Maria de Lourdes Villiers Farrow (gebore 9 Februarie 1945) is 'n Amerikaanse aktrise. Sy het die eerste keer aandag getrek met haar rol as Allison MacKenzie in die sepie Peyton Place en haar daaropvolgende kort huwelik met Frank Sinatra. Vir haar vroeë rolprentrol as Rosemary in Roman Polanski se rolprent Rosemary's Baby (1968) is sy benoem vir 'n Bafta en Golden Globe. Sy het in die 1970's in nog verskeie rolprente verskyn, soos Follow Me! (1972), The Great Gatsby (1974) en Death on the Nile (1978).

Farrow was van 1980 tot 1992 in 'n verhouding met die akteur-regisseur Woody Allen en het in dié tydperk in 13 van sy rolprente verskyn; die eerste een was A Midsummer Night's Sex Comedy (1982). Sy is verskeie kere groot lof toegeswaai vir haar rolle in Allen-prente, en is vir Golden Globes benoem vir Broadway Danny Rose (1984), The Purple Rose of Cairo (1985) en Alice (1990). Sy het ook in Hannah and Her Sisters (1986), Crimes and Misdemeanors (1989) en Husbands and Wives (1992) gespeel. In 1992 is Allen in die openbaar deur Farrow daarvan beskuldig dat hy hulle aangenome dogter, Dylan Farrow, seksueel misbruik het. Allen is nooit aangekla nie en het die aantygings ten sterkste ontken.

Sedert die 2000's het Farrow in 'n paar televisierolle verskyn, onder meer 'n herhalende rol in Third Watch (2001-2003). Sy het ook byrolle gehad in rolprente soos The Omen (2006), Be Kind Rewind (2008) en Dark Horse (2011), sowel as die Netflix-reeks The Watcher (2022).

Farrow is ook bekend vir haar omvattende werk as Unicef-ambassadeur. Sy is betrokke by humanitêre aktiwiteite in Darfoer, Tsjad en die Sentraal-Afrikaanse Republiek. In 2008 het die tydskrif Time haar aangewys as een van die invloedrykste mense in die wêreld.

Vroeë lewe en familie thumb|links|240px|Farrow (heel links) en haar gesin, 1950.

Maria de Lourdes Villiers Farrow is op 9 Februarie 1945 in Los Angeles, Kalifornië, gebore as die derde oudste kind van die Australiese rolprentregisseur John Farrow en sy tweede vrou, die Ierse aktrise Maureen O'Sullivan. Sy was een van sewe kinders. Haar ouer broers was Michael en Patrick, en haar jonger broer John Charles. Haar jonger susters was Prudence, Stephanie en Tisa.

Farrow het in Beverly Hills grootgeword in 'n tipiese Katolieke huis. Haar gesin het haar beskryf as eksentriek en verbeeldingryk, en sy sou soms vertonings "met twee dolke en vals bloed" hou vir toerbusse wat verby sterre se huise ry. Op twee jaar oud het sy haar rolprentdebuut gemaak in die kort dokumentêr Unusual Occupations: Film Tot Holiday (1947). Op nege het sy polio gekry. Sy is vir drie weke in afsondering geplaas en het later gesê die ondervinding was "die einde van my kinderjare".

In 1958 het die Farrow-gesin vir 'n kort ruk na Spanje verhuis, waar haar pa die fliek John Paul Jones (1959) geregisseer het. Farrow, toe 13 jaar oud, verskyn kortliks in die prent (sonder 'n krediet).

Op 28 Oktober 1958 is Farrow se oudste broer, Michael, in 'n weermagvliegongeluk dood. Farrow se pa het kwaai begin drink en dit het spanning in die huwelik veroorsaak. In haar memoires onthou Farrow woeste argumente tussen haar ouers wanneer sy hulle besoek het.

Toe Farrow 16 was, het sy saam met haar gesin na Amerika teruggekeer. In dié tyd het haar ouers finansieel gesukkel en haar ma het na New York verhuis om in Broadwayproduksies op te tree. Farrow se pa het in Kalifornië agtergebly, waar hy die volgende jaar, toe sy 17 was, aan 'n hartaanval gesterf het.

Die gesin het min geld gehad ná haar pa se dood, en sy het begin werk om haar en haar sibbes te onderhou. Sy het aanvanklik as 'n model gewerk. Sy het op die verhoog beland as 'n plaasvervanger in 'n New Yorkse produksie van The Importance of Being Earnest.

Loopbaan 1963-'69: Die begin en 'n deurbraak thumb|180px|links|Farrow in Guns at Batasi (1964).

