Iran (Persies: ایران‬, Irān, [ʔiːˈɾɒːn], ), amptelik die Islamitiese Republiek Iran (جمهوری اسلامی ایران, Jomhuri-ye Eslāmi-ye Irān, ), is 'n land in die Midde-Ooste, wat deur Azerbeidjan, Armenië en Turkmenistan in die noorde, Pakistan en Afghanistan in die ooste en Turkye en Irak (Koerdistan) in die weste begrens word. Die land het vroeër in die Westerse lande as Persië bekendgestaan.

Met 'n oppervlakte van meer as 1,6 miljoen km² is Iran die 19de grootste land ter wêreld met 'n etnies diverse bevolking van 82 miljoen. Dit bevat 'n wye verskeidenheid landskapsvorme, maar bestaan oorwegend uit bergagtige landskappe en woestyne. So is dit juis die randstreke van Iran waar die grootste deel van die bevolking saamgetrek is en wat die grootste bydrae tot die land se bruto binnelandse produk lewer: die kusgebied langs die Kaspiese See in Noordwes-Iran met sy visserybedryf, ryslande en teeplantasies; Khoezestan in Suid-Iran met sy olievelde en suikerplantasies; die Azerbeidjan-streek van Wes-Iran met sy graanlande; en Oos-Iran met sy florerende vrugtebedryf in die oases van Khorastan en Seistan.

duimnael|links|'n Reusagtige stofstorm woed in die Lut-woestyn duimnael|links|Die verborge skoonheid van Iran: Khaju-brug in Isfahan Daartussen lê die Kavir- en Lut-woestyn en die bergreekse langs Iran se grense: die uitgestrekte groen Zagros-bergreeks en -plato in die weste vorm 'n natuurlike grenslyn met Irak; in Noord-Iran toring die ruwe, sneeubedekte Elboers-berge tussen die kusvlakte van die Kaspiese See en die Sentrale Hoogland uit; langs die Persiese Golfkus in die suide word die Makran-bergketting in die gelyknamige halfwoestyn aangetref; en in Oos-Iran word die landskapsvorme deur die mees westelike uitlopers van die Hindoekoesj-gebergte oorheers.

Geologies lyk Iran se berglandskappe op 'n reuse skottel wat onderstebo gekeer is. Hierdie reliëf veroorsaak uitsonderlike klimaattoestande. So ontvang nedersettings, wat wél op dieselfde breedtegraad, maar aan weerskante van 'n bergreeks geleë is, ongelyke vlakke van reënval. Dezful, wat in die westelike deel van die Zagros-reeks op 143 meter bo seevlak geleë is, kry gemiddelde jaarlikse neerslae van 358 millimeter, terwyl Isfahan, wat op die oostelike Zagros-plato geleë is, net 108 millimeter kry.

Die groot woestynbekkens is selfs nog droër; hulle is 'n wêreld van uiterstes wat diere en plante min kanse vir oorlewing bied. Stede in die binneland is op 'n gesofistikeerde netwerk van tonnels en kanale aangewese om ondergrondse watervoorrade te ontgin. Hierdie voorrade word deur damme soos dié van Dezful in die Dezrivier aangevul.

Iran, waar een van die oudste beskawings ontstaan het, het van oudsher sy onafhanklikheid gehandhaaf, alhoewel die land tydelik onder Britse, Russiese en Amerikaanse invloed gestaan het. Die Westersgesinde, outoritêre, maar ook sekulêre monargistiese bewind van Mohammad Reza Sjah Pahlavi is in die Irannese Rewolusie van 1979 omvergewerp. Die nuwe geestelike leier, ajatolla Ruhollah Khomeini, het as integrasiefiguur van 'n breë opposisiebeweging gedien waarin uiteenlopende politieke groepe verenig is.

Interne magstryde en die oorlog met Irak, wat in September 1980 met 'n Irakse aanval begin het en agt jaar sou voortduur, het uiteindelik 'n unieke hibriede politieke bedeling laat ontstaan met 'n Grondwet waarin republikeins-demokratiese en teokraties-outoritêre elemente verenig is, alhoewel die politieke lewe tans deur die laasgenoemde oorheers word. Bundeszentrale für politische Bildung (bpb): Die Islamische Republik Iran

Ondanks sy ideologiese teenstrydighede, binne- en buitelandse krisisse, 'n groeiende opposisiebeweging (die sogenaamde Groen Beweging) en die interne rigtingstryd in die heersende politieke en godsdienstige kringe is die politieke ontwikkeling van die Islamitiese Republiek van Iran, soos dit sedert 1979 bekendstaan, in die eerste drie dekades van sy bestaan deur betreklike stabiliteit gekenmerk.

