Casparus Johannes Adam Vos beter bekend as Cas Vos is ’n Afrikaanse digter, teoloog en akademikus en professor in Teologie aan die Universiteit van Pretoria.

Lewe en werk Cas Vos is op 15 Mei 1945 in Rustenburg gebore as die oudste van vyf kinders van Willem Albertus Vos en Johanna Hendrina Botha. Sy ouers boer in Brits en Marikana en trek later na Pretoria, waar sy pa by die Spoorweg werk en later sy eie vervoerbesigheid besit. In 1979 is sy ma oorlede en in 1986 sy pa. Cas begin sy skoolopleiding in 1952 by die Laerskool De Kroon in Brits, maar is nie lank hier voordat hulle Pretoria toe trek nie. Hier gaan hy skool aan die Laerskool Andries Pretorius en matrikuleer dan aan die Hoërskool Tuine, waar hy die dux-leerling is. In standerd agt wen hy die voordragwedstryd vir al die skole in Pretoria en ontvang hiervoor ’n vergulde sertifikaat. In dieselfde jaar ontmoet hy sy aanstaande vrou, Lida Steenkamp, by ’n troue. Na skool studeer hy verder aan die Universiteit van Pretoria en voltooi in 1966 sy B.A.-graad in die Wysbegeerte en in 1969 die Diploma in Teologie, beide met lof. In 1970 slaag hy sy proponentseksamen ook met lof. Hy word aangestel as predikant in die Nederduits Gereformeerde Kerk en bedien drie gemeentes, naamlik Riebeeckpark in Kemptonpark vanaf 1971 tot 1974, Krokodilrivier in Brits vanaf 1974 tot 1982 en Suidoos-Pretoria vanaf 1982 tot 1988. Intussen studeer hy verder en slaag in 1978 sy doktorale studies met lof, waarna hy in 1984 met lof promoveer aan die Universiteit van Pretoria in die Dogmatiek onder leiding van professor Johan Heyns. Sy proefskrif is “Die Heilige Gees as kosmies-eskatologiese gawe. ’n Eksegeties-dogmatiese studie”. Vanaf 1979 het hy diabetes, maar beheer dit met insulien.

In 1989 verlaat hy die bediening en word hy aangestel as medeprofessor in Praktiese Teologie aan die Universiteit van Pretoria en hy word vanaf 1992 volle professor. Hy lewer op 14 Februarie 1991 sy intreerede onder die titel “’n Vlammende lied: Metateoretiese en prakties-teologiese grondslae van die homiletiek”. Vanaf 1 Januarie 2000 is hy Dekaan van die Fakulteit Teologie en hy beklee hierdie pos tot 28 Februarie 2010, waarna hy aan die einde van Junie 2010 aftree. Hy dien vanaf 1986 in die Psalmberymingskommissie wat die “Nuwe Liedboek van die Kerk” moet versorg en is ondervoorsitter vanaf 1989 tot 2000. Vanaf 1995 tot 2000 is hy voorsitter van die Gesangekommissie en hy skryf self vyftien nuwe liedtekste. Vanaf 2004 tot 2006 is hy president van die Societas Homiletica Internasionaal, ’n organisasie vir die preekkunde. Op akademiese terrein is hy lid van die dogmatologiese werkgemeenskap, die werkgemeenskap van praktiese teologie in Suid-Afrika en die Arbeidsgemeinschaft fur Homiletik. Hy is voorsitter van die homiletiese werkgroep in Pretoria en dien op die redaksie van Praktiese Teologie in Suid-Afrika en Skrif en Kerk. Verder is hy lid van die kernredaksie van die handboekreeks vir praktiese teologie. Hy dien ook op verskeie kommissies van die Sinode van Noord- en Oos-Transvaal en die Algemene Sinode.

By verskeie geleenthede tree hy in die openbaar op waar hy van sy verse voorlees, soos by die UP-Boekjol in Pretoria en die Versindaba in Stellenbosch. Meermale neem hy ook deel aan radioprogramme, veral oor die teologie. Na die verskyning van sy boek “Theopoetry of the Psalms” word hy uitgenooi om lesings te gee by ’n Koreaanse seminarium in Los Angeles in die Verenigde State van Amerika. Dit lei tot die vertaling van hierdie boek in Koreaans, terwyl daar selfs van sy gedigte in Koreaans vertaal is. Hy is in 1969 getroud met Lida Steenkamp en hulle het twee seuns, Stefan (gebore in 1972) en Johan (gebore in 1974).

