Wille Martin (7 November 1934- 25 Junie 2016) was 'n Suid-Afrikaanse skryfster. Martin publiseer ongeveer 200 romans gedurende haar loopbaan onder haar eie naam, waarvan die meeste liefdesverhale is. Sy publiseer ook verskeie jeugverhale as Wille Martin en publiseer 'n verdere vier romans onder die skuilname Stella Barrie en Corinna Louw. Martin se skryfwerk val onder 'n wye genre en sy skryf onder meer wetenskapsfiksie, historiese romans (wat onderskeidelik in die Anglo-Boereoorlog en die ou Kaapse tyd afspeel), eksotiese buitelandse romans, speurromans en 'n paar romans wat rondom die Mara-hospitaal in Chiwanda in midde-Afrika sentreer.Salzwedel, Ilse Afrikaans.com: http://www.afrikaans.com/news-headlines/blog/wille-martin-gebore-om-n-skrywer-te-wees-deur-ilse-salzwedel
Lewe en werk duimnael|regs|300px|Die Bloemfonteinse Normaalkollege, 1907.
Wille Postma is op 7 November 1934 op Bethulie in die Vrystaat gebore as die oudste van ses kinders. Haar vader is Philippus Snyman Postma (seun van ds. Willem Postma wat onder die skrywersnaam Dr. O'Kulis bekendheid verwerf) en haar moeder is Magdalena Jacomina (Minnie) Wille, die bekende skryfster Minnie Postma. Sy het drie susters (Kumi, Werda en Yda), en ’n broer (Okulis). Haar ander suster, Philmi, is baie jonk oorlede. Haar ouers is beide onderwysers en die gesin verander gereeld van woonplek wanneer haar pa nuwe betrekkings aanvaar. Sy gaan eers na die Koot Niemann-skool op die Riebeeck-hoewes naby Bloemfontein en daarvandaan na die laerskool in Bloemfontein wat haar oupa se naam dra, die Laerskool Willem Postma. In die oorlogsjare gaan sy vir ’n ruk na die Bloemfonteinse Normaalkollege se oefenskool, waar klasse van graad een tot graad agt deurmekaar was, net soos in ’n plaasskool, en die studente van die Normaalkollege as oefening vir hulle klas gee. Hiervandaan gaan sy in graad twee na Oranjeskool toe. Dan trek hulle na Heidelberg in die Transvaal en sy gaan hier skool tot met standerd sewe en daarna na Queenstown waar sy matrikuleer. Na matriek behaal sy ’n B.A.-graad aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat in Bloemfontein.
Op 2 Januarie 1956 begin sy as joernalis by Die Volksblad werk en ontmoet hier haar toekomstige man, die joernalis Earl Martin. Sy en Earl het drie kinders, Frits, Hendrik en Minja, wat al drie loopbane in die joernalistiek volg. Na hulle troue verhuis hulle na Johannesburg, waar haar man verbonde is aan die redaksies van Die Transvaler en Die Vaderland. In Johannesburg maak sy kinders groot en hou haar besig met skryf. In 1976 is sy van haar man geskei en is hierna eers vryskutskrywer. Dan keer sy terug na Heidelberg en gee skool by die nywerheidskool Emmasdal, waarna sy weer joernalis word en by Die Transvaler en Die Vaderland se redaksies betrokke is. Vanaf 1983 skryf sy voltyds. Sy is op Saterdag 25 Junie 2016 in die Heidelberg-hospitaal aan hartversaking oorlede.De Vries, Izak Netwerk24: http://www.netwerk24.com/Vermaak/Boeke/skrywer-wille-martin-sterf-20160627# Rice, Lydia Heidelberg-Nigel Heraut: http://heidelbergnigelheraut.co.za/15425/bekende-afrikaanse-skrywer-oorlede/
Skryfwerk Reeds op skool blink sy uit met haar opstelle. Aanvanklik skryf sy kortverhale vir tydskrifte, maar sedert 1958 skryf sy ook romans, terwyl sy ook etlike radiovervolgverhale, tydskrifvervolgverhale en jeugverhale skryf. Sy spits haar hoofsaaklik toe op ontspanningslektuur. Die grootse gros van haar uitsette van oor die tweehonderd boeke is liefdesromans.
Liefdesromans In Mariska (1970) is die hoofkarakter in Suid-Afrika gebore maar woon van jonk af reeds in Londen. Sy kom terug na Suid-Afrika met volmag van haar moeder om namens haar op te tree in die verkooptransaksie van die plaas waar sy gebore is. Die aanbod van vyftig duisend rand is vir hulle ’n fortuin. In die koerant lees sy iets wat haar laat besef dat iets nie pluis is wat betref die plaas Doringdrif nie en sy is vasbeslote om vas te stel wat dit is. Sy loop haar vas teen die Wes-Transvaalse boer Philip en die hare waai.
