Madagaskar (Frans: Madagascar, ; Malgassies: Madagasikara, ), amptelik die Republiek Madagaskar (Frans: République de Madagascar; Malgassies: Repoblikan'i Madagasikara, [republiˈkʲan madaɡasˈkʲarə̥]), is ’n eilandstaat in Afrika sowat 400 km oos van die Mosambiekse kus. Dit is die grootste eilandstaat in die Indiese Oseaan en naas Indonesië die grootste ter wêreld. Teen sowat ’n halfmiljoen vierkante kilometer is die eiland so groot soos Frankryk, sy voormalige koloniseerder. Die hoofstad en grootste stad is Antananarivo, wat in die middel van die land geleë is.

duimnael|links|upright|’n Kaart van Madagaskar. Nosy beteken "eiland" in Malgassies Madagaskar is teenoor Mosambiek geleë, net suidoos van die Comore-eilande en Mayotte, en wes van Mauritius en Réunion. Dit word deur die Mosambiekkanaal van Mosambiek geskei.

Die land bestaan uit Madagaskar, die wêreld se vierde grootste eiland, en talle klein eilandjies. Ná die prehistoriese verbrokkeling van die superkontinent Gondwana het Madagaskar sowat 88 miljoen jaar gelede geskei geraak van die Indiese subkontinent. Dit het tot gevolg gehad dat die eiland se diere en plante in redelike isolasie ontwikkel het – meer as 90% van die natuurlewe word nêrens anders op aarde aangetref nie. Die eiland se uiteenlopende ekostelsels en unieke natuurlewe word bedreig deur die vinnige uitbreiding van die bevolking en ander omgewingsfaktore.

Die eerste argeologiese bewyse van menslike lewe op Madagaskar dateer van 2000 v.C. Austronesiese volke het tussen 350 v.C. en 550 n.C. in vlerkproue van Borneo af gekom. Omstreeks 1000 n.C. het Bantoevolke van Oos-Afrika die Mosambiekkanaal oorgesteek na Madagaskar. Mettertyd het nog volke hulle op die eiland gevestig, wat elk ’n blywende invloed op die Malgassiese kultuurlewe gehad het. Die bevolking word dikwels in 18 of meer subgroepe verdeel waarvan die grootste die Merina van die sentrale hoogland is.

Tot in die laat 18de eeu is die eiland regeer deur ’n gefragmenteerde verskeidenheid sosiopolitieke bondgenootskappe. Aan die begin van die 19de eeu is die grootste deel van die eiland verenig en deur ’n reeks Merina-adellikes regeer as die Koninkryk Madagaskar. Die monargie het in 1897 tot ’n einde gekom toe die eiland in die Franse koloniale ryk opgeneem is. Madagaskar het in 1960 sy onafhanklikheid van Frankryk verkry. Die outonome staat Madagaskar het sedertdien deur vier groot konstitusionele tydperke gegaan wat as republieke bekend staan.

Sedert 1992 is die nasie amptelik as ’n konstitusionele demokrasie vanaf sy hoofstad, Antananarivo, regeer. In 2009 is president Marc Ravalomanana egter in ’n volksopstand gedwing om te bedank en in Maart 2009 het Andry Rajoelina president geword. Die konstitusionele regering is in Januarie 2014 herstel nadat Hery Rajaonarimampianina die vorige jaar in ’n verkiesing as president verkies is. Madagaskar is lid van die Verenigde Nasies, die Afrika-unie, die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap en die Organisation Internationale de la Francophonie.

Madagaskar is volgens die VN een van die wêreld se mins ontwikkelde lande. Malgassies en Frans is albei amptelike tale. Die grootste deel van die bevolking volg tradisionele gelowe, Christenskap of ’n mengsel van die twee. Ekotoerisme en landbou, wat gepaardgaan met groter beleggings in opvoeding, gesondheid en privaat ondernemings, is sleutelelemente van Madagaskar se ontwikkelingstrategie. Onder Ravalomanana het hierdie beleggings tot aansienlike ekonomiese groei gelei, maar die voordele is nie eweredig onder die bevolking versprei nie en die toenemenede lewenskoste en dalende lewenstandaarde het spanning veroorsaak onder die armes en sekere dele van die middelklas. Sedert 2017 het die ekonomie agteruitgegaan weens die politieke krisis van 2009 tot 2013, en die grootste deel van die bevolking se lewensgehalte bly laag.