Skryfwerk

Poësie Reeds in 1984 en gereeld daarna word van sy gedigte in Tydskrif vir Letterkunde gepubliseer. Sy digbundels word almal geskryf vanuit die perspektief van die “la joie de vivre” of die vreugde van die lewe. Hierdie lewensvreugde vind uiting op ’n aantal vlakke, ook in die geestelike, en die vreugde is ook ’n kernbestanddeel van die liefde. Dwarsdeur sy bundels word die impak ondersoek van hierdie lewensvreugde op positiewe aspekte (liefde, verhoudings) asook negatiewe aspekte (pyn, siekte, verlies en dood). Sy bundels spreek van ’n wye verwysingsregister en ’n opgewondenheid oor die skeppingsproses. Die verwikkelde verhouding tussen God en mens vorm deurgaans die sentrale tema.

Sy debuut, “Vuurtong”,Grové, A.P. “Beeld” 5 Julie 1999 is inleidend tot hierdie tematiek in sy oeuvre. Die titel verwys na die uitstorting van die Heilige Gees op die mens en is simbool van liefde, maar dui ook op vernietiging, ’n vuur wat homself uitbrand en sensuele liefde. Ook die liefdesverse het ’n skepping- en herskeppingstema, met die dood wat sentraal staan in verskeie van die afdelings, veral die laaste. Deur liefde en die religieuse motiewe wat met die lewe skakel word dit dan ’n bundel wat die lewensreis van mense tot by die dood aanspreek. Die bundel het ses afdelings, wat in sommige opsigte skerp van mekaar verskil maar tog in die tema van die lewensreis by mekaar aansluit. Die eerste afdeling bevat gedigte soortgelyk aan “Hooglied van Salomo” in die Bybel, wat liefde tussen man en vrou uitbeeld. Gedigte oor skilderye van Vincent van Gogh is in afdeling twee, terwyl in afdeling drie die geestelike wêreld met die aardse gekontrasteer word. Die vierde afdeling behandel die broosheid van die mens in gedigte oor siekte, operasie en dood, terwyl die vyfde afdeling persoonlike gedigte oor die familie en self bevat. Die laaste afdeling neem die lewensloop in lewensdoel onder hande. Hierdie bundel is op die kortlys vir die Ingrid Jonker-prys.

“Gode van papier”Grové, A.P. “Beeld” 30 Julie 2001 onthul die voete van klei van verskeie gode, soos die voorsorggod van die aandelebeurs, die sportgod, die seksgod en die gesondheidsgod. Verlies is ’n deurlopende tema in hierdie bundel, waarin die eerste afdeling (“Gode van papier”) oor gode handel en die tweede (“l’amour restera toujours” – die liefde sal altyd bly) liefdesgedigte en ’n paar erotiese verse bevat. Die derde afdeling (“Beeldwoorde”) bevat gedigte oor spesifieke figure, onder andere Dracula, Lorca, John Lennon en Mozart. Die slotafdeling se titel is “La tristesse durera toujours” (wat beteken “die hartseer duur vir altyd”) en die gedigte oor liggaamlike aftakeling, siekte en sterwensnood is dus hier in ’n somber toon. Die bundel bevat ook verklarings van minder bekende begrippe.

“Enkeldiep”Blumer, Arnold “Die Burger” 17 November 2003 neem die leser op ’n beeldryke verkenning van die mens se weerloosheid en hoe hy homself in die moeilikheid gebring het, ten spyte van die volheid en rykdom van God se skepping. Die titel kan gesien word as die mens wat enkeldiep in die moeilikheid staan, op soek na sin.Olivier, Fanie “Beeld” 5 Januarie 2004 In die gedig “Achilleshiel” word dit verklaar as die skynbaar onaantasbare mens wat op sy kwesbaarste punt getref word. Die bundel ontgin die kosmiese perspektief van die vier elemente (aarde, water, lug en vuur) en behandel meer van die pyn binne die mens as die mens self. Die verse word in vyf afdelings verdeel, met “Vrugwater” wat aandag skenk aan die mens se eie skeppingsproses. ’n Hele afdeling word aan siekte en aftakeling gewy en die liefdesverse is minder eroties as in sy vorige bundels. Die afdeling “Doodtevrede” behandel die sterflikheid en verganklikheid van die mens, terwyl “Die laaste dans” verse bevat waarin die swaar van die aardse lewe uitgebeeld word. Deurlopende motiewe soos wind en hart kom dwarsdeur die bundel voor, terwyl die eerste vier afdelings onderskeidelik eindig met die verse “Aarde”, “Maan”, “Son” en “Sterre”, wat aan die bundel ’n afgeronde geheel besorg.

