Andorra (Katalaans: [ənˈdorə], ), amptelik die Prinsdom Andorra (Katalaans: Principat d'Andorra, [pɾinsiˈpad dənˈdorə]), ook genoem die Prinsdom van die Valleie van Andorra Funk and Wagnalls Encyclopedia, 1991 (Katalaans: Principat de les Valls d'Andorra), is 'n landingeslote dwergstaat in Suidwestelike Europa, geleë in die oostelike Pireneë en omgrens deur Spanje en Frankryk. Dit is die sesde kleinste land in Europa, met 'n oppervlakte van 468 km² (181 myl²) en 'n beraamde bevolking van 85 470 (2014). Die hoofstad, Andorra la Vella, is die hoogsliggende hoofstad in Europa teen bo seevlak. Die amptelike taal is Katalaans, hoewel Spaans, Portugees en Frans ook algemeen gepraat word.

duimnael|links|Nasa-satellietbeeld van Andorra Die huidige prinsdom gevorm in 1278, het onder 'n handves van 988 tot stand gekom. Andorra staan bekend as 'n prinsdom aangesien dit 'n monargie is gelei deur twee mederegerende prinse – die Biskop van Urgell en die President van Frankryk.

Andorra is 'n welvarende land, grootliks te danke aan sy toerismebedryf, wat 'n geskatte 10,2 miljoen besoekers jaarliks bedien, en ook danksy sy status as belastingtoevlugsoord. Dit is nie 'n lid van die Europese Unie nie, maar die euro is die de jure geldeenheid. Die inwoners van Andorra het die vierde hoogste lewensverwagting in die wêreld – 82 jaar by geboorte.

Etimologie Die oorsprong van die woord "Andorra" is onbekend, hoewel daar al verskeie teorieë voorgestel is. Die oudste een is voorgestel deur die antieke Griekse historikus Polybios (Die Geskiedenisse III, 35, 1) wat die Andosins beskryf, 'n Iberiese voor-Romeinse stam, wat histories in die valleie van Andorra geleef en tydens die Puniese Oorloë die Kartagiese weermag op hul deurmars deur die Pireneë in die gesig gestaar het. Die woord Andosini of Andosins (Grieks: Ἀνδοσίνοι) is dalk ontleen aan die Baskiese woord handia wat "groot" of "giganties" beteken. Die Andorrese toponimie dui op oorblyfsels van die Baskiese taal in die gebied. Volgens 'n ander teorie is die woord Andorra dalk ontleen aan die ou woord Anorra wat die Baskiese woord ur ("water") bevat.

Volgens 'n ander teorie is die woord Andorra dalk ontleen aan die Arabiese woord ad-dārra (الدَّارَة) wat op 'n stuk grond dui geleë tussen berge of 'n sterk beboste gebied (met ad- as die bepaalde lidwoord). Toe die Arabiere en More die Iberiese Skiereiland verower het, was die valleie van die Hoë Pireneë met groot woudgebiede bedek. Dié streke is nooit deur Moslems regeer nie, omdat die geografie direkte heerskap belemmer het.

Ander teorieë stel voor dat die term afgelei is van die Navarro-Aragonese "andurrial" wat "land bedek met bosse" of "struikland" beteken.

Volgens die volksetimologie het Karel die Grote die streek genoem na die Bybelse vallei Endor of Andor (waar die Midianiete verslaan is), 'n naam wat later deur sy seun en opvolger Lodewyk die Vrome na sy oorwinning teen die More aan die "wilde valleie van die Hel" gegee is.

Geskiedenis

duimnael|links|upright|Die Andorrese wapenskild by die Andorrese parlement. Volgens oorlewering het Karel die Grote (Charlemagne) 'n handves uitgereik aan die mense van Andorra as vergoeding vir hulle stryd teen die More.

Opperheerskappy oor die gebied is uitgeoefen deur die Graaf van Urgell en naderhand deur die biskop van die Bisdom van Urgell. In 988 het Borrell II, Graaf van Urgell, die Andorra-valleie aan die Bisdom van Urgell oorhandig in ruil vir grond in Cerdanya. Sedertdien is die Bisdom van Urgell, geleë in Seu d'Urgell, die eienaar van Andorra.

