Prinses Victoria van Hesse-Darmstad (ook Hesse en by die Ryn), later Victoria Mountbatten, die Markiesin van Milford Haven (Victoria Alberta Elisabeth Mathilde Marie; 5 April 1863 – 24 September 1950) was die oudste dogter van Ludwig IV, Groothertog van Hesse, en sy eerste vrou, prinses Alice van die Verenigde Koninkryk, ’n dogter van koningin Victoria en prins Albert van Sakse-Koburg en Gotha.

Haar ma is oorlede toe haar broer en susters nog jonk was en sy moes vroeg verantwoordelikheid vir haar sibbes aanvaar. Sy is met haar pa se neef, prins Ludwig van Battenberg, getroud. Hy was ’n offisier in die Britse vloot en sy het die grootste deel van haar getroude lewe in verskeie dele van Europa by haar man se vlootbasisse gewoon. Haar familie het haar beskou as liberaal, reguit, prakties en slim.

Tydens die Eerste Wêreldoorlog het sy en haar man afstand van hul Duitse titels gedoen en die van Mountbatten, die Engelse weergawe van Battenberg, aangeneem. Twee van haar susters, Elisabeth en Alix, het in die Russiese adel ingetrou en het onderskeidelik groothertogin Jelizaweta Romanof en tsarina Alexandra Romanof geword. Albei is in die Russiese Rewolusie deur die Bolsjewiste vermoor.

Victoria was die ouma aan moederskant van prins Philip, Hertog van Edinburg.

Vroeë lewe Victoria is in die Windsor-kasteel gebore in die teenwoordigheid van haar ouma aan moederskant, koningin Victoria. Sy is op 27 April 863 in die arms van die koningin gedoop. Sy het haar vroeë lewe in Darmstadt deurgebring en het ’n hoë vlak van geleerdheid gehad.Hough, p. 30

links|duimnael|Vier van die Hesse-susters, van links: Irene, Victoria, Elisabeth en Alix, 1885.

Tydens die Pruisiese inval van Hesse in Junie 1866 is Victoria en haar jonger suster, Elisabeth, gestuur om by hul ouma te gaan woon totdat die onrus oor was en Hesse-Kassel en dele van Hesse-Darmstadt by Pruise ingelyf is.Hough, p. 29 In 1872 is Victoria se 18 maande oue broer, prins Friedrich, met hemofilie gediagnoseer. Die diagnose was ’n skok vir die koningsgesinne van Europa; dit was 20 jaar nadat koningin Victoria die lewe geskenk het aan haar seun Leopold, wat die siekte gehad het. Dit was die eerste aanduiding dat bloeiersiekte oorerflik was in die koninklike familie.Hough, p. 36 Friedrich het die volgende jaar uit ’n venster geval en gesterf. Dit was die eerste van baie tragedies wat die Hesse-gesin sou tref.

Vroeg in November 1878 het Victoria witseerkeel gekry. Elisabeth was die enigste lid van die gesin wat die siekte vrygesping het. Hul ma het haar kinders dae lank versorg, maar kon nie haar jongste dogter, prinses Marie, red nie en dié is middel November oorlede. Net toe dit lyk of almal aan die gesond word is, het prinses Alice self siek geword en sy is op 14 Desember oorlede.Hough, pp. 46–48 As oudste kind het Victoria gedeeltelik die rol van ma vir die jonger kinders vertolk.

Victoria is op 30 April 1884 met prins Ludwig van Battenberg, ’n offisier van die Britse vloot, getroud. Hy was haar pa se neef en het vroeër Britse burgerskap aanvaar. Haar pa was teen die huwelik gekant, maar Victoria het haar eie kop gevolg. Haar pa is dieselfde aand in die geheim met sy minnares, Alexandrine de Kolemine, getroud. Sy huwelik met ’n geskeide vrou uit die burgerstand het die Britse adel geskok en weens diplomatieke en familiedruk moes hy sy eie huwelik laat nietig verklaar.Hough, pp. 117–122

Oor die volgende 16 jaar het Victoria vier kinders gehad:

