Eben Venter (1954- ) is ’n Afrikaanse skrywer. In 2025 verower hy die Hertzogprys vir sy roman, Decima.
Lewe en werk Ebenhaezer Venter is op 29 September 1954 in die distrik Burgersdorp in die Noordoos-Kaap gebore as een van drie kinders (twee seuns en ’n dogter) en hy word groot op die skaapplaas Die Vlei in die distrik. Hy word na sy oupa genoem en sy naam beteken in Hebreeus “klip van hulp”. Sy ouers is die boere Willem Frederik Venter en Maureen van den Heever (oorlede op 19 Maart 2020; ’n kleindogter van Daantjie van den Heever), lidmate van die Gereformeerde Kerk. Hy matrikuleer aan Grey Kollege in Bloemfontein, waar die letterkundige en skrywer Charles Malan een van sy onderwysers is. In hierdie tyd word hy ook geboei deur Etienne Leroux wat sy kinders by die koshuis aflaai, maar nie na voorkoms of optrede soos ander ouers was nie. Na sy verpligte jaar militêre diensplig in die Lugmag (waar hy ook in Angola diens doen) studeer hy verder aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys. Hy studeer eers in die Teologie, maar verander gou sy studierigting en behaal ’n B.A.-graad in Filosofie. Later behaal hy sy B.A. Honneurs-graad by die Randse Afrikaanse Universiteit en sy M.A.-graad in Filosofie aan die Universiteit van Port Elizabeth met ’n verhandeling oor die latere, melancholiese filosofie van Max Horkheimer.NB-Uitgewers: http://www.nb.co.za/authors/1191 Hy skryf in vir ’n doktorsgraad in die Filosofie, wat hy nie voltooi nie. Na ’n jaar oorsee skryf hy vir ’n ruk kopie vir ’n reklame-agentskap, doseer as junior lektor Filosofie aan die Randse Afrikaanse Universiteit, werk vir ’n kort ruk as joernalis by die Sunday Times en boer dan vir ’n ruk op die familieplaas.
Wanneer hy tydens die noodtoestand in die tagtigerjare opgeroep word vir ’n weermagkamp om diens te gaan doen in die townships, emigreer hy eerder in Augustus 1986 na Australië. Hier werk hy eers in Sydney in sy ouer broer, wat op daardie stadium met die sangeres Clarabelle van Niekerk getroud was, se restaurant. Daarna word hy mede-eienaar van die vegetariese restaurant Wild Rice Wholefood Café in St. Kilda in Melbourne. In Australië ontmoet hy die Ier Gerard Dunlop, ’n landskap-argitek, wat sy lewensmaat word. Hy neem in hierdie tyd Australiese burgerskap aan en verdiep hom later ook in die studie van die Boeddhisme, ’n invloed wat in sy werk weerklank vind. Hierdie studie sluit egter nie Christenskap vir hom uit nie. Vir die skryf van sy boek “Foxtrot van die vleiseters” huur hy vir vier maande ’n huisie in die noordweste van Ierland in die Donegal-graafskap en voltooi die boek daarna in België.Winterbach, Ingrid LitNet: http://www.litnet.co.za/absa-ketting-ingrid-winterbach-gesels-met-eben-venter/ In 1995 keer hy tydelik terug na Suid-Afrika, huur ’n huis in Prins Albert in die Karoo waar hy hom weer afsonder, en begin skryf aan “Ek stamel ek sterwe”. Met sy terugkeer na Australië werk hy in ’n internetkafee. In 2002–2003 bedryf hy en Gerard die restaurant The Long Table op die Mornington-Skiereiland in Melbourne, maar hulle verkoop die restaurant in Augustus 2003