Dawid, Karen en hul niggie en aangenome suster, Tamara, ontmoet in Die dagboek van Tamara (1972) vir Roelof de Wet tydens ’n vakansie aan die strand. Dawid en Tamara het ’n verhouding en Karen raak verlief op Roelof. Toe Roelof ná die vakansie kom kuier, was dit baie gou duidelik dat dit vir Tamara is wat hy kom kuier en nie vir Karen nie. Hulle trou en Karen en haar broer Dawid bly met gebroke harte agter. Karen gaan oorsee om van haar smarte te vergeet en wanneer sy na ’n paar jare terugkom, hoor sy dat Tamara onder vreemde omstandighede verongeluk het. Karen gaan na Roelof se Bosveldplaas, Leeupoort, om agter die geheim van Tamara se dood te probeer kom. Roelof se ma laat haar duidelik verstaan dat sy nie welkom is nie en sy vind uit dat Tamara se naam onder geen omstandighede genoem mag word nie. Wanneer Karen egter op Tamara se dagboek afkom, word die meeste van die geheime op verrassende wyse opgeklaar.
In Doringroos (1972) ontmoet Nicolette Joubert onverwags weer vir Gideon Havenga wanneer sy saam met die ivoorjagters op Bergendal aandoen. Gideon het sewe jaar gelede op die punt gestaan om aan haar verloof te raak, maar verbreek die verhouding in ’n brief waarin hy sê dat hy iemand anders lief gekry het. Sy word hierna saam met haar vader en broer ’n ivoorjagter. Op Bergendal vind sy uit dat Gideon nooit weer na hy hulle verhouding verbreek het na ’n ander meisie gekyk het nie en soos ’n kluisenaar op sy plaas leef saam met sy suster Madeleine. Nicolette is vasberade om die waarheid uit te vind oor wat werklik gebeur het.
'n Tyd om lief te hê (1972) vertel van Cas de Winter, wat ideale het om ’n skrywer te word en wegbreek van sy dominerende vader se heerskappy. Sy vader is Leeu de Winter, multi-miljoenêr sakeman. Wanneer Leeu ernstig siek word, ontbied hy sy seun, wat nou te kampe kry met verskeie jong vroue.
In Legende van die spookvrou (1973) vind dr. Roelf Storm vir Ninon haweloos in die strate van Parys en hy help haar, trou met haar en bring haar terug na sy familie in die deftige herehuis buite Johannesburg. Hy staan egter oënskynlik onverskillig teenoor haar vroulikheid en deel nie sy slaapkamer met haar nie. In die groot huis, Hawerland, is sy tussen mense en tog eensaam. Sy ontmoet die kunstenaar Chris von Gera en Roelf se vrygesel-broer, Dawie. Die groot raaisel is die identiteit van die Spookvrou van Hawerland, wat Ninon self een nag sien, die nag toe Roelf haar die eerste keer met hartstog gesoen het.
Die vergulde draak (1973) is die naam van Konstant de Heer se sloep waarmee hy Lobitobaai binnevaar. Hier ontmoet hy vir Frederika Ferreira, wat hom vra om haar Suid-Afrika toe te neem. Hierdie verhaal verskyn aanvanklik as vervolgverhaal in Die Huisgenoot.
In My niggie, Mike (1974) is dit tradisie by die wilde Conways van Bulkraal dat jy ’n vrou vat as jy haar wil hê, al moet jy haar ontvoer. Michelle glo dat hierdie metode ook vir ’n vrou moet kan werk.
Trots van Gelderland (1974) se hoofkarakter is Hugo van Gelder, ’n Johannesburgse ginekoloog. Sy vrou, Vera, verlaat hom onverwags en vertrek Europa toe. Na dertig jaar stap sy egter weer by sy spreekkamer in, kort na sy tweede vrou se dood.
In Afspraak op Somerhoek (1977) is Charmaine getroud met dr. Leo Malan, maar haar begeerte na die rolprentheld Alex Brand dreig om ’n wig tussen hulle in te slaan. Hulle drie het saam met Alex se vrou Linda ’n afspraak op Somerhoek om die antwoord op hulle lewensprobleme te probeer vind.
Deanna is in Alleenpad van die liefde (1978) getroud met Barry, maar sy is verlief op Ian. Wanneer hy haar uitnooi om ’n middag in sy geselskap deur te bring, kan sy die uitnodiging nie weerstaan nie.
