duimnael|D’Arbez
Johan Frederik van Oordt (20 November 1856, Kaapstad - 6 September 1918, Somerset-Wes) beter bekend onder die skuilnaam van D’Arbez, 'n belangrike oorgangsfiguur tussen die Eerste en Tweede Afrikaanse Taalbeweging. Hy is die seun van die koerantredakteur en klassikus J.W.G van Oordt en Susanna Changuion, ’n dogter van die taalkundige A.N.E. Changuion.
D'Arbez is die omgekeerde van “zebra”, die naam wat professor Cozijn van Leiden aan hom gee. As D'Arbez publiseer hy 'n groot aantal romans (dikwels histories van aard met temas soos die Groot Trek, Boereleiers, die Ou-Kaap en Jan van Riebeeck.) Van Oordt skryf dramas onder die skuilnaam Nemo.
Lewe en werk
Herkoms en opleiding Johan Frederik van Oordt, wat romans onder die skuilnaam D'Arbez en dramas onder die skuilnaam Nemo skryf, is op 20 November 1856 in Kaapstad gebore.Geni: http://www.geni.com/people/Johan-Joan-Frederick-D-Arbez-Van-Oordt/6000000024707606804 D'Arbez is die omgekeerde van “zebra”, die naam wat professor Cozijn van Leiden aan hom gee. Hy is die oudste seun van die klassikus, joernalis en historikus dr. Jan Willem Gerbrand van Oordt, wat redakteur is van Nederlandstalige koerante soos Het Volksblad, De Zuid-Afrikaan en Ons Land, en Susanna Magdalena Changuion, ’n dogter van dr. A.N.E. Changuion. Op ongeveer tweejarige ouderdom verhuis die gesin na Nederland waar sy vader ’n pos aanvaar as lektor in die klassieke aan die gimnasium in Den Haag. Hy gaan skool in Rotterdam, Haarlem en Leiden, waar sy moeder oorlede is terwyl hy vyftien jaar oud is.
Loopbaan As sewentienjarige keer hy terug na sy geboorteland. In 1875 word hy onderwyser aan F.D. Changuion se Swartland Instituut op Malmesbury, nadat hy die derdeklas-onderwysdiploma in Kaapstad behaal het. Hy sit sy studies voort en verwerf die B.A.-graad en die eersteklas onderwysdiploma in 1877 aan die Suid-Afrikaanse Kollege in Kaapstad, waarna hy tydelik op Richmond skoolhou en in 1878 hoofonderwyser op Fauresmith word. Op Richmond ontmoet hy sy toekomstige vrou, Alice Elisabeth Atkinson, die dogter van die redakteur van ’n Engelse koerant, en hulle trou in 1880. Hulle het drie kinders, Henrietta Jacoba, Jan Willem Gerbrand en Joan Frederick Atkinson.
Hy verlaat die onderwys in 1879 toe hy ’n betrekking aanneem as tweede klerk by die Ouditeur-Generaal in Bloemfontein. In 1881 gaan hy na Rouxville as landdrosklerk en bekwaam hom dan in die regswese deur op Smithfield die advokaatseksamen af te lê, waarna hy vanaf 1882 weer na Rouxville toe is as advokaat. Sy rustelose geaardheid en gereelde probleme weens sy toenemende gebruik van alkohol vat hom hierna na vele betrekkings, wat hy meestal slegs vir ’n kort tydjie beklee. In 1885 is hy na Kroonstad as prokureur en in dieselfde jaar nog word hy mynkommissaris op Roodepoort, waarna hy in 1889 advokaat word op Heidelberg in Transvaal. Wanneer sy vrou ernstig siek word en terugkeer na haar vader in Kaapstad, “verdwyn” hy en woon vir twee jaar lank in die Oostelike Provinsie onder die naam van John Hill (die naam waaronder hy ook sy ongepubliseerde Engelse verhale skryf). In 1891 is hy as prokureur terug na Richmond en later na Britstown, waar hy vir ses jaar as prokureur werk. Sy vrou en kinders sluit hier weer by hom aan. Op Houwater in die Britstown-distrik het hy ook vir ’n tyd ’n skooltjie, maar sy drankmisbruik veroorsaak dat hy baie dae onbekwaam is vir die taak as onderwyser.
