Die Chongoni-rotskunsgebied is in die Sentrale Streek van Malawi en bestaan uit 127 terreine op die beboste heuwels van die Malawiplato met uitbeeldings van rotskuns en deur die jagters- en die landbougemeenskap van die Laat Steentydperk en Ystertydperk. Hierdie antieke vorm van die uitbeelding van die kulturele geskiedenis is vandag nog gewild.

Die rotskuns is op granietformasies aangebring en bestaan uit uitbeeldings wat toegeskryf word aan die Twa-jagtersgemeenskap, wat in die Steentydperk hier gewoon het, en die Chewa-landbougemeenskap, wat die gebied in die Ystertydberk bewoon het. Vanweë dié kulturele belangrikheid is die gebied in 2006 tot ’n Unesco-wêrelderfenisgebied verklaar; die kriteria is die ryk kulturele tradisies van die rotskuns en die voortdurende skakel met die hedendaagse gemeenskap. Die kuns, wat rituele en seremonies uitbeeld, is meestal die handewerk van die vroue van die Chewa-stam. Die tradisie word voortgesit deur die Bantoevolke in Changoni.

Geografie Die gebied is in die bergagtige distrik van Dedza, wat op 1 600 m die hoogste dorp in Malawi is, en sowat 80 km suidoos van Lilongwe. Dit is na berig word die "digste versameling rotskuns" in Sentraal-Afrika. Die 127 terreine beslaan ’n gebied van 126,4 km2 en is geleë aan die heuwelhange van die beboste gebied, waar dit beskerm word deur rotse wat uit die hange steek. Vyf terreine lê buite die grense van die Chongoni-woudreservaat.

Geskiedenis Argeologiese bewyse dui op bewoning van die gebied in die Laat Pleistoseen-tydsnede. Artefakte van 2500 v.C. dui ook daarop dat jagters in die Laat Steentydperk hier gewoon het.

Jagters van die eerste millennium n.C. was verantwoordelik vir wit rotskuns in die gebied. Die natuurlike figure is van wit klei gemaak. Die jagters- en die landbougemeenskap het saam hier gewoon tot in die 19de eeu, toe eersgenoemde groep in die landbougemeenskap opgeneem is. In die 15de eeu het die Maravi-Chewa-stam (na wie die land Malawi genoem is) uit die noordweste hierheen getrek, al die groepe verenig en die Maravi-ryk gestig. Daarna het die Ngoni-stam, wat uit Suid-Afrika gevlug het, in die suidelike streek van die Chongoni-gebied kom woon. Dit het daartoe gelei dat die Nyau, ’n deel van die Chewa-stam wat hulle vyandiggesind was, na skuilplekke getrek het. Hulle het egter ondanks teenstand van die Ngoni, die sendelinge en die koloniale administrasie van die land die bewaring van hul kultuur verseker.

Nadat die gebied in 1924 tot ’n woudreservaat verklaar en die grense van dorpies vasgestel is, is die eerste rotstekeninge in die 1930' hier ontdek. Later, in die 1950's, is besonderhede oor ’n paar terreine gepubliseer. Vyf van die 127 terreine is toe in 1969 tot beskermde nasionale monumente verklaar. Hulle is oop vir die publiek.

Eienskappe Ná die migrasie van Chewa-landbouers na die gebied was wit klei die medium wat vir tekeninge gebruik is terwyl hul voorgangers, die Twa-pigmeë, rooi in hul tekeninge gebruik het. Dié tradisie is vandag nog gewild en word verbind met rituele van vroue-inisiasie en met reën- en begrafnisrites. Die rotskuns dien ook as simbool van die geheime Nyau-gemeenskap.

Die kuns word in vier tradisies verdeel: dié van die Twa-pigmeë, die vroegste gemeenskap van jagters; die Chewa-landbougemeenskap; die Ngoni-stam en die koloniste.

Verwysings

Bibliografie

Kategorie:Wêrelderfenisgebiede in Malawi Kategorie:Argeologiese vindplekke