Huil nie, harlekyntjie (1980) is Helder Viviers, dogter van ’n miljoenêr, se verhaal. Sy vind uit dat die man wat sy bemin net met haar wil trou omrede haar vader se skatte en haar pa dring boonop aan dat sy met ’n jong baron moet trou. Sy vlug en word ’n sirkusartieste in Europa. In stede van die einde, is dit egter net die begin van haar liefdesprobleme.
Elizabeth van Summerfield (1982) speel in twintigerjare van die twintigste eeu in die Vrystaat af. Elizabeth Summerfield wil veearts word, maar in daardie tyd was dit ongehoord dat ’n vrou so iets aanvang. Sy druk egter ondanks kwaai teenkanting van veral haar pa, sir Henry Summerfield, deur en voltooi haar studie. Sir Henry wil egter niks daarvan weet dat sy praktiseer nie en weier dat sy aan enige siek dier op sy Vrystaatse plaas raak. Slegs dokter Wim Dreyer, die plaaslike veearts, mag. Elizabeth bou hieroor ’n wrok op teen Wim, wat vererger word deurdat Wim soveel tyd in Antje Bloem se geselskap deurbring. Dan daag Edmund, die Summerfields se verlore seun, en Rodney Drummond, wat deur Elizabeth se ouers vir haar as man uitgesoek is, kort na mekaar onverwags op die plaas op.
In Harte agter skanse (1982) bedreig ’n nuwe snelweg die rustige lewe op die klein Skotse nedersetting Loch Lomond, wat naas Johannesburg geleë is.
In Droom nie meer, Nicole (1984) is Nicole Pellissier na haar vader se dood genoodsaak om te gaan werk. Sy kry ’n pos as goewernante vir die De la Rey-dogter. By die De la Reys aangekom, vind sy dat Philippe du Morvan, die dogter se voog, glad nie so oud is soos sy verwag het nie. Die dogter, Celestine, is sestien en rebels en haar broer, Rogier, verklaar sy liefde vir haar, al is hy baie jonger as sy. Dan is daar boonop die geheim van die De la Rey-kinders se vermiste moeder.
In Liefste meneer (1986) is Laurette ’n matriekleerling van wie daar baie goeie resultate in die eindeksamen verwag word. Toe meneer Nic Neethling egter opgedaag het om vir die matrieks Afrikaans te gee, het al wat skooldogter is op hom verlief geraak, Laurette inkluis. Nic het vroeër jare met haar ousus, Mandie, uitgegaan. Een van die dae kom Mandie weer van oorsee af terug huis toe. Hierdie roman handel oor die hartseer maar ook die vreugde van ’n jong meisie se grootwordproses, waartydens sy ook haar hart leer ken.
Suzanne Cronjé en Henk Christiaansen word in Gesoek - 'n verlore hart (1993) soos broer en suster in een huis groot. Suzanne het nog altyd die leiding geneem en Henk het gevolg. ’n Gesamentlike belangstelling in die argeologie bring die twee uit by ’n opgrawingswerf in die Kalahari. Om die argeologiese ekspedisie te kan meemaak, moet Suzanne en Henk egter ’n kamma huwelik aangaan en dis hier waar hul ou, gemaklike verhouding van broer en suster begin skeefloop. Ook op die ekspedisie is die hartebreker professor Erwin en die wulpse professor Ursula.
Bolandse Bokkie (1998) is die verhaal van Maryn Euvrard se dilemma. Na die skielike afsterf van haar suster moet sy besluit of sy moet voorgee sy is haar buite-egtelike susterskind se ma, of anders die gesiene Bolandse Bouvier-familie die waarheid vertel en die risiko loop dat hulle klein Barry van haar af sal wegvat.
In Van mense en engele (2006) is dokter Ralda Schmidt se dogtertjie, Tharina, so fraai soos 'n slaappop, maar net so passief. Dan ontdek professor Erna Roodt iets wat 'n radikale invloed kan hê op menslike ontwikkeling. Ralda hoop dat die nuwe ontdekking Tharina sal help en vind tot haar verbasing sy kan in haar tyd van nood op die dinamiese Philip Herselman staatmaak.
Lady Philippa (2007) en Kosie kan mekaar nie uitstaan nie, want sy dink hy is onbeskof en hy dink sy is vreemd. In Kring van betowering (2008) pas Robyn haar sieklike ma, Moekie, op. Robyn het geen sosiale lewe nie, maar wanneer Moekie se ryk kleinneef Hendrik ’n partytjie in sy weelderige huis gee, kry sy weer te doen met Vonk. Hy is die draak wat haar as tienermeisie gespot en geterroriseer het.