Hoewel enkele artikels reeds vroeër in Hollandse en Engelse tydskrifte (in laasgenoemde onder die skuilnaam James King Hill) verskyn, hou hy hom op Britstown meer besig met die joernalistiek en publiseer verskeie sketse en historiese artikels in veral Ons Tijdschrift, maar ook in Het Zuid-Afrikaansch Tijdschrift en Jong Zuid-Afrika. Historiese artikels wat in Ons Tijdschrift verskyn sluit in Oranje en Zuid-Afrika, na aanleiding van die feesvieringe in Suid-Afrika by geleentheid van die kroning van koningin Wilhelmina op 31 Augustus 1898; De Veldslagen en Gevechten in Zuid-Afrika geleverd, waarin hy begin met die gevegte tussen die Portugese ontdekkingsreisigers en die Khoi en eindig met die Slag van Boomplaats in 1848; en Onze Groote Mannen, wat die lewensverloop van president Brand, E.J.P. Jorissen en F.W. Reitz skets. In hierdie tyd gaan hy ’n kontrak aan met die uitgewersfirma Dusseau van Kaapstad om verhale te skryf vir die Zuid-Afrikaansche Volksbibliotheek en die Zuid-Afrikaansche Historie Bibliotheek. Die historiese artikels wat hy in die tydskrifte publiseer is feitlik sonder uitsondering die eerste raamwerk vir ’n historiese roman in die Zuid-Afrikaansche Historie Bibliotheek. In 1896 gaan hy na Pretoria om daar stof te versamel vir sy werke oor president Kruger en ander wat in die Transvaal afspeel. Hy is die eerste om die gehele Suid-Afrikaanse geskiedenis vanaf Jan van Riebeeck (1652) tot met die Jameson-inval (1896) in boekvorm weer te gee. Vanaf 1899 is hy ’n buitelandse lid van die Leidse Maatskappy van Nederlandse Lettere.
Bydrae tot Afrikaans Vanaf 1904 (die jaar van sy pa se oorlye) gee hy ’n tyd lank lesings in moderne tale aan die Suid-Afrikaanse Kollege en gee ook privaat lesse in Afrikaans. In 1907 gaan hy na Harrismith om weer vir ’n kort ruk onderwys te gee. Intussen raak hy toenemend geïnteresseerd in die studie van swart tale en hy kry ’n regeringstoelae om vir twee jaar navorsingswerk te doen. Hy voltooi twee boekdele van sy studie, maar sy regeringstoelae word gestaak wanneer die Suid-Afrikaanse Party met Uniewording aan bewind kom. Hierna swerf hy van plek tot plek, terwyl hy steeds periodiek werk aan sy vele historiese en letterkundige geskrifte. In hierdie tyd publiseer hy ook in tydskrifte soos Die Brandwag. In 1917 ondergaan hy ’n ernstige operasie in Johannesburg en vestig hom daarna in Kaapstad. Vanaf hierdie jaar verskyn Die Kinderbiblioteek-reeks onder sy redaksie. Op 6 September 1918 is hy in Somerset Hospitaal in Kaapstad oorlede en hy word in Maitland begrawe.
Skryfwerk D’Arbez kan beskou word as ’n belangrike oorgangsfiguur in die geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde. Hy skryf nog hoofsaaklik in Nederlands en lewer geskiedkundige en morele motiewe wat op ’n spannende intrige gebaseer is. Sy doel is om aangename en eenvoudige leesstof in ’n maklik verstaanbare omgangstaal te verskaf wat tegelykertyd nuttige geskiedkundige agtergrondsinligting aan die leser verskaf. Hierdie resep is nagevolg deur verskeie vroeë skrywers soos J.H.H. de Waal en andere. Die agtergrond van die verhale is gewoonlik sekere geskiedkundige gebeure, wat gewoonlik net met ’n dun draadjie aan die verhaal van die roman verbind is, terwyl die gebeure self gereeld een of ander didaktiese of morele les bevat. Die verhale eindig merendeels op ’n sprokiesagtige manier, met ’n baie gelukkige liefdespaartjie wat na vele probleme met mekaar verenig is, en die illusie van ’n gelukkige lewe daarna word geskep. Die avontuur (meestal die historiese avontuur) is hoofsaak in die verhaal, die didaktiese strekking is ’n belangrike bysaak en die sielkundige motivering vir die karakters se optrede speel ’n baie geringe of merendeels glad geen rol nie.Esaach: http://www.esaach.org.za/index.php?title=Van_Oordt,_Johan_Frederik
Prosa Die eerste van sy kreatiewe werke wat in druk verskyn is Kaapsche stories, wat ’n versameling is van vier verhale (Hoe neef Piet zijn predikant rond reed, Het testament van Oom Piet, De drankduivel en De Schoolmeester) wat hoofsaaklik voorheen in Ons Tijdschrift verskyn het. Dit is nog verhale in die bloot grappige of moralistiese trant, met weinig letterkundige waarde. Meer as twintig jaar later word weer kortverhale van hom gebundel in Losse klippe, zes Zuid-Afrikaanse Verhalen, wat twee verhale uit die tydperk 1897-98 uit Ons Tijdschrift insluit, naamlik Hoe ik een dief vang en ’n Malmesburyse spookstorie, saam met vier ander wat in Die Brandwag gepubliseer is. In hierdie bundel is Ongeluksnek die beste verhaal. Die broers Jan en Piet Botha raak beide verlief op die buurdogter, Susie Fouché. Albei is vasbeslote om haar hand te wen en in ’n geveg in die berge val beide oor die afgrond en sterf. Die kortverhale Tom Taylor en De Wraak verskyn ook in Ons Tijdschrift in die tydperk 1898–99. Een waagstuk verskyn in 1915 in die Kersnommer van Die Burger, waar dit ’n derde prys behaal in die kompetisie deur hierdie koerant uitgeskryf. Dit is die verhaal van ’n waagstuk van die Boereverkenner Danie Theron.