Voor 1095 het Andorra geen vorm van militêre beskerming geniet nie en het die Biskop van Urgell, wat geweet het die Graaf van Urgell wil die valleie terugneem, die Heer van Caboet gevra vir ondersteuning en beskerming. In 1095 het die Heer van Caboet en die Biskop van Urgell, onder eed, 'n deklarasie onderteken wat beide mede-soewereiniteit oor Andorra gee. Arnalda, dogter van Arnau van Caboet, het met die Burggraaf van Castellbò in die huwelik getree en albei word daarna Burggrawe van Castellbò en Cerdanya. Jare daarna het hul dogter, Ermessenda, in die huwelik getree met Roger Bernat II, die Franse Graaf van Foix. Hulle word toe Roger Bernat II en Ermessenda I, Grawe van Foix, Burggrawe van Castellbò en Cerdanya, en mede-heersers van Andorra (gedeel met die Biskop van Urgell).

In die 11de eeu het daar 'n dispuut ontstaan tussen die Biskop van Urgell en die Graaf van Foix. Die konflik is ontlont in 1278 deur bemiddeling van Aragon met die ondertekening van die eerste oktrooi in Katalonië, wat voorsiening daarvoor maak dat Andorra se soewereiniteit gedeel word deur die Graaf van Foix (wie se titel uiteindelik oorgedra sou word aan die Franse staatshoof) en die Biskop van Urgell. Dit gee aan die prinsdom sy grondgebied en politieke struktuur.

Oor die jare heen is die mede-titel vir Andorra oorgedra aan die konings van Navarre. Nadat Hendrik van Navarre, Koning Hendrik IV van Frankryk geword het, reik hy in 1607 'n edik uit wat die Franse staatshoof en die Biskop van Urgell bevestig as die gesamentlike prinse van Andorra. In 1812–1813 het die Eerste Franse ryk Katalonië geannekseer en in vier départements verdeel. Andorra word deel van die Puigcerdà-distrik (département van Sègre).

20ste eeu duimnael|links|upright|Boris Skossyreff, kortliks self-geproklameerde "Koning van Andorra" in 1934. Andorra verklaar oorlog teen die Duitse Keiserryk tydens die Eerste Wêreldoorlog, maar neem egter nie deel aan die gevegte nie. Die prinsdom bly in 'n toestand van oorlog tot 1939 aangesien hy nooit ingesluit was by die Verdrag van Versailles nie.

In 1933 beset Frankryk Andorra as gevolg van sosiale onrus voor verkiesings. Op 12 Julie 1934 reik die avonturier Boris Skossyreff 'n proklamasie uit in Urgell en verklaar homself as "Boris I, Koning van Andorra", en verklaar verder ook oorlog teen die Biskop van Urgell. Hy is op 20 Julie gearresteer deur Spaanse owerhede en op die ou einde ook uitgesit uit Spanje. Van 1936 tot 1940 is 'n Franse afdeling in Andorra gestasioneer om die invloed van die Spaanse Burgeroorlog en Francisco Franco se Spanje te keer. Franco se troepe bereik die Andorrese grens in 'n latere stadium van die oorlog. Tydens die Tweede Wêreldoorlog bly Andorra neutraal en word 'n belangrike smokkelroete tussen Vichy-Frankryk en Spanje.

Gegewe sy relatiewe isolasie bly Andorra buite die hoofstroom van Europese geskiedenis met enkele bande met lande buiten Frankryk en Spanje. In die afgelope tyd het die land se florerende toerismebedryf tesame met vooruitgang in vervoer en kommunikasie hom egter uit sy isolasie laat kom. Die politieke stelsel is gemoderniseer in 1993 na dit 'n lid geword het van die Verenigde Nasies en die Raad van Europa.

Politiek

Andorra is 'n parlementêre gesamentlike prinsdom met die President van Frankryk en die Biskop van Urgell (Katalonië, Spanje), as onderskeie prinse. Hierdie eienaardigheid maak van die President van Frankryk in sy hoedanigheid as die Prins van Andorra, 'n verkose regerende vors, selfs al is hy nie deur 'n populêre stem van die Andorrese verkies nie. Andorra se politiek vind plaas binne 'n raamwerk van 'n parlementêre verteenwoordigende demokrasie, met die eerste minister van Andorra as staatshoof, en 'n veelvormige veelpartystelsel.