Alhoewel Iran steeds onder die ontwikkelende lande gereken word, het dit 'n hoogs gesofistikeerde tegnologiebedryf ontwikkel en beskik daarnaas oor die grootste reserwes van aardgas en die wêreld se vierde grootste bekende reserwes ru-olie. Danksy sy ekonomiese en strategiese ligging het Iran tot 'n streeksmoondheid in die Midde-Ooste ontwikkel.

Terwyl Iran nie daarin geslaag het om sy model van 'n Islamitiese republiek ook vir ander lande met 'n Moslembevolking aantreklik te maak nie, deel die land sekere ooreenkomstige kenmerke met Arabiese state soos Tunisië en Egipte wat 'n skielike politieke omwenteling in die sogenaamde Arabiese Lente ondergaan het: 'n goed opgeleide generasie van jong mense wat skraal kanse het om werk te kry, salarisse en lone wat nie tred kan hou met die stygende inflasie nie, en miljoene mense wat onder die broodlyn leef. Net soos in ander lande is daar 'n klein bolaag van welvarendes wat hulself van die aspirasies van die menigte vervreem het.

Landsnaam duimnael|Moderne rekonstruksie van Eratosthenes se ou wêreldkaart van omtrent 200 v.C. wat die name Ariana en Persis gebruik Die plaaslike bevolking het van oudsher na die land as Iran verwys, 'n afkorting van die Middel-Persiese Eran Sjar. Die huidige Persiese landsnaam Iran (ایران) is afgelei van die Proto-Iranse term Aryānā en die Oud-Iranse Aryānām Xšaθra wat albei "Land van die Ariërs" beteken. Die term Ērān kom in 'n 3de eeuse inskripsie uit die Sassanidiese Ryk voor, terwyl die Partiese teksgedeelte in hierdie inskripsie die Partiese term aryān gebruik om na Iraniërs te verwys.

Daarenteen is in die westerse wêreld van oudsher tot in die 20ste eeu na Iran as Persië verwys, hoofsaaklik weens die invloed van Griekse skrywers wat die land Persis (Περσίς) of "Land van die Perse" genoem het. Mahmoud Rashad: Iran: Geschichte, Kultur und lebendige Traditionen – antike Stätten und islamische Kunst in Persien. Keulen: DuMont 2006, bl. 9 Persis (Pars) was die kernland van die Achemeniede wat in die 6de eeu v.C. die eerste groot Persiese Ryk gestig het. Met Pars of Persis is hier veral na die huidige provinsie Fars rondom die stad Sjiraz verwys waarvan ook die naam فارسی (Farsi) vir die Persiese taal afgelei is.

In 1935 het Rezā Shāh die wêreldgemeenskap gevra om na die land liewer as Iran te verwys. Sedert die Irannese Rewolusie van 1979 is die amptelike naam van die land "Islamitiese Republiek van Iran".

Geologie duimnael|Die breuksone tussen die Arabiese en die Irannees-Eurasiese plaat loop deur die Zagros-bergreeks Volgens baie geoloë het Iran se landmassa oorspronklik deel uitgemaak van die oertydse vasteland van Gondwanaland. Gondwana-Iran was dus aanvanklik in die gebied tussen die huidige Somalië en Iran geleë en het eers daarna na sy huidige ligging begin beweeg.

'n Landstrook in Noord-Iran het reeds tussen 220 en 250 miljoen jaar deel uit van die Eurasiese vasteland. Maar eers nadat 'n deel van die oertydse Tethys-oseaan, wat suid daarvan geleë was, sowat 80 tot 100 miljoen jaar gelede van die res van die see afgesny is, is die hele Iranse plaat met Eurasië verbind.

Die Arabiese en Afrikaplaat druk sedertdien teen die Iranse plaat, 'n tektoniese proses wat 40 tot 50 jaar gelede die groot bergreekse van Sentraal-Iran gevorm het. Daarnaas skuif dele van die oertydse seebodem noord van die Persiese Golf onder die Iranse plaat. In dié subduksiesone breek soutafsettings as soutkoepels na die aardoppervlak deur, terwyl die biologiese afsettings van klein diere en plante tans as ruolie ontgin word.