Sy historiese romans skryf hy in Nederlands, met Afrikaanse dialoog. Weens die gewildheid daarvan word meeste later deur veral P.C. Schoonees maar ook andere, insluitende Esther Kritzinger, in sy geheel in Afrikaans verwerk. Die voorloper van die eerste roman uit sy pen, David Malan, verskyn aanvanklik in 1896 as vervolgverhaal in agt dele onder die titel Mimi de Wet in Ons Tijdschrift en die positiewe terugvoer veroorsaak dat hy dit grondig verwerk en as roman uitgee. Dit is ’n roman uit die geskiedenis van die Voortrekkers, waarin die liefdesverhaal van David Malan en Martjie Joubert as raamwerk gebruik word om die geskiedenis van die Voortrekkers onder Piet Retief te skets. Behalwe Piet Retief word die leser voorgestel aan Gerrit Maritz, Hendrik Potgieter, Pieter Uys, Sarel Cilliers en eerwaarde Daniel Lindley, asook die Basoetoeleiers Sikonjella en Moshesh, met wie hulle in die Vrystaat te doene kry. Daarna volg die verhaal die trek na Natal, waar die Zoeloes se geskiedenis en agtergrond geskets word, gevolg deur die bekende geskiedenis van die moord op Retief en sy manskappe en die daaropvolgende aanvalle op die niksvermoedende Trekkerlaers. In hierdie onstuimige tyd trou David en Martjie. Pieter Uys en Hendrik Potgieter kom die trekkers te hulp en in die strafekspedisie teen Dingaan (waarin Pieter Uys en sy seun Dirkie omkom) word David Malan noodlottig gewond. Die vervolg hierop is Tusschen berg en zee, wat die verhaal vertel van die stryd van die Voortrekkers in Natal van 1838 af tot 1841. Dit is ’n suiwer historiese verhaal wat nie die raamwerk van ’n liefdesverhaal gebruik nie, waarskynlik omdat die historiese gebeure self so ontroerend is dat dit nie optooisel nodig het nie. Dit begin by die beskrywing van die dood van Retief, die Zoeloe-aanval op die laers by Blaauwkrans en Weenen, die koms van Andries Pretorius en die Slag van Bloedrivier, wat in besonderhede beskryf word, insluitende die gelofte voor die veldslag. Voor land en volk vervolg op Tusschen berg en zee en vertel die verhaal van die laaste elf jaar van die lewe van Andries Pretorius, met Natal wat van die Boere afgeneem word deur die Engelse, waarna ’n menigte na die suidelike Transvaal is en ander hulle in die Vrystaat vestig. Sir Harry Smith annekseer die Vrystaat en bring hulle weer onder Engelse bewind, waarna Pretorius probeer om die vryheid weer te herwin maar by die Slag van Boomplaats verslaan word. Teen hierdie agtergrond word die liefdesverhaal (en eindelike huwelik) vertel van die dapper adjudant van Pretorius, Jan Rudolf, en Mita Prinsloo, bekend uit die geskiedenis as een van die meisies wat by die aanval op die Voortrekkerlaer by Moordspruit swaar gewond is maar later herstel het.