Montreux 280px Kaart Wapen 180px|senter 75px|senter Vlag 90px|border|senter Land Kanton 15px Vaud/Waadt Distrik Riviera-Pays-d'Enhaut Koördinate Stigting 3de eeu Oppervlakte: - Totaal 33,40 vk km Hoogte bo seevlak 390 m Bevolking: - Totaal (31 Desember 2014) 26 072 - Bevolkingsdigtheid 780,6/vk km Tydsone UTC +1 (MET) - Somertyd UTC +2 (MEST) Stadspresident (syndic) Olivier Gfeller (SPS/PSS) Amptelike webwerf Montreux
Montreux is die derde grootste stad van die Franssprekende Switserse kanton Vaud (Duits: Waadt) met 26 072 inwoners (soos op 31 Desember 2014). Dit is aan die oostelike oewer van die Meer van Genève (Frans: Lac Léman) in 'n beskermde baai geleë. Administratief maak dit deel uit van die distrik Riviera-Pays-d'Enhaut.
duimnael|links|Passasiers van die museumtreindiens tussen Blonay en Chamby geniet hierdie uitsig oor Montreux en die Meer van Genève Danksy sy ligging tussen die Meer van Genève, berghange met wingerde en bergpieke op hoogtes van meer as 2 000 meter bo seevlak het Montreux 'n baie gematigde mediterreense mikroklimaat met subtropiese flora langs die oewerpromenade wat die stad met Vevey en die kasteel Chillon verbind. Hier word 'n verskeidenheid historiese geboue uit die Belle Époque aangetref, waaronder die befaamde Fairmont Le Montreux Palace-hotel.
Die stad is vandag een van die belangrikste toeristebestemmings van Switserland en met sy Montreux Jazz Festival ook 'n internasionale ontmoetplek van die musiekbedryf. Montreux se musikale tradisies strek verder terug. Vanaf 1911 het die Pools-Russiese komponis Igor Strawinski hier in sy huis in die noordwestelike voorstad Clarens die grootste deel van sy befaamde ballet- en orkesstuk Le Sacre du printemps geskryf. Die plaaslike konsertsaal Auditorium Stravinski is na die beroemde komponis vernoem.
Baie ander bekende persoonlikhede het aangetrokke gevoel tot die buitengewone klimaat en natuurskoon van die Meer van Genève en in Clarens gebly: die Russiese rewolusionêr en anargis Michail Bakoenin, die Duitse komponis Richard Wagner en die Russiese komponis Pjotr Tsjaikofski wat hier sy 4de simfonie voltooi het. Een van die bekendste sprokies van die Deense skrywer Hans Christian Andersen, Sneedronningen ("Die Sneeukoningin"), het in 1861 in Montreux ontstaan. Die Oostenrykse argitek en invloedryke baanbreker vir moderne argitektuur, Adolf Loos, het tussen 1904 en 1906 in Clarens sy eerste projek, Villa Karma, ontwerp en gebou. Anthony J. Lambert: Switzerland: Rail, Road, Lake. Third edition August 2005. Chalfont St Peter: Bradt Travel Guides 2005, bl. 291
Montreux het daarnaas 'n historiese verbintenis met Suid-Afrika. In Clarens lê die huis waar Paul Kruger, die President van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR), op 14 Julie 1904 in selfopgelegde ballingskap oorlede is en wat tans as Krugerhuis bekend staan.
Etimologie Die naam "Montreux" is ontleen aan 'n klein 11de-eeuse klooster (Latyn: monasteriolum) op die terrein en het vervolgens ontwikkel in Mustruel (Frans), Muchtern (Duits, 1215), Muistruum (Latyn, 1228), Monstruacum (Latyn), Mustruz (Frans) en Moutru (Frans).
Geografie duimnael|Montreux is aan die oostelike oewer van die Meer van Genève geleë Montreux lê 390 meter bo seevlak aan die voet van die Vaud-Alpe aan die oostelike oewer van die Meer van Genève op alluviale afsettings van die bergstroompies Baye de Montreux en Baye de Clarens en teen die hellings van die Riviera van Vaud. Die oppervlak van Montreux is 33,4 vierkante kilometer, met 'n oewerlyn van 5,5 kilometer.
Die landskap in die noordwestelike stadsdeel Clarens word deur lae hellings gekenmerk, die res van die stadsgebied bestaan uit 'n smal strokie land langs die meer, waaraan steil berghange aansluit. Cubly is die hoogste bergpiek op 1 188 meter bo seevlak.