Die huidige eerste minister is Xavier Espot Zamora van die Demokrate vir Andorra (DA). Uitvoerende gesag word deur die regering uitgeoefen. Wetgewende gesag is in beide die regering en parlement gevestig.

duimnael|Casa de la Vall, die historiese en seremoniële parlement van Andorra duimnael|Die nuwe parlement van Andorra, hoofkantoor van die Algemene Raad sedert 2011, langs Casa de la Vall Die parlement van Andorra staan bekend as die Algemene Raadsvergadering. Die Algemene Raadsvergadering bestaan uit tussen 28 en 42 raadslede, soos die lede van die wetgewende gesag genoem word. Die raadslede dien vir 'n tydperk van vier jaar en verkiesings word gehou tussen die dertigste en veertigste dag na die ontbinding van die vorige raadsvergadering. Die raadslede kan verkies word vanuit twee gelyke kiesafdelings.

Helfte word verkies in gelyke getalle vanuit elk van die sewe administratiewe gemeentes en die ander helfte van die raadslede word verkies vanuit 'n enkele nasionale kiesafdeling. Vyftien dae na die verkiesing vind die raadslede se inhuldiging plaas. Gedurende die geleentheid word die Algemene adviseur wat aan hoof van die Algemene raadsvergadering staan en die Algemene sub-adviseur, sy assistent, verkies. Agt dae later kom die raadsvergadering weer byeen. Tydens die geleentheid word die Staatshoof, die eerste minister, verkies vanuit die raadslede.

Kandidate vir nominasie vir eerste minister kan benoem word deur 'n minimum van een vyfde van die raadslede. Die raadsvergadering verkies dan die kandidaat met die absolute meerderheid van stemme as die nuwe staatshoof. Die Algemene adviseur verwittig dan die twee mede-prinse, wat weer op hulle beurt die verkose kandidaat aanstel as die eerste minister van Andorra. Die Algemene raadsvergadering is ook verantwoordelik vir die voorstel en goedkeuring van nuwe wette. Wetsontwerpe mag aan die Raadsvergadering voorgestel word as 'n private wetsontwerp, deur drie van die plaaslike gemeentes gesamentlik, of deur ten minste 'n tiende van die burgers van Andorra.

Die Algemene vergadering keur ook die jaarlikse begroting van die prinsdom goed. Die regering moet die voorgestelde begroting vir parlementêre goedkeuring ten minste twee maande voor die vorige begroting se tydperk verstryk, inhandig. Indien die begroting nie goedgekeur word teen die eerste dag van die daaropvolgende jaar nie word die vorige begroting verleng tot 'n nuwe een goedgekeur is. Sodra enige wetsontwerp goedgekeur is, is die Algemene adviseur verantwoordelik daarvoor om dit aan die twee prinse voor te lê vir ondertekening en uitvoering.

Indien die Staatshoof nie tevrede is met die Raadsvergadering nie, mag hy versoek dat die prinse dit ontbind en 'n nuwe verkiesing afkondig. Die raadslede het ook die mag om die Staatshoof uit sy amp te onthef. Na 'n mosie van wantroue deur ten minste een vyfde van die raadslede aanvaar is, sal die Raadsvergadering daaroor stem, en indien dit 'n absolute meerderheid van stemme ontvang sal die eerste minister uit sy stoel gelig word.

Justisie en strafreg Die regbank word saamgestel uit die Landdroshof, die Strafregtelike hof, die Hooggeregshof van Andorra en die Konstitusionele hof. Die Hooggeregshof word saamgestel uit vyf regters: een aangestel deur die staatshoof, een elk deur die twee prinse, een deur die Algemene adviseur en een deur die regters en magistrate. Die regbank word gelei deur die lid aangestel deur die Algemene adviseur, en die regters beklee die amp vir 'n dienstermyn van ses jaar.

Die magistrate en regters word deur die Hooggeregshof aangestel, en so ook die president van die Strafregtelike hof. Die Hooggeregshof stel ook die lede van die Kantoor van die Prokureur-Generaal aan. Die Konstitusionele hof is daarvoor verantwoordelik om die grondwet te vertolk en alle versoeke om appèl wat indruis teen die grondwet en ander verdrae, te hersien. Dit bestaan uit vier regters, een elk gekies deur die prinse en twee deur die Algemene raadsvergadering. Hulle beklee 'n agt-jaar termyn. Die hof is onder leierskap van die een van die regters en word elke twee jaar afgelos, sodat elke regter op een stadium die leisels dra.

Buitelandse betrekkinge, verdediging en sekuriteit

duimnael|Ambassade van Andorra in Brussel, België