Die Grot van die Patriarge, ook genoem die Makpelagrot (Hebreeus: מערת המכפלה), of in Islam die Ibrahimi-moskee (Arabies: الحرم الإبراهيمي), is ’n paar ondergrondse kamers in die hart van die ou stad Hebron (Al-Khalil) in die Wesoewer.Genesis 23:17-19, 50:13 Volgens tradisie wat verbind word met die Tora, Bybel en Koran, is die grot en aangrensende grond deur Abraham gekoop as begraafplaas.

Die grot is geleë onder ’n moskee uit die tyd van Saladin, wat omskep is van ’n groot, vierkantige Judese gebou uit die tyd van Herodes die Grote.

Die Hebreeuse naam weerspieël die baie ou tradisie van die dubbele grafte van Abraham en Sara, Isak en Rebekka en Jakob en Lea, wat beskou word as die patriarge en matriarge van die Joodse volk en wat vermoedelik daar begrawe is. Die enigste ander Joodse matriarg is Ragel, wat vermoedelik in Ragel se Graftombe naby Betlehem begrawe is.

Die Arabiese naam van die kompleks weerspieël die belangrikheid van Abraham, wat deur Moslems vereer word as ’n Islamitiese profeet. Volgens die Bybel (Handelinge 7:16) is die grot geleë in Sigem (Latyn: Neapolis; Arabies: Nablus).

Bybelse oorsprong duimnael|262px|’n Houtsnee deur Gustave Doré wat die begrafnis van Sara in die grot uitbeeld.

Volgens die boek Genesis (verse 23:1-20) is Sara, die vrou van Abraham, "oorlede in Kirjat-Arba, dit is Hebron, in Kanaän". Abraham was in dié tyd elders en toe Sara op 127 jaar sterf,Sara is die enigste vrou wie se volle ouderdom in die Bybel genoem word. het "Abraham oor haar gaan rou en huil". (Gen. 23:2) Ná ’n ruk het hy opgestaan en met die Hetiete gaan praat en hulle gevra om vir hom "'n vaste besitting as graf" te gee, en hulle het vir hom "die beste graf" gegee. In vers 7 het hy die Hetiete gevra dat Efron, seun van Sogar, "die Makpelagrot aan die kant van sy grond" aan hom afstaan", "teen die volle markprys" (vers 9). Nadat Efron bevestig het dat hy vir hom "die stuk grond, ook die grot wat daarop is" gee (vers 11), het Abraham daarop aangedring om daarvoor te betaal (vers 13), en Efron het ingestem.

Genesis 23:16-18: Toe het Abraham ingestem en die silwer vir Efron afgeweeg wat hy in die teenwoordigheid van die Hetiete genoem het: vier en ’n half kilogram silwer soos dit in die handel afgeweeg word. So het die stuk grond van Efron in Makpela waarop die grot is en wat oos van Mamre geleë is, Abraham se eiendom geword in die teenwoordigheid van die Hetiete en almal wat by die stadspoort inkom: die grond met die grot daarop en al die bome op die grond, sover as die grense daarvan gestrek het.

Sara se begrafnis is die eerste begrafnis wat in die Bybel beskryf word, en dit is die eerste kommersiële transaksie wat genoem word. Die volgende mens wat in die grot begrawe is, was Abraham, wat op 175 jaar oorlede is (Gen. 25:7-8). Abraham het al sy besittings aan sy seun Isak nagelaat (Gen. 25:5).

Genesis 25:9-10: Sy seuns Isak en Ismael het hom begrawe in die Makpelagrot oos van Mamre op die stuk grond wat vroeër behoort het aan die Hetiet Efron seun van Sogar. Abraham het hierdie stuk grond by die Hetiete gekoop, en hy en sy vrou Sara is albei daar begrawe.

Isak was 180 jaar oud toe hy sterf, en Jakob 147. Daar word nie genoem hoe of wanneer Isak se vrou Rebekka dood is nie, maar sy word in Jakob se laaste boodskap aan sy kinders ingesluit in die lys mense wat in die grot begrawe is:

Genesis 49:29-33: Jakob het vir sy kinders gesê: "Wanneer ek sterf, moet julle my gaan begrawe in die familiegraf, in die grot op die grond van die Hetiet Efron. Dit is die Makpelagrot teenoor Mamre in Kanaän. Abraham het die stuk grond by die Hetiet Efron gekoop om ’n begraafplek te hê. Abraham en sy vrou Sara is daar begrawe, Isak en sy vrou Rebekka is daar begrawe, en daar het ek vir Lea begrawe. Abraham het die grond en die grot daarop by die Hetiete gekoop.” Toe Jakob klaar gepraat het, het hy gaan lê, die asem uitgeblaas en gesterf.