Klimaat
Geskiedenis Vroeë geskiedenis Oorblyfsels van die vroegste nedersettings, wat deur argeoloë naby Baugy opgegrawe is, dateer uit die laat Bronstydperk. Die Romeine het 'n heerweg tussen die Groot Sint-Bernard en Aventicum (die huidige Avanches) en Lausanne gebou, wat deur die huidige stadsgebied van Montreux geloop het. In Montreux is die fondament van 'n Romeinse villa ontdek, wat tussen die 2de en 4de eeu bewoon is. Ook 'n begraafplaas uit die Boergondiese tydperk is in Montreux opgegrawe.
Middeleeue duimnael|links|Die kasteel Château Chillon naby Montreux teen sononder duimnael|Kerkers en kettings: in Chillon is politieke andersdenkendes aangehou Gedurende die middeleeue was Montreux 'n besitting van die abdy Saint-Maurice in Valais/Wallis, wat later onder die heerskappy van die biskop van Sion gekom het. Die biskop het die eerste groot gemeente in Montreux gestig. Die naam Montreux verwys na hierdie historiese oorspronge en is afgelei van die Latynse monasterium ("klooster").
Vanaf die 9de eeu het die kasteel Chillon as setel van die grawe en hertoë van Savoje op 'n rotseiland in die Meer van Genève ontstaan om die handelsroete tussen Boergondië en Italië, wat oor die Groot Sint Bernard-bergpas geloop het, net soos die seevervoer op die Meer van Genève te beheer. Die kasteel, wat deesdae as die prototipe van 'n magtige en romantiese burg beskou word en onder die mees besoekte argitektoniese besienswaardighede in Switserland gereken word, is tot in die 13de eeu verskeie kere uitgebrei. Die kasteelkompleks bestaan uit 25 geboue en vyf binnehowe.
In 1295 het die gebied onder die heerskappy van Girard van Oron gekom. Die here van Oron het die suidelike gedeelte van Montreux (Les Planches en Veytaux) in 1317 aan die grawe van Savoie verkoop. Die noorde het 'n leengebied van Savoie geword, wat later as die gebied van Le Châtelard bekend gestaan het en deur 'n huwelik aan die La Sarraz-gesin oorgedra is.
Met die verowering van Vaud deur Bern in 1536 het albei gebiede 'n deel van die ampsgebied van Chillon gevorm, wat in 1735 na Vevey herdoop is. Ná die ontbinding van die ancien régime in die tydperk van die Franse Rewolusie en die stigting van die Helvetiese Republiek het Le Châtelard, Les Planches en Veytaux tussen 1798 en 1803 'n deel van die kanton Léman gevorm. Met die inwerkingtreding van die Mediasie-grondwet is Léman ontbind en het 'n deel van Vaud geword. Sedert 1798 maak die gebied deel uit van die distrik Vevey.
Montreux as deel van die Grand Tour duimnael|Montreux in die aandskemer Oorspronklik het Montreux se ekonomie op wynbou, akkerbou en veeteelt gebaseer. Die bergpasse Jaman en Chaude het die stad met die nabygeleë streek Pays-d'Enhaut verbind. Vanaf die 17de eeu is die padnetwerk in die gebied opgeknap en uitgebrei en het nuwe woonkwartiere langs die meeroewer en later ook in die hoër geleë nedersettings Caux en Les Avant ontstaan. Die groei in die toeristebedryf vanaf die 19de eeu het verdere verstedeliking bevorder. duimnael|links|Lord Byron het sy naam in die kerker van Chillon ingekerf In die tydperk tussen 1746 en 1751 het die kanton Bern sy padnetwerk uitgebrei en sodoende die infrastruktuur geskep waardeur Montreux een van die Switserse bestemmings van die Grand Tour geword het, die uitgebreide opvoedkundige en kulturele reis deur vastelandse Europa wat seuns uit adellike families vanaf die vroeë 18de eeu onderneem het. Van die bekendste reisigers, wat 'n besoek aan Montreux gebring en met hul literêre werke tot sy groeiende bekendheid bygedra het, was die filosoof Jean-Jacques Rousseau met sy roman Julie, ou La Nouvelle Héloïse wat in 1761 gepubliseer is, en die laat-Romantiese Britse digter en windmaker Lord Byron.
Byron het in 1816 onder meer 'n besoek aan die kasteel Chillon gebring en hier sy naam in die kolomme van die kerker gekerf waar François Bonivard (1493–1570), prior van die St-Victor-klooster te Genève, in 1530 as Geneefse patriot en vryheidsvegter teen die heerskappy van die hertog van Savoje in kettings gelê en in 1536 deur Bernse troepe bevry is toe hulle die kanton Vaud verower het. Die besoek het 'n blywende indruk by Byron gelaat en was die inspirasie vir die fabel The Prisoner of Chillon wat nog in dieselfde jaar gepubliseer is. Byron se beskrywing van die kasteel was geesdriftig genoeg om die belangstelling van Britse en vastelandse Europese adellikes te wek. Naas Rousseau en Byron het ook Alexandre Dumas en Mary Shelley in hul literêre werke na Chillon verwys, terwyl die skilders William Turner en Gustave Courbet sy silhoeët op doek verewig het.
