Wladimir Wladimirowitsj Poetin (Russies: Влади́мир Влади́мирович Пу́тин; gebore 7 Oktober 1952) is ’n Russiese politikus. Hy was van 2000 tot 2008 die tweede president van Rusland en daarna vier jaar lank eerste minister onder Dmitri Medwedef. Met die presidentsverkiesing van 4 Maart 2012 is hy weer verkies tot president vir 'n verlengde termyn van ses jaar.Putin Hails Vote Victory, Opponents Cry Foul RIAN Hy is op 7 Mei as president beëdig.

Hy het op 31 Desember 1999 waarnemende president geword nadat Boris Jeltsin die amp neergelê het. In 2000 het hy die presidentsverkiesing gewen en in 2004 is hy vir ’n tweede termyn herkies tot 7 Mei 2008. Hy kon volgens die Russiese grondwet nie vir ’n derde agtereenvolgende termyn herkies word nie. Poetin was tydens sy termyn as premier ook voorsitter van Verenigde Rusland, ’n party wat 70% van die setels in die Staatsdoema (laerhuis) het.

duimnael|links|Poetin het in Januarie 2018 'n besoek aan die St. Niloes Stolobenski- (Nilof)-klooster op die eiland Stolobni in die Seligermeer (Twer-oblast) gebring. Die besoek is afgerond met 'n klein ysbad. In September 2011, nadat die wet verander is om die presidensiële termyn van vier na ses jaar te verleng,Vasilyeva, Natallya. "Putin claims to support term limits as he readies to take helm for 3rd time" , China Post (12 April 2012) het Poetin aangekondig hy sou hom vir nog ’n termyn verkiesbaar stel in die Russiese presidentsverkiesing van 2012. Dit het gelei tot grootskaalse protesoptogte in baie Russiese stede. Hy het die verkiesing in Maart 2012 gewen en dien tans ’n termyn van ses jaar uit.

Poetin het sedert 2000 weer politieke stabiliteit en ekonomiese vooruitgang gebring en die krisis van die 1990's onder Jeltsin se bewind beëindig. Nadat hy president geword het, het die Russiese ekonomie nege jaar agtereenvolgens gegroei,of Russia from 1992 to 2007 Internasionale Monetêre Fonds, URL besoek op 12 Mei 2008 armoede is met meer as 50 persent verminder en die gemiddelde maandelikse salaris van burgers het van $80 tot $640 gestyg. Hy het Rusland ook as ’n energie-supermoondheid gevestig.Russia, China in Deal On Refinery, Not Gas deur Jacob Gronholt-Pedersen. Wall Street Journal, 22 September 2010Did A New Pipeline Just Make Russia The Most Important Energy Superpower By Far deur Graham Winfrey. Business Insider, 6 Januarie 2010

Poetin se bewind word deur baie Westerse waarnemers as ondemokraties beskou, veral weens sy onderdrukking van persvryheid en sy hardhandige optrede teen betogers en teenstanders van die regeringsbeleid. In 2014 is Rusland uitgesluit uit die G8-groep weens die land se anneksasie van die Krim.U.S., other powers kick Russia out of G8, CNN In Rusland is hy egter baie gewild omdat hy stabiliteit en welvaart gebring het. Dit is onder meer weerspieël deur die feit dat sy gewildheid sedert einde 1999 tot aan die einde van sy tweede ampstermyn nooit laer as 50% gedaal het nie en in Junie 2007 selfs tot 81% gestyg het, volgens ’n meningspeiling deur die Lewada-sentrum in Rusland.Индексы levada.ru Hy was ook die tydskrif Time se Persoon van die Jaar vir 2007.

In die media projekteer Poetin van homself dikwels die beeld van ’n sportiewe, sterk manlike karakter en buitelugmens wat sy politieke selfbeeld as sterk leier (wat ook die fisiese energie het om in diens van sy land hard te werk) versinnebeeld. Hy vertoon dikwels sy fisieke vermoëns en neem deel aan ongewone of gevaarlike bedrywighede soos ekstreme sport.Putin Bolsters Tough Guy Image With Shirtless Photos. Abcnews.go.com (2009-08-05). URL besoek op 2012-03-09. Hy is ’n groot aanhanger van die vegkuns en was in sy jong dae verskeie kere die kampioen van Leningrad in judo en sambo. Hy het ook ’n groot rol gespeel in die ontwikkeling van sport in Rusland, veral om Sotsji te help om die bod vir die Olimpiese Winterspele 2014 te wen.

Nogtans het sy tyd as medewerker van die Sowjet-Russiese geheimediens KGB hom geleer om andersins 'n lae profiel te handhaaf; so word hy dikwels as "gesiglose man" beskryf. Russiese oligarge, wat hul luukse leefstyl ál te duidelik in die openbaar vertoon het, is deur Poetin openlik in die media of in privaat gesprekke gewaarsku en aangeraai om hul president se voorbeeld te volg.