Die botsing van die Arabiese en Iranse plate het volgens die platetektoniese teorie nie net die Iranse Zagros-bergreeks gevorm nie, maar word ook as die oorsaak van vulkaniese aktiwiteit en verwoestende aardbewings in groot dele van Iran beskou.

Geografie duimnael|links|Nasa-Satellietbeeld van Iran duimnael|'n Verlate karavanserai uit die Samaniede-tydperk naby Izadkhast Iran is een van die mees bergagtige lande. Sy bergagtige karakter was baie eeue lank 'n beslissende faktor in die politieke en ekonomiese geskiedenis van Iran. Die land se bergreekse omsluit uitgestrekte bekkens of plato's waar belangrike landboustreke en groot stedelike nedersettings geleë is.

Tot en met die 20ste eeu, toe spoorlyne en grootpaaie dwarsdeur die bergreekse gebou is om Iran se metropole met mekaar te verbind, het die plato's min of meer afgesonderd van mekaar bestaan. Gewoonlik was daar in elke bekken of plato 'n groter stad wat as die middelpunt van 'n ingewikkelde ekonomiese netwerk met honderde dorpe in die omgewing gedien het.

In hoër geleë bergstreke was die bevolking in stamgroepe georganiseer wat twee keer per jaar hul skaap- en boktroppe in groot seisoenstrekke na die tradisionele somer- en winterweidings geneem het. Weens die gebrek aan groot riviere, wat as waterweë sou kon dien, is goedere van eeue lank met karavane oor die bergpasse vervoer. Die bergagtige terrein het ook die toegang tot die kusgebiede van die Kaspiese See en die Persiese Golf bemoeilik.

Klimaat Volgens sy geografiese besonderhede en sy reliëf kan Iran in vier groot klimaatsones ingedeel word: die kusgebiede aan die Kaspiese See in die noorde en aan die Persiese Golf in die suide, insluitende die provinsie Khoezestan; die Elboers- en Zagros-berggebiede; en die hoogland van Sentraal-Iran met sy bergreekse en bekkens.

Die Kaspiese Seegebied duimnael|links|Landskapstoneel in die Nasionale Sisangan-bodspark duimnael|Sononder aan die Kaspiese See Die vrugbare kusgebiede aan die Kaspiese See, wat administratief aan die provinsies Gilan en Mazandaran behoort, is sowat 26 meter onder seevlak. Hierdie vugbare kusstrook met 'n wydte van maksimaal sestig kilometer is tussen die noordelike hellings van die Elboers-bergreeks en die see geleë. Winde en laedrukweerstelsels stuur reënwolke landinwaarts waar buie sak sodra hulle die Elboers bereik. Die jaarlikse reënval, wat in Gilan tussen 1 600 en 2 000 millimeter kan wees, neem in oostelike rigting gaandeweg af tot sowat 600 millimeter in Mazandaran. Die meeste neerslae word in die herfsmaande aangeteken.

Matige winters en warm somers is kenmerkend vir die gebied met 'n gemiddelde jaarlikse temperatuur van 16 °C, en dit ervaar relatief klein temperatuurverskille tussen die warmste (Julie met 'n gemiddeld van 26 °C) en die koudste maand (Januarie met 8 °C). Opvallend is dat noord van die Elboers selfs mure dikwels met gras bedek is, terwyl in Teheran, anderkant die berge, 'n glas water in die warm en droë somerlug binne enkele dae verdamp.

Die groen landskappe van Noord-Iran is een van die belangrikste landboustreke in die Islamitiese Republiek waar tabak- en sitrusplantasies aangelê is en rys, tee, katoen, graan en olieplante verbou word. In die vlaktes en teen die laer berghellings het die vogtige, reënerige klimaat op plekke digte reënwoud laat ontstaan. Die Persiese woord vir hierdie oerwoud, djangal, het as jungle en Dschungel ingang tot respektiewelik Engels en Duits gevind.

In Iran se reënwoud word hoofsaaklik eike, beuke, olme, esdorings, vye- en ysterbome aangetref. Die digte onderbos, wat op plekke hoogtes van tot vyf meter kan bereik, bestaan naas varings uit buxus-, granaatappel-, braambessie- en lourierkersstruike. Slinger- en klimplante soos liane, wilde wingerdstokke en klimop maak die woud byna ondeurdringbaar.

Watervoorrade duimnael|Die Urmia-soutmeer in die Noordwes-Iranse provinsie Azerbeidjan duimnael|Toeriste bring 'n besoek aan die Meyghan-soutmeer (provinsie Markazi) gedurende die wintertyd