Lenie Boshoff-Liebenberg (6 Maart 1879, Klerksdorp – 11 Augustus 1954, Johannesburg) was die Afrikaanse skrywer van een van die eerste dagboeke oor die Anglo-Boereoorlog.
Lewe en werk Anna Magdalena Liebenberg is op 6 Maart 1879 op Klerksdorp gebore as een van ’n tweeling. Haar tweelingsuster se naam is Katie. Op 5 Desember 1905 trou sy op Potchefstroom met die onderwyser Johannes Jacobus Boshoff, wat in 1944 oorlede is. Hulle het drie seuns. Sy is een van die stigters van die Vrouetak van die Nasionale Party en dien oor baie jare in die besture van die Vrouefederasie en die Vrouesendingbond. Sy is op 11 Augustus 1954 in Johannesburg oorlede.
Skryfwerk Die eerste Afrikaanse oorlogsdagboek, “Moedersmart en kinderleed” (met ’n voorwoord deur Jan F.E. Celliers), verskyn uit haar pen. Dit verhaal in die eerste deel haar ervaringe oor ’n tydperk van agtien maande in die konsentrasiekampe van Howick en Klerksdorp. Die lydingsgeskiedenis van die konsentrasiekampe is goed bekend, maar hierdie boek is nogtans van groot waarde weens die persoonlike perspektief wat dit bied. Die tweede deel van die boek bevat herinneringe uit die Anglo-Boereoorlog, met onder andere die verhaal van ’n huisgesin verwoes deur drank, wat minder geslaagd is. Onder die skrywersnaam Liebenhof is sy later medewerker aan etlike Afrikaanse tydskrifte.
Publikasie 1921 Moedersmart en kinderleed
Verwysings
Boeke Antonissen, Rob “Die Afrikaanse letterkunde van aanvang tot hede” Nasou Beperk Derde hersiene uitgawe Tweede druk 1964 Dekker, G. “Afrikaanse Literatuurgeskiedenis” Nasou Beperk Kaapstad Elfde druk 1970 Kannemeyer, J.C. “Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 1” Academica, Pretoria en Kaapstad Tweede druk 1984 Nienaber, P.J.; Senekal, J.H en Bothma, T.C. “Mylpale in die geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde” Afrikaanse Pers-Boekhandel Tweede hersiene uitgawe 1963 Nienaber, P.J. et al “Perspektief en Profiel” Afrikaanse Pers-Boekhandel Johannesburg Derde hersiene uitgawe 1969 Schoonees, P.C. “Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging” J.H. de Bussy, Pretoria / Hollandsch-Afrikaansche Uitgevers Maatschappij v/h J. Dusseau & Co, Kaapstad 1939 (derde druk) Van Coller, H.P. (red.) “Perspektief en Profiel Deel I” J.L. van Schaik-Uitgewers Pretoria Eerste uitgawe 1998 Van Coller, H.P. (red.) “Perspektief en Profiel Deel 2” J.L. van Schaik-Uitgewers Pretoria Eerste uitgawe 1999
Kategorie:Afrikaanse skrywers Kategorie:Afrikaners Kategorie:Geboortes in 1879 Kategorie:Sterftes in 1954