Vroeë lewe en opvoeding links|duimnael|130px|Poetin se pa, Wladimir Spiridonowitsj Poetin (1911–1999) duimnael|145px|'n Foto uit Wladimir Poetin se jeugjare Poetin is op 7 Oktober 1952 in Leningrad (nou Sint Petersburg) in die Sowjetunie geboreBiografie op die premier se webtuiste, in Russies as die seun van Wladimir Spiridonowitsj Poetin (1911–1999) en Maria Iwanowna Poetina (1911–1998). Sy pa was in die Sowjetvloot en sy ma ’n fabriekswerker. Hy het twee ouer broers gehad, maar een is binne maande ná sy geboorte dood en die ander een tydens die Beleg van Leningrad aan witseerkeel.

Sy oupa aan vaderskant, Spiridon Iwanowitsj Poetin (1879–1965), was ’n kok by Wladimir Lenin se datsja (vakansiehuis) by Gorki Leninskije. Ná Lenin se dood in 1924 het hy aanhou werk vir sy weduwee, Nadezjda Kroepskaja. Hy sou later vir Josef Stalin kos maak wanneer die Sowjetleier een van sy datsjas in die Moskoustreek besoek het.

In Poetin se outobiografie, Ot Perwogo Litsa (Afrikaans: In die Eerste Persoon), wat geskoei is op onderhoude met hom, vertel hy van sy beskeie kinderjare, onder meer in ’n kommunalka ('n groot woonstel wat sy gesin met ander huurders moes deel) in Leningrad. Op 1 September 1960 het hy sy skoolloopbaan by Skool No. 193, reg oorkant hul huis, begin. Teen graad 5 was hy een van die min leerlinge in ’n klas van 45 wat nie lid van die jeugorganisasie Pioeniere van die Sowjetunie was nie, deels weens sy rumoerige gedrag. In graad 6 het hy sport ernstig begin opneem, veral die gevegskuns sambo en daarna judo.

In 1975 het hy aan die internasionale tak van die Staatsuniversiteit van Leningrad se regsfakulteit gegradueer met ’n tesis wat handel oor internasionale reg.theme: Выпускники за 1975 год. Webtuiste van die universiteit Terwyl hy ’n student was, het hy lid van die Kommunistiese Party van die Sowjetunie geword en lid gebly totdat die party in Desember 1991 ontbind is.Владимир Путин. От Первого Лица. Hoofstuk 6

In dié tyd het hy ook vir Anatoli Sobtsjak ontmoet wat later ’n belangrike rol in sy loopbaan sou speel. Sobtsjak was ’n medeprofessor in besigheidsreg en het vir Poetin klas gegee.

KGB-loopbaan duimnael|130px|Poetin in KGB-uniform duimnael|130px|Poetin as FSB-hoof, 1998

Poetin het in 1975 by die KGB aangesluit nadat hy sy graad behaal het en het ’n jaar lank opleiding by die 401ste KGB-skool in Ochta, Leningrad, ondergaan. Hy het daarna vir ’n kort rukkie in die Tweede Hoofdirektoraat (teenintelligensie) gewerk voordat hy na die Eerste Hoofdirektoraat geskuif het. Van sy pligte was die monitor van buitelanders en konsulêre amptenare in Leningrad.

Van 1985 tot 1990 was hy werksaam in Dresden in die voormalige Duitse Demokratiese Republiek (Oos-Duitsland). Ná die val van die Oos-Duitse regering het Poetin na Leningrad teruggekeer waar hy in Junie 1991 in die afdeling vir internasionale sake van die Staatsuniversiteit van Leningrad gewerk het.Putin's Career Rooted in Russia's KGB, David Hoffman, Washington Post Foreign Service, 30 Januarie 2000 Hier het hy die studenteliggaam gemonitor en ’n oog oopgehou vir rekrute. In dié tyd het hy weer bevriend geraak met sy oud-professor Sobtsjak, toe burgemeester van Leningrad.

Poetin het begin 1992 uit die aktiewe staatsveiligheidsdiens bedank nadat die poging tot ’n staatsgreep op die Sowjetpresident Michail Gorbatsjof se bewind misluk het.

