep akteurs, ’n verhoogteks en regisseur as ensemble byeengebring om ’n gehalte toneelproduksie op die planke te bring. In 1990 stig hy Agterdeur / Backdoor Produksies en in 1992 word hy saam met Asjraf Jamal en André Roothman stigterslede van die teatergroep Network Theatre in Kaapstad, wat ten doel het om die jeug aan ’n teaterkultuur bloot te stel. Die Stigting vir Skeppende Kunste gee hom in 1992 ’n kwartaallikse bedrag om hom in staat te stel om hom vir ’n tyd voltyds op sy skryfwerk toe te spits. Ná sy egskeiding in 1993 vestig hy hom teen Hangklipberg op Pringlebaai. In 1995 gaan hy vir ’n ruk oorsee na Spanje, nadat hy ontmoedig is deur die teateropset in Suid-Afrika.
In 1993 is hy in 'n polemiek betrokke toe Andrew Nel beweer dat Fourie sy drama “Vrygrond”Botha, Danie “Die Burger” 14 Junie 1993: http://152.111.1.87/argief/berigte/dieburger/1993/06/14/4/11.html gebaseer het op ’n gelyknamige stuk van Nel wat uit 1979 dateer. Andries Oliphant vind dat dit op die oog af nie lyk asof die drama oorgeneem is nie, hoewel die dieper dramatiese patrone bykans identies is, terwyl Gerrit Olivier bevind dat daar geen wesenlike ooreenkomste tussen die stukke is nie. Die ooreenkomste wat daar wel is kan as niksseggend beskou word,Pople, Laetitia “Beeld” 27 April 1993: http://152.111.1.88/argief/berigte/beeld/1993/04/27/2/1.html terwyl Olivier aanvoer dat hy ’n lang lys wesenlike verskille kan noem. Die dramatiese situasie is ook in belangrike opsigte heeltemal verskillend.Die Burger 25 Maart 1993
Sy eie stukke word onder andere opgevoer tydens toneelfeeste en deur die streekrade en in die Markteater, die Nasionale Teater van Namibië en die West Coast Ensemble in Los Angeles in die Verenigde State van Amerika. Hy besoek Engeland in 1996 om sy werk daar bekend te stel, waarna dit onder andere by die Soho-teater opgevoer word. Hy werk vanaf 2001 met die Britse toneelregisseur Jeremy Bond saam aan ’n internasionale teaterprojek, “Stages International”, waarin Suid-Afrikaanse en Britse teater mekaar ontmoet deur voorlesings uit van die voorste Suid-Afrikaanse dramaturge se werk in die Old Vic-teater in Londen. Gedurende 2001 bied hulle die program “A season in South Africa” in die Old Vic-teater aan, onder beskerming van Janet Suzman en die Suid-Afrikaanse Hoë Kommissaris. Gassprekers by hierdie geleentheid was onder andere Sir Antony Sher en John Kani. Tydens hierdie geleentheid word sy drama “The lighthouse keeper’s wife” opgevoer. In 2002 word sy drama “Big boys” opgevoer by die Warehouse-teater in Croydon en in 2006 word ’n produksie van “The parrot woman” by die Finborough-teater in Earl’s Court en in die Burton Taylor Studio in Oxford opgevoer, waarna dit ook na verskeie ander plekke in die Verenigde Koninkryk op toer gaan.
Deur die jare word sy werk deur verskeie instansies geldelik ondersteun, insluitende deur die South African Foundation for Creative Arts, die National Arts Council of South Africa, Business and Arts Africa, Lever Brothers, die Atheneum in Londen, Janet Suzman en die Wes-Kaap Kulturele Kommissie. Hy is ’n gereelde medewerker aan die kunsteblaaie van koerante soos Mail & Guardian, Die Burger en Sunday Independent asook vir LitNet.
Skryfwerk
Afrikaans Hy skryf meer as veertig dramas, waaronder ’n hele aantal komedies asook ernstiger werke. Vir hierdie wyduiteenlopende dramas gebruik hy verskillende teaterstyle. Die individu se strewe na vryheid, selfontdekking, vrede maak met die self en omstandighede en sy voortdurende stryd die toekoms in, ten spyte van persoonlike pyn en verlies, word die spil waarom die dramas draai. Hy maak ook ruim gebruik van postmodernistiese tegnieke, veral deur met intertekstualiteit na ander werke te verwys en deur historiese gebeure nuut te interpreteer en voor te stel. Verskeie werke is klugtig of komedies van aard. Dit is egter sy meer ernstige werke waarmee hy sy grootste sukses behaal, waaronder “Vrygrond”, “Demjanjuk”, “Braaivleis”, “Eiland”, “Vrededorp”, “Ella se perde” en “Agterplaas”. Hierdie dramas behandel feitlik deur die bank kardinale sosio-politiese kwessies op vaardige wyse.
