Shamima Salahuddin Shaikh (14 September 1960 - 8 Januarie 1998) was 'n wel-bekende Suid-Afrikaanse vroueregte-aktivis, noemenswaardige Islamitiese feminis en joernalis.

Lewensgeskiedenis Shamima Salahuddin Shaikh is op 14 September 1960 in Louis Trichardt gebore. Sy was die tweede uit die ses kinders van Salahuddin en Mariam Shaikh.

Nadat sy haar eerste skooljare voltooi het, het haar gesin na Pietersburg verhuis. Sy het in 1978 gematrikuleer en daarna studeer sy aan die Universiteit van Durban-Westville om 'n BA-graad in Arabies en Sielkunde te verwerf.

In 1984 het sy betrokke by die Azanian People’s Organisation (AZAPO) geraak en in 1985 is sy verkies as een van die lede van die uitvoerende komitee van die Islamitiese Vereniging van UD-W. Op 4 September 1985 is Shamima in hegtenis geneem in verband met die verspreiding van pamflette wat 'n verbruikersboikot teen Wit-ondernemings bevorder het. Op 20 Desember 1987 trou sy met haar mede-aktivis Na'eem Jeenah, hulle het twee kinders.http://naeemjeenah.shams.za.org/

Sy was die redakteur van al-Qalam, 'n Moslem-gemeenskapkoerant van die Moslemjeugbeweging van Suid-Afrika. Onder haar redaksie was al-Qalam die vlagskip vir 'n progressiewe uitdrukking van Islam in Suid-Afrika. In 1993 het Shamima die Taraweeh-gebede by die 23ste Straat-moskee in Fiestas, Johannesburg gelei.

Sy het verklaar dat die Moslemgemeenskap moet in die 1994-verkiesings vir bevrydingsbewegings soos die African National Congress (ANC) en die Pan Africanist Congress (PAC) stem.

In April 1997 het sy die Hajj-pelgrimstog na Mekka onderneem.

As gevolg van kanker is sy op 8 Januarie 1998 / 9 Ramadan 1418, oorlede. Die gebede by haar begrafnis is op haar versoek, deur 'n vrou (haar vriendin Farhana Ismail) gelei.

Publikasies Sy het twee manuskripte geskryf, Journey of Discovery: A South African Hajj Women & Islam – The Gender Struggle in South Africa: The Ideological Struggle

Bronne

Kategorie:Geboortes in 1960 Kategorie:Sterftes in 1998 Kategorie:Suid-Afrikaanse anti-apartheidsaktiviste Kategorie:Suid-Afrikaanse feministe