Vroeë politieke loopbaan In Mei 1990 is Poetin aangestel as burgemeester Sobtsjak se raadgewer oor internasionale sake en op 28 Junie 1991 as hoof van die komitee vir buitelandse betrekkinge van die burgemeester van Sint Petersburg se kantoor, met die verantwoordelikheid om internasionale betrekkinge en buitelandse beleggings te bevorder. Die komitee het ook besighede in Sint Petersburg geregistreer. Minder as ’n jaar later het ’n kommissie van die stad se wetgewende raad Poetin se werk ondersoek. Hulle het tot die gevolgtrekking gekom dat hy pryse te laag bepaal het en die uitvoer van metale van $93 miljoen goedgekeur het in ruil vir buitelandse koshulp wat nooit opgedaag het nie. Ondanks die kommissie se aanbeveling dat Poetin afgedank word, het hy tot in 1996 hoof van die komitee vir buitelandse betrekkinge gebly.Putin's Name Surfaces in German Probe deur Catherine BeltonThe Man Who Wasn't There deur Nick Paton Walsh. The Observer, 29 Februarie 2004.

Van 1994 tot 1997 is Poetin in ander poste in Sint Petersburg aangestel. In Maart 1994 het hy die eerste onderhoof van die stadsadministrasie geword. Van 1995 tot in Junie 1997 was hy hoof van die Sint Petersburgse tak van die pro-regeringsparty Rusland Is Ons Tuiste. Van 1995 tot Junie 1997 was hy ook die hoof van die adviserende raad van die koerant Sankt-Peterboergskije Wedomosti.

In 1996 het Sobtsjak die burgemeestersverkiesing teen Wladimir Jakowlef verloor. Poetin is teruggeroep na Moskou en in Junie 1996 het hy die onderhoof van die presidensiële departement van eiendomsbestuur onder Pawel Borodin geword. Hy het dié pos tot in Maart 1997 beklee. In dié tyd was hy verantwoordelik vir die buitelandse eiendomme van die staat en het hy die oordrag van bates van die voormalige Sowjetunie en dié se Kommunistiese Party na die Russiese Federasie gereël.

Op 26 Maart 1997 het pres. Boris Jeltsin hom aangestel as onderhoof van die presidensiële staf, waar hy gebly het tot in Mei 1998, en hoof van die hoofbeheerdirektoraat van die departement van presidensiële eiendomsbestuur, tot in Junie 1998. Sy voorganger en opvolger in die laasgenoemde pos was Aleksei Koedrin en Nikolai Patroesjef, albei vooraanstaande politici en vennote van Poetin.

Op 25 Mei 1998 is Poetin aangestel as eerste onderhoof van die Russiese presidensiële staf. Op 25 Julie 1998 het Jeltsin vir Poetin aangestel as hoof van die FSB, die opvolgerorganisasie van die KGB. Hy het dié posisie tot in Augustus 1999 beklee. Hy het op 1 Oktober 1998 ’n permanente lid van die Veiligheidsraad van die Russiese Federasie geword en op 29 Maart 1999 die sekretaris daarvan.

Premier, 1999-2000 duimnael|240px|links|Pres. Boris Jeltsin oorhandig die presidensiële eksemplaar van die Russiese Grondwet aan Poetin, 31 Desember 1999

Op 9 Augustus 1999 is Poetin aangestel as een van drie eerste onderpremiers. Later dié dag, nadat die vorige regering onder Sergei Stepasjin in die pad gesteek is, het Jeltsin hom aangestel as waarnemende premier van die regering van die Russiese Federasie. Jeltsin het ook aangekondig dat hy wil hê Poetin moet hom opvolg. Later dieselfde dag het Poetin ingestem om ’n kandidaat in die presidentsverkiesing te wees.Yeltsin redraws political map BBC, 10 Augustus 1999 Op 16 Augustus het die staatsdoema sy aanstelling as premier goedgekeur met 233 stemme teen 84 (met 17 buite stemming).Yeltsin's man wins approval BBC, 16 Augustus 1999. Daarmee het hy Rusland se vyfde premier in minder as 18 maande geword. Min mense het toe gedink Poetin, wat vir die meeste mense onbekend was, sou veel langer as sy voorgangers hou.

Jeltsin se grootste teenstanders en moontlike opvolgers, die Moskouse burgemeester Joeri Loezjkof en die voormalige voorsitter van die Russiese regering Jewgeni Primakof, was reeds besig met ’n veldtog om die ouer wordende president te vervang en hulle het hard probeer om te keer dat Poetin ook ’n kandidaat word. Poetin se orde-en-wetbeeld en sy onverbiddelike benadering tot die hernieude krisis in die Kaukasus, wat begin het toe die Islamitiese Internasionale Brigade wat in Tsjetsjnië gestasioneer was ’n naburige streek ingeval en die oorlog in Dagestan ontketen het, het egter gou daartoe bygedra dat hy gewild geword het en stof in sy teenstanders se oë kon skop.

duimnael|220px|Waarnemende pres. Poetin kom in Grozni aan in ’n Su-27-vegterstraler, 20 Maart 2000.