Die Tugelarivier (ook bekend as Thukela) is die grootste rivier in die KwaZulu-Natal-provinsie, Suid-Afrika. Die rivier het sy oorsprong in die Drakensberge, ongeveer 3000 m bo seevlak, digby Mont-aux-Sources, en onmiddellik stort die water by die Tugelawaterval (948 m) af. Van die Drakensberge vloei die rivier 520 km ver deur KwaZulu-Natal voordat dit in die Indiese Oseaan uitmond. Die totale opvangsgebied is naastenby 29 100 km² en die bewerkbare grond in die gebied word meestal vir bestaansboerdery en kommersiële bosbou benut.

Dit het 'n aantal takriviere vanuit die Drakensberge, insluitend die Kliprivier, Mooirivier en Buffelsrivier. Nog 'n noordelike takrivier is die Sondagsrivier (nie te verwar met die Sondagsrivier in die Oos-Kaap nie). Dit ontvang ook die Mnjanenirivier of (Ingagani) vanuit die noorde en die Bloedrivier vanuit die noordooste. Dit vloei verby Bergville en Colenso.

Stroomaf van die samevloeiing met die Buffelsrivier vloei die Tugela suidoos in 'n kanaal tussen kranse en valleie tot dit die nou kusstrook bereik. As gevolg van die golfaksie van die see is die mond van die Tugela amper toegeslik deur 'n sandbank. Die Tugela is dus nie bevaarbaar van die see af nie.

Die Spioenkopdam en die Woodstockdam is in die Tugelarivier geleë. Die rivier is ook deel van die Tugela-Vaal-waterprojek.

Geskiedenis Die ooreenkoms van 1837 tussen die Britse magistraat in Port Natal, Gardiner, en die Zoeloekoning Dingane en ook die ooreenkoms van 4 Februarie 1838 tussen die Voortrekkerleier Piet Retief en Dingane het albei verklaar dat die Tugelarivier die suidlike grens van Zoeloeland is. In 1846 word die Buffelsrivier een van die grense tussen die Natal-kolonie en Zoeloeland. Die Tugelarivier vanaf die see tot sy samevloei met die Buffelsrivier bly nog steeds die ander grens tussen die twee gebiede.

duimnael|links|Uitsig van die Tugelariviermond van die omgewing van die Ultimatumboom. Gedurende 1878 het 'n aantal verskille ontstaan tussen die Zoeloekoninkryk en die Britse regering. Sir Bartle Frere, Britse Hoëkommissaris vir Suid-Afrika het die Zoeloekoning Cetshwayo na 'n vergadering ontbied. Verteenwoordigers van die Britse regering en van Cetshwayo het onder 'n wildevyeboom op die suidelike oewer van die Tugelarivier en ongeveer 6 km van die Indiese Oseaan op 11 Desember 1878 mekaar ontmoet. Hier is 'n ultimatum van Frere afgelewer. Die ultimatum het tot die uitbreek van die Anglo-Zoeloeoorlog van 1879 gelei. Die boom het selfs bekend geword as die Ultimatumboom.

In Januarie 1879 het drie Britse leërgroepe Zoeloeland ingeval – twee kolomme oor kruisings oor die Buffelsrivier en een, onder die bevel van kolonel Pearson, oor die Tugelarivier. Pearson se kolom het die Tugelarivier by Lower Drift (deesdae Fort Pearson) oorkruis. Kolonel Durnford, bevelvoerder van 'n vierde kolom was opgedra om Middle Drift (deesdae Jameson's Drift) te verdedig. Swak paaie het die kolomme se vordering belemmer. Daar was min brûe, en dan was daar ook dongas en modder op die rivieroewers. Pearson moes toe 'n pont gebruik. Dit het vyf dae geduur om 5 000 man, 384 ossewaens, 3 400 pakdiere en 600 burgerlikes en drywers oor die rivier te vervoer.

duimnael|Uitsig van die eerste spoorlynbrug oor die Tugela vanuit die noordoewer vlakby Colenso. In 1957 is die spoorlyn verdubbel en die oorspronklike brug deur 'n betonbrug vervang. Die eerste brug oor die Tugela is in 1878 gebou en kry die naam "Bulwerbrug" ter ere van Henry Bulwer, destyds goewerneur van die Natalkolonie. 'n Tolhuis is langsaan die brug gebou. Die tolhuis word later die Colenso-polisiestasie en deesdae huisves dit die Stephenson-museum. Met die bou van die spoorlyn tussen Durban en Johannesburg is 'n spoorbrug naby Colenso gebou in 1886. Hierdie brug is tydens die Tweede Vryheidsoorlog opgeblaas, maar is later herbou.

Toe Brittanje Zoeloeland op 9 Mei 1887 annekseer, het die Tugela opgehou om 'n politieke grens te vorm, maar dit was nog steeds 'n fisiese grens. Tydens die Tweede Vryheidsoorlog, toe Ladysmith beleër is, het die rivier beskerming aan die Boeremagte verleen. Pogings deur die Britse magte onder Redvers Buller om die rivier oor te steek het by Colenso, Vaalkrans en Spioenkop misluk. Uiteindelik het die Britte by Pieters Hill die rivier oorgesteek om Ladysmith te bevry.

Loop van die rivier Die rivier ontspring by Mont-aux-Sources in die Drakensberg, op 'n hoogte van ongeveer 3 050 meter bo seespieël. Ongeveer een kilometer van sy oorsprong af stort hy 948 meter by die Tugela-waterval af.

Vissoort Die Tugela-moddervis is endemies aan die rivier.

Ekonomiese waarde Oor 'n deel van sy lengte word water vir landboudoeleindes uit die Tugela onttrek. 'n Groot deel van die rivier vloei egter deur diep klowe wat min grond vir gewasverbouing bied.

In 1923 bou die Suid-Afrikaanse Spoorweë 'n kragstasie aan die oewer van die Tugela as deel van die elektrifisering van die spoorweë se Natal-sektor. In 1927 kom die kragstasie onder die beheer van Evkom en in September 1985 word dit uit diens gestel weens termiese ondoeltreffendheid.

Verwysings

Kategorie:KwaZulu-Natal Kategorie:Riviere in KwaZulu-Natal