Olivier Burgers (*22 April 1909, Johannesburg –† 30 April 1962) was ’n baanbreker Afrikaanse radio-omroeper en streekbestuurder van die SABC in die Wes-Kaap.Esat: http://esat.sun.ac.za/index.php/M.P.O._Burgers Hy publiseer studies oor C.J. Langenhoven en C. Louis Leipoldt en is ook ’n dramaturg. Die bekende akteur Frederik Burgers is sy broer.
Lewe en werk
Herkoms en opleiding Marius Philip Olivier Burgers is op 22 April 1909 in Johannesburg gebore. Sy broer is Frederik Burgers, bekende akteur en komediant wat bekendheid verwerf met die vele rolprente wat hy saam met Al Debbo maak. Olivier voltooi sy matriek aan die Hoër Seunskool Helpmekaar, waar dr. J.R.L. van Bruggen ’n liefde vir die letterkunde by hom kweek. Hy matrikuleer met ’n onderskeiding in Afrikaans en studeer daarna aan die Universiteit van die Witwatersrand, met Afrikaans, Engels en Sielkunde as hoofvakke. Nadat hy sy B.A.-graad verwerf het, studeer hy aan die Johannesburg Opleidingskollege vir Onderwysers, waar hy ’n Transvaalse Onderwysdiploma verwerf. Hy behaal ook ’n Diploma in Voordragkuns. Na sy voltydse studie gee hy vir sewe jaar onderwys. In Johannesburg neem hy aktief deel aan die Afrikaanse kultuurlewe en is onder andere lid van die Afrikaanse Skrywerskring onder voorsitterskap van C.M. van den Heever. Hy sit intussen op deeltydse basis sy studies aan die Universiteit van die Witwatersrand voort en behaal sy M.A.-graad in 1937 met ’n studie oor C.J. Langenhoven, wat later as Die mens Langenhoven gepubliseer word. Hy verwerf later ook ’n doktorsgraad aan die Universiteit van Leiden in Nederland met ’n proefskrif oor C.L. Leipoldt – ’n Studie in stof-keuse, -verwerking en -ontwikkeling.
Loopbaan as omroeper en akteur Olivier verwerf bekendheid as een van die eerste voltydse omroepers van die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK). Sy eerste kennismaking met die radio is reeds op skool in 1924, toe hy ’n opstelwedstryd met die tema Die gebruik en waarde van die draadloos wen. Ná voltooiing van sy voltydse studie aan die Universiteit van die Witwatersrand word hy in 1930 aangestel as deeltydse tweetalige omroeper en word dan een van die eerste heeltydse omroepers van die Afrikaanse radiodiens. Later word hy bevorder tot programorganiseerder en ateljeebestuurder van die Afrikaanse programme in Johannesburg. In 1949 verhuis hy na Kaapstad as streekbestuurder van die SAUK in Wes-Kaapland, ’n posisie wat hy tot met sy dood beklee. Hy was ook ’n kenner van die Engelse taal en het jare lank die rubriek Knap u Engels op oor die Afrikaanse radiodiens aangebied. Vir lank is hy betrokke by die skryf van resensies oor boeke en die teater vir onder andere Die Brandwag, terwyl hy gereeld by kunswedstryde en dramafeeste as beoordelaar optree. As akteur vertolk hy verskeie rolle en tree onder andere op in die 1947 Afrikaanse opvoering van Hamlet van William Shakespeare. Vir verskeie publikasies, insluitende Trans-Afrika, skryf hy resensies en artikels oor die teater.
Persoonlike lewe en sterfte Hy is getroud met Eugenie en hulle het twee kinders. Nadat hy reeds in 1961 ’n hartaanval gehad het, is hy op 30 April 1962 aan ’n hartaanval oorlede terwyl hy besig was om ’n huldeblyk aan wyle Pieter de Waal op te neem.365 Spore: http://365spore.blogspot.com/2008/05/1962-30-april-geskiedenis-spoor-vandag.htmlKaapstadse verteenwoordiger. Dr. M.P.O. Burgers se laaste woorde hulde aan Pieter de Waal. Die Vaderland, 1 Mei 1962
Skryfwerk Hy verwerk Eugène Marais se kortverhaal Die wegraak van Sannie vir die verhoog onder die titel Sannie (gepubliseer onder die naam Olivier Burgers) en vertaal Henrik Ibsen se Gengangere of Ghosts as Spoke.
Sy gepubliseerde verhandeling, Die mens Langenhoven,Eybers, Elisabeth. Voetpad van verkenning. Human & Rousseau Kaapstad en Pretoria Eerste uitgawe, 1978 is ’n vroeë poging om aan die hand van sielkundige ontleding die persoon en werk van ’n letterkundige te verklaar. Die sielkundige benadering is gebrekkig en by geleentheid ook onoortuigend, maar hierdie boek verskaf tog ’n waardevolle oorsig oor Langenhoven se letterkundige werke.
Sy proefskrif oor C.L. Leipoldt – ’n Studie in stof-keuse -verwerking en -ontwikkelingKannemeyer, J.C. Konfrontasies. Academica Pretoria en Kaapstad Eerste uitgawe 1977 word ook gepubliseer. Hierin ondersoek hy Leipoldt se aangetrokkenheid tot sekere stofkeuses en die verwerking hiervan tot temas en probeer aan die hand hiervan ’n gevolgtrekkings te maak aangaande die psige van die skrywer. Terwyl die agtergrondgeskiedenis van Leipoldt se stofkeuses belangrike materiaal beskikbaar maak, is die psigologiese ontleding onoortuigend en berus dit op te veel voorveronderstellings.
Publikasies Werke wat uit sy pen verskyn sluit in:Esaach: http://www.esaach.org.za/index.php?title=Burgers,_M.P.O. JaarPublikasies1930Sannie1939Die mens Langenhoven1957Teach yourself Afrikaans1960C.L. Leipoldt: ’n studie in stof-keuse, -verwerking en -ontwikkeling
Bronnelys
Boeke Dekker, G. Afrikaanse Literatuurgeskiedenis. Nasou Beperk Kaapstad Elfde druk 1970 Kannemeyer, J.C. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 2. Academica, Pretoria, Kaapstad en Johannesburg Eerste uitgawe Eerste druk 1983 Kannemeyer, J.C. D.J. Opperman: ’n Biografie. Human & Rousseau Kaapstad en Pretoria Eerste uitgawe 1986 Nienaber, P.J. et al. Perspektief en Profiel. Afrikaanse Pers-Boekhandel Johannesburg Derde hersiene uitgawe 1969
Ongepubliseerde dokumente Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) Bloemfontein. Burgers, dr. Marius Philip Olivier – Biografie.
Verwysings
Kategorie:Suid-Afrikaanse skrywers Kategorie:Suid-Afrikaanse omroepers Kategorie:Geboortes in 1909 Kategorie:Sterftes in 1962