Piet van Rooyen is ’n Afrikaanse skrywer en digter.

Lewe en werk Petrus Hendrik van Rooyen is op 17 Julie 1953 op Vryheid in Natal gebore as die oudste kind. Hy het drie broers en ’n suster. Sy pa was ’n dominee in die N.G. Kerk op die naby geleë Louwsburg en sy ma ’n tuisteskepper. Op driejarige ouderdom verhuis hulle na Bredasdorp en daarna na Senekal in die Vrystaat, waar hy sy laerskooljare aan die Volkskool Senekal voltooi. Hy begin sy hoërskoolopleiding aan die Volkskool Senekal en matrikuleer in 1971 in Namibië aan die Windhoek Hoërskool. Sy pa word hier moderator van die NG Kerk in Namibië. Ná skool verrig hy in 1972 sy militêre diensplig aan die Leërgimnasium in Heidelberg in Transvaal, waarna hy as infanterie-offisier na Walvisbaai uitgeplaas word en ook op die grens by Katima Mulilo in die Caprivi diens doen. Vanaf 1973 studeer hy verder aan die Universiteit van Stellenbosch met Volkekunde, Afrikastudie, Bantoereg en Bantoe-administrasie as hoofvakke. In 1975 behaal hy sy B.A.-graad met lof. In 1976 behaal hy twee B.A. Honneurs-grade, een in Ontwikkelingsbestuur met lof en een in Ekonomiese Antropologie en Stedelike Antropologie. In 1977 behaal hy sy M.A.-graad ná veldwerk in die Okavango, Namibië met ’n verhandeling getiteld “Die inheemse reg van die Kavango”. Hy is in 1978 tydelike dosent in Ontwikkelingsbestuur aan die Universiteit van Stellenbosch en aanvaar daarna in 1979 ’n pos as arbeidsverhoudingsbeampte by die maatskappy Richards Bay Minerals noord van Richardsbaai. In 1981 gee hy Wetenskap aan die Hoërskool Richardsbaai en keer daarna terug na die Universiteit van Stellenbosch as dosent in Ontwikkelings-administrasie vanaf 1982 tot 1989. Intussen voltooi hy in 1983 sy D.Phil.-graad in Arbeidsverhoudinge met ’n proefskrif getiteld “Zuluwerkers in ’n Noord-Natalse nywerheidsonderneming – bedinging, die dissiplinêre kode en grieweprosedure en die hantering van nywerheidsverhoudingsprobleme”. In 2002 ontvang hy ’n tweede M.A.-graad van die Universiteit van Namibië vir sy verhandeling oor “Doc Immelman in die Namibies-Afrikaanse literatuur”.

Hy verhuis in 1989 na Namibië, waar hy op sy huurplasie net buite Gobabis met beeste, volstruise en ’n klein stoet Arabierperde boer. Vanaf 1990 tot 1991 werk hy by die Nyae-Nyae San-stigting naby Tsumkwe, waar hy saam met die San jag, leef en spoorsny en hulle meer oor beesboerdery leer. Hier word hy dan ook blootgestel aan die San-kultuur en ontmoet hy die filosoof, draadspanner en mensejagter Paul Chapman. Uit persoonlike gesprekke met hom neem boeke soos “Die spoorsnyer” en “Die olifantjagters” vorm aan, terwyl “Agter ’n eland aan” ’n outobiografiese roman is wat sy persoonlike ervarings onder die San dokumenteer. In 1992 word hy Besturende Direkteur van KANAB Enterprises en later word hy dosent en eindelik Professor in Politieke Wetenskap aan die Universiteit van Namibië. Sy sabbatsjaar bring hy in 2002 in Dunedin in Nieu-Seeland deur. Hy lewer in 1999 die C.J. Langenhoven Gedenklesing aan die Universiteit van Port Elizabeth onder die titel “Bemoeienis met die Ander: Boerskrywer en Boesman”. As sportman behaal hy Namibiese nasionale kleure in visskiet en perde-uithouritte. Hy is getroud met Annalie Schoombie en die egpaar het ’n seun en ’n dogter.