Etimologie In Malgassies, die taal van Madagaskar, is die eiland se naam Madagasikara. Die mense word Malgasse genoem. Die naam "Madagaskar" is nie van plaaslike oorsprong nie, maar is in die Middeleeue deur Europeërs gebruik en gevestig.Cousins (1895), pp. 11–12 Die naam Madageiscar het die eerste keer in die memoires van die 13de-eeuse Venesiese verkenner Marco Polo voorgekom.

Op Sint Lawrence-dag in 1500 het die Portugese verkenner Diogo Dias op die eiland geland en dit São Lourenço gedoop. Polo se naam is egter verkies op kaarte van die Renaissance. Dit lyk nie of enige ander naam voor Madagasikara in Malgassies gebruik is nie, hoewel sommige gemeenskappe hul eie name het vir die grond of dele van die grond wat hulle bewoon.

Geografie

duimnael|Nasa-satellietbeeld van Madagaskar Teen 592 800 km² is Madagaskar die 49ste grootste land en die vierde grootste eiland ter wêreld. Die land lê hoofsaaklik tussen die breedtegrade 12°S en 26°S, en die lengtegrade 43°O en 51°O.Moriarty (1891), bl. 1–2 Naburige eilande sluit in die Franse Réunion en die land Mauritius in die ooste, en die staat Comore en die Franse gebied Mayotte in die noordweste. Die naaste land op die vasteland is Mosambiek in die weste.

Met die prehistoriese verbrokkeling van die superkontinent Gondwana is die landmassa Madagaskar-Antarktika-Indië sowat 135 miljoen jaar gelede geskei van die landmassa Afrika-Suid-Amerika. Madagaskar het sowat 88 miljoen jaar gelede wegbeweeg van Indië. Dit het meegebring dat die eiland se plante en diere in taamlike isolasie ontwikkel het. Aan die ooskus loop ’n smal, steil platorand met ’n groot deel van die eiland se oorblywende tropiese laaglandwoud.

Wes hiervan lê ’n plato in die middel van die eiland wat in hoogte wissel tussen 750 en 1 500 m bo die seevlak. Hierdie sentrale hoogland is tradisioneel die tuiste van die Merina-volk en die ligging van hul historiese hoofstad, Antananarivo; dit is die digs bevolkte deel van die eiland en word gekenmerk deur terrasse met ryslande wat lê tussen grasbedekte heuwels en kolle van die grasveldwoude wat voorheen die hooglandstreek bedek het. Wes van die hoogland loop die al hoe droër terrein geleidelik af na die Mosambiekkanaal en wortelboomvleie aan die kus.

Madagaskar se hoogste pieke kom in drie prominente hooglandmassiewe voor: Maromokotro (2 876 m) in die Tsaratanana-massief is die eiland se hoogste punt, gevolg deur Boby Peak (2 658 m) in die Andringitra-massief en Tsiafajavona (2 643 m) in die Ankaratra-massief. In die ooste is die Canal des Pangalanes, ’n ketting mensgemaakte en natuurlike mere wat deur kanale verbind word wat die Franse ’n ent van die ooskus gebou het en 600 km ver parallel met die kus loop.

Die westelike en suidelike dele, wat in die reënskadu van die sentrale hoogland lê, is die tuiste van droë, bladwisselende woude en woestyne. Omdat die gebied minder dig bevolk is, het die droë woude beter bewaar gebly as die oostelike reënwoude of die oorspronklike boslande van die sentrale plato. Die weskus het baie beskermde hawens, maar aanslikking is ’n groot probleem. Dit word veroorsaak deur sediment weens die hoë vlak van binnelandse erosie wat in die riviere beland wat die breë westelike vlaktes deurkruis.

Klimaat duimnael|links|’n Kaart van Madagaskar se Köppen-klimaatklassifikasie duimnael|upright|’n Biologiese tydlyn van Madagaskar oor die afgelope 200 miljoen jaar. Die kombinasie van suidoostelike passaatwinde en noordwestelike moesonwinde lei tot ’n warm reënseisoen (November-April) met gereelde vernietigende siklone, en ’n relatief koeler, droë seisoen (Mei-Oktober). Reënwolke wat oor die Indiese Oseaan ontstaan, bring neerslae oor die eiland se ooskus; die swaar neerslae ondersteun die gebied se reënwoudekostelsel. Die sentrale hoogland is droër, asook koeler, terwyl die weste nog droër is. ’n Halfdroë klimaat heers in die suidweste en suidelike binneland.

Tropiese siklone veroorsaak elke jaar skade aan die infrastruktuur en plaaslike ekonomieë asook lewensverlies. In 2004 was sikloon Gafilo die sterkste sikloon wat nog in Madagaskar aangeteken is. Die storm het 172 mense gedood, 214 260 dakloos gelaat en miljarde rande se skade aangerig.

Ekologie duimnael|links|Die ringstertlemur is een van die meer as 100 bekende spesies en subspesies van die lemur wat net op Madagaskar aangetref word. duimnael|upright|Die eiland se ikoniese reisigerspalm (Ravenala madagascariensis) kom in die land se nasionale embleem voor Vanweë die eiland se lang isolasie van naburige kontinente word talle plante en diere op Madagaskar nêrens anders ter wêreld aangetref nie. Sowat 90% van die spesies is endemies,Hobbes & Dolan (2008), bl. 517 insluitende die lemur (’n soort halfaap), die karnivore fossa (of fretkat) en baie voëls. Hierdie eiesoortige ekologie maak dat sommige ekoloë na Madagaskar verwys as "die agtste kontinent",Hillstrom & Collier Hillstrom (2003), bl. 50 en Conservation International noem die eiland ’n bioversiteitswarmkol.

Meer as 80 persent van die 14 883 plantspesies word nêrens anders op aarde aangetref nie; dit sluit vyf plantfamilies in. Die familie Didiereaceae, wat uit vier genera en 11 spesies bestaan, is beperk tot Suidwes-Madagaskar se doringboomwoude. Viervyfdes van die wêreld se Pachypodium-spesies is endemies op die eiland. Driekwart van die 860 orgideespesies word net hier aangetref, asook ses van die wêreld se nege kremetartboomspesies. Sowat 170 palmspesies word hier aangetref – drie keer soveel as op die hele vasteland van Afrika; 165 van hulle is endemies.Bradt (2011), bl. 38 Baie inheemse plantspesies word gebruik as kruiemedisyne vir ’n verskeidenheid kwale. Die middels vinblastine en vincristine is vinca-alkaloïedes wat gebruik word vir die behandeling van Hodgkinsiekte, leukemie en ander soorte kanker. Dit word gemaak van die Malgassiese kanniedood.

Die reisigerspalm, wat plaaslik as ravinala bekend isEllis (1859), bl. 302 en endemies in die oostelike reënwoude is, is baie ikonies van Madagaskar en kom voor in onder meer die nasionale embleem.

Nes sy flora, is Madagaskar se fauna uiteenlopend en ’n groot deel daarvan is endemies. Conservation International het die lemur al Madagaskar se vlagskip-soogdierspesie" genoem. In die afwesigheid van ape en ander mededingers het hierdie primate aangepas by ’n groot verskeidenheid habitats en in verskeie spesies ontwikkel. In 2012 was daar amptelik 103 spesies en subspesies, waarvan 39 tussen 2000 en 2008 beskryf is. Hulle is feitlik almal geklassifiseer as seldsaam, kwesbaar of bedreig. Minstens 17 spesies het uitgesterf sedert die mens op die eiland aangekom het – hulle was almal groter as die bestaande spesies.

’n Paar ander soogdiere, onder meer die katagtige fossa, is endemies op Madagaskar. Meer as 300 voëlspesies is op die eiland aangeteken, waarvan meer as 60 persent (insluitende vier families en 42 genera) endemies is. Die paar families en genera van reptiele wat Madagaskar bereik het, het in meer as 260 spesies gediversifiseer; van hulle is meer as 90 persent endemies (insluitende een endemiese familie). Die eiland is die tuiste van tweederdes van die wêreld se verkleurmannetjiespesies, insluitende die kleinste bekende spesie, Brookesia micra. Navorsers het al voorgestel dat verkleurmannetjies in geheel op Madagaskar ontstaan het.

Endemiese vissoorte sluit in twee families, 15 genera en meer as 100 spesies. Hulle kom veral voor in die eiland se varswatermere en riviere. Hoewel ongewerweldes op Madagaskar nie goed bestudeer is nie, glo navorsers daar is ook ’n groot mate van endemisme onder die bekende spesies. Al 651 spesies van die aardslakke is endemies, asook baie van die eiland se skoenlappers, miskruiers, Gaasvlerkiges, spinnekoppe en naaldekokers.

Omgewingskwessies