In November 2003 keer Eben terug na Suid-Afrika om sy pa by te staan in sy laaste maande en vestig hom op Prins Albert in die Karoo. Van hierdie tyd af bly hy om die beurt hier en in Lismore in Nieu-Suid-Wallis in Australië saam met Gerard. Gedurende April en Mei 2005 bied hy klasse in Kreatiewe Skryfwerk aan by die Adam Mickiewicz Universiteit in Poznań in Pole, asook by die Skool van Neerlandistiek aan die Palacky Universiteit in Olomouc in die Tsjeggiese Republiek. In 2007 spandeer hy etlike maande as inwonende skrywer in Wassenaar in Nederland by die Netherlands Institute for Advanced Studies in Literature. Hy behartig vir ’n ruk die rubriek “Brouhaha” vir By, bylaag tot Die Burger en Beeld. In 2015 is hy betrokke by skryfopleiding van voornemende skrywers by die skryfskool van die Breytenbach-sentrum op Wellington.Wikipedia: :en:Eben Venter
Skryfwerk
Kortkuns Sy belangstelling in stories en skryf word vroeg aangewakker deurdat sy pa en ander voorgeslagte goeie storievertellers was. Sy debuut is met die kortverhaalbundel “Witblitz”, waarin die geweld van die grensoorlog en die politieke geweld van die tagtigerjare in Suid-Afrika en die effek daarvan op mense van alle kleure met rou realisme en in kru taal uitgebeeld word. Hierdie bundel kry, vermoedelik weens die anti-estetiese aard daarvan, nie groot aandag tydens publikasie nie en is nog nie aanduidend van die statuur wat hy later met sy skryfwerk bereik nie. “Die donner in Boetiefanie se kop” word later in “Forces’ Favourites” opgeneem en word só ’n baie bekende verhaal in ons grensliteratuur.
Later publiseer hy ook die kortverhaalbundel “Twaalf”, waarin hy die komplekse aard van die mens ondersoek, veral die mens wat hom by veranderende omstandighede moet aanpas. Die temas van afskeid, vertrek en aanpassing word ondersoek, met die tragiek van die menslike kondisie telkens net onder die oppervlak. Die titels van die verhale is telkens die naam van ’n karakter, wat die mensgerigtheid aandui en die leser daarop voorberei dat die reaksie op gebeure hier sentraal staan, eerder as die gebeure self. “Leo” is ’n hoogtepunt, waar die titelkarakter se dood nader en hy op ’n winternag vir oulaas deur die strate van Burgersdorp gaan stap. Op hierdie staptog kom hy, soos sy naamgenoot in “Ulysses” van James Joyce, talle mense teë, veral swart mense. Bowenal word hy gedwing om homself te konfronteer. Hy herbeleef verskeie herinnerings, wat hy nou op geestelike wyse kan ervaar en interpreteer. Hierdie bundel is ’n groot vooruitgang op sy debuutbundel, veral deur die karakteruitbeelding en die hegte bou van die verhale. Die titel dui reeds op die uiteenlopende aard van die karakters, waarin man en vrou, wit en swart, oud en jonk, Australiër en Suid-Afrikaner almal aan die bod kom. Deurlopend in al die karakters is die insig in die tragiek van die menslike kondisie.
“Brouhaha” (wat “kommosie”, “oproer” of “drukte” beteken) is ’n keur uit die rubrieke wat in “By” verskyn het. Die aard van die rubrieke is uiteenlopend, aangesien sommiges as kortverhale kan deurgaan en die boek ook ’n aantal resepte bevat. In die stukke behandel hy baie onderwerpe, met mense en die menslike toestand as die deurlopende draad. Die bundel word in drie afdelings verdeel, met die eerste die persoonlike perspektiewe, die tweede die avonture van die fiktiewe held Stoney (’n sukkelende sjef in Bellville) en die derde ’n aantal resepte.Magerman, Rohan LitNet: http://www.litnet.co.za/n-dag-saam-met-eben-venter/ Talle van sy kortverhale word in versamelbundels opgeneem, onder meer in “The New Century of South African Short Stories”, “Forces’ Favourites”, “Borde borde boordevol”, “Soort soek soort” en “Liefde loop ver”.