In 1999 lewer hy die lesing “Recent developments in the South African economy” by die Somerskool van die Universiteit van Schmalkalden in Duitsland en in 2002 die lesing “Globalisation, inequality and conflict” by die University of Otago se Buitelandse Beleidskool in Dunedin in Nieu-Seeland. Verskeie kere word hy aangestel as konsultant op tegniese gebied en skryf so verskeie tegniese verslae, insluitende ondersoeke na die lewensvatbaarheid van Rundu, Katima Mulilo en Oshikango as uitvoerverwerkingsones in Namibië en ’n ondersoek na die Namibiese politieke stelsel.

Sryfwerk 

Poësie In standerd een in Senekal het hy ’n stem hoor sê dat hy eendag ’n skrywer gaan word. Op hoërskool begin hy ernstig dig en baie van sy skoolverse word opgeneem in sy eerste digbundel, “Draak op die erf”.Brink, André P. “Rapport” 30 Desember 1973 Die titel dui reeds aan dat die gedigte dit hoofsaaklik het oor die ongewone (ook skrikwekkende) wat in die alledaagse gevind kan word. Van die verse kan getipeer word as liedjies in die tradisie van Boerneef en Van Wyk Louw se “Klipwerk”, maar hoewel dit in hulle speelsheid en aardsheid sterk verse in eie reg is, mis dit die diepgang en virtuositeit van Boerneef en Louw. “Rondom ’n boorvuur”Britz, E.C. “Die Burger” 26 Januarie 1984 sluit weer ’n dosyn van die beste kort verse uit sy eerste bundel in.Cloete, T.T. “Tydskrif vir Letterkunde” Jaargang 22 no. 4, November 1984 Hierdie bundel bevat eenvoudige maar suiwer verse waarin die lewe van verskeie diere (soos ’n volstruis, luislang, jakkals en wolf) op mitologiese en sielkundige wyse in verband gebring word met die lewens van meestal primitiewe sprekers, waardeur die lewensbeginsels van liefde, dapperheid, vrees, pyn, boosheid, geboorte en dood in perspektief gestel word. Daar is ook liefdesgedigte en gedigte oor jeugherinneringe. “Goedsmoeds”Cloete, T.T. “Beeld” 1 April 2002 bevat Namibiese gedigte, waarin staaltjies, jeugherinneringe en die milieu en sy eiesoortige diere en mense op liriese wyse vergestalt word. Die gedigte is bedrieglik eenvoudig en pretensieloos, maar die titel moet nie letterlik opgeneem word as sou dit nie ernstige digkuns wees nie.Pieterse, H.J. “Insig” Maart 2003 Daarvoor sorg die trefkrag van teenstellings (soos byvoorbeeld in “Oorlog”), die groot erns en wysheid wat verskuil word in gedigte oor die alledaagse en die treffende gebruik van die surrealistiese en makabere. “Kwansuis” se titel dui daarop dat sintuiglik waarneembare elemente soos die aarde,Cochrane, Neil “Beeld” 27 Oktober 2008 see en diereryk, nie volkome verstaan kan word deur uitsluitlik van logiese en wetenskaplike metodes gebruik te maak nie. Die bundel word in vier afdelings verdeel, naamlik “swemmers”, “spene van die aarde”, “ek en jy” en “die dood stoot oral sy hopies”. In die eerste afdeling oorheers die motief van water, wat aan herinneringe gekoppel word en telkens word daar verwys na die relatiewe aard van tyd, ouderdom en geheue. Die gedig “visjagters” fokus op die dierlike en primitiewe aard van die mens en veral die man. Die tweede afdeling behandel die verhouding tussen mens en die natuur, waar die natuur as ryk verwysingsbron vir die mens se insig dien. Die vernielsugtige aard van die mens wat die natuur vir sy eie selfsug wil orden, word ook ondersoek. Soos die titel van die derde afdeling (“ek en jy”) aandui, bestaan die afdeling uit liefdesgedigte, waarin veral die onvolledigheid en onbereikbaarheid van die liefde uitgelig word. Die laaste afdeling beskou verganklikheid, waar die tydelike teenoor die ewige gestel word en gefokus word op die onafwendbaarheid van die dood. “Reisiger te perd”Hambidge, Joan “Beeld” 5 Mei 2014: http://joanhambidge.blogspot.co.za/2014/05/piet-van-rooyen-reisiger-te-perd-2014.html se titel dui reeds aan dat die mens en die perd en hulle verhouding die tema van hierdie gedigte is.Smith, Susan LitNet: http://www.litnet.co.za/biebouw-resensie-reisiger-te-perd-deur-piet-van-rooyen/ Agterin die bundel is ’n bronnelys van tekste in Engels wat as aanknopingspunt vir die gedigte gedien het.Republikein: http://www.republikein.com.na/byvoegsels/piet-van-rooyen-se-reisiger-te-perd.220802 Die skrywers is groot figure in die wêreld se letterkunde soos Voltaire, Leo Tolstoi, Joseph Conrad en Franz Kafka. Die gedigte bied portrette van tydperke en kulture waarin die perd aktief was.Marais, Johann Lodewyk “Rapport” 23 Maart 2014 Hoogtepunte is  “Gevaar” (na Jack London), oor ’n soldaat en sy perd wat in versengende hitte gevaar tegemoet ry; “Bedot oor die perde” (na Ernest Hemingway) oor ’n kind se ervarings by ’n resiesbaan; en “Kavallerie” (na Stefan Zweig) met sy besinning oor die aard van syn. “Troika” (na Leo Tolstoi) beskryf die uitbundigheid van die lewensreis, wat dan uiteindelik by die poorte van die hel eindig. Die digter slaag daarin om die basisdokumente so te herinterpreteer dat die gedigte werklike nuwe skeppings word, telkens met ’n nuwe wending of toepassing. Van sy gedigte word in verskeie versamelbundels opgeneem, insluitende “Groot verseboek”, “Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte” en “Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte”. Hy publiseer ook gedigte in onder andere Tydskrif vir Letterkunde.