Farrow het 'n oudisie afgelê vir die rol van Liesl von Trapp in The Sound of Music (1965), maar het nie die rol gekry nie. Die filmtoets bestaan nog en verskyn op die DVD vir die 40ste herdenking van die fliek. Sy het in die 1960's in verskeie byrolle verskyn, met haar eerste verskyning wat 'n krediet gekry het in Guns at Batasi (1964).

thumb|180px|Farrow in Rosemary's Baby (1968). In dieselfde jaar het sy bekend geraak as die naïewe Allison MacKenzie in die suksesvolle TV-sepie Peyton Place. Farrow het die reeks in 1966 verlaat op aandrang van Frank Sinatra, met wie sy op 19 Julie 1966 getroud is toe sy 21 en hy 50 was. Sy het daarna in haar eerste groot Britse prent, A Dandy in Aspic (1968), gespeel.

Farrow se eerste hoofrol was in die sielkundige rillerprent Rosemary's Baby (1968), 'n verwerking van die roman met dieselfde naam deur Ira Levin. Dit was 'n reusesukses en word algemeen beskou as 'n klassieke prent van die rillergenre. The Guardian het dit in 2010 "die tweede beste rillerprent van alle tye" genoem. Sy het verskeie pryse gewen, insluitende 'n Golden Globe vir beste nuwe aktrise van die jaar, en het gevestig geraak as 'n hoofrolaktrise. Die resensent Stephen Farber het haar spel beskryf as 'n "elektrifiserende impak... een van daardie min oomblikke dat 'n akteur en karakter 'n wonderbaarlike, byna mitiese harmonie bereik". Roger Ebert noem die prent "briljant" en sê: "Baie van die krediet hiervoor moet gaan aan Mia Farrow, as Rosemary."

thumb|180px|Farrow en Dustin Hoffman in John and Mary (1969). Hierna het Farrow Secret Ceremony in Engeland geskiet saam met Elizabeth Taylor en Robert Mitchum. Die ontvangs was verdeeld, maar die prent het getroue volgelinge gekry. Farrow se ander prent van die 1960's was John and Mary (1969), teenoor Dustin Hoffman. Sy is vir 'n Golden Globe benoem as beste aktrise – komedie of musiekspel.

1970-'79: Teaterwerk en hoofstroomsukses Van vroeg in die 1970's af het Farrow in verskeie klassieke toneelstukke op die verhoog in London verskyn, beginnende met die Royal Shakespeare Company se produksie van 1971 Jeanne d'Arc au bûcher in die Royal Albert Hall, met Farrow as Jeanne.

In dieselfde jaar het sy verskyn in die Britse riller See No Evil, waarin sy die rol vertolk van 'n blinde vrou wie se gesin deur 'n moordenaar bekruip word. Sy het ook in die TV-rolprent Goodbye, Raggedy Ann (1971) die rol vertolk van 'n onstabiele, opkomende Hollywood-ster.

In 1972 het Farrow in die Franse swartkomedie Dr. Popaul verskyn as 'n vrou wat met 'n rokjagter trou, teenoor Jean-Paul Belmondo, en in Follow Me! as 'n vrou wie se ryk man glo sy het 'n affair. Op die verhoog het sy in 1972 die hoofrol gespeel in Mary Rose. Dit is gevolg deur die rol van Irina in The Three Sisters, en 'n dubbele rol in The House of Bernarda Alba (albei 1973).

Farrow was in 1974 Daisy Buchanan in die rolprentverwerking van The Great Gatsby. Die prent het "die morele waardes van die mooi mense van die 1920's ondersoek" en was 'n kommersiële sukses.

In 1998 was Farrow saam met Rock Hudson in die rampfliek Avalanche, en daarna in 'n verwerking van Agatha Christie se Death on the Nile. In 1979 het sy teenoor Anthony Perkins in die toneelstuk Romantic Comedy gespeel, en in die romantiese prent Hurricane teenoor Jason Robards.

1980-'92: Samewerking met Woody Allen thumb|180px|links|Farrow in 1980.

Van die begin van die 1980's het Farrow 'n dekade lange verhouding met die regisseur Woody Allen gehad; hulle het aan baie van sy rolprente saamgewerk. Haar eerste prent saam met Allen was die komedie A Midsummer Night's Sex Comedy (1982), in 'n rol wat aanvanklik vir Diane Keaton bedoel was. Sy het daarna verskyn in Allen se Zelig (1983) as 'n sielkundige wie se pasiënt, Leonard Zelig (Allen), eienskappe aanneem van die mense om hom in 'n poging om gelief te wees.

In Broadway Danny Rose (1984) was Farrow die minnares van 'n lounge-musikant wat met die Mafia deurmekaar raak. Farrow het gewig aangesit en was byna onherkenbaar in die rol; sy is vir 'n Golden Globe vir beste aktrise in 'n komedie of musiekspel benoem. Ná Broadway Danny Rose het Farrow 'n byspelersrol gehad in Jeannot Szwarc se superheldfilm Supergirl (1984). Dit was 'n kommersiële mislukking.