Romans Dit is egter met sy romans wat hy sy grootste bydrae tot die Afrikaanse letterkunde maak. “Foxtrot van die vleiseters” beeld die ou Suid-Afrika in die noodtoestand aan die einde van die apartheidsera uit, met snel opeenvolgende episodes wat reeds deur die dans van die titel gesuggereer word. Hierin word die reaksie en interaksie van ’n ou en ’n jonger generasie op die snelle veranderinge in die land ondersoek. Die middelpunt is ’n “gemiddelde” boerefamilie in die Middel-Karoo / Oos-Kaap op die plaas Wildeperdehoek, wat self geraamtes in die kas het in die vorm van ’n buite-egtelike maar verswygde kind van ’n voorsaat. Petrus Steenekamp, seun van Hendrik Douw en Iris, tree op as die vernaamste verteller en dokumenteer opmerkings en afleidings aangaande die gebeure rondom hom. Dit blyk gou dat hy die enigste een op die plaas is wat die swart mense se menswees respekteer, terwyl ander wit mense hulle hoofsaaklik as nuttigheidsartikels hanteer waarvan ontslae geraak word wanneer dit nie meer benodig word nie. Hierdie miskenning is tiperend van ’n hele geslag en stook die opstandsvuur. Die aksie en beelding verskuif van die plaas na die stad met ’n groot aantal karakters en insidente, telkens teen die agtergrond van oproer en ervarings van geweld. Tussendeur is daar eindelose gesprekke, partytjies en seksuele speletjies waardeur ’n samelewing op die rand van groot verandering gekenmerk word.Crous, Marius Tandfonline: http://www.tandfonline.com/doi/abs/10.1080/02564718.2012.644468 Die leegheid van die karakters se lewens en die lewenswyse of niks ooit sal verander nie, word goed uitgebeeld. Die W.A. Hofmeyr-prys word in 1994 toegeken aan “Foxtrot van die vleiseters” en die boek is in dieselfde jaar ’n naaswenner van die ATKV-prys. Dit word ook in Duits en Nederlands vertaal.
“Ek stamel ek sterwe” beeld die langdurige stryd teen vigs en uiteindelike dood uit, gebaseer op die lewe van die skrywer se broer, en word in Engels vertaal as “My beautiful death” en in Nederlands as “Ik stamel ik sterf”. Die hoofkarakter, Konstant Wasserman, maak as ek-verteller gebruik van ’n bewussynstroom tegniek om sy ervarings en veral die aangrypende meedoënlose aftakeling van sy liggaam te beskryf. Sy verkrampte plattelandse oorsprong beklem hom en hy besluit om na Australië te emigreer, maar spandeer eers tyd in Johannesburg, waar sy vriendin Deloris hom aan die naglewe van seks, drank en dagga voorstel. Hier ontmoet hy die uitgewekene Jude, wat ook in die proses van emigrasie is en hulle begin reeds hier saambly. Hy neem afskeid van sy onskuldige skoolvriendin Martie, sy pa (wat hy voel hom nooit erken het nie) en die dominee, wat ’n poging tot afskeid van sy vroeëre lewenswyse en waardes en van die patriargale stelsel verteenwoordig. Ten spyte van die uiterlike afskeid, is sy agtergrond egter onlosmaaklik deel van hom en neem hy nooit afskeid daarvan nie. In Australië maak hy nuwe vriende, maar word ook feitlik die ondergeskikte kneg van die ontroue Jude. Konstant begin werk as skottelgoedwasser in die vegetariese restaurant wat aan Shane behoort en word later sjef en neem selfs waar as bestuurder. Sy nuwe lewenstyl veroorsaak dat die simptome van vigs begin kop uitsteek. Ten spyte van die onafwendbaarheid van die einde, slaag die ek-verteller daarin om tot die einde die leser intens betrokke te maak by die persoonlike tragedie wat hom afspeel. Met die aantasting van een na die ander liggaamsfunksie, is sy grootste vrees dat sy breinfunksie ook aangetas sal word, wat dan ook teen die einde gebeur, wanneer hy begin stamel om die titel van die roman in werking te stel. Net voor die einde kom daar geestelike bevryding met die vereniging met die familie en die versoening met die Oos-Kaapse verlede. Ten spyte van die tema slaag Venter daarin om met humor, verrassende taalgebruik en ’n bestekopname van verlore onskuld die swaarmoedigheid op te lig. In ’n meningsopname onder kenners word dit beskou as een van die beste romans in Afrikaans, met groot lof veral vir die uitbeelding sonder sentimentaliteit van die sloping wat met die siektegeskiedenis gepaardgaan. In 1997 word die W.A. Hofmeyr-prys aan “Ek stamel ek sterwe” toegeken.