Prosa In sy San-romans beskryf hy die moderne mens se verlies van sy natuurlike en paradyslike bestaan (as’t ware ’n deel en dimensie van die self), met die beeld van die San en sy gebondenheid aan die natuur wat help om hierdie verlore self weer te vind. Daar is ook sterk elemente van die avontuurverhaal in hierdie werke te bespeur. Die eerste van hierdie werke is “Die spoorsnyer”,Cilliers, Cecile “Insig” November 1994 wat in 1994 die Tafelberg/De Kat/Sanlamprys en in 1995 die C.N.A. Debuut-prys verower. Die gebeure in die boek is gegrond op die lewensverhaal van die San-spoorsnyer Paul Chapman. In die ou dae het die boere in Gobabis se wêreld gereeld na Boesmanland gekom om van die San gevange te neem, wat hulle dan as arbeiders op hulle plase gebruik het. So is Paul se oupa en pa van beeste geleer en word hy self op die plaas groot. Paul is egter nie net ’n gewone spoorsnyer van wild nie en word ook gebruik om mense op te spoor, veediewe en drosters, hoofsaaklik mede-San. Die wit polisiesersant en die skrywer vergesel hom deur die feitlik waterlose woestyn op een so ’n tog agter ’n groepie van sy eie mense aan, waar die kollig val op die mens Chapman, sy lewensverhaal en filosofieë en die San-tradisies en religieuse rites.Crafford, Albert “Rapport” 20 November 1994 Die vraag word gevra of Paul ’n verraaier van sy mense is, deur juis saam te werk met diegene wat die San groot skade aangedoen het. Belangrik egter is die begrip van die lewensuitkyk van die San, waar skuld buite die mens lê, wat dan ook Paul se gebrek aan skuldgevoelens verklaar. Die volkekundige inligting wat deurgegee word is baie interessant, maar die talle onderbrekings in die verhaalverloop veroorsaak tog dat die sentrale verhaal van die agtervolging soms momentum verloor. Die tragiese einde van die roman is simbolies van die onherroeplike verlies van ’n volk en sy lewenswyse. Wanneer die gifpyl van die sjamaan vir Paul tref, is dit nie net hy wat gedoem is nie, maar ook die wit karakters wat nie voldoende kennis van die natuur en die San-metodes het om in hierdie omgewing te oorleef nie.Kannemeyer, J.C. “Op weg na 2000” Tafelberg-Uitgewers Beperk Eerste uitgawe 1998

“Agter ’n eland aan” is ’n outobiografiese roman gebaseer op die persoonlike joernaal wat die skrywer gehou het in sy tyd by die Sanstigting in Boesmanland. Hierdie teks karteer sy herontdekking van Namibië en veral sy nadere kennismaking met die San, hulle tradisies, morele verval onder wit regeringsbeheer en uitsiglose toekoms.