Fobos (Grieks: Φόβος; ook Mars I) is die grootste en naaste van die twee mane van die planeet Mars. Die ander maan is Deimos. Dit is genoem na Fobos, 'n seun van Ares (Mars) en Afrodite in die Griekse mitologie, wat "angs" of "paniek" beteken. Fobos se wentelbaan is die naaste aan sy planeet van enige ander maan in die Sonnestelsel, minder as 6 000 km bo die oppervlak van Mars. Dit is ook een van die kleinste mane in die sonnestelsel.

Ontdekking duimnael|links|150px|Die teleskoop wat gebruik is om Deimos en Fobos die eerste keer waar te neem.

Fobos is die eerste keer op 18 Augustus 1877 waargeneem deur die Amerikaanse sterrekundige Asaph Hall by die Amerikaanse Marinesterrewag in Washington, D.C..Observations of the Satellites of Mars Hall het ook Deimos, Mars se ander maan, ontdek. Die name is voorgestel deur Henry Madan (1838-1901), natuurwetenskapmeester by Eton, uit Boek XV van die Ilias, waar Ares sy twee seuns (Fobos en Deimos) oproep.Hall, Asaph; Names of the Satellites of Mars, Astronomische Nachrichten, Vol. 92, No. 2187 (14 Maart 1878, signed 7 Februarie 1878), p. 47/48

Fobos is in 1971 van naderby gefotografeer deur Mariner 9, in 1977 deur Viking 1, in 1988 deur Fobos 2, in 1998 en 2003 deur Mars Global Surveyor en in 2004 en 2008 deur die Mars Express.

Wentelbaaneienskappe duimnael|links|150px|Wentelbane van Fobos en Deimos (volgens skaal). duimnael|links|150px|Fobos beweeg voor die Son, soos gesien vanaf die Marstuig Opportunity.

Fobos se wentelbaan is so na aan Mars dat dit vinniger beweeg as Mars se eie rotasiespoed. Dus kom Fobos in die weste op, beweeg in 4 uur 15 minute oor die lugruim van Mars en sak weer in die ooste. Hierdie siklus word ongeveer twee keer per Marsdag (11 uur 6 minute) herhaal. Dit is so na aan die oppervlak van Mars dat dit nie gesien kan word van punte bo die 70,4'ste breedtegraad van Mars nie.

Hierdie lae wentelbaan beteken dat Fobos uiteindelik vernietig sal word. Getykragte verklein die wentelbaan al hoe meer, op die oomblik teen 1,8 meter per eeu, en binne die volgende 50 miljoen jaar sal Fobos óf op Mars val óf, meer waarskynlik, opbreek en 'n ring vorm. Indien Fobos gemodelleer word as 'n puinhoop, volgens die Mohr-Coulombteorie en gegewe sy onreëlmatige vorm, word dit bereken dat dit tans stabiel is in terme van getykragte, maar dat dit sal val binne sy Rochelimiet wanneer die wentelbaanradius onder 8 400 km daal. Dit sal waarskynlik in hierdie stadium, of kort daarna, opbreek.

Gesien vanaf Fobos is Mars 6 400 keer groter en 2 500 keer helderder as die Maan soos gesien vanaf die Aarde. Dit neem 'n volle kwart van die breedte van die lugruim op.

Gesien vanaf Mars se ewenaar is Fobos 'n derde van die hoekdeursnit van 'n volmaan soos gesien vanaf die Aarde. Waarnemers by hoër lengtegrade (minder as 70,4°) sal 'n kleiner hoekdeursnit sien aangesien hulle verder weg van Fobos is. Hierdie verskil is opmerkbaar as gevolg van Fobos se klein wentelbaan. Fobos se waarneembare grootte sal verskil met tot 45%. Vir 'n waarnemer by die ewenaar sal Fobos 'n hoekdeursnit hê van 0,14° aan die horison, terwyl dit toeneem tot 0,20° by sy toppunt. Daarteenoor is die Son se hoekdeursnit vanaf Mars ongeveer 0,35°.

Fisiese eienskappe duimnael|links|200px|'n Samestelling van drie beelde wat op 19 Oktober 1978 deur Viking 1 geneem is. Die groot krater links bo is die Stickneykrater.

Fobos is taamlik donker en die oppervlakmateriaal is klaarblyklik soortgelyk aan dié van die C-tipe (swart) asteroïede van die buitenste asteroïedgordel. Fobos se digtheid is egter te laag om van soliede rots te wees. Dit is waarskynlik saamgestel uit 'n mengsel van rots en ys. Die Sowjetruimtetuig Fobos 2 het 'n geringe maar konstante gasstroom vanaf Fobos waargeneem. Die aard van hierdie gas kon nie vasgestel word nie, maar dit is waarskynlik water. Onlangse beelde deur die Mars Global Surveyor dui aan dat Fobos bedek is met 'n fyn laag stof, soortgelyk aan dié van die Aarde se Maan.

Fobos is glad nie bolvormig nie. Sy afmetings is 27 × 21,6 × 18,8 km. Dit het verskeie kraters en die opmerklikste terreinvorm is die Stickneykrater, genoem na Asaph Hall se vrou, Angeline Stickney (nooiensvan). Nes die Herschalkrater op Mimas, moes die impak wat die Stickneykrater veroorsaak het Fobos amper versplinter het. Die groewe op Fobos se oppervlak, gewoonlik 30 m diep, 100-200 m breed en tot 20 km lank, is waarskynlik ook tydens die Stickneyimpak gemaak.

Fobos en Deimos is rotsagtige, koolstofryke mane, en vanweë hierdie eienskappe word daar algemeen geglo dat albei oorspronklik asteroïede was wat 'n lang tyd ná hul ontstaan in Mars se gravitasieveld vasgevang is.MacDonald, Peter; Patrick Moore; Iain Nicholson (reds.): The World of Science - The Nature of the Universe. Londen/New York/Sydney/Toronto: Guild Publishing 1989, bl. 58 Daar is ook sprake dat hulle van 'n verafgeleë deel van die Sonnestelsel kom en nie van die asteroïedgordel nie.

Verwysings

Eksterne skakels

Vlug rondom Fobos (geanimeerde video) Animasie van Fobos Fobos by Nsasa se Solar System Exploration

Eietydse verwysings na die eerste waarneming van Fobos en Deimos: The Observatory, 1 (1877) 181 Astronomische Nachrichten, 91 (1878) 13/14 Monthly Notices of the Royal Astronomical Society, 38 (1878) 205 Astronomische Nachrichten, 92 (1878) 47/48 Table II confirms 1877-08-18.38498 for first observation of Phobos

Kategorie:Mane van Mars