Jaco Jacobs (gebore 22 Februarie 1980) is ’n Suid-Afrikaanse kinderboekskrywer wat reeds sowat 300 boeke gepubliseer het, benewens sy kortstories en vertalings. Hy beywer hom om 'n liefde vir lees by kinders op skoolvlak te kweek. Sy boeke het al meer as 1 miljoen eksemplare verkoop en is in Engels, Nederlands, Sloweens, Spaans en Italiaans vertaal.

Hy is onder meer bekend as skrywer van die topverkoper-jeugroman Suurlemoen! (wat in 2014 verfilm is). Hy publiseer ook verskeie verhale onder skuilname. As Tania Brink publiseer hy liefdesverhale vir meisies en as Lize Roux publiseer hy die Stalmaats-reeks. Sy driehonderdste boek sou in April 2026 verskyn om saam te val met die herdenking van sy 25 jaar loopbaan as professionele skrywer.

Biografie Jaco Jacobs is op 22 Februarie 1980 op Carnarvon in die Karoo gebore. Hy het op skool reeds begin om vir tydskrifte soos Sarie kortverhale te skryf, hy neem ook al in sy skooldae aan skryfkompetisies deel. In 1998, in sy matriekjaar is hy die hoofseun van Hoërskool Carnarvon. In matriek het hy onder meer die Poortprys vir Prosa en die Poortprys vir Poësie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang.

Hierna studeer hy vanaf 1999 verder aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat waar hy in 2001 die B.A.-graad in Kommunikasiekunde met lof verwerf. In hierdie jaar verwerf hy die dekaansmedalje as die beste voorgraadse student in die Fakulteit Geesteswetenskappe en in 2002 kry hy erekleure in letterkunde op grond van die publikasie van sy jeugboeke. In 2001 het sy eerste kinderboek, Troetelgedrog, by Lapa-uitgewers verskyn.

In 2002 behaal hy die B.A. Honneursgraad in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van die Vrystaat en skryf daarna in vir 'n M.A.-graad in Taalstudies. In Bloemfontein werk hy vir ’n ruk as boekeredakteur van Volksblad en ook redakteur van hierdie koerant se Jip-bylae en die naweekbylae Joernaal. In 2004 word hy kinderboekuitgewer by Lapa-uitgewers, waar hy verantwoordelik is vir die keuring en proeflees van nuwe manuskripte vir publikasie, terwyl hy ook talle oorsese boeke vertaal om in Afrikaans uit te gee. Op gereelde basis besoek hy skole waar hy kinders en tieners aanmoedig om te lees.

Jacobs skryf vir kinders in ’n verskeidenheid genres – van prenteboeke vir kleuters tot jeugromans vir tieners, sowel as nie-fiksie. Daar het ook ’n hele aantal reeksboeke uit sy pen verskyn, waaronder die Zackie Mostert-reeks, die Professor Fungus-reeks en die Stalmaats-reeks. Laasgenoemde is geskryf onder die skuilnaam Lize Roux. Hy het ook ’n aantal jeugverhale onder die skuilnaam Tania Brink geskryf.

Humor is ’n baie sterk kenmerk van sy werk. In ’n onderhoud met Books Live sê hy: “Hulle sê die pad na ’n man se hart loop deur sy maag; maar ek het geleer die pad na ’n leser se hart loop dikwels deur sy lagspiere. Moet nooit ooit die waarde van humor onderskat nie. Selfs al onthou ’n leser niks van ’n storie nie, is die kans goed dat hy die gevoel sal onthou as ’n boek hom kon laat glimlag terwyl hy dit gelees het.”

’n Rolprent gegrond op sy gewilde jeugboek Suurlemoen! is in 2014 vrygestel, gevolg deur Nul is nie niks nie in 2017, ’n filmweergawe van Jacobs se jeugroman Oor ’n motorfiets, ’n zombiefliek en lang getalle wat deur elf gedeel kan word. Van sy kleuterverse is ook in 2012 deur die sangeres Anna Davel getoonset en opgeneem as ’n kinderalbum getiteld In die land van Kammalielie.

Benewens sy skryfwerk is hy ook ’n rubriekskrywer, vryskutjoernalis, blogger en vertaler. Hy het oor die jare reeds meer as 250 kinderboeke in Afrikaans vertaal, insluitend boeke van skrywers soos Julia Donaldson en Chris Riddell.

Jacobs woon in Bloemfontein saam met sy vrou, Elize, en twee dogters, Mia en Emma. Hy het ’n suster wat drie jaar jonger is as hy.

Skryfwerk Op sewejarige ouderdom skryf hy sy eerste “prenteboek”, wat hy self illustreer en met ’n kramdrukker bind. Sy jonger sussie is nie beïndruk nie, waarna hy die skrywery vir eers los. Op dertienjarige ouderdom in graad sewe begin hy weer skryf en voltooi sy eerste boek in matriek, wat later as Pretpark gepubliseer word. Op skool neem hy deel aan die skryfkompetisie van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging en die ATKV se poësie- en kortverhaalwedstryde en wen eerste pryse in almal. As resultaat word sy stories in die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se kompetisiebundel Inkvars opgeneem en as prys van die ATKV kan hy die herfsskool in Potchefstroom bywoon. Steeds op skool ontvang hy ook die Poortprys vir prosa en poësie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. In sy matriekjaar verkoop hy sy eerste tydskrifstories aan Sarie, waarna die verhaalredakteur, Francois Bloemhof, hom aanmoedig om kinderverhale te skryf. In sy studentejare wen hy verskeie pryse vir sy skryfwerk, waaronder die Gerhard Beukes-prys vir kreatiewe skryfwerk in 1999, 2000 en 2001. In 1999 is hy die naaswenner in ’n liefdesverhaalwedstryd van Sarie. Hy stel die bloemlesing Toulopers saam, waarin hy nuwe gedigte van verskeie digters wat spesifiek vir tieners geskryf is, opneem.

Van sy werk word in verskeie versamelbundels opgeneem, insluitende Poort ‘98, Vir tieners deur tieners, Douspoor, Die boek van spoke, Afrikaans-is-lekker-verhale, Van spoke gepraat, Spekskiet, Susie Veer en ander verhale, Sweef, 13 Spookstories, Skreeu, Verlief en Toulopers,Rousseau, Leon. Rapport, 1 Mei 2011 terwyl kortverhale van hom ook in Sarie en Rooi Rose verskyn. Van sy gedigte verskyn ook in Mirror Images, die publikasie van die Poetry Institute of South Africa.

Jeugboeke Dit is met sy kinder- en jeugboeke wat hy sy grootste bydrae maak. Pretpark is ’n spanningsverhaal waarin die Zomna-pretpark die vrede in die dorpie Rustenvrede bedreig. ’n Paar dae voor die opening van die pretpark besoek ’n klompie kunstenaars die skool om ’n voorskou te gee van al die lekker dinge wat die kinders te wagte kan wees. Johan en Anton het egter reeds die vorige middag met die ongeskikte ou sigeunerin kennis gemaak. Nou sit hulle hier op die verhoog van die skoolsaal en sy is besig om hulle te hipnotiseer. Sy sê dit is net ’n onskuldige ou toertjie, maar dan begin die kinders siek word.Visagie, Mari. Beeld, 24 November 2003 Pretpark word in 2004 bekroon met ’n ATKV Kinderboektoekenning vir graad 6-7.

Suurlemoen! vertel van twee seuns, Tiaan en Zane, wat sonder veel sukses ’n rockorkes wil stig. Hulle vind egter uit dat daar altyd iemand is wat jou raaksien. Die titel van die boek is ook die naam van hulle rockorkes.Pople, Laetitia. Beeld, 12 September 2014Van Nierop. Rapport, 14 September 2014 Hierdie boek word in 2008 deur die Suid-Afrikaanse tak van IBBY (The International Board on Books for Young People) as ereboek aangewys in die Afrikaanse kategorie en word later ook verwerk in ’n vollengte rolprent.

Virus is ’n riller vir die jeug, met strippe wat plek-plek die verhaal oorneem.

Verneukpan word in 2007 aangewys as die wenner van die Maskew Miller Longman kompetisie vir jeugletterkunde. Twee graad elf-leerlinge pak in die vakansie voor hulle laaste skooljaar onder valse voorwendsels ’n reis na ’n afgeleë plek in die Karoo aan, sonder dat een van hulle oor ’n rybewys beskik. Hulle doel is om ’n groot ondergrondse rave wat by Verneukpan gehou gaan word, by te woon. Hier kom hulle in aanraking met ’n ouer vrou en gebruik dwelms en sterk drank, maar word wreed ontnugter aan die einde. Letterlik word hulle verneuk by Verneukpan.Harper, Susanne. Beeld, 21 Januarie 2008

Oor 'n motorfiets, 'n zombiefliek en lang getalle wat deur elf gedeel kan word se hoofkarakter is die dertienjarige Martin Retief, ’n eenkantkind wat die geselskap van sy leghornhoenders geniet en Wiskunde gebruik om sin te maak van die lewe. Die nuwe buurseun Drikus is geweldig passievol oor zombieflieks en hy oorreed vir Martin om ’n zombiefliek saam met hom te maak. Chris is die mooiste en kwaaiste meisie in die skool, en sy help ook met die fliek en bied ’n stem van rede aan die twee seuns se weghol-idees. Dit is die begin van ’n spannende verhaal, met talle humoristiese voorvalle. Deur Martin se eenvoudige en byna naïewe lewensbeskouing word moeilike onderwerpe en lewensvrae uitstekend verwoord en hanteer en ’n fyn balans word tussen die positiewe en negatiewe gehandhaaf, terwyl steeds ruimte gelaat word vir ’n leser se eie mening. Die illustrasies word knap aangewend en wys byvoorbeeld vir die leser wat die verteller sien, soos die zombiefliek se plakkaat. Dít versterk die leser se betrokkenheid by die verhaal.Oosthuizen, Mia. Rapport, 10 November 2013 Hierdie boek is in 2014 een van die boeke op ’n langlys deur skrywers in verskeie tale wat om die nuutgestigte Found In Translation-prys meeding. Hierdie kompetisie is ingestel deur die Britse literêre agentskap Rights People, wat kinderboeke wêreldwyd verteenwoordig. Die doel is om belowende internasionale fiksie wat nie oorspronklik in Engels verskyn het nie, vir kinders te vind en die wenboeke word deur vertaling en internasionale verteenwoordiging aan ’n breër gehoor bekendgestel. Die boek is in 2014 ook op die kortlys vir die toekenning van die KykNet-Rapport-prys in die rolprentkategorie.

′n Goeie dag vir boomklim vertel van Marnus se groot geleentheid om raakgesien te word. Hy is die middelste van drie broers, met sy ouer en jonger broer wat gereeld die kalklig steel met hulle uitsonderlike prestasies. Wanneer Leila aan sy deur klop om te vra dat hy ’n petisie teken, begin sy avontuur. Voordat hy mooi weet wat aangaan, sit hy saam met Leila in ’n boom in ’n desperate poging om te keer dat dit afgekap word. In die proses ontmoet hy ’n klomp kleurryke karakters.

Perfek is ’n tiener liefdesverhaal wat in 2010 aangewys word as die wenner van die ATKV Kinderboektoekenning vir graad 6-7.

Duskant die doodlyn is ’n jeugroman oor rugby, waar die stryd om die ligabeker in felheid toeneem wanneer iemand slaappille in die hoofkarakter se waterbottel gooi.Snyman, Maritha. Beeld, 19 Augustus 2002

Kinderboeke Net aliens eet spinasie is in 2006 op die kortlys vir die toekenning van die M.E.R.-prys vir kinderlektuur. Dit bevat sewe grilstories oor vampiere, spoke en ander gedrogte.Venter, Isabelle. Beeld, 1 Augustus 2005

Superheroes vlieg net saans se hoofkarakter is Miek. Hy kleur die witmuis van die Natuurwetenskapklas groen sodat hy nie gedissekteer kan word nie en dieselfde dag kry hy ’n “superhero” in sy agterplaas. In hierdie verhaal kom Miek tot die insig dat alles nie altyd is soos dit op die oog af lyk nie.Vorster, Magdel. Beeld, 28 Junie 2004

In 2005 wen My ouma is 'n rock-ster (geïllustreer deur Frans Groenewald) die ATKV Kinderboektoekenning vir Graad 1-3. Hierdie boek beleef agt herdrukke en word dan in 2015 opgevolg met My ouma is 'n filmster. Rikus se ouma is as hoofsanger van die groep Ouma weer in die nuus. Sy gaan optree in die fliek “Opskop” en nooi Rikus en sy vriend Puleng om byspelers te wees. Op die stel is die twee maar bra verveeld terwyl hulle wag dat die fliek geskiet moet word, maar skielik verskyn ’n pienk teddiebeer langs Rikus. Hy dreig om hom dood te maak as sy ouma nie afsien van haar rol in die fliek nie.Gericke, Lona. Rapport, 7 Junie 2015

In Bertie Blikbrein is Nico se pa ’n uitvinder, wat al baie vreemde dinge ontwerp het, soos haarjel wat van kleur verander, ’n stoel wat jou kielie as jy aan die slaap raak en sandale wat jou toonnaels knip. Sy nuutste uitvinding is ’n regte robot en Bertie Blikbrein kan praat, somme doen en selfs grappies vertel. Toe Nico en sy beste vriend baklei, besluit Nico om Bertie saam skool toe te vat.

Suzie se superdoepersjampoe vertel van Suzie wat almal se hare kam en duidelik bestem is om haarkapper te word. Oupa het egter geen hare nie en Suzie moet ’n plan maak.

Middernagfees is ’n riller waarin vampiere, weerwolwe, ’n zombie-poedel, besoekers uit die buitenste ruim en ’n monstertoilet almal optree om vrees aan te wakker. Hierdie boek verower in 2010 die ATKV Kinderboektoekenning vir graad 4-5.