Montreux as toeristetrekpleister duimnael|Grand Hôtel de Caux in die vroeë 20ste eeu Die plaaslike toerismebedryf kon voordeel trek uit Montreux se ligging langs die hoofpad na Italië en sy gematigde winterklimaat wat aan die stad die reputasie van 'n eersterangse hersteloord besorg het. Met die uitbou van die vervoerstelsel en die oprigting van 'n aantal hotelle, gastehuise en sanatoriums (vir pasiënte met longsiektes) het Montreux sedert 1850 'n ekonomiese bloeitydperk beleef. Die eerste groot kulturele feeste soos die Narsingfees, wat in die tydperk tussen 1897 en 1957 gevier is, het plaasgevind.
duimnael|links|Die middestad van Montreux Die bou van 'n spoorlyn oor die Simplon-bergpas en 'n hawehoof het die getal toeriste vanaf die tweede helfte van die 19de eeu vinnig laat toeneem. Die aantal hotelle in Montreux het tussen 1850 en 1900 van slegs agt tot sewentig gegroei. In bemarkingsveldtogte is romantiese verlangens na 'n verruklike natuurskoon tussen berge en meer gevoed. Vanaf 1890 is na die plaaslike oewerlandskap as Riviera verwys. Twee jaar later het die leidende Britse reisagentskap Thomas Cook 'n kantoor in Montreux geopen. Historisches Lexikon der Schweiz: Montreux. Besoek op 22 Julie 2015
Infrastruktuur en toeristefasiliteite is voortdurend uitgebou. So het die oewerpromenade tussen Chillon en Clarens ontstaan, is 'n tremlyn tussen Vevey en Villeneuve gebou (1888) asook kabelspore wat toeriste vanaf die meeroewer na die bergpieke geneem het. Die toerismebedryf het sy hoogtepunt omstreeks 1910 beleef.
Tydens die Eerste en Tweede Wêreldoorlog het die toerismebedryf in 'n krisis beland. In 1915 is hotelle gebruik om geïnterneerdes en vlugtelinge te huisves. Ook soldate, wat in die veldslagte van die Groot Oorlog slagoffers van gasaanvalle geword het, is hier behandel. Tydens albei wêreldoorloë is leegstaande hotelle geleidelik gesluit, later as woongeboue omgebou of ter wille van modernisering afgebreek.
Na-oorlogse tydperk duimnael|Die Amerikaanse minister van buitelandse sake, John Kerry, op pad na onderhandelinge met sy Iranse eweknie Javad Zarif duimnael|links|Die woonsteltoring Tour d'Ivoire in Territet Montreux het sy huidige internasionale bekendheid, net soos die na-oorlogse herlewing in die toerismebedryf, aan nuwe kulturele feeste soos die Septembre Musical (sedert 1946), die Fees van die Goue Roos (sedert 1954) en die jazzfees (vanaf 1967) te danke. Die Montreux Jazz Festival is in 1967 deur Claude Nobs, 'n medewerker van die plaaslike toeristekantoor, in die lewe geroep en vind tradisioneel in Junie en Julie plaas. Die musiekfees lok tans jaarliks sowat 200 000 musiekgeesdriftiges. In 1990 het Montreux vir die bewaring van die historiese 19de eeuse toerisme-infrastruktuur die Wakkerprys ontvang.
Maar ook talle nuwe geboue en geriewe het ontstaan soos die Tour d'Ivoire ("Ivoortoring"), 'n woonstelgebou met 29 verdiepings (1969), die kongressentrum met 'n konsertsaal wat na die komponis Igor Strawinski vernoem en in 1993 uitgebrei is) en die nuwe kasinogebou (1974). Vir die bou van die nuwe snelpad A9 is sowat die helfte van alle geboue in die dorp Pertit in die stadsdeel Châtelard gesloop.
Montreux het as gasheerstad vir 'n groot verskeidenheid internasionale konferensies opgetree, soos die Konferensie oor Seestrate in 1936, die onderhandelinge oor die toekoms van Siprus tussen die Griekse en Turkse gemeenskappe van dié eilandnasie, die beraad oor vrede in Sirië (2014) en die onderhandelinge oor Iran se kernprogram in 2015.
Bevolking