NaamGeboorteDoodHuwelikAlice25 Februarie 18855 Desember 1969Trou in 1903 met prins Andrew van Griekeland en DenemarkeVyf kinders, onder andere prins Philip, die Hertog van EdinburgLouise13 Julie 18892 Maart 1965Trou in 1923 met koning Gustaf VI Adolf van Swede (sy tweede huwelik)Een doodgebore dogterGeorge, 2de Markies van Milford Haven6 November 18928 April 1938Trou in 1916 met gravin Nadejda Mikhailovna de TorbyTwee kindersLouis, 1ste graaf Mountbatten van Birma25 Junie 190027 Augustus 1979Trou in 1922 met Edwina Cynthia Annette AshleyTwee kinders

Sy het saam met haar man by verskeie vlootbasisse in Europa gewoon. Sy het haar eie kinders opgevoed en hulle aan nuwe idees bekendgestel.Hough, p. 177 Haar seun Louis het in 1968 van haar gesê sy was ’n "lopende ensiklopedie". Sy het kennis van verskillende onderwerpe opgebou "en sy kon dit alles interessant maak terwyl sy my dit geleer het. Sy het my geleer om dit te geniet om hard te werk en om deeglik te wees." Sy was buitengewoon uitgesproke en liberaal vir ’n lid van die koninklike familie.

Sy het haar familie oorsee dikwels besoek, ook haar twee susters Elisabeth en Alix wat in die Russiese Huis van Romanof ingetrou het – Elisabeth met groothertog Sergei Aleksandrowitsj en Alix met tsaar Nikolaas II. Victoria was een van die tsarina se familielede wat haar onder die invloed van Raspoetin probeer uitkry het.Hough, p. 264 Toe die Eerste Wêreldoorlog in 1914 uitbreek, was Victoria en haar dogter Louise in Jekaterinburg, Rusland. Hulle het per trein en stoomboot na Sint Petersburg en van daar na Stockholm gereis, en van Noorweë af het hulle met "die laaste skip" terug na Brittanje gevaar.Hough, p. 289

Latere lewe duimnael|180px|’n Punch-spotprent uit 1917 van koning George V wat lede van die koninklike familie se Duitse titels wegvee.

Prins Ludwig moes noodgedwonge aan die begin van die oorlog uit die Britse vloot bedank toe sy Duitse herkoms ’n verleentheid geword het, en die egpaar het vir die res van die oorlog op die Eiland Wight gaan woon.Hough, p. 274 Toenemende vyandigheid van die Britte teenoor Duitsland het daartoe gelei dat koning George V afstand gedoen het van sy Duitse titels, en op 14 Julie 1917 het prins Ludwig en prinses Victoria ook van hul titels afstand gedoen. Hulle het ’n Engelse weergawe van Battenberg, Mountbatten, as hul van aangeneem en Ludwig het sy naam na Louis verander. Vier maande later het George V vir Louis die titel Markies van Milford Haven gegee. Tydens die oorlog is Victoria se twee susters in Rusland deur die Bolsjewiste vermoor en haar broer, Ernst Ludwig, is in Hesse van die troon gesit.

Ná haar man, Louis, se dood het Victoria by Kensington-paleis ingetrek. In 1930 het haar oudste dogter, Alice, die ma van prins Philip, ’n senu-ineenstorting gehad en is sy met skisofrenie gediagnoseer.Vickers, p. 200–205 In die volgende dekade was Victoria grootliks verantwoordelik vir prins Philip se opvoeding, ook tydens sy ouers se skeiding en sy ma se opname in ’n inrigting.

In 1937 is Victoria se broer, Ernst Ludwig, dood en kort daarna het haar weduwee-skoonsuster, haar broerskind, kleindogter en twee van haar agterkleinkinders almal in ’n vliegtuigongeluk by Oostende gesterf. Die volgende jaar is Victoria se seun George aan beenkanker dood.Hough, p. 365 Ná die oorlog is haar seun Louis die amp onderkoning van Indië aangebied en hy het dit ondanks haar teenkanting aanvaar.Ziegler, p. 359

In die Britse somer van 1960 het Victoria brongitis gekry.Ziegler, p. 506 Sy is in Kensington-paleis oorlede.

Verwysings

Eksterne skakels St. Mildred-kerk, Whippingham, Eiland Wight Die Mountbatten-argied by die Universiteit van Southampton

15px Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia

Kategorie:Britse adel Kategorie:Huis van Hesse Kategorie:Geboortes in 1863 Kategorie:Sterftes in 1950 Kategorie:Battenberg-familie