Die volgende prent van Allen waarin Farrow gespeel het, was The Purple Rose of Cairo (1985). Sy is vir 'n Bafta vir beste aktrise benoem, asook vir 'n Golden Globe vir beste aktrise in 'n komedie of musiekspel. Allen het Farrow volgende gebruik in sy Hannah and Her Sisters (1986). Dit is in Februarie 1986 uitgereik en was 'n sukses by die loket. Roger Ebert het gemeen dit was Allen se beste werk tot op datum. Farrow is vir die derde keer vir 'n Bafta benoem.

In 1987 het Farrow verskyn in twee prente wat deur Allen geregisseer is: die komedie Radio Days en die drama September. Farrow het daarna teenoor Gena Rowlands verskyn in Allen se drama Another Woman (1988). Die resensies het gewissel van goed tot sleg.

Sy is volgende gesien in Allen se fantasieprent Alice (1990). Dit was hulle 11de prent saam. In Alice beeld Farrow die titelkarakter uit, 'n vrou van die hoër stand van Manhattan wat verlief raak op 'n jazzmusikant. Dit lei tot Katolieke skuldgevoelens wat tot uiting kom in fisieke kwale, wat sy met kruiemedisyne dokter. Vincent Canby het haar groot lof toegeswaai en sy is benoem vir 'n Golden Globe vir beste aktrise in 'n komedie of musiekspel. Sy het 'n National Board of Review-prys vir beste aktrise gewen. Die volgende jaar was Farrow 'n sirkusvermaakkunstenaar in Allen se swart-wit komedie Shadows and Fog.

In Allen se drama Husbands and Wives (1992) het Farrow die hoofrol vertolk van die vrou van 'n skrywer en professor (Allen) wat 'n verhouding met een van sy studente het. Dit was hulle laaste prent saam en is uitgereik net voordat die twee onder groot publisiteit uitmekaar is.

1993-'99: Rolprente en TV; terugkeer na verhoog thumb|180px|Farrow in 1998.

In die 1990's het Farrow minder gewerk en gesê sy wil haar toewy aan die grootmaak van haar jong kinders. Sy het wel die hoofrol in verskeie prente gespeel, soos die Ierse fliek Widows' Peak (1994) en die komedie Miami Rhapsody (1995).

In 1995 het Farrow ook die hoofrol vertolk in 'n rolprentverwerking van die toneelstuk Reckless. Dit was 'n donker komedie, waarin sy die rol speel van 'n vrou wie se man 'n kontrakmoord op haar reël. Die resensent Stephen Holden het haar groot lof toegeswaai en gesê sy is so perfek in die rol "dat die karakter lyk soos 'n distillasie van byna elke rol wat sy vertolk het sedert sy 'n tiener in Peyton Place was".

In 1997 het Farrow haar outobiografie, What Falls Away, gepubliseer. Sy het 'n kameerol as haarself gehad in Howard Stern se biografiese komedie Private Parts.

In 1998 het sy op TV verskyn in die segment Miracle at Midnight van The Wonderful World of Disney. Dit is 'n dramatisering van die redding van die Deense Jode in die Holocaust. Farrow se volgende rol was dié van 'n vrou met Alzheimer se siekte in die TV-prent Forget Me Never.

In November 1999 het Farrow na Broadway teruggekeer in die rol van Honey in Who's Afraid of Virginia Woolf?, teenoor Matthew Broderick, Jonathan Pryce en Uta Hagen.

2000-tans In die 2000's het Farrow op TV verskyn. In die reeks Third Watch het sy tussen 2000 en 2003 in vyf episodes haar verskyning gemaak. Sy het ook in 2001 in 'n TV-prent met 'n LGBT-tema, A Girl Thing, verskyn teenoor Kate Capshaw en Stockard Channing, gevolg deur 'n hoofrol in die TV-prent The Secret Life of Zoey in 2002.

Sy was ook in dié jaar te sien in die toerende verhoogstuk The Exonerated, gevolg deur 'n hoofrol in Fran's Bed in 2003.

thumb|links|200px|Farrow in 2012. Farrow se eerste rol in jare in 'n rolprent was in 2006 as Mrs Baylock, 'n sataniese kinderoppasser, in die herskepping van The Omen. Hoewel die resensies louwarm was, het Farrow lof ingepalm met haar spel. Die Associated Press het verklaar: "Dankie hemel vir Mia Farrow", en het gesê "haar vertolking is een van die min redes dat die nuwe Omen beter as die oue is".