Klugtige en komiese werke sluit in “Die crazer”, “Die eend”,Van der Westhuizen, P.C. “Beeld” 3 April 1995 “Don Gxubane onner die boere”, “Skattebol”, “Moerkind” en “Sonde met die biere”. “Die crazer”Botha, Danie “Die Burger” 3 November 1992: http://152.111.1.87/argief/berigte/dieburger/1992/11/03/4/3.html sit Hans Christian Andersen se naakte keiser in ’n post-apokaliptiese wêreld, waar ’n dwelmverslaafde keiser en sy nar in die laaste dae van die Vyfde Ryk in ’n bunker wegkruip, soos in die laaste dae van Hitler in die Tweede Wêreldoorlog. Hierdie drama word in 1987 in die Staatsteater in Pretoria en in die Windybrow-teater in Hillbrow opgevoer. “Die eend” is ’n tragiese komedie gebaseer op Tsjechof se “Die seemeeu” en Tsjechof se drama en temas word in die verhaallyn geïntegreer, maar getransponeer na hedendaagse Suid-Afrika. Dit speel op ’n plaas af waar die aspirant-dramaturg Janneman hom verbeel hy is Anton Tsjechof. Sy meisie van die naburige plaas, Katrien, is bereid om die besoekende televisie-skrywer, Roy Ruiters, toe te laat om haar bed toe te vat in ’n poging om ’n aktrise te word. Roy se minnares, die reklame-aktrise Anna Omo, is egter nie van plan om dit te laat gebeur nie. Intussen moet Misoes, wat in die tyd van die Groot Droogte gebore is, wegkruip want die swart plaaswerker Gert Garries is verlief op haar. Haar ma, Soekie, gaan deur ’n krisis en word bronstig omdat haar lewe vervelig is. Intussen word Oompie dronk, eet mielies en herleef die slagting van Delville-bos terwyl hy rondstrompel. Die verliefde karakters sit eindelik in ’n boom, terwyl Tsjechof op soek is na sy alter ego, ’n jong dramaturg wat dreig om selfmoord te pleeg. Die drama word ’n satire op die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf en die moderne mens se beheptheid met kitsoplossings en glanspersoonlikhede. Op grond van “Die eend” is hy in 1991 ’n finalis vir die Amstel-prys as beste dramaturg en die drama debuteer in 1994 in die Staatsteater in Pretoria.Weideman, George “Die Burger” 12 April 1995
Die komedie “Don Gxubane onner die boere”Hough, Barrie “Rapport” 7 Augustus 1994 tree in gesprek met Don Juan (ook Bartho Smit se “Don Juan onder die boere”), Don Quijote en die feëverhaal van “Aspoestertjie”, alles in ’n Afrika omgewing. Die swart Don Gxubane raadpleeg ’n sangoma om sy ware liefde vir hom uit te wys. Dan betree hy ’n plattelandse dorpie waar die verregse Andreas Halgryn die burgemeester is. Andreas se vrou Annemarie probeer selfmoord pleeg deur van hulle huis se dak af te spring, maar Don vang haar in sy sterk arms, waarna die twee blanke vroue, Annemarie en haar dogter Amour, handgemeen raak vir sy liefde. Don moet met hipnose later die dorp van hulle rassisme genees. Hierdie drama word in 1993 bekroon met die SAKRUK-prys vir beste nuwe toneelwerk en word in 1994 by die Kampustoneelfees en in 1995 by die Staatsteater in Pretoria opgevoer. “Skattebol” word in 1996 by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees opgevoer. Dit is ’n verwerking van die verhaal van Johannes die Doper en Salomé en hy noem dit ’n spulse parodie gegrond op die gebeure wat tot die dood van Johannes die Doper gelei het. Die stuk bevat naaktonele van Salomé om die oordadige seksualiteit uit te beeld. “Moerkind” debuteer in 2001 en is absurde teater waarin ’n Kaapse fopdosser wat Marlene Dietrich naboots uitoorlê word deur ’n vrou. In 2013 debuteer “Sonde met die biere” by die KKNK. ’n Plastiese chirurg vra sy prokureursvriend om hom te help bepaal of die nuwe liefde in sy lewe regtig lief is vir hom. Hulle beplan ’n skyndood, met ’n testament waarin die toekomstige bruid niks erf nie. Intussen verdink die prokureur se vrou hom van ’n verhouding met sy buurvrou, waarna dit hoe later hoe kwater gaan.
Die res van sy oeuvre is meer ernstig van aard. Sy eerste drama, “Speel-speel”, word in 1984 by die Potchefstroom Universiteitsteater en die Windybrow-teater in Hillbrow opgevoer en is politieke kommentaar op die destydse driekamer-parlement. Hiervoor verwerf hy die Henk Wybenga-beurs vir toneelskryf. “Grot van die kaalkoppe” word in 1985 deur TRUK se Potpourri aanvaar vir opvoering en in die Staatsteater in Pretoria en die Windybrow-teater in Hillbrow opgevoer. Dit beeld op bisarre wyse uit hoe jongmense dissipline en gesag ervaar. Die grot is ’n heenkome vir drie adolessente wat ontsnap uit die verwoesting van die werklike wêreld en om die beurt kan nie een van hulle hoor, sien of praat nie. Hulle oorkom hierdie teisteringe deur die Niet, ’n gedissiplineerde aangang van ’n Oosterse mistisisme, wat niks is nie en terselfdertyd alles omvat. Deur die Niet kry hulle die krag van telepatie en ekstra-sensoriese persepsie.