In die laaste hoofstuk van Genesis word vertel hoe Josef vir Jakob laat balsem het voordat hulle hom uit Egipte geneem het om in die Makpelagrot te gaan begrawe (Gen. 50:1–14). Nadat Josef in die laaste vers gesterf het, is hy in Egipte begrawe. Sy oorskot is baie jare later in Sigem herbegrawe nadat die kinders van Israel na die beloofde land is (Hand. 7:16).

Geskiedenis duimnael|Die senotaaf van Isak, omstreeks 1911.

Hellenistiese Jodedom Om die terrein vir sy Joodse onderdane te bewaar, het Herodes die Grote ’n groot, vierkantige gebou oor die grot laat bou. Dit is die enigste ten volle bewaarde Herodiaanse struktuur uit die tydperk van die Hellenistiese Jodedom. Herodes se gebou, met mure van 1,8 m dik wat gebou is van klippe wat minstens 0,9 m hoog en soms tot 7,3 m lank was, het nie ’n dak gehad nie. Argeoloë is nie seker waar die oorspronklike ingang was en of daar wel een was nie.

Bisantynse Christendom Tot met die tydperk van die Bisantynse Ryk was die gebou dakloos. Onder Bisantynse heerskappy is ’n eenvoudige basilika aan die suidoostekant gebou en ’n dak is opgesit, buiten oor die middelste deel.

Arabiese tydperk In 614 het die Sassanidiese Perse die gebied verower en die gebou vernietig, met net die ruïne wat oorgebly het. In 637 het die gebied onder beheer van die Arabiese Moslems gekom en die gebou is gerestoureer as ’n moskee met ’n dak op.

In die 10de eeu is ’n ingang in die noordoostelike muur gemaak, ’n ent bo die buitenste grondvlak, en trappe is aan die noorde- en oostekant gebou na die ingang (een trap om die gebou binne te gaan en die ander om dit te verlaat). ’n Gebou bekend as die kalah ("kasteel") is ook naby die middel van die suidwestekant gebou. Die doel daarvan is onbekend, maar volgens een historiese geskrif was dit om die plek aan te dui waar Josef begrawe is. Die gebied is deur ’n Moslemse kalief opgegrawe na aanleiding van ’n plaaslike tradisie oor Josef se graf. Sommige argeoloë glo die oorspronklike ingang van Herodes se gebou was waar die kalah is en dat die noordoostelike ingang gemaak is sodat die kalah by die eertydse ingang gebou kon word.

Kruisvaardertydperk In 1100, nadat die gebied deur die Kruisvaarders oorgeneem is, het die gebou weer ’n kerk geword en Moslems is nie meer toegelaat nie. In dié tyd het dit ’n nuwe geweldak, bobeukvensters en ’n gewelf gekry.

In 1113, tydens die bewind van Boudewyn II van Jerusalem, het ’n deel oor die graf van Abraham meegegee, volgens ’n 1173-geskrif van die Persiese reisiger Ali van Herat, en "’n paar Franke het dit binnegegaan". Hulle het "die liggaam van Abraham, Isak en Jakob" ontdek, "met hul doodsklede wat uitmekaargeval het … Daarna het die koning, nadat hy nuwe doodsklede verskaf het, die plek weer laat toebou". Soortgelyke inligting is vervat onder die jaar 1119 in die kroniek van die Arabiese historikus en biograaf Ibn al Athir: "In hierdie jaar is die graftombe van Abraham oopgemaak, en dié van sy twee seuns Isak en Jakob … Baie mense het die Patriarg gesien. Hul ledemate is geensins versteur nie, en langs hulle is lampe van goud en silwer geplaas." = p. 317, p. 318. Ook Ibn al-Qalanisi, ’n edelman en historikus van Damaskus, verwys na die ontdekking van relieke wat vermoedelik aan Abraham, Isak en Jakob behoort het – ’n ontdekking wat mense opgewonde en nuuskierig gemaak het in al drie gemeenskappe in die Suid-Levant, die Moslems, Jode en Christene..

Teen die einde van die Kruisvaardertydperk, in 1166, het die Joodse filosoof en sterrekundige Maimonides Hebron besoek en geskryf: "Op Sondag 9 Chesjwan (17 Oktober) het ek van Jerusalem na Hebron gereis om die grafte van my voorvaders in die Grot te soen. Op dié dag het ek in die Grot gestaan en bid, lof sy aan God, (uit dankbaarheid) vir alles.".

In 1170 het die Joodse reisiger Benjamin van Tudela besoek gebring aan die stad, wat hy op sy Frankiese naam, St. Abram de Bron, noem. Hy skryf: "Hier is ’n groot kerk met die naam St. Abram, en dit was ’n Joodse aanbiddingsplek in die tyd van die Mohammedaanse bewind, maar die nie-Jode het ses graftombes daar opgerig, wat onderskeidelik dié van Abraham en Sara, Isak en Rebekka, en Jakob en Lea genoem word. Die opsigters vertel vir die pelgrims dat dit die grafte van die Patriarge is, en die pelgrims gee vir hulle geld vir dié inligting. Wanneer ’n Jood egter kom en ’n spesiale beloning gee, maak die opsigters vir hom ’n ysterhek oop wat deur hul voorvaders opgerig is, en dan kan hy met trappe afloop, terwyl hy ’n kers in sy hand vashou. Hy bereik dan ’n grot waarin daar niks is nie, en nog ’n leë grot, maar wanneer hy die derde grot bereik, is daar ses grafte, dié van Abraham, Isak en Jakob, onderskeidelik regoor dié van Sara, Rebekka en Lea, en daarop is die naam van die drie Patriarge en hul vroue in Hebreeuse letters geskryf. Die grot is vol vate met mense se bene wat daarheen geneem word soos na ’n heilige plek. Aan die eindpunt van die veld van Makpela staan Abraham se huis met ’n fontein voor.""Reisplan," red. Asher, ble. 40–42, Hebr.

Ajjoebidiese tydperk duimnael|Moslems bid in die gebou se Isak-saal, Januarie 2014.

In 1188 het Saladin die gebied verower en die gebou weer in ’n moskee verander, maar hy het Christene toegelaat om steeds daar te aanbid. Saladin het ook die minbar laat bou, asook ’n minaret op elke hoek – waarvan twee steeds staan.

Mameluk-tydperk Tussen 1318 en 1320 het die Mameluk Sanjar al-Jawli, die goewerneur van Gasa, ’n provinsie wat Hebron ingesluit het, die bou van die Amir Jawli-moskee by die gebou gelas om die plek vir aanbidding te vergroot.Dandis, Wala. History of Hebron. 7 November 2011. URL besoek op 2012-03-02 In die laat 14de eeu, onder die Mamelukke, is nog twee ingange in die mure aan die weste- en suidekant gemaak en die kalah is verhoog tot op die vlak van die res van die gebou. ’n Senotaaf (grafmonument) is ter ere van Josef opgerig op die boonste vlak van die kalah sodat dit nie nodig was dat besoekers buite-om moes loop om eer te betoon nie.

Die Mamelukke het ook die noordwestelike trap gebou, asook die ses senotawe (vir Isak, Rebekka, Jakob, Lea, Abraham en Sara) wat reëlmatig deur die gebou versprei is. Die Mamelukke het Jode verbied om die gebou binne te gaan; hulle is net toegelaat tot op die vyfde treetjie van ’n trap aan die suidoostekant, maar later is dit verander tot die sewende treetjie.

Ottomaanse tydperk In die Ottomaanse tydperk is die vervalle senotawe gerestoureer. Ali Bey, een van die min buitelanders wat in die grot toegelaat is, het in 1807 berig: Al die grafte van die patriarge is bedek met duur tapyte van groen sy, pragtig met goud geborduur; dié van die vroue is rooi en op dieselfde manier geborduur. Die sultans van Konstantinopel verskaf hierdie tapyte en dit word elke nou en dan vervang. Ali Bey het nege tapyte getel wat opmekaar op die graf van Abraham lê.. Die bron is die manuskrip Die Reise van Ali Bey, vol. ii, ble. 232–3.

Israeliese beheer 250px|duimnael|Die gebou bo die Grot van die Patriarge in 2010. duimnael|250px|’n Joodse bruid bid in die gebou voor haar troue in 2010.

Ná die Israeliese besetting van Hebron in die Sesdaagse Oorlog het die gebied vir die eerste keer in 2 000 jaar onder die beheer van die Joodse owerhede gekom, en die 700 jaar lange verbod wat Jode net tot op die sewende treetjie buite toegelaat het, is opgehef. Jode het hulle ná die oorlog dadelik in die stad begin hervestig. Die eerste Joodse troue het op 7 Augustus 1968 in die gebou plaasgevind.

In 1968 is ’n spesiale reëling getref om Joodse dienste op die Joodse Nuwejaar en Jom Kippoer toe te laat. Op 9 Oktober is ’n handgranaat op die trap na die gebou gegooi; 47 Israeli's is beseer, van wie agt ernstig. Op 4 November was daar ’n groot ontploffing by die hek na die gebou en ses mense, Jode en Arabiere, is gewond. Op die aand voor Jom Kippoer, 3 Oktober 1976, het ’n Arabiese skare verskeie Tora-rolle en gebedeboeke op die terrein vernietig. In Mei 1980 is ses mense dood en 17 beseer in ’n aanval op Jode wat teruggekeer het nadat hulle in die gebou gebid het.