In teenstelling met sy eerste bundels verskyn die gode in “Die afdruk van ons hande”Cloete, T.T. “Beeld” 1 Oktober 2007 in vreemde gestaltes. Een van die stemme wat saampraat is dié van stilte, ’n stem uit die niet wat terugkeer na die niet. Deur die verse loop ’n sterk sensualiteit en ’n boeiende aktualiteit, ook betreffende die Afrika-werklikheid.Odendaal, Bernard “Tydskrif vir Letterkunde” Jaargang 45 no. 2, Lente 2008 Die verhouding tussen mens en God staan weereens sentraal, waar die aspekte van hierdie verhouding die volle spektrum van aanvaarding, liefde, opstand en teëspraak dek. Deurentyd word gewerk met die paradokse wat die lewe voortbring, waar liefde nie sonder pyn is nie en die lewe vol dood, godsdienstige ontnugtering en verval is. In beklemtoning van die titel speel die hand en vingers as simbool ’n groot rol in die bundel. ’n Hoogtepunt is die reeks “Uruk-fragmente”, ’n digterlike herskepping van die klassieke Gilgamesj-epos, wat beskou word as een van die belangrikste oertekste in die wêreldletterkunde. Hierdie epos is in die elfde eeu voor Christus deur Sin-lege-unninni op twaalf kleitablette in die biblioteek van Ninevé neergeskryf en word later nagevolg deur die digters van die “Odusseia”, die “Bhagvad Gita”, die “Aeneas” en die “Beowulf”. In Vos se omdigting daarvan word die liriese aspekte voortdurend deur die epiese gebalanseer. Hoewel die oorspronklike epos primêr gerig is op die avonture van die epiese held, kan dit op dieper vlak gelees word as ’n lewensiklus met sy geveg om lewe en dood en soeke na onsterflikheid. Die bundel word in vier ongetitelde afdelings verdeel. Die eerste staan in die teken van die teenstellings van beproewing en lyding enersyds en die moontlikhede van verlossing en begenadiging andersyds. Die tweede sentreer rondom die liefde en magiese en goddelike kragte wat die onvolkomenheid van die aardse kragte aanvul en oortref, terwyl die derde afdeling gebaseer is op antieke Griekse mitologiese vertellings en die laaste afdeling elf van die twaalf verhale van die Sumeriese Gilgamesj-epos bevat. Agter in die bundel word ’n kort agtergrond tot hierdie epos verskaf om dit meer toeganklik te maak vir die leser.

Die titel van “Intieme afwesige”Hugo, Daniel “Beeld” 7 Desember 2009 vat die veelvuldige paradokse wat inherent aan die Christelike godsdiens en die digkuns is, mooi saam. Die bundel bevat veral liefdesverse, met die liefdesgeskiedenis van Abélard en Héloïse wat met twintig gedigte sentraal in die bundel staan en die titel komplementeer. Abélard word deur Héloïse se oom gekastreer en hulle wend hulle noodgedwonge na kloosters, vanwaar hulle liefdesbriewe aan mekaar skryf. Hulle seun, Astralabe, word sonder hulle groot en word dan die “intieme verlatene”, terwyl sy ouers vir hom die “intieme afwesiges” is. Die bundel bevat ook verskeie gedigte oor die kuns en kunstenaars (Van Gogh, Michelangelo, Marlene Dumas en ander) en musiek (Bach, Katie Melua, Edith Piaf en ander), terwyl daar ook gedigte is oor die digkuns self. Leon de Kock vertaal die Abélard en Héloïse siklus in Engels en dit word uitgegee as “Intimately absent”. De Kock vertaal ook ’n keur van sy reeds gepubliseerde gedigte in Engels, wat dan met ’n inleiding deur Johann de Lange uitgegee word as “Duskant die donker / Before it darkens”,Cloete, T.T. “Beeld” 23 Mei 2011 waar die oorspronklike Afrikaanse gedig en Engelse vertaling telkens naas mekaar afgedruk is. Vir hierdie vertaling verower De Kock in 2011 die Sala-prys vir literêre vertalings.Taljard, Marlies “Rapport” 27 Maart 2011

“Weerloos lewe”Pieterse, Henning “Beeld” 9 Julie 2012 se titel word ontleen aan die bundelmotto van Lucebert, “Alles van waarde is weerloos” en feitlik alle gedigte sluit aan by hierdie motto. Die tematiek sluit aan by sy vorige digbundels, soos skeppingsverhale; die aard van die mens en menswees, wat die vraagstuk van skuld insluit; offers en skulddelging; verwerkings van mites (in hierdie bundel is dit “Die Ilias” en “Die Odusseia” van Homeros); liefdesgedigte en gedigte oor kunstenaars. Die bundel word in agt afdelings verdeel. Die temas word toenemend abstrak sodat die bundel afsluit met kunsbeskoulike en spirituele gedigte.Taljard, Marlies “Rapport” 1 April 2012