Eunice Lenore Basson was 'n dosent in Kunsgeskiedenis aan die Universiteit van Suid-Afrika, en is 'n Suid-Afrikaanse digter en skrywer.
Lewe en werk Eunice Lenore Basson is op 24 Maart 1950 in Pretoria gebore. Haar vader was Pierre Johannes Hendrik Basson en haar moeder Gwendoline Eunice Basson (geb. Bondesio). Haar vader het in die 1930’s/40’s gedigte en artikels in Ons Eie Boek, Die Huisgenoot en Die Brandwag onder verskeie skuilname gepubliseer.
Sy matrikuleer in 1967 aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria en studeer vanaf 1969 aan die Universiteit van Pretoria en behaal in 1971 die BA-graad (met Duits en Kunsgeskiedenis as hoofvakke). In 1973 behaal sy die BA Honneursgraad in Duits (met lof) en in 1975 die BA Honneursgraad in Kunsgeskiedenis. In 1984 behaal sy 'n MA-graad in Kunsgeskiedenis met 'n verhandeling oor Die lewe en werk van Bettie Cilliers-Barnard met besondere verwysing na haar steendrukke. In 2003 voltooi sy 'n doktorale proefskrif in Geskiedenis aan die Universiteit van Suid-Afrika oor Die bydrae van Erich Mayer tot die vestiging van 'n estetiese bewussyn en die bevordering van 'n kunsidentiteit in Suid-Afrika tot aan die einde van die 1930’s.
Vanaf 2008 tot 2011 was sy ingeskryf vir die MA-graad in Kreatiewe Skryfkuns aan die Universiteit van Pretoria waar sy in 2009 LAPA Uitgewers se beurs vir kreatiewe skryfkuns ontvang. In 2011 behaal sy dié graad (met lof) met 'n verhandeling oor Die uitbeelding van die vrou in geselekteerde kortverhale van Rachelle Greeff, met spesifieke verwysing na Die Rugkant van die Bruid (1990) en Merke van die Nag (2001) plus die voorlegging van haar digbundel Leiboom.
Vanaf 1973 tot 1979 was sy werksaam in die Staatsdepartemente Buitelandse Sake en Inligting, onder meer as navorser rakende politieke aangeleenthede en vanaf 1980 as navorser in die Sentrum vir Kunshistoriese Navorsing by die Raad vir Geestewetenskaplike Navorsing (RGN) waar sy bevorder is tot hoof van die afdeling Beeldende en Toegepaste Kuns. In 1983 is sy as dosent aangestel in die Departement Beeldende Kunste aan die Universiteit van Pretoria waar sy verantwoordelik was vir die ontwikkeling van die vak Visuele Kommunikasie. In Januarie 1987 is sy as dosent aangestel in die Departement Kunsgeskiedenis en Beeldende Kunste aan die Universiteit van Suid-Afrika waar sy werksaam was tot en met haar uittrede in 2011.
In haar doseerjare was sy vanaf 1992 tot en met 2022 nou betrokke by nagraadse studieleiding en het ook as eksterne eksaminator opgetree by die Universiteit van Suid-Afrika, Universiteit van Pretoria, Noordwes-Universiteit en Tshwane Universiteit vir Tegnologie.
Sy was lid van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Kunshistorici en in 1987 word sy verkies as lid van die redaksionele komitee van die tydskrif SA Kunskalender die amptelike mondstuk van die nasionale liggaam van die SA Kunsvereniging en vanaf 1989 tot 1991 dien sy as redakteur. Vanweë haar betrokkenheid by die nasionale liggaam word sy in 1989 aangestel as visepresident van hierdie liggaam. As dosent in die Departement Kunsgeskiedenis en Beeldende Kunste aan die Universiteit van Suid-Afrika, het sy ook op die redaksie gedien van die geakkrediteerde departementele tydskrif de arte en was kortliks redakteur van hierdie geakkrediteerde vaktydskrif. In haar vakgebied het sy oor jare op verskeie kuns- en keur- en advieskomitees gedien en was vir etlike jare kunsadviseur van Volkskas tot en met die samesmelting om ABSA te vorm. Sy het verskeie artikels oor aspekte van die Suid-Afrikaanse kuns gepubliseer.
Skryfwerk In 1996 publiseer sy 'n aantal gedigte in Tydskrif vir Letterkunde maar haar debuutdigbundel, Leiboom, verskyn eers in 2014 by Queillerie. Hierdie bundel was in 2015 op die kortlys vir die Ingrid Jonkerprys.
Van haar verse word ook opgeneem in die volgende bloemlesings: Oorsprong (2008) ("pandemie", "salon", ""tuinfragment"); Oorsprong II (2009) ("biografie", "vrou", "teraardebestelling"); Vers & vrou (2020) ("Bidsnoer"); Maskers en mure (2021); I wish I’d said Vol. 4 (2021); Die lewe is 'n asem lank (2023) ("Leiboom: Pa", "Ter aarde", "Amper sand", "By die see"); Merang (2025); en Nogmaals vir die bysiende leser (2025) ("Jaarringe").
Digbundels
Leiboom (2014) By die dag (2020) 'n Ander wêreld (2024)
Bloemlesings
Oorsprong (2008) saamgestel deur Henning Pieterse Oorsprong II (2009) saamgestel deur Henning Pieterse Vers & vrou (2020) saamgestel deur Karen de Wet Maskers en mure (2021) saamgestel deur Daniel Hugo en Francois de Jongh I wish I’d said Vol. 4 (2021) saamgestel deur Johann de Lange Die lewe is 'n asem lank (2023) saamgestel deur Frieda van den Heever Merang (2025) saamgestel deur Neil Cochrane en Alwyn Roux Nogmaals vir die bysiende leser (2025) saamgestel deur Joan Hambidge en Marlies Taljard
Resensies en onderhoude Leiboom, resensent: Heilna du Plooy Leiboom, onderhoud met Naomi Meyer (LitNet) Leiboom, onderhoud met Phyllis Green (Sarie) By die dag, resensent: Joan Hambidge (Woorde Wat Weeg) By die dag, resensent: Janien Linde (Versindaba) By die dag, resensent: Amanda Lourens (Literator) 'n Ander wêreld, resensent: Joan Hambidge (Netwerk24) 'n Ander wêreld, resensent: Joan Hambidge (Woorde wat weeg) 'n Ander wêreld, resensent: Marlies Taljard (Versindaba) 'n Ander wêreld, onderhoud met AJ Opperman (Netwerk24) Stehle, Rudolf “Visuele lei tot woordontginning” Beeld 10 Desember 2014 De Vries, Willem “Dié bundels op kortlys” Beeld 17 Oktober 2015
Verwysings
Kategorie:Suid